In 2008 het ek die evangelie met ‘n sekuriteitswag gedeel. Hy het gesê dat hy in Shembe glo, en dat Jesus ‘n profeet was maar nie God nie. Ek het vir hom gevra of Shembe die see kan bedaar; of Shembe sondeloos is. Die Skrif leer duidelik dat Jesus die ware God is. Judas 5 sê: “Jesus... saved a people out of the land of Egypt, afterward destroyed those who did not believe.” (ESV). Ja, dit was Jesus wat in Eksodus 10:1-20 die sprinkaanplaag gestuur het. Ook hier het Hy gewys dat hy die ware God is.
Die sewende plaag: Sprinkane (v.1-20)
[1] God waarsku vir Farao (v.1-6)
Ek het eenkeer vir ‘n apteker gevra hoekom hy kerkgeskiedenis begins studeer het. Sy antwoord was: ‘As ons die geskiedenis ken kan ons die foute vermy wat hulle gemaak het, en leer uit die goeie dinge wat hulle gedoen het.’ Ek sal byvoeg dat ons die Here kan prys vir die groot dinge wat Hy gedoen het deur sy volk te verlos en haar vyande te oordeel. Ons kan begeer dat Hy dieselfde in ons tyd sal doen. As ek oor die hervorming of herlewings lees, begeer ek dat die Here weer so sal ingryp. Dis die les in die eerste ses verse.
Moses het dié keer in die paleis ingegaan om met Farao te praat. Nog ‘n keer sou die Here sy krag aan die verharde Farao wys. Deur dié en ander wonders sou Israel se nageslag ook weet dat Hy die ware God is (v.2). “o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd.” (Psalm 44:2). “Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar” (Psalm 78:5-7). Na die sprinkaan plaag in Joël sê die Here: “Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag” (Joël 1:3).
Die koning het steeds geweier om hom voor God te verneder, en die bevel te gehoorsaam om Israel te laat trek. God sou genadig gewees het as Farao hom onderwerp het (1 Konings 21:29, 1 Petrus 5:6). Omdat Farao hardkoppig was, het die Here gesê dat Hy die volgende dag ‘n sprinkaanplaag sou stuur. Nog ‘n keer het die Here gewys dat Hy soewerein is en die gode nie. Selfs met ‘n dag se kennis kon die gode Hom nie keer nie. Die sprinkane sou die land bedek, die bome kaal vrees, en in die huise inklim – die ergste plaag wat Egipte ooit gesien het (v.6, 14). Joël se beskrywing van so ‘n plaag help ons om Eksodus 10 beter te verstaan:
- “Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.” (Joël 1:4).
- “Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.” (Joël 1:7).
- “‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” (Joël 2:2).
- “Voor hom uit verteer ‘n vuur, en agter hom brand ‘n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit ‘n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.” (Joël 2:3).
- “Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ‘n dief.” (Joël 2:9).
Die sprinkaanplaag, soos die haelplaag, was ‘n aanval op die Egitiese gode van die atmosferiese hemel. Shu, Tefnut, en Nut was veronderstel om die wind te beheer (v.13, 19). God het ook die gode van die plante, landbou, en oeste – Geb en Seth – vernietig (v.5, 12, 15). Volgens die Egiptiese godsdiens het Serapia die sprinkane beskerm. Die God van Israel het gewys dat ook dié god magteloos was (v.19).
Ons moet die volgende geslag van die ware God leer, en hulle teen vals gode waarsku. Sommige Christen pa’s leer nie vir hulle kinders die Bybel nie. Ek wil pa’s aanmoedig om huisgodsdiens te hou. Die Bybel sê:
- “en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:7).
- “Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (Genesis 18:19).
- “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Efesiërs 6:4).
- “ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Josua 24:15).
- “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spreuke 6:20).
- “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” (Spreuke 22:6).
- “jy [ken] van kleins af die heilige Skrifte... wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” (2 Timoteus 3:15).
Moet dit nie aan die skool of Sondagskool oorlaat om hulle te leer, sodat jy jou plig versuim nie. Weet jy wat die skool en Sondagskool vir jou kinders leer? Indien jy ‘n oupa of ouma is wat weet dat jou kleinkind nie ‘n Bybelse opvoeding kry nie, kan jy gerus die kans gebruik om hom of haar reg te leer. Timoteus het die evangelie by sy ma en ouma geleer (2 Timoteus 1:5). Die psalmskrywer sê: “En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.” (Psalm 71:18).
Lees vir jou kinders Bybelgeskiedenis, kinder-biografieë en kerkgeskiedenis. Moet dit nie net lees nie, maar leer vir hulle die lesse daaruit. Wys ook uit die geskiedenis hoe die kerk dwalinge bestry het. Jy kan byvoorbeeld vertel hoe die kerk in die hervorming van die vals Katolieke sisteem af weggebreek het. Vertel ook vir jou kinders hoe die Here in jou lewe gewerk het (Josua 4:6). Sorg dat jy self ook geskiedenis lees, sodat jy daaruit kan leer.
Hoekom is hierdie dinge belangrik? Hoor die Woord van die Here: “En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie. En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE: hulle het die Baäls gedien en die HERE, die God van hulle vaders, verlaat wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en hulle het agter ander gode aan geloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was, en hulle daarvoor neergebuig en die HERE geterg.” (Rigters 2:10-12). Asaf sê dat ons God se werke vir ons kinders moet vertel, sodat hulle “nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.” (Psalm 78:8, vgl. v.4-7).
[2] Farao onderhandel met God (v.7-11)
Daar is ‘n stam in die Kalahari wat bobbejane vang en vir hulle sout voer. Die bobbejane weet waar die water is. Met ‘n bek vol sout hardloop hulle baie vinnig na die ondergrondse waterbronne toe. Só kry die mense water.
Maar hoe vang hulle die bobbejaan? Terwyl ‘n jong bobbejaan toekyk grou die man ‘n klein gat in ‘n miershoop. Hy sit dan pampoenpitte in die gat. Die bobbejaan is nuuskierig en steek sy arm in die gat. As hy die pampoenpitte in sy hand het kom die man nader. Die bobbejaan skreeu, maar is nie bereid om die pitte te los nie. So vang die man hom.
Farao wou nie voor die Here buig of sy reg as ‘n ‘god’ oor Israel opgee nie. Hy sou eerder sien hoe die land ondergaan. Die koning was so hardkoppig dat sy knegte moes vir hom sê dat die land verwoes is, en dat hy die Israeliete moes vrylaat. Ongelukkig het hulle die idee in sy kop geplant dat hy net die mans moes laat gaan (v.7). Farao was nie bereid om die kinders vry te laat nie. Hy het geweet dat hy nog in beheer sou wees as die kinders in Egipte gebly het. Hy sou die kommuniste se stelling beaam: ‘Gee my ‘n kind vir die eerste sewe jaar, en hy sal vir die res van sy lewe ‘n kommunis wees.’
Farao het bose intensies gehad, en tog sê hy vir Moses en Aäron: “julle het ‘n verkeerde ding voor oë.” (v.10). Farao herinterpreteer God se gebod en sê vir Moses: “Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang.” (v.11). Hy besluit sommer vir hulle wat God gesê het. So maak ons post-moderne samelewing: hulle verdraai die Bybel om dit te laat beteken wat húlle wil. Verse wat sê dat homoseksualiteit sonde is of dat vroue nie mag preek nie, word verdraai om die teenoorgestelde te beteken. Moenie soos Farao wees en die Bybel verdraai om jóú voorkeure te pas nie.
Farao het vir Moses en Aäron weggejaag (v.11).
Buig voor die ware God se Woord en luister na sy waarskuwings. Moenie net die verse lees wat jou gemaklik laat voel, en die moeilikes oorslaan nie. Net so moet jy nie afskakel wanneer die prediker tekste uitlê waarvan jy nie hou nie. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig vir lering (2 Timoteus 3:16). As gemeente en individue moet ons nederig wees en alles gehoorsaam wat die Here sê.
Hoekom moet ons die Skrif gehoorsaam en ag slaan op God se waaskuwings? As ons nie gehoorsaam is nie, sal God se oordele erger word (Levitikus 27:18, 21, 24, 28). In Psalm 32:9 sê die Here: “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.” As jy nie nóú voor die ware God buig nie, sal jy later buig. Op die oordeelsdag sal elke knie voor Jesus buig (Filippense 2:10).
[3] God bring en verwyder die plaag (v.12-20)
In Maart 2013 het ‘n sprinkaanplaag Madagaskar getref – die ergste een in 60 jaar. Een swerm was 15 km lank en het 45 minute geneem om die nasionale pad, roete 7, te kruis. Daar was omtrent 100 sulke swerms met ‘n totaal van 500 biljoen sprinkane. Die sprinkane het elke dag 100 000 ton verorber. Hulle het meer as 50% van die eiland se gewasse vernietig. Maar die plaag in Egipte was erger. Die grond kon nie eers gesien word nie.
God het die sprinkane met die ooste wind gebring. Dit moes erg gewees het, want volgens Genesis 41:6 en Jona 4:8 het dié wind plante doodgeskroei en mense laat flou voel. Die swerm sprinkane was so dig dat die landoppervlak nie gesien kon word nie. Hulle sou ook die son uitgedoof het. “Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.” (Joël 2:10). Die sprinkane het selfs die bas van die bome afgevreet (v.5, vgl. Joël 1:7). Het jy al gesien hoe bome vrek as olifante die bas gering het? Toe die sprinkane deurgetrek het, het dieselfde gebeur. Al die bome in Egipte het gevrek. Groen plante gee suurstof. Omdat die sprinkane al die groen plante afgevreet het, sou die land ‘n suurstof tekort hê.
Farao het vir Moses laat roep en weer vals berou gehad. Hy was nie jammer oor sy sonde nie, maar wou net van die plaag ontslae raak. Hy was bereid om sy sonde te erken en te bely. Maar hy was nie regtig jammer nie. Hy het gesê: “Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde” (v.17). Hy was tevrede dat sy sonde net een keer vergewe word.
God het ‘n westewind gestuur om die plaag te verwyder. Hy het al die sprinkane in die Rooisee laat verdrink – ‘n voorskou van wat met die Egiptenare sou gebeur (hfst.14). Nie een sprinkaan het in die land oorgebly nie. God het Farao se hard verhard sodat hy Israel nie laat trek het nie.
Reageer reg wanneer die Here ‘plae’ in jou lewe stuur. As God jou tref moet jy nie soos Farao hardkoppig wees en aanhou met jou sonde nie. Na die plae in Openbaring 9 (onder andere ‘n sprinkaanplaag!) lees ons: “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.” (Openbaring 9:20-21).
Wees opreg in jou belydenis en bekering. Moenie net ‘berou’ hê omdat jy wil hê die Here moet die plaag wegvat nie (v.16-17). Hoeveel keer moet God jou tref voordat jy sal luister? As jy sondig en sê dat jou lyding nie Gód se oordeel is nie, skep jy ‘n god van jou eie verbeelding. Neem Lukas 13:1-5 ter harte:
“En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”
Bekeer jou van jou sonde en glo die evangelie soos Romeine dit verduidelik. As jy jou nie bekeer nie, sal dinge erger word – baie erger.
Twee weke gelede het een van my vriende ‘n professionele debat gehou teen ‘n Moslem. Die onderwerp van die debat was: Het Jesus gesê dat Hy God is? Jesus het nie net gesê dat Hy God is nie, maar dat Hy die ware en enigste God is. Wat Hy in Eksodus 10 gedoen het bewys dit.