Ek was in my tweede jaar op Sem toe ek saam met ‘n ‘professionele’ man en ‘n ander student na mense se huis toe is, omdat hulle probleme met demone gehad het. Die twee mans het olie op die deurkosyne gesmeer en ons het by elke kamer gebid.
Sowat 18 maande later het ‘n nóg ‘n man in die gemeente gesê dat daar demone in sy huis is. Hy het ‘n ‘professionele’ persoon gevra om dieselfde ritueel te volg om van die demone ontslae te raak.
‘n Bietjie meer as tien jaar gelede het ‘n man my gebel en gesê dat dit sleg gaan met sy besigheid. Hy het gevra dat ek olie aan die deurkosyne moet smeer en vir sy besigheid moet bid. Iemand het vir hom gesê dat dit demone is wat sy besigheid laat sukkel.
Toe diewe ‘n paar jaar gelede by ons kerkgebou ingebreek het, het ‘n man van die sekuriteitsmaatskappy vir my gesê dat ons die gebou met olie moet salf. In ons plaaslike koerant was daar ‘n artikel wat gesê het dat daar spoke in die ou staatshospitaal is. ‘n Klomp charismate het deur die hospitaal gaan loop om die demone weg te jaag.
Ek glo dat demone vandag nog aktief is. Maar waar sê die Bybel dat ons mense se deurkosyne met olie moet salf om hulle weg te kry? Ek glo dat die charismate se bygelowigheid kerke negatief beïnvloed. A.g.v. hierdie invloed het mense ‘n wanbegrip van wat geestelike oorlogvoering behels.
Om te keer dat demone haar kinders deur nagmerries pla, skeur mamma Matilda die feetjie- en Spiderman prente van haar kinders se kamermure af. Dit pla haar egter nie dat demone háár versoek om haar kinders af te breek wanneer sy elke dag grootmens tantrums gooi as sy nie haar sin kry nie.
Ek wil reguit vir jou sê om nié jou inligting oor geestelike oorlogvoering in charismatiese boeke en preke te kry nie, omdat hulle nie die eerste beginsels hiervan verstaan nie. Baie van wat hulle sê kom uit hulle eie bygelowige verbeeldings en die okkulte uit, en nie uit die Woord van God nie. Matt. 4:1-11 en soortgelyke tekste is meer as voldoende om ons teen die duiwel, sy demone en hulle versoekings te help.[1]
Glo dat God soewerein is (v.1)
Meer as tien jaar gelede het ek saam met twee mans by ‘n restaurant gaan eet. Een van die mans het gesê dat Adam en Eva hulle mag aan die duiwel oorgegee het, en dat God óns toestemming benodig om in die wêreld in te kom en sy werk te doen. Ek het hom daarop uitgedaag en gevra wat hy van Matt. 28:18 dink: “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” Hy kon my nie antwoord nie.
Wanneer jy deur die duiwel versoek word moet jy onthou dat God soewerein is. God het nie vir Jesus versoek nie (Jak. 1:13), maar Hý het vir Jesus in die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (v.1). Gód is die Een wat vir Satan sê of hy ons mag versoek of nie, wat hy mag doen, en hoe lank hy met die versoeking kan aanhou (Job 1:12, 2:6).
Omdat Hy dan soewerein is oor die versoeking, moet jy jou nie te veel aan die duiwel steur nie, maar met jou Vader praat en vir Hóm vra om jou te help: “en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” (6:13). As die Here besluit dat jy deur die versoeking moet gaan, sal dit net wees omdat Hy ‘n groter plan met jou het, en omdat Hy jou meer soos Jesus wil maak. Martin Luther se opsomming van Ps. 119 was in die kol toe hy gesê het dat ons drie dinge nodig het om die Woord beter te ken: ‘Gebed, bepeinsing en versoeking.’
Paulus het ook geglo dat God soms vir die duiwel toestemming gee om ons aan te val, sodat ons geestelik kan groei (2Kor. 12:7-10). Moet dan asb. nie dink dat intense versoeking ‘n aanduiding is dat die Here jou verlaat het nie. Dit mag dalk net die teenoorgestelde beteken: dat Hý jou in ‘n moeilike situasie in gelei het, sodat die duiwel jou kan versoek en jy geestelik sterker kan word (v.1, Luk. 22:31-32).
God se soewereiniteit oor Satan beteken ook dat Hý hom kan beveel en jy nie. Omdat Jesus God is, het Hy vir Satan bevele gegee (v.10, Mark. 1:25-27). Jy hoef nie die duiwel te vrees nie, maar jy moet ook nie arrogant wees en dink dat Jesus se mag oor demone aan jou gegee is, soos wat Hy dit aan die twaalf apostels en sy sewentig helpers gegee het nie. Onthou dat Satan en sy demone nêrens in die Bybel so aktief was soos toe Jesus op die aarde was nie. Hulle wou sy missie en die koms van sy Koninkryk gekeer het. Hulle was egter onsuksesvol omdat Hy hulle uitgedryf het en vir sy helpers gesê het om dit in sy Naam te doen (Matt. 12:28, Luk. 9:1, 10:1, 17).
Ons missie is nie hoofsaaklik om duiwels uit te dryf nie, maar om te glo dat God hulle reeds deur Jesus se kruisdood oorwin het (Kol. 2:14-15, 1Joh. 3:8). Indien jy glo dat demone nog net so aktief is soos in die eerste eeu, moet jy vir jouself vra of Jesus se kruisdood en opstanding enigsins ‘n effek op hulle gehad het?
Soos die Here in jou persoonlike versoeking soewerein is oor die duiwel, is Hy dit ook in jou evangelie-verkondiging om mense “van die mag van die Satan tot God” te red (Hand. 26:18). Dit is onbybels en onnodig om sg. gebiedsgeeste te bind, sodat jy die evangelie op ‘n sekere plek kan preek. Volgens Paulus in Rom. 1:16, 1Kor. 1:18 is die evangelie die krag van God en heeltemal voldoende om mense van hulle sonde en die duiwel te red. Moet daarom nie op jou eie vermoëns staatmaak nie, maar op God wat soewerein is oor Satan.
Vas en bid (v.2)
Jare gelede het ‘n vrou het vir ds. Neels Oosthuizen oor haar seun gekontak. Dit was duidelik dat hy nie maar net siek was nie, maar dat sy geval iets met duiwel besetenheid te doen gehad het. Ds. Neels het haar op Jesus se woorde in Mark. 9:28-29 gewys: “En toe Hy in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik: Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie? En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.” Toe hulle klaar gevas het, was die ma in ekstase omdat haar seun weer normaal was.
Wat vir duiwel besetenheid geld, geld ook vir versoeking. Jesus het vir 40 dae gevas toe Hy deur die duiwel versoek is (v.2). Wat leer ons hieruit?
[1] Jy hoef nie noodwendig vir 40 dae te vas nie, maar moet asb. nie dink dat jou daaglikse tafelgebed, die gebedjie onderaan jou dagstukkie, en die een minuut gebed voordat jy in die bed klim, genoeg is om teen die duiwel te baklei nie. Jy moet ‘n lewe van gebed kweek, en van tyd tot tyd vas om jou gebede te versterk. Onthou asb. dat gebed die kragtige wapen is waardeur jy die wapenrusting van God gebruik (Ef. 6:18).
[2] Moenie dink dat die duiwel dadelik sal vlug wanneer jy op jou knieë gaan nie. Om jou te verhinder sal hy jou met sonde of met ‘n besige program versoek. Terwyl jy bid sal hy jou in jou gedagtes pla (v.1-11). As jy klaar gebid het sal hy jou tot irritasie met jou lewensmaat of iemand anders versoek. Hy wil die seën wat jy sopas in gebed verkry het ruïneer.
Gebruik die Bybel (v.4, 7, 10)
Tydens my studiejare het my vriend van ‘n Satanis vertel wat saam met hom op skool was. Toe die Satanis eendag naby hom gekom het, het die hy die Bybel uitgehaal en dit in die kind se rigting geswaai. Volgens hom het die Satanis agtertoe gespring.
Soos jy seker weet is dit glad nie wat ek bedoel wanneer ek sê jy moet die Bybel gebruik nie. Ek bedoel eerder dat jy soos Jesus in v.1-11 die Skrif moet aanhaal, omdat God se waarheid die swaard is waarmee jy teen Satan se leuens moet veg (Ef. 6:17). Ek glo nie die onsin van mense wat maak of die Bybel nie voldoende is om teen die duiwel te veg nie. Het God ons dan in die donker gelaat? Is sy Woord nie genoeg nie (2Tim. 3:16-17, 2Pet. 1:3)?
Jy hoef dan nie soos Rebecca Brown rond te krap omdat jy die ‘diep dinge’ van Satan wil verstaan nie (Openb. 2:24). Buitendien is dit wat sy oor Satan en die onderwêreld te sê het, op die okkulte gebaseer en nie op die Bybel nie. Ek het nie veel vertroue in mense wat hulle inligting oor Satan by die okkulte kry nie, aangesien die duiwel ‘n leuenaar is.
Wanneer dit by die okkulte kom is dit goed dat jy niks daarvan weet nie, en dat jy niks daarmee te doen het nie. Wat boosheid betref moet ons so onvolwasse soos kinders wees (1Kor. 14:20). Maar as dit by die Bybel kom is dit ‘n ander storie. Jy moet dit goed ken, sodat jy kan weet wanneer die duiwel dit verdraai of buite konteks aanhaal (v.6).
Lees die Bybel biddend. Bestudeer dit. Oordink dit. Gehoorsaam dit. Vra ‘n volwasse gelowige om jou te help as daar iets is wat jy nie verstaan nie. Die Woord van God is algenoegsaam, sodat “ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie.” (2Kor. 2:10-11). Dit is jou swaard. Soos Jesus moet jy vir die duiwel sê: ‘Daar staan geskrywe.’ Hy sal nie dadelik vlug nie, en daarom moet jy aanhou om die Bybel aan te haal (v.4, 7, 10).
Wat Dawid in 1Sam. 21:9 van Goliat se swaard gesê het, kan ons van die Bybel sê: “Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my.” Hierdie swaard werk vir elkeen van die duiwel se versoekings. Memoriseer en gehoorsaam die verse wat jou spesifieke versoeking aanspreek.
Jou swaard is nié om soos die seuns van Skeva in Hand. 19:13-16 demone rond te jaag of hulle met towerformules (‘in Jesus Naam... deur die bloed van Jesus!’) te bestraf nie. Jou swaard is nié om soos die vals leraars in 2Pet. 2:10b-12 met Satan en sy demone te praat, of te dink dat jy in jouself die gesag oor hulle het nie:
“Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie... hulle belaster wat hulle nie ken nie”.
Die Bybel is jou swaard. Gebruik dit.
Kry ‘n hoë siening van God (v.4, 7, 10)
Een van my goeie vriende het eenkeer vir my gevra hoe hy dit moet hanteer wanneer hy bid en ‘n perdeby wat in die venster sit sy aandag aftrek. Thomas Brooks het goeie raad vir dié wie se gedagtes en aandag tydens hulle stiltetyd afgetrek word: kry ‘n hoë siening van God.
Brooks sê: ‘A man would be afraid of playing with a feather, when is speaking with a king... The reason why the blessed saints and glorious angels in heaven have not so much as one vain thought is, because they are greatly affected with the greatness, holiness, majesty, purity, and glory of God.’[2]
Ons weet dat Jesus self God is, maar ons weet ook dat hy ‘n hoë siening van God gehad het. Hy het geweet dat die Vader soewerein is, dat ons lewe van Hom af kom (v.4), dat Hy in ons behoeftes voorsien (v.4), dat Hy heilig is en nie getoets moet word nie (v.5-7) en dat die lof, eer en aanbidding aan Hom behoort (v.10).
As ek na sommige mense kyk, lyk dit of hulle ‘n hoë siening van die duiwel het en ‘n lae siening van God. In hulle teologie is Satan in beheer van enigiets wat sleg is, en staan God met sy hande in sy hare omdat hy niks kan doen tensy ons Hom toelaat nie.
Vir sulke mense wil ek sê dat hulle ‘n Bybelstudie van God se wese, Persoon en karakter moet maak. Dit sal help as hulle Thomas Watson se Body of Divinity in die hande kry en dit aandagtig deurlees. Dit sal vir hulle ‘n hoë siening van God gee en ook help dat hulle nie so maklik vir die duiwel luister nie.
Glo dat God die engele sal stuur om jou te help (v.11)
Vir die eerste 17 of 18 jaar van my Christelike lewe het ek nooit iets oor engele geleer nie. Toe loop ek ‘n kursus waarin die dosent ‘n deeglike teologie oor engele aangebied het. Dit was uitstekend. Ek het o.a. geleer dat God dikwels sy engele stuur om ons te help. In v.11 sien ons hoe die engele vir Jesus gehelp het.
Satan het Hom versoek deur te sê dat Hy van die tempel se dak af moet spring, en dat God dan gedwing sal wees om die engele te stuur (v.5-6). Maar weereens was dit ‘n leuen, omdat die onsigbare engele nog die hele tyd daar was om Hom teen die wilde diere te beskerm (Mark. 1:13, Ps. 91:11-13). Volgens 1Tim. 3:16 was die engele dwarsdeur Jesus se bediening by Hom.
- By sy geboorte was hulle daar (Luk. 2:9-14).
- Tydens die versoeking in die woestyn was hulle daar (v.11).
- Toe Hy in Getsemane gebid het, het ‘n engel uit die hemel gekom om Hom te versterk (Luk. 22:43).
- Daar was engele by die leë graf (28:2-7).
- Toe Hy opgevaar het hemel toe was hulle daar (Hand. 1:9-11).
- In die hemel aanbid hulle Hom (Heb. 1:6, Openb. 5:11-12).
God stuur nog steeds sy engele om ons te help wanneer die duiwel ons versoek. Moet asb. nie dink dat die engele afwesig is, net omdat jy hulle nie kan sien nie (2Kon.6:17). Hulle mag miskien nie alomteenwoordig wees nie, maar sodra God die bevel gee is hulle daar.
Die Bybel sê: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” (18:10). “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Heb. 1:14).
Jy mag nie tot die engele bid en vir hulle vra om jou te help nie (Kol. 2:18, Openb. 22:8-9). Maar soos Jesus in 26:53 mag jy vir God vra om die engele te stuur om jou te help. Soos Hy sy engel gestuur het om Daniël teen die leeus te beskerm (Dan. 6:23), sal Hy sy engele stuur om jou teen die brullende leeu, dit is die duiwel, te beskerm.
And though this world, with devils filled,
Should threaten to undo us,
We will not fear, for God has willed
His truth to triumph through us.
The prince of darkness grim,
We tremble not for him;
His rage we can endure,
For lo! his doom is sure;
One little Word shall fell him.[3]
[1] Deel 1 van Matt. 4:1-11 is beskikbaar onder die tema, Hoe versoek die duiwel jou?
[2] Thomas Brooks, Precious Remedies Against Satan’s Devices, p.136
[3] Martin Luther, A Mighty Fortress is our God, 1529