Nick is 4 jaar oud. Sy pa is $50 biljoen sterk. Hy is bly dat sy pa so goed vir hom sorg. Om dankie te sê breek hy sy spaarvarkie oop, en gee hy al sy geld - $150 - vir sy pa.
Om die Here te dank vir alles wat hy vir jou doen is so. Wat sal jy vir Hom gee: geld? Dit kom in elk geval van Hom af (1Kron. 29:14). Wat van geskenke? Hy het dit vir jou gegee (Jak. 1:17). Dalk jou diens? Dit is uit Hom (1Kor. 4:7). Wat van jou lewe? Hy het dit vir jou gegee (Hand. 17:25). Sê eerder net dankie, prys Hom en geniet Hom. Dit sal Hom verheerlik. Dit is wat Jes. 44:21-28 vir ons leer.
1. Wat moet jy vir die Here doen? (v.21-23)
[a] Onthou Hom (v.21)
Het jy al ooit jou kinders getugtig en gevra: ‘Hoekom het jy dit gedoen?’ Wat antwoord hulle? ‘Ek het vergeet.’ Maar jy het twee dae gelede vir hulle gesê om dit nie te doen nie.
Ons is soos kinders en vergeet maklik (Ps. 106:4, 13, 21, 45, 2Pet. 1:12-15). Daarom moes die Here sy volk herinner dat afgodery dwaas is, en dat Hy die ware God is (v.6-20, 21). Hy het hulle uit Egipte gered om sy kneg te wees (v.21). Die mens vorm afgode (v.12-13), maar die Here het sy volk gevorm (v.21).
God vergeet nie soos ons nie, maar sal sy volk nog in die toekoms onthou (v.21, 49:15, Ps. 105:8, Rom. 11:28-29). Dit geld vir elkeen wat glo. Sal die Here ‘n mossie onthou en van jou vergeet (Luk. 12:6-7)?
Hy onthou jou gebede. Hy onthou jou wanneer jy bang is. Hy onthou as jy deur beproewings gaan. Hy vergeet jou nie wanneer jy sonde doen nie, maar tugtig jou sodat jy na Hom toe sal terugkeer. Hy sal jou ook op jou sterfbed onthou (Luk. 23:42-43).
Soos wat die Here jou onthou moet jy Hom onthou en gehoorsaam. As jy Hom vrees sal Hy jou naam in die boek van herinnering skryf (v.21, Mal. 3:16). Hy sal jou m.a.w. onthou.
Onthou ook die Here wanneer jy die nagmaal gebruik: ‘doen dit tot my gedagtenis’ (1Kor. 11:24-25). As jy vir geen rede van die nagmaal af wegbly nie, sal jy die Here vergeet. Doen eerder goed, dien die Here, en vra Hom om jou te onthou (Neh. 13:14, 31, Heb. 6:10).
[b] Keer terug na Hom toe (v.22)
Het jy jouself al ooit geflous deur warm aan te trek as jy ‘n miswolk in die oggend sien? Teen 10:00 vrek jy as die miswolk in die son se hitte verdamp. So het God Israel se sonde uitgewis: soos ‘n wolk of miswolk voor die son (v.22). Jesaja het God se verlossing en gewillige vergifnis as motivering vir die afvallige volk gebruik om hulle te bekeer (v.22).
Sal die Here jou terugneem en vergewe? Jesus het gesterf om jou sonde onder sy voete te vertrap, in die diepste see te gooi, en van jou af weg te vat so ver soos die ooste en die weste van mekaar verwyder is (Miga 7:19, Ps. 103:12). Die Here onthou ons, maar Hy onthou nie ons sonde teen ons nie (v.21-22, 43:25).
God het die inisiatief geneem om ons te vergewe. Hy het ons lief. Hy het sy lewe vir ons gegee. Hierdie dinge wys dat Hy meer as bereid is om jou te vergewe (v.22, Rom. 5:8). God sal jou vergewe as jy na Hom toe terugkeer (Luk. 24:47, 1Joh. 1:9). En tog baseer Hy nie sy vergifnis op jou bekering nie, maar op Jesus se kruisdood (v.22, Ef. 1:7, 1Joh. 1:7).
Geen god kan verlos en vergewe soos Hy nie (v.22, 17, 20). Jy hoef nie te vrees of skaam te voel om terug te keer nie. Kom vrymoedig en bely jou sonde, al is dit ook hoe groot. As God die moord op sy Seun kan vergewe, kan Hy enige sonde vergewe (Luk. 23:34, 1Tim. 1:15).
Martyn Lloyd-Jones vertel van ‘n afvallige man wat so vergewe is. Hy was ‘n toegewyde Christen, maar het met ‘n slegte vrou deurmekaar geraak. Hy het sy vrou gelos, die huis onder haar uitverkoop, en die geld gemors. Toe die geld op is, toe die los die slegte vrou hom.
Hy was baie depressief en het geglo dat selfmoord die enigste uitweg is. Hy het na Westminster brug toe geloop en besluit om in die Teemsrivier te spring. Toe hy by die brug kom toe slaan Big Ben 18:30. ‘Martyn Lloyd-Jones will now be just entering his pulpit for his evening service,’ het hy vir homself gesê. Hy het besluit om nog een keer na hom te luister voordat hy sy lewe beëindig.
Hy was binne 6 minute by Westminster Chapel. Toe hy by die kerk instap toe hoor hy hoe Lloyd-Jones hierdie woorde bid: ‘God have mercy upon the backslider.’ Die Here het die man onmiddellik herstel en vergewe. Hy het later ‘n ouderling in ‘n gemeente in Londen geword, en vir ‘n aantal jare getrou gedien. Daarna het hy in oorwinning gesterf en is hy hemel toe [Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers (Grand Rapids: Zondervan Publishing House, 1971), 302-303].
God is bekend vir sy genade aan afvalliges: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie” (42:3).
[c] Sing tot Hom (v.23)
‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê dat dit ‘n probleem is as mense na die kerk toe kom maar nie sing nie. Volgens hom is dít erger as iemand wat ‘n minder belangrike leerstelling verkeerd glo. ‘Dit is ‘n geestelike probleem,’ het hy gesê.
Ek is geneig om saam met hom te stem. Die hele skepping (bome ook, vgl. v.13-14!) sing omdat God dit gedoen het: Hy het sy volk verlos (v.23, Ps. 22:32, 148:1-14, Joh. 19:30, Op. 5:9-14). En kan die verlostes dan stilbly en Hom nié prys nie (v.23, Ef. 1:6, 12, 14)?
Moet asb. nie prewel wanneer jy die Here prys nie. Moenie stilbly as ons sing nie. Vra ook die Here se hulp dat jy nie dagdroom as ons sing nie. Sing uit jou hart en met blydskap tot die Here (Ps. 95:1-2). Gebruik alles wat jy het om Hom te prys (Ps. 150).
Pasop ook vir ‘n verkeerde gesindheid wat sê: ‘Ek sing nie saam as dit Engels is nie... Ek sing nie as dit ‘n ou lied is nie... Ek sing nie as ons nuwe liede sing nie... ens.’ Sing asb. saam as die lied Bybels is en die wysie nie afbreek doen aan die woorde nie. God juig en sing oor jou (Sef. 3:17). En sal jy dit nie oor Hom doen nie (Sef. 3:14)?
2. Wat doen die Here vir jou? (v.24-28)
[a] Hy het jou en alles geskep (v.24)
Ek verpes ‘n sentimentele, mens-gesentreerde, oppervlakkige, Facebook Christenskap waarin die mens die belangrikste is. God het alles tot sý eer en vir sý plesier geskep (Ps. 19:2, Op. 4:11). En tog vergeet Hy ons nie, maar het Hy alles geskep sodat ons dit kan geniet. “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” (Ps. 115:16).
Hy het Israel in die moederskoot gevorm (v.24, kontra v.12-13). Hy het ook die hemel, die aarde en alles in die skepping gevorm (v.24, 42:5, 40:22). Hy het voor Gen. 1:1 bestaan en dus sonder die hulp van ‘n engel, afgod of mens geskep (v.24).
Soos die Here Israel geskep het (v.24), het Hy jou in die moederskoot gevorm (Ps. 139:13). Hy het jou vir Homself geskep, maar a.g.v. jou en my sonde leef ons vir onsself en nie tot sy eer nie (Rom. 3:23). As Hy wou kon Hy ons afskryf. Hy het egter ‘n plan gemaak om ons te red. Deur sy lewe en kruisdood het Hy die straf gevat wat ons verdien, en die rekord voorsien wat ons kort (2Kor. 5:21).
Hy wederbaar ons, stel ons instaat om te glo en ons te bekeer, verklaar ons onskuldig en regverdig, vergewe ons, neem ons aan, maak ons heilig, en kry die hemel vir ons gereed. Jy behoort dus twee keer aan die Here: deur skepping en verlossing. Kan jy dan nog vir jou sonde en jouself lewe?
Nog ‘n woord van toepassing: sal jy vir ‘n polieke party stem wat geen respek toon vir die lewe wat God in die moederskoot vorm nie, maar dit deur aborsie beëindig? Op grond van die Skrif wil ek jou aanmoedig om nie vir sulke partye te stem nie. “[Moenie] met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” (1Tim. 5:22).
[b] Hy verkleineer waarsêers (v.25)
Toe ek ‘n student was het ‘n charismaat geprofeteer dat ons gemeente binne twee jaar sou verdubbel. Twee jaar later het die kerk geskeur. God verneder sulke mense deurdat hulle voorspellings nie uitkom nie (v.25). Die Here wil wys dat Hy en nie hulle nie, die toekoms beheer (43:22-23). Hy wys dat hierdie sg. wyse manne se kennis niks is nie (v.25, 1Kor. 1:19-20).
Moet dan nie wysheid oor die toekoms by ‘n ongelowige berader, palmleser, jou sterretekens, ens. soek nie. Soek eerder wysheid in gebed en die Woord. Alle kennis en wysheid is immers verborge in God en sy Seun (8:19-20, Spr. 2:6, 1Kor. 1:24, 30, Kol. 2:3).
[c] Hy vervul sy Woord (v.26-28)
Die amptelike webblad van die Ahmadiyya Moslem gemeenskap glo dat die Koran akkuraat profesieë bevat. Maar wanneer jy dit lees is beide die profesieë en sg. vervullings vaag.
Die webtuiste haal bv. Sura 41:21 aan en sê dat dit vingerafdrukke voorspel: ‘Their skins will bear witness against them as to what they have been doing’. Hulle sê ook uit Sura 51:8 (eintlik 51:7) dat die Koran vliegtuie voorspel: ‘And by the heaven full of tracks’ [https://www.alislam.org/library/articles/fulfilled-prophecies-of-holy-quran/].
Die Bybel is nie vaag nie, maar voorspel en vervul dinge tot op die letter (v.26). Jesaja het bv. voorspel dat Israel ná die ballingskap weer in Jerusalem sou bly, asook dat die verwoeste stede van Juda herbou sal word (v.26).
Net soos wat God die Rooi See en Jordaan rivier opgedroog het toe Hy sy volk uit Egipte verlos en in die Beloofde Land inlei, sou Hy koning Kores van Persië stuur om Israel uit Babilon te bevry (v.27-28). God het Kores se naam en missie 150 jaar voor hy gebore is voorspel (v.28, vgl. 1Kon. 13:2)!
Kores was God se herder wat Israel uit Babilon bevry het, net soos wat Moses en Aäron die volk soos skape uit Egipte gelei het (v.28, Ps. 77:21). Volgens Jesaja sou Jerusalem en die tempelfondasie onder die bevel van Kores herbou word (v.28). Dit is 150 jaar na Jesaja in Esra en Nehemia se tyd vervul.
Sover ek kan sien is daar in hierdie verse drie lesse wat uitstaan:
- Die Bybel is akkuraat en betroubaar (v.26, 28). God lieg nie, maar doen wat Hy belowe (Num. 23:19). Lees daarom jou Bybel sonder om te twyfel.
- God beheer konings (v.28). “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spr. 21:1, vgl. Esra 1:1, 6:22, 7:27). Moenie vir Julius Malema vrees nie.
- God beheer die geskiedenis om sy volk te bevoordeel, al lyk dit nie altyd so nie (v.28). Rom. 8:28 (‘Alles werk ten goede mee...’) geld nie net vir individuele gelowiges nie, maar vir die kerk in haar geheel.
Jesaja en die res van die Bybel fokus nie op wat jy vir die Here kan doen nie. Jy moet eers leer wat Hy vir jou gedoen het voordat jy daarop kan reageer. Dit is bv. wat Paulus in Romeine doen. Vir 11 hoofstukke wys hy wat God vir ons gedoen het. Eers in Rom. 12:1 sê hy hoe jy daarop moet reageer:
“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”