Coram Deo Cover Image

Coming soon...

14 May 2020

Werkverwante Probleme: Luiheid

Spreuke 6:6-11

’n Webblad genaamd The South African sê dat Suid-Afrika een van die hardwerkendste lande ter wêreld is, omdat ons mense meer as die gemiddelde hoeveelheid ure per week werk.1 In nóg ’n artikel sê dieselfde blad dat Suid-Afrikaners van die luiste mense op aarde is.2 Wat is dit nou: werk ons die hardste, of is ons lui? Wat ek wel weet, is dat die Bybel van lui kulture praat (Tit. 1:12). Dit is ’n feit soos ’n koei dat talle Suid-Afrikaners lui is. As Christene moet ons waak dat ons nie deur die wêreld beïnvloed word nie.

 

1. Die luiaard en die mier (v.6-8)

Salomo was besig om sy seun (v.1) teen luiheid te waarsku (v.6-11). Hy het geweet dat jong mense maklik tot luiheid versoek word. Dit is nog steeds so. Baie van hulle wil nie hulle beddens opmaak, hulle kaste regpak, hulle kamers opruim, of hulle skoolwerk doen nie. Hulle sal eerder die hele dag voor die TV sit, op die rekenaar speel, of laat slaap. Daarom wou Salomo sy seun op ’n jong ouderdom leer om te verhoed dat hy ’n lui volwassene word. Om sy seun te help, het hy hom van die luiaard en die mier vertel.

Onthou dat Salomo ’n ontsaglike groot kennis gehad het; ook van die natuur (1Kon. 4:29-34, 10:1-7). Hy sou dus baie van Israel se oesmiere geweet het.3 In sy lering het Salomo die luiaard beveel om wysheid en harde werk by ’n mier te leer (v.6). Die luiaard moes buitentoe gaan, ’n mier dohou, hom volg en sy optrede bestudeer. Hy sou agterkom dat ’n mier hard werk, al het hy geen aanvoerder, opsigter, of heerser nie (v.7). Ja, miere het ’n koningin. Haar werk is egter net om eiers te lê. Sy beveel nie die kolonie om hard te werk nie. Elke mier soek self kos. Terwyl hy soek, skei hy feromoon (’n soort chemikalieë) af, sodat hy sy pad terug kan kry na die nes toe. Indien hy kos gekry het, keer hy na die nes toe terug, terwyl hy wéér feromoon afskei. Die tweerigting feromoon-roete help die ander miere om by die kos uit te kom.4

Wat is die punt? Miere werk hard, al het hulle nie ’n opsigter nie; hulle het selfdissipline. Die luiaard moet by hulle leer (v.6-7). Hy moet let op hoe hulle in die somer en in die herfs kos bêre vir die winter, asook vir die lente wanneer die veld nog nie ten volle herstel het nie (v.8). So sal die luiaard leer dat hy hard moet werk en iets moet bêre vir die dag as daar ’n skaarste is en hy nie vir ’n inkomste kán werk nie (v.8, 30:25). Ek probeer nie sê dat ons nie op die Here moet vertrou nie. Ek bedoel eerder dat wyse en hardwerkende mense vir die toekoms beplan (Spr. 13:22, 31:21, 25).

Ongelukkig dink die luiaard nie so nie. Daar is ’n probleem met sy karakter. Salomo beskryf hom as een wat:

  •  Nie selfdissipline het nie (v.7-8).
  • Lief is vir slaap (v.9-10, Spr. 19:15, 24:32-34, 26:14).
  • Honger is (Spr. 19:15), omdat hy nie wil werk nie. Hy wil eerder hê dat ander mense hom moet voer (Spr. 19:24).
  • Sy baas frustreer, omdat hy swak en halwe werk doen (Spr. 10:4, 26, 12:27). Selfs as jy by sy huis kom, is daar ’n klomp goed wat net half reggemaak is. Sy voorkoms, huis, slaapkamer, huwelik, huisgesin en verhouding met die Here is so deurmekaar soos ’n oorgroeide tuin (Spr. 24:30-31). Ek onthou twee sulke gevalle. In die een geval het die man se sitkamer stel nie eers in ’n orde gestaan nie. Die huis was nie net deurmekaar nie, maar vuil en vol stof. In die ander geval het ek iemand gehelp trek. Dit het gelyk of ’n bom sy kamer getref het. Daar was ou papiere, koppies, kos en tissues op die vloer en onder sy bed.
  • Nie bevordering kry nie, maar altyd op ’n lae vlak bly en selfs dwangarbeid moet verrig (Spr. 12:24). Hy wil meer hê, maar is nie bereid om daarvoor te werk nie (Spr. 13:4, 21:25). En dan is hy verbaas as hy arm is en niemand hom in diens wil neem nie (Spr. 20:4).

Hoe help ’n mens so iemand? Dit help nie jy sê vir hom: ‘Kry jouself in rat’ nie. Hy moet eers besef dat sy probleem geestelik is. Dit is sy slegte karakter wat sy lewe pynlik en moeilik maak soos ’n pad vol dorings (Spr. 15:19, 24:30-31). Die luiaard is oneerlik en nie opreg soos die regverdige nie (Spr. 15:19). In watse opsig? Hy gee flou verskonings vir hoekom hy lui is. Sommige van sy verskonings is lagwekkend: ‘Ek kan nie gaan werk nie; daar is ’n leeu in die straat!’ (Spr. 22:13, 26:13). Die hartseer ding is dat hy al so baie hieroor gelieg het, dat hy homself glo. En tog sal hy eerder lieg as wat mense moet dink dat hy lui is.

Maar hy ís lui. As jy vir hom ’n werk aanbied, of ’n goeie idee met hom deel, het hy ’n honderd verskonings vir hoekom hy dit nie kan doen nie. Hy is slimmer as sewe mense wat ’n wyse antwoord kan gee (Spr. 26:16). Die waarheid is natuurlik dat hy nie wíl werk nie. Hy besef nie dat hy homself vernietig nie. Hoe gebeur dit?

 

2. Die luiaard se bed en sy beursie (v.9-11)

Derek Kidner som Salomo se lering oor die luiaard as volg op:

‘...die luiaard is ’n gewone mens wat te veel verskonings gemaak het, te veel geleenthede van die hand gewys het, en te veel kere uitgestel het. Al hierdie dinge was onwaarneembaar en so aangenaam soos om aan die slaap te raak.’5

Blykbaar ignoreer die luiaard v.6-8, omdat hy eerder in die bed wil lê (v.9). Hy slaap tot laat in die oggend. Hy slaap deur die dag, terwyl ander mense werk. Natuurlik kan jy ’n middagslapie vat om jou kragte te herwin, maar die luiaard slaap gedurig. Hy slaap selfs by die werk. Dit laat my dink aan foto’s van Suid-Afrikaanse polisie-beamptes wat by die werk slaap; van mense wat op die sypaadjie slaap; van munisipale werkers wat op die gras lê en slaap. Ek onthou hoe ek self ’n paar vakansie-werke gehad het toe ek op hoërskool was. By een van die werke het ek geslaap, terwyl ek gewag het om die telefoon te antwoord. Toe die baas my aan die einde van die drie weke betaal, toe staan daar: ‘Ivor “the sleeper” Jefferies’ op die koevert. By ’n ander werk het ek geslaap toe daar nie die kliënte was nie. Die baas het my streng aangespreek toe hy by die werk instap en my aan die slaap vang.

Die luiaard is so: hy slaap in die dag. In baie gevalle doen hy dit, omdat hy in die nag partytjie hou, drink, immoreel is, of steel. Of miskien doen hy dit eenvoudig, omdat hy lief is vir slaap. ’n Mens kan verstaan dat babas in die dag slaap. Dit is goed as kleuters in die middag slaap. Ou mense kort ekstra slaap, veral as hulle sleg slaap in die nag. As jy nagskof werk, kan jy in die dag slaap. Iemand wat siek is moet in die dag slaap. Miskien is daar nog ’n paar mense wat in die dag moet slaap. Dit is egter die uitsondering. Die res van ons moet in die dag werk en in die nag slaap. Moenie lui wees en ure na die son opstaan nie. Dit is veral ’n waarskuwing as jy tuisskool, as jy ’n huisvrou is, of as jy permanent, of tydens die grendelstaat van die huis af werk. Moenie soos die luiaard in jou nagklere bly nie, maar dissiplineer jouself om op te staan en jou werk te begin.

Moenie soos die luiaard wees nie. As iemand sê: ‘Jy moet opstaan vir werk!’ sê hy: ‘Mmm. Ek wil net nog ’n bietjie inlê en slaap.’ (v.10, 24:33). Sowat 20, of selfs 45 minute later is dit dieselfde storie. As dit so aanhou, wil jy later nie eers die moeite doen om die persoon wakker te maak nie. Op die einde verloor hy sy werk. Blameer hy homself? Nee, hy blameer jou: ‘Hoekom het jy my nie wakker gemaak nie?’ Maar dit is sy eie skuld. Hy wou net nog ’n bietjie slaap. Maar op die einde word ’n bietjie en ’n bietjie en ’n bietjie, baie.

Wat probeer ek vir jou sê? Dit is beter dat jy dadelik opstaan wanneer jy in die oggend wakker word. Sit daarom jou voete uit die bed, sodat jou liggaam kan volg. Tel jou kop op, sodat jou liggaam kan volg. Stort, was jou gesig, draf; doen wat nodig is vir jou om wakker te word. Natuurlik moet jy dan betyds in die bed klim en nie te laat gaan slaap nie. Kry genoeg slaap, want anders help dit nie jy draf, of was jou gesig nie. Ken jou liggaam en weet hoeveel slaap jy nodig het. Gewoonlik is 7, of 8 ure genoeg. Moenie soos die luiaard wees en ’n afgod maak van slaap, sodat hy die hele dag in die bed lê nie. Moenie sê: ‘Ek wil net nog ’n bietjie hande-vou, sodat ek kan uitrus’ nie (v.10). Jou hande moet werk en nie op jou pens, of bors gevou wees nie.

Moet ook nie soos party mense net die lekker en maklike take doen, terwyl jy jou hande vou vir dit wat moeilik is nie. Om moeilike take uit te stel [Eng. procrastination] sodat mense jou gedurig daarvoor moet vra, is maar net ’n ander vorm van luiheid.

As jou hande gevou is, sal dit leeg bly: sonder kos en sonder geld (v.11). Armoede sal onverwags kom soos ’n opportunis wat jou bankkaart kloon, of soos ’n rower wat jou voor jou oprit vaskeer en jou kar vat (v.11, 24:34). Ons sê baie maklik: ‘As ’n rower kom, sal ek hom sus en so slaan.’ Alles gebeur egter so gou dat jy niks kan doen nie. Dit tref jou met ’n skok as jy dit die minste verwag.

So is dit met die luiaard. Laasmaand het hy nog voor die TV gelê met ’n bier in sy hand en ’n yskas vol kos. Nou is alles weg. Selfs dit is egter nie genoeg om te maak dat hy werk soek nie. Hy sal eerder met ’n bordjie by die robot staan en bedel:

Please help.

No job.

Three kids to feed.

God bless.

Van die dinge wat hy op die bordjie sê, is leuens. Hy lieg byvoorbeeld om te sê dat hy drie kinders het. Ek is bevriend met ’n man wat vir jare op die straat gebly het. ‘E.B.,’ het ek hom eendag gevra, ‘hoeveel mense wat op straat bly, is daar omdat hulle regtig arm is, en hoeveel van hulle het deur drank en dwelms daar beland?’ Sy antwoord het my verbaas: ‘Ek het nog nooit ’n straatslaper ontmoet wat daar is omdat hy arm is nie. Al die mense wat ek teëgekom het, het deur drank, of dwelms op die straat beland—myself ingesluit.’

Ek probeer nie sê dat alle lui mense arm word nie. Party lui mense is ryk. Hulle het ryk geërf en dink dat hulle daarom nie hoef te werk nie. Ek probeer ook nie sê dat alle arm mense lui is nie. Salomo gee hier ’n algemene reël.

Wat is dan die oplossing vir luiheid? Erken dat dit sonde is. God het ons na sy beeld gemaak. Luiheid is ’n slegte refleksie van die God wat hard werk (Gen. 1-2, Joh. 5:17). Dit is ’n slegte navolging van Jesus wat hard gewerk het (Mark. 1:32-39, 3:20, 6:31). Dit is ’n minagting van die skeppingsopdrag, die wet, en die Nuwe Testament wat sê dat ons hard moet werk (Gen. 1:28, 2:15, Eks. 20:9, 1Tess. 4:11-12, 2Tess. 3:7-10). Om dus lui te wees is nie net ’n slegte gewoonte nie, maar ’n sonde wat die hel verdien (Matt. 25:26, 30). Daarom sê die Skrif dat ons sulke mense uit die gemeente moet verwyder en dat ons hulle moet vermy (2Tess. 3:6-15).

Is jy skuldig aan luiheid, selfs al is dit net in sekere areas van jou lewe? Vra die Here om jou daarvan te red: nie net van onaktiwiteit nie, maar van ’n gesindheid van luiheid. Glo dat Christus se genade deur die kruis en die krag van die Heilige Gees genoeg is om jou te verander (Gal. 5:19-23, Tit. 2:9-14). Vra die Here se hulp om te werk asof jy dit vir Hóm doen, eerder as vir jouself, jou maatskappy, jou baas, of ander mense (Kol. 3:23). Sê ook vir jouself dat jou tyd aan die Here behoort en dat jy net een lewe hier op aarde het. Koop die tyd uit, want anders sal die duiwel jou versoek om jouself besig te hou met sonde (Ef. 5:16). Dit is een van die groot gevare van luiheid: dit lei maklik tot baie ander sondes. Hier is ’n paar voorbeelde:

[a] Dawid moes saam met sy weermag op die slagveld gewees het. Hy het egter lui-lekker in die paleis rondgelê. Wat was die gevolg? Hy het egbreuk gepleeg (2Sam. 11:1-4).

[b] Paulus waarsku ons dat luiheid daartoe sal lei dat mense rondrits, skinder, kwaadpraat, en inmeng in ander mense se sake (1Tess. 4:11, 2Tess. 3:11, 1Tim. 5:13).

[c] Lui mense laat na om ander te help en hulle talente te gebruik; veral omdat hulle lê en slaap eerder as om te werk (Matt. 25:26, Ef. 4:28).

[d] Hulle steel indirek van dié wat regtig sukkel. Hulle doen dit deurdat mense húlle help in stede van dié mense wat waarlik ’n behoefte het. Hulle steel ook die welverdiende salaris van die mense wat hulle help.

[e] Hulle word versoek om bedrog te pleeg, of openlik te steel om geld te kry.

[f] Hulle vertel leuens om jou te oortuig dat hulle nie lui is nie, maar dat hulle sukkel.

[g] Hulle sondig teen hulle gesinne, omdat hulle nie na hulle omsien nie (1Tim. 5:8).

[h] Hulle sondig teen hulle kinders, omdat hulle ’n slegte voorbeeld stel. Die kanse is goed dat hulle kinders ook lui sal wees.

Laat die luiaard hom dus van sy luiheid bekeer, maar ook van die sondes wat daaruit voortvloei. Kry vir jou ’n Christen-vriend wat hard werk, maar wat nie ’n werkslaaf is nie. Sê vir hom dat jy tot luiheid versoek word. Vra hom om vir jou te bid, om jou aanspreeklik te hou, en om jou te vermaan as dit nodig is (1Tess. 5:14, Ps. 141:5, Spr. 27:6, 9, 28:23). Vermy ook lui vriende, sodat hulle gewoontes nie op jou afsmeer nie (Spr. 13:20, 1Kor. 15:33).

’n Bietjie oefening en ’n gesonde dieet sal help dat jou liggaam nie lui raak nie (1Tim. 4:8). Dit is egter nie die belangrikste nie, aangesien luiheid hoofsaaklik nie ’n probleem van die ligaam is nie, maar van die gees. Maak daarom seker dat jy ’n gesonde verhouding met die Here het. Om dit reg te kry, moet jy jou in die eerste plek bekeer en in Christus glo. Maar dan moet jy ook daagliks in ’n dieper verhouding met die Here groei. Doen dit deurdat jy gereeld jou sonde bely, bid, met ander gelowiges vergader, Jesus se dood in die nagmaal herdenk, goeie werke doen, diensbaar is, die Here dank en prys, jouself aan Hom toewy, sy Woord lees, dit bestudeer, dit oordink, dit memoriseer, dit deur die prediking hoor, en dit gehoorsaam. Soos die jare aanstap, sal jy sien hoe die Heilige Gees jou van ’n luiaard in ’n hardwerkende persoon verander, net soos wat Hy ’n ruspe in ’n kleurvolle skoenlapper verander.


1  https://www.thesouthafrican.com/news/south-africans-are-among-the-hardest-workers-in-the-world/

2  https://www.thesouthafrican.com/lifestyle/south-africans-are-lazy-some-of-the-laziest-in-the-world-in-fact/

3  Derek Kidner, Tyndale Old Testament Commentaries: Proverbs (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1964), 72

4  Inligting verkry by https://creation.com/ants-swarm-intelligence, asook deur ’n persoonlike gesprek met ’n entomoloog (’n persoon wat insekte bestudeer), dr. Michelle Schröder.

5  Vry vertaal uit Kidner, ibid., 43

Kategorieë