Soos talle gelowiges glo Jane dat sekere mense in die geesteswêreld kan sien, en dat net húlle geestelike oorlogvoering verstaan. Die res van ons is maar gewone Christene vir wie die Here Ef. 6 gegee het. ‘n Mens kry die idee dat die Skrif nie genoeg is vir hierdie mense nie, en dat profeet so-en-so uiteindelik die boek geskryf het wat die kerk uit die duisternis van haar onkunde sal bevry. Maar ware Christene glo dat Ef. 6 se wapenrusting voldoende is.
Wat is die wapenrusting? (v.14-17)
Wyle dr. Martin Holdt het vertel dat hy saam met Stuart Olyott in die kar gery het. Stuart kon na enigiets in die skepping kyk, en dit in ‘n illustrasie verander om een of ander Bybelse waarheid te verduidelik. Dit het vir Martin verstom.
Deur die Gees se werk in Paulus het hy dieselfde vermoë gehad. Onthou dat hy in die tronk was toe hy Efesiërs geskryf het (v.20). Dalk het hy by die tronk se venster uitgekyk en gesien hoe die Romeine militêre opleiding ontvang. Of miskien was hy aan ‘n wag vasgeketting. Hy het na die soldaat se uitrusting gekyk en dit as ‘n illustrasie gebruik om die wapenrusting van God in Ef. 6:14-17 te verduidelik. Sy ses beskrywings van die wapenrusting is soos volg.
[1] Die gordel van waarheid (v.14a)
Die gordel het die soldaat se kleed bo sy knieë gehou, sodat dit nie afgesak en hom gepootjie het nie. Die onderkant van sy borsharnas en die swaard se skede is ook aan die gordel vasgemaak. Die gordel het dus alles bymekaar gehou.
Net soos die Messias in Jes. 11:5 die gordel van geregtigheid en trou gedra het, moet ons die gordel van waarheid aantrek (v.14a). Ons moet die waarheid van God se Woord in Jesus en die evangelie glo (1:13, 4:21). Ons moet die waarheid praat en daarin lewe (4:15, 25). Bly weg van leuens af.
- Moenie na vals lering luister nie.
- Moenie blatant lieg en dit verskoon, omdat dit ‘n wit leuentjie is nie.
- Moenie jou stories vergroot om dit beter te laat klink nie.
- Moenie oordryf as jy met jou lewensmaat baklei nie: ‘Jy is nooit by die huis nie… Jy is altyd laat!’
- Moenie mense vlei en dinge vóór mense sê wat jy nie agter hulle sal sê nie.
- Moenie skinder en dinge agter mense sê wat jy nie voor hulle sal sê nie.
- Moenie stilbly as jy die waarheid ken nie; dit is ook lieg.
- Moenie jou beloftes breek nie.
- Moenie deur jou lewe lieg omdat jy só is by die huis, maar iemand anders is by die kerk nie.
Vul eerder jou hart met die waarheid van God se Woord, want as dit in jou hart is sal dit by jou mond uitkom (Matt. 12:34).
[2] Die borsharnas van geregtigheid (v.14b)
Die borsharnas was van metaal skubbe gemaak om die soldaat se hart, longe en ingewande te beskerm. Volgens Jes. 59:17 het God dit gedra; ons moet dit ook dra (v.14b, 1Tess. 5:8). Ons moet geregtigheid aantrek en ongeregtigheid vermy (v.14b, 4:24, 1Joh. 5:17). Leef jy regverdig in jou gedagtelewe, huwelik, gesin, finansies, toewyding aan Jesus en die kerk, op die pad, by die werk, ens.? As jy onheilig is, is jy kwesbaar en ‘n maklike teiken vir die duiwel.
[3] Die skoene van gereedheid (v.15)
Die soldaat se skoene het hom teen dorings en klippe beskerm. Die spykers onder sy sole het gehelp dat hy vasstaan teen die vyand.[1] In ons oorlog teen die duiwel moet ons die skoene van gereedheid aantrek (v.15, Jes. 52:7). Om mense uit Satan se mag te bevry en sy koninkryk af te breek, moet ons gereed wees om die evangelie met ongelowiges te deel (Hand. 26:18, Kol. 1:13, 1Pet. 3:15). Om die oorlog te wen, moet ons die evangelie van vrede verkondig (v.15, 2:17).
Ek glo dat ons oneffektief teen Satan is en dat ons veld verloor het, omdat ons nie die evangelie deel nie. Weet jy nie hoe nie? Vertel hoe jy tot bekering gekom het en onthou die volgende vier dinge.
- God: Hy is heilig.
- Die mens: In jou diepste wese is jy ‘n sondaar wat God se heilige standaard oortree het.
- Jesus: Hy is die ewige God wat mens geword het om die straf vir ons sonde aan die kruis te dra. Hy is begrawe en het uit die dood uit opgestaan.
- Reaksie: Los jou sonde en glo dat Jesus Christus jou deur sy kruisdood en opstanding daarvan en van God se oordeel kan red.
Dalk is jy bang of skaam om die evangelie te deel? Jesus is met jou (Matt. 28:20). Moenie skaam wees nie, maar weet dat die Heilige Gees wat in jou woon sterker as die duiwel is (Rom. 1:16, 1Joh. 4:4).
[4] Die skild van geloof (v.16a)
As ‘n Romeinse soldaat sy reghoekige skild vasgehou het, was dit net sy kop en skene wat uitgesteek het. Die weermag het hulle skilde bo, voor, langs en agter hulle gehou, hulle spiese tussendeur gesteek en in formasie gemarsjeer. Hulle het die skilde met water-deurweekte leer oorgetrek om sodoende die vyand se brandende pyle uit te blus.[2]
Ons moet altyd die skild van geloof opneem (v.16a). Glo in God en moenie aan sy bestaan twyfel nie (Heb. 11:6). Glo dat Hy ons deur Jesus se kruisdood en opstanding kan red (2:8). Laat jou geloof uitloop op ‘n lewe van liefde en gebed (1:15, 3:12, 17, Gal. 5:6). Wees deel van die gemeente sodat ander se geloof jou kan versterk (4:5, 4). Luister na die lering van die Woord en gebruik jou gawe, sodat jy volwasse kan raak in die geloof (4:13, 11-12). Onthou dat hierdie geloof van God af kom; vra Hom daarvoor (6:23).
Deur geloof erken ons dat ons nie op ons eie kan staan nie, maar dat ons te alle tye die Here nodig het (Joh. 15:5). Soms glo ons nie dat die Here ons wil of kan help nie. Ons bid nie, maar betwyfel sy almag, goedheid en getrouheid aan sy beloftes. Ons stel ons volle vertroue in mense, geld, onsself, ons vermoëns of iets anders. Die Bybel noem dit afgodery. As jy in gebed en geloof op die Here staatmaak, sal Hy ‘n skild wees om jou teen Satan en die brandende pyle van sy versoeking te beskerm (v.16a, Gen. 15:1, Ps. 84:12).
[5] Die helm van verlossing (v.17a)
Omdat ‘n kopwond dodelik kan wees, het Romeinse soldate helms gedra. Ons moet die helm van verlossing dra om ons teen Satan se versoeking te beskerm (v.17a). As jy gered is, wil hy jou oor jou redding laat twyfel. Hy sal vir jou sê dat jy nie goed genoeg is om hemel toe te gaan nie. Maar volgens 2:8-9 is jy uit genade gered, en nie deur jou werke nie. Jy het in Jesus geglo om jou te red en nie in jouself nie (1:13). Die helm van verlossing kom van Hóm af (Jes. 59:17); jy het dit maar net met die hand van geloof ontvang (v.17a).
Moenie vir die duiwel luister nie, maar dank die Here dat hy nie jou redding kan steel nie (Joh. 10:28-29, Rom. 8:38-39). Leef soos iemand wat gered is en nie onder die heerskappy van sonde en die duiwel is nie. As jy aanhoudend na die kruis kyk, sal dit jou help om sonde te haat en Jesus lief te hê. Jy sal heilig lewe en nie val wanneer Satan jou versoek om oor jou redding te twyfel nie (2Pet. 1:5-10).
[6] Die swaard van die Gees (v.17b)
Die Romeine se kort tweesnydende swaard was lig en maklik om te hanteer. In ons stryd teen die duiwel moet ons die swaard van die Gees gebruik. Dit is die Woord van God waardeur ons gered en gereinig is (v.17b, 1:13, 5:26, Heb. 4:12). Omdat die Heilige Gees dit geskryf het en dit sy Woord is, is dit foutloos, duidelik, algenoegsaam, betroubaar en kragtig, ‘n swaard wat nie kan stomp word of breek nie (v.17b, Ps. 19:8-10, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).
Om Satan se aanvalle af te weer moet jy die Skrif ken (Matt. 4:1-11). Wees lief vir die Bybel: lees dit, memoriseer dit, bestudeer dit, luister na die verkondiging daarvan, oordink dit, gehoorsaam dit. Lees kommentare, artikels en boeke wat kan help dat jy dit beter verstaan.
Vertrou op die Gees deurdat jy jou inname van die Bybel met gebed deurweek. Wanneer Satan dan met sy vuil kloue aan die deur van jou hart klop, sal die Heilige Gees jou aan spesifieke verse herinner. As jy egter die Bybel afskeep, sal die Heilige Gees die geroeste kluisdeur van jou geheue oopmaak en vind dat daar nie ‘n swaard is om jou te help nie.
Hoe moet jy dit gebruik? (v.18-20)
Ek het ‘n vriend wat ‘n boogjagter is. Drie weke gelede het hy sy boog vir my gewys. Vir my het dit moeilik gelyk om te span, en volgens hom raak jou arms moeg as jy dit vir lank so moet hou. Gestel dat hy vir my nege jarige seun gewys het hoe die boog werk. As my seun alles verstaan het, sou hy nog steeds nie die boog kon gebruik nie, omdat hy nie genoeg krag het nie.
So is dit ook met die wapenrusting. Al verstaan jy alles, het jy nie die krag om dit op jou eie te gebruik nie: jy het die Gees nodig. Hoe kan jy sy krag kry? Jy moet daarvoor bid. Gebed is die middel waardeur jy die wapenrusting gebruik en teen versoeking stry (v.18, Matt. 6:13). Hoe moet jy bid?
[1] Bid met alle gebed en smeking (v.18)
Alle gebed verwys na die verskillende soorte gebed. Bewonder en prys God vir wie Hy is. Dank Hom vir sy goedheid aan jou. Bely jou sonde en vra vergifnis vir jou sonde. Smeek Hom vir jou behoeftes. Bid vir ander mense volgens húlle behoeftes. Wy jouself opnuut aan Hom toe.
[2] Bid by elke geleentheid (v.18, 1Tess. 5:17)
Bid in die oggend as jy opstaan en in die aand voor jy gaan slaap. Bid voor jy eet en saam met jou gesin. Bid as jy ‘n krisis beleef of as jy goeie nuus gekry het. Bid voor jy kerk toe kom en as jy die nagmaal gebruik. Bid voor jy met vakansie gaan. Bid as jy by vriende gekuier het en huiswaarts keer. Bid as die vyand jou versoek. Bid as jy gesondig het. Bid, bid, bid.
[3] Bid altyd in die Gees (v.18, Jud. 20)
Dit beteken nie dat jy in tale moet bid nie, aangesien nie almal die gawe het nie (1Kor. 12:10, 30). Om in die Gees te bid beteken dat jy die Gees-geïnspireerde woorde van die Bybel bid (v.17-18). Dit beteken dat die Gees die waarheid wat in jou hart is in gebed omskep. Dit beteken dat jy met die Gees gevul is, sodat jy nie anders kan as om te bid nie (v.18, 5:18). Dit beteken dat die Heilige Gees jou vir gebed bekragtig en jou gebrekkige gebede help (2:18, Rom. 8:26-27).
[4] Waak in gebed (v.18, Matt. 26:41, Kol. 4:2)
Die duiwel sal jou verhinder om te bid. Hy sal jou ook met dwalende en sondige gedagtes pla terwyl jy bid. Wees waaksaam.
[5] Bid met alle volharding (v.18, Rom. 12:12)
Moenie met ‘n spoed wegtrek en na ‘n paar weke ophou nie; volhard. Moenie jou gebedslewe versaak nie. Om sterk te wees in die Here moet jy sterk wees in gebed. ‘n Biddelose Christen is soos ‘n voël met ‘n gebreekte vlerk: ‘n maklike teiken vir die duiwel. Satan skrik nie as jy min bid en dan vir ‘n dag vas omdat jy skuldig voel nie. Jou gebede moet soos ‘n maraton atleet wees en nie soos ‘n naelloper nie. Werk aan konstantheid voordat jy aan tyd werk. As jy vir jare en dekades aanhou, sal jy groot skade aan die duiwel se koninkryk aanrig.
[6] Bid vir al die heiliges (v.18)
Niemand kan alleen teen die duiwel stry nie, en daarom moet ons vir mekaar bid. Bid vir die gelowiges in jou gemeente, asook vir dié wat jy nog nooit gesien het nie (v.18, Kol.1:9, 2:1, 1Pet. 5:8-9). Bid dat die Here hulle teen die duiwel sal help en beskerm. Bid elke dag vir ‘n paar gelowiges in die gemeente tot jy deur die lys gebid het. Sê vir mense as jy vir hulle gebid het: dit sal hulle bemoedig.
[7] Bid vir die prediking (v.19-20, 1Tess. 5:25, 2Tess. 3:1)
Wanneer die Woord gepreek word, wil die duiwel keer dat mense tot bekering kom en groei (Matt. 13:18-22, 2Kor. 4:4). Hy versoek hulle om te dagdroom, die horlosie dop te hou of te slaap. Ons moet die duiwel in gebed teenstaan en vir die Here vra om mense se blinde oë en harde harte oop te maak.
Bid ook dat die prediker die Woord vreesloos en verstaanbaar sal verkondig (v.19-20, Kol. 4:3-4). Bid dat hy dapper sal wees en nie sal stilbly omdat hy bang is vir mense nie (v.19-20, Hand. 4:8, 13, 29, 31, 18:9-10, Rom. 1:16, 2Tim. 1:8, 12). Bid dat hy nie sy eie idees sal preek nie, maar net wat God in die Woord gegee het (v.19).
Bid vir hom, omdat die duiwel hom aanhoudend aanval, versoek, vervolg en wil keer dat hy die Woord effektief verkondig (v.20, Rom. 15:30-31, 2Kor. 1:11, 2Tess. 3:2). Bid dat God hom sal gebruik om Satan se koninkryk te skud en om mense na Homself toe te bring. Hy is nie ‘n apostel soos Paulus nie, maar soos Paulus is hy geroep om die Here te verteenwoordig (v.20, 2Kor. 5:20). Bid asb. vir God se werkers op die sendingveld en in die pastorale bediening – hulle het jou gebede nodig.
Bid volgens Paulus se lering in v.18-20, asook volgens sy voorbeeld in 1:15-19, 3:14-21 en ander tekste. Moet asb. nie dink dat dit genoeg is om in jou stiltetyd so te bid nie. Ef. 6:18-20 is vir ‘n gemeente geskryf, en daarom moet ons hierdie riglyne in die bidure volg. Dié wat nie by een van die gemeente se bidure is nie, is ongehoorsaam. Sorg asb. dat jy by ‘n biduur inskakel. Dit is immers wanneer jy alleen en saam met ander bid dat jy met geestelike oorlogvoering besig is.
Dit laat my aan die keer dink toe ‘n Amerikaanse predikant vir Spurgeon gevra het hoekom hy so baie mense vir die Here bereik. ‘My people pray for me,’ was sy eenvoudige antwoord.[3] As ons kan leer om te bid, sal ons besef dat gebed die kragstasie agter die res van die wapenrusting is.
[1] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Ephesians 6:15
[2] NIV Study Bible, note on Eph. 6:16. Arthur G. Patzia, New International Biblical Commentary: Ephesians, Colossians, Philemon, Hendrickson Publishers & Paternoster Press, Peabody: Massachusetts, 1984, 1990, bladsy 289
[3] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1966, 2002, p.36 n.20