Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 June 2021

Wie is jy regtig?

Lukas 6:43-49

Oor die afgelope paar jaar het verskeie Christelike leiers tot ’n val gekom. Almal was geskok toe dit gebeur het, maar wat John MacArthur jare gelede gesê het, bly waar: ‘When a pastor falls into sin, he doesn’t fall far.’ Hy was lankal besig met die sonde. Sy val was net die finale stap (Spr. 28:18). Wat hy by die kerk voor mense was, was maar net ’n front. Wat hy in die geheim agter toe deure was, is wie hy regtig was.

Wie is jý? Wie is jy as jy deur beproewing gaan? Wie is jy by die huis waar niemand jou sien nie? Wie is jy in jou gedagtelewe en op jou knieë voor God? Dit is wie jy regtig is.

 

1. Twee bome (v.43-45)

In my tuin het ek drie krismisrose. Een van die krismisrose sukkel. Dit groei in dieselfde grond as die ander plante. Dit kry dieselfde hoeveelheid bemesting, son en water. Die probleem lê by die wortels.

Dit werk ook so met vrugtebome. As jy alles doen wat die boom benodig maar dit slegte vrugte dra, het jy ’n slegte boom (v.43, Jes. 5:1-2). Net so dra ’n goeie boom goeie vrugte (v.43). Dit is ook waar van jou en my lewe. As ’n jongman met jou dogter wil trou maar sy humeur verloor en haar vloek, moet jy nie sê dit was ’n terugslag nie. Moenie sê hy sal verander as hulle trou nie. Moenie sê dat hy diep binne ’n goeie mens is nie. Die slegte vrugte wys dat hy ’n slegte mens is (v.43).

As ’n kind by die skool dagga rook, moet jy nie sê dat hy eintlik ’n goeie seun is nie. Moenie sê dat sy slegte ouerhuis hom so maak nie. Sy ouerhuis speel ’n rol, maar die slegte vrugte wys dat hy sleg is (v.43, Spr. 20:11). Jy kan nie iemand se hart sien nie, maar die vrugte wat hy dra wys wat in sy hart aangaan (v.43, Spr. 4:23, Mark. 7:21-23). Dit is nie sy getuienis, doop, lidmaatskap, geestelike ervaring of kerkbywoning wat hom ’n Christen maak nie. Vra liewer hoe sy lewe lyk: dra hy goeie of slegte vrugte?

Ek probeer nie sê dat ’n goeie lewe jou red nie. Maar dit sal wys of jy ’n goeie of ’n slegte boom is; of jy ’n Christen is of nie (v.43-44). As die vrugte in jou lewe deurgaans en konsekwent goed is, wys dit jy het ’n nuwe hart. Ja, die vrugte sal spikkels en kneusplekke hê. Maar jy is nie ’n boom vol vrot vrugte nie.

As jy jouself egter ’n Christen noem maar soos ’n ongelowige lewe, is dit omdat jy nie gered is nie, selfs al het jy ook ’n fantastiese getuienis. Wat sê die vrugte in jou lewe van wie jy regtig is? Ondersoek jouself (2Kor. 13:5, Jak. 1:25). Dra jy oor die algemeen die goeie vrug van gehoorsaamheid en heiligheid? Of dra jy die vrot vrugte van skynheiligheid, ongehoorsaamheid, oneerlikheid, gierigheid, jaloesie, bitterheid, boosheid en ander sondes?

Wil jy ’n goeie boom wees? Moenie net harder probeer nie. Dit is soos om vars vrugte te koop en dit aan ’n boom vas te gom. Dit sal nie werk nie. Die probleem lê dieper as jou woorde en dade. Dit lê by ’n slegte hart. Jy moet ’n nuwe boom word. Hiervoor sal psigiatrie, sielkunde en berading nie help nie. Dit help nie net jy drink pille of probeer anders optree nie. Jy moet by die wortel uitkom. Volgens die Bybel is die mens se natuur sleg (Ps. 51:7, 58:4, Ef. 2:3). Om dan ’n stukkie van die appel weg te sny, sal nie help nie. Jesus moet jou natuur verander en vir jou ’n nuwe hart gee (Eseg. 36:26). As dit gebeur, sal die vrot vrugte stelselmatig afval en sal die boom vanself goeie vrugte begin dra (v.43).

Dit is waarvoor ouers, beraders en almal wat ander mense help, moet mik. Dit help nie net jy sê: ‘Tree anders op’ nie. Probeer by die hart uitkom. Bid gereeld vir die persoon en deel die evangelie met hom. As hy reeds gered is, woon die Heilige Gees in hom en het God sy wet op die persoon se hart geskryf (Rom. 8:9, Heb. 8:10). Hy het die vermoë om reg te doen en sal dit ook wil doen (Fil. 2:12-13). Help hom om sy boom deur gebed te bemes en dit deur die Woord water te gee. Hy moet dit deur die nagmaal en onderwerping aan God se dissipline snoei. Dit moet deur die onderlinge samesyn bestuif word. So sal die persoon meer vrugte dra.

Maar as ’n boom net goeie vrugte kan dra as dit gesonde wortels het, hoekom moet ons ons kinders tugtig? En hoekom moet die regering misdadigers straf? Hulle kan tog nie goeie vrugte dra as die wortels sleg is nie.

Alhoewel dissipline en ons landswette nie mense se harte kan verander nie, kan dit sonde terughou. As jy elke keer ’n disrespekvolle kind tugtig, sal hy leer om met respek te praat. As elke moordenaar die doodstraf kry, sal mense twee keer dink voordat hulle ’n moord pleeg. So kan die wet sonde terughou.

Maar dit kan nie mense se harte verander nie. Dit kan maak dat ’n dief ophou steel, maar dit kan nie keer dat hy jaloers is en mense se goed begeer nie. Die wet kan keer dat iemand moord pleeg, maar dit kan nie die bitterheid en haat uit sy hart verwyder nie. Daarvoor het ons die evangelie nodig wat deur die krag van die Heilige Gees gepreek word. Dit is die Gees wat vir mense ’n nuwe natuur gee. Dit is Hy wat hulle oë oopmaak om te sien dat hulle verlore is en Jesus nodig het (Joh. 16:8). Hy werk in mense se harte, sodat hulle vir Jesus vra om hulle te red (Hand. 16:14, Tit. 3:5). Hy verander ’n doringbos in ’n vrugteboom, sodat dit goeie vrugte dra (v.44, Jes. 55:13). Jesus probeer nie net om mense se optrede te verander nie. Hy het gekom om mense nuut te maak; om vir hulle ’n nuwe natuur te gee.

Iemand sal sê: ‘Jy hoef nie in Jesus te glo om goed te wees nie. Ek ken goeie mense wat nie in Jesus glo nie.’ Is jy seker jy ken hulle? Weet jy wat in hulle gedagtes aangaan? Weet jy wat hulle in die geheim doen? Ken jy hulle motiewe? Dan kan jy nie sê hulle is goed nie. Volgens Rom. 3:10-12, 23 het almal gesondig en is daar niemand wat goed is nie. Solank as wat jy dink jy is goed, sal jy op jou goedheid staatmaak om in die hemel te kom. Jy sal dink dat jy nie vir Jesus nodig het nie, sodat jy sy kruisdood verwerp.

Maar as dit waar was dat iemand deur sy eie meriete in die hemel kan kom, dan was Jesus se kruisdood ’n klug en ’n mors van tyd. Dan het die Vader sy Seun verniet gestraf, omdat ons deur ons eie goedheid in die hemel kan kom (Gal. 2:21).

Dit is nie wat die Bybel leer nie. Volgens die Bybel vereis God ’n perfekte rekord en is niemand goed genoeg om in die hemel te kom nie (Matt. 5:20, 48, Gal. 3:10). Dit is hoekom Jesus gekom het: om die wet perfek in ons plek te hou en die straf vir ons sonde te dra (2Kor. 5:21). As jy wil hê die Vader moet sy lewe en dood in jou plek aanvaar, moet jy jou eie goedheid as drek beskou en jou volle vertroue in Jesus alleen stel (Jes. 64:6, Fil. 3:4-9).

Sê jy dat jy nie so sleg is nie? Vra jouself wat jy hierdie week vir of van jou lewensmaat, gesin, familie, vriende, kollegas en vyande gesê het. Party sal sê: ‘Ek weet dit was verkeerd, maar ek het buite my aard opgetree toe ek die persoon afgebreek het. Dit is Covid wat dinge moeilik maak.’

Regtig? Volgens Jesus wys jou woorde wat in jou hart is (v.45, Matt. 12:34). Moenie ander mense of jou omstandighede blameer nie. Moenie sê dat jy buite jou aard opgetree het nie. Niemand het die woorde in jou mond gesit nie. Dit was in jou hart en het uitgekom (v.45).

Dit geld ook vir die man wat vyf maande na sy troue sy vrou afknou en boelie. Sy moenie vir die berader sê: ‘Dit is nie die man met wie ek getrou het nie.’ Dit is presies die man met wie sy getrou het—sy het dit net nie geweet nie. Die sonde was nog die hele tyd in sy hart en het nou eers sigbaar geword.

So, soek jy die regte invloede in jou kinders se lewe? Is jy opsoek na die regte lewensmaat? Soek jy die regte besigheidsvennoot? Soek jy goeie leiers in die kerk? Wil jy hê ons moet lidmate opneem wat regtig gered is? Wees geduldig en wag tot die goeie of slegte vrugte sigbaar word (1Tim. 5:24-25). So sal jy weet wie die persoon regtig is.

 

2. Twee huise (v.46-49)

Ek het in 1988 tot bekering gekom. Maar my lewe het nie verander nie. Ek het nog steeds my sussie geslaan, mense probeer beïndruk, vir my ouers gelieg, baklei en baie ander sondes gedoen. Ek het dit nie nou en dan gedoen nie—ek het daarin gelewe. Duidelik het ek ’n vals bekering gehad. Deur die Here se genade het ek in 1992 waarlik tot bekering gekom.

Om te bely dat jy tot bekering gekom het, is nie genoeg nie. Wat jy met die Woord doen, sal wys of jy regtig gered is. Moenie Jesus jou Here noem en bely jy is gered as jy nie die knie voor Hom buig en doen wat Hy sê nie (v.46). In die VSA is daar ’n lering wat anti-lordship salvation genoem word. Volgens hierdie mense kan jy ’n Christen wees al lewe jy nie soos een nie. As jy byvoorbeeld in 2001 jou hart vir die Here gegee het, die sondaarsgebed opgesê het, die feite van Jesus se kruisdood en opstanding bely het, gesê het dat jy in Hom glo en Hom jou Here noem, is jy ’n Christen ongeag van hoe jy lewe. Jy kon intussen mense verkrag het, ’n bank beroof het en jouself tot ’n ateïs verklaar het: as jy doodgaan, gaan jy hemel toe.

As jy vir hierdie mense sê dat niemand sonder heiligmaking die Here sal sien nie, beskuldig hulle jou daarvan dat jy in redding deur goeie werke glo eerder as in redding deur geloof alleen. Die waarheid is dat geloof altyd op ’n lewe van goeie werke sal uitloop, anders is dit nie ware geloof nie (Jak. 2:14-26). Om met ’n sondige leefstyl aan te hou nadat jy gered is, wys dat jy nie gered is nie (Rom. 6:1-2). Die rede hoekom jy slegte vrugte dra, is omdat jy ’n slegte boom is.

As jy Jesus jou Here noem, het jy nie ’n keuse as om die sonde uit jou lewe te sny nie. As jy dit nie doen nie, moet jy jouself asseblief nie ’n Christen noem en Jesus se goeie Naam deur die modder sleep nie (v.46). Waarom nie liewer deur geloof en vertroue na Jesus toe kom nie (v.47, Matt. 11:28, Joh. 6:35)? Kom om die Woord te leer en doen wat jy hoor (v.47). Dan sal jy en die mense rondom jou weet dat jy Hom waarlik liefhet (Joh. 14:15). Jy sal soos ’n man wees wat sy huis op die rots bou (v.48). Hy bou dit nie op ’n kaal rots nie, maar grawe totdat hy die massiewe rots onder die grond bereik. Hier lê hy sy fondasie.

Wat is hierdie rots? Dit is Jesus se lering. Iemand wat sy fondasie op die rots bou, is iemand wat Jesus se lering hoor en doen (v.47-48). Die vloed is die oordeelsdag (sien Matt. 7:21-27). Jesus bedoel nie dat as jy goed genoeg lewe, jy die oordeelsdag sal slaag nie (Ef. 2:8-9). Die feit dat God ons volgens ons werke oordeel (Op. 20:12-13), beteken nie dat goie werke die basis vir redding is nie. Jou goeie werke wys eerder of jy gered is of nie (v.43-45, Ef. 2:10). As jy dan die Woord hoor maar nie doen nie, is jy soos ’n man wat sy huis op die grond bou en nie tot by die rots grawe nie (v.49).

Is jy so? Hou jy van goeie preke, omdat dit jou emosioneel opkikker? Of doen jy wat dit sê? Laat die Woord jou skuldig voel? Kom jy onder sonde oortuiging? Besluit jy om te verander? Dit is nie genoeg nie. Jy moet iets daaromtrent doen; jy moet die Woord gehoorsaam (v.47). Op die laaste dag sal die vloed van God se oordeel jou huis in duie laat stort (v.49, Amos 6:11). Jou lewe sal inmekaar tuimel (v.49). Jy sal in die hel beland.

Dalk kry jy dit vir jare reg om die vrot appels in jou lewe rooi te verf. Niemand weet wie jy regtig is nie. Maar die Here weet en sal op die oordeelsdag wys wat onsigbaar was. Hy sal wys dat jy nie ’n fondasie gehad het nie.

Gee asseblief ag op Jesus se stem. Moenie net hoor wat Hy sê nie, maar wees ’n dader van die Woord (Jak. 1:21-25). Die eerste ding wat jy moet doen, is om jou te bekeer en die evangelie te glo (Mark. 1:15, Hand. 17:30, 1Joh. 3:23). Daarna moet jy die Bybel gehoorsaam. Om dit te doen, moet jy weet wat God in die Bybel sê. Jy moet dit gereeld lees. Moet dit nie afskeep en sê dat jy nie ’n leser is nie. Jy kan die Bybel gratis op jou selfoon aflaai. Jy kan dit in die kar luister terwyl jy bestuur. Daar is letterlik duisende bronne op die internet om jou te help om die Bybel beter te verstaan. Begin deur The Bible Project se videos te kyk of na John MacArthur en R.C. Sproul se preke te luister. Ons gemeente se preke is ook op YouTube. Jy kan die audio preke op Anchor luister. Of jy kan die preke op ons kerk se ’n blog lees.

Gebruik die middele tot jou beskikking. Dan sal jou vrugte gesond wees en sal jy jou huis op die rots bou. Wie jy regtig is, sal vir almal duidelik word. My predikant het dit vir my gesê voor ek my teologiese studies begin het: ‘In die bediening sal mense partykeer leuens oor jou vertel. Leef dit dood.’

Moet jou nie steur aan wat mense van jou sê nie. Laat dit deur jou lewe sigbaar word wie jy regtig is.

Kategorieë