
Hebreërs 12:5-11
Vervolging het die Hebreër-Christene versoek om Jesus te versaak en na die tempel met sy priesters en diere-offers terug te keer. Die Hebreërskrywer herinner hulle daaraan dat Jesus groter is as die engele, profete, Moses, Aäron, die Levitiese priesterdom, die tempel, die diere-offers, die ou verbond, die bloed van Abel, Josua, die Sabbat, die Beloofde Land, en die geloofshelde. Selfs die geloofshelde (soos Moses in Heb. 11:26-27) het na Christus gekyk. Laat ons hulle voorbeeld volg (Heb. 12:2). Wie Jesus nie voor oë hou nie, sal Hom versaak. Dit beteken nie jy sal dadelik dwaling oor Hom glo nie, maar jy sal stadig wegdryf (Heb. 2:2). Dit begin deurdat jy die gemeente se samekomste verwaarloos (Heb. 10:25). John Owen het gesê: "he that forsakes the assemblies, forsakes the worship of Christ". So iemand laat na om Jesus se dood in die nagmaal te herdenk. Later sien hy Hom nie meer in die Skrifte nie; hy bely nie meer sy sonde op grond van Jesus se kruisdood nie, en hoor nie meer van Hom in die prediking nie. Die kerk fokus nie meer op haar groot missie, naamlik om Jesus aan die wêreld te verkondig nie. Al wat in so ’n geval help, is die Vader se dissipline. Hy weet dat ’n lewe weg van Jesus die dood meebring, daarom dissiplineer Hy ons, sodat ons na sy Seun toe sal terugkeer. ’n Boodskap deur Ivor Jefferies.

