Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 September 2021

Uitverkoop aan Jesus

Lukas 9:23

George Whitefield was ’n opelug prediker en evangelis in die 1700’s. Sy biograaf sê dat hy vir 30 jaar meer gepreek as geslaap het. Hy het tussen 40 en 60 ure per week gepreek (nie preek voorberei nie, maar gepreek!). Hy het omtrent 1000 keer per jaar gepreek (dit is byna 20 keer per week). Hy het vir skares van 10 000 tot 40 000 mense gepreek.1 Toe Whitefield op 55 op sy sterfbed lê, het ’n sekere Richard Smith vir hom gesê: ‘Ek wens jy het nie so dikwels gepreek nie.’ Whitefield se reaksie was: ‘Ek sal eerder verslyt as verroes.’2 Sy alles-oorheersende passie was om Jesus aan mense bekend te maak.

Paulus was so. Met dieselfde ywer waarmee hy voor sy bekering mense vervolg het, het hy hulle na sy bekering vir Jesus probeer wen (1Kor. 9:22, Gal. 1:13-14, 23). Sy hele lewe was Christus en die sterwe ’n wins, omdat hy daardeur by Christus sou wees (Fil. 1:21, 23). Paulus was uitverkoop aan Jesus. Hy het alles in sy vermoë gedoen om Hom beter te ken, die wedloop te voltooi en die prys te behaal (Fil. 3:7-14). Dié enkelgesindheid, vasberadenheid en doelgerige fokus het hy by Jesus geleer (9:51, Mark. 10:32).

Laat ons soos Paulus en George Whitefield vir Jesus volg. Wees uitverkoop aan Hom. Wy jou hele lewe aan Hom en moet niks terughou nie. Wees soos ’n maraton atleet wat besef dat dit alles of niks is: as jy na 5 km stop, kry jy nie ’n medalje nie; as jy na 35 km stop, kry jy nie ’n medalje nie. Jy moet die volle 42 km aflê.

Dalk vrees jy dat mense sal as radikaal sal beskou as jy jouself so uitverkoop. Jy is bang hulle bestempel jou as ’n fundamentalis of ’n Jesus Freak. Of jy is bang hulle beskou jou as deel van ’n sekte of randgroep aan die buitewyke van tradisionele en ortodokse Christenskap. Laat hulle dan so dink. Jesus vereis dat dié wat Hom volg aan Hom uitverkoop moet wees. Wees soos Jeremia en Apollos: vurig vir die Here en sy saak (Jer. 20:9, Hand. 18:25, Rom. 12:11). Volgens Luk. 9:23 is dit normale Christenskap: “Toe het Hy vir almal gesê: ‘As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg’”.

 

1. Verloën jouself

Ambrosius van Milan (340-397 n.C.) vertel die storie van ’n losbandige man wat tot bekering gekom het. Hy het besluit om sy dorp verlaat, omdat ’n sekere prostituut hom versoek het. Toe hy later na die dorp toe terugkeer en die prostituut hom sien, toe ignoreer hy haar. Sy het gedink hy herken haar nie en het gesê: ‘Dit is ek.’ Hy het geantwoord: ‘Ja, maar ek is nie meer ek nie.’3

         Dit is wat dit beteken om jouself te verloën: jy draai jou rug op jou ou self of sondige natuur. Jy weier om jou daarmee te vereenselwig (Gk. arneomai). Wat John Newton op sy sterfbed gesê het, sê jy van jouself: ‘...though I am not what I ought to be, nor what I wish to be, nor what I hope to be, I can truly say, I am not what I once was...’4 Paulus se woorde in 2Kor. 5:17 is waar van jou: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan—kyk, hulle het nuut geword.”

         Volgens party mense geld v.23 se selfverloëning nie vir ongelowiges nie, maar vir gelowiges: ‘Jesus roep nie hier ongelowiges tot bekering nie, maar gelowiges tot ’n hoër vlak van toewyding.’ Ek stem nie saam nie. Volgens v.23 moet almal wat Jesus se dissipel wil wees, homself verloën, sy kruis opneem en Hom volg. Jesus sê dit nie net vir die twaalf dissipels nie, maar vir die ongeredde skare (Mark. 8:34). Hy sê dit vir jou (v.23).

         Dalk sê jy: ‘Wat maak dit saak of Jesus met gelowiges of ongelowiges praat?’ Dit maak saak, omdat daar mense is wat sê jy hoef jouself nie te verloën om ’n Christen te wees nie: ‘Jy hoef jou rug nie op die sonde te draai om gered te wees nie. As jy net glo dat Jesus aan die kruis vir jou sonde gesterf het, gaan jy hemel toe. As jy êrens in jou lewe op ’n uitnodiging gereageer het, ’n sondaarsgebed gebid het, ’n oorgawe gemaak het, jou hart vir die Here gegee het en gedoop is, aanvaar die Here jou, al bring jy ook die res van jou lewe in sonde deur.’

         Dit is nie waar nie. Volgens die Bybel moet jy jouself verloën en jou bekeer om ’n Christen se wees.

         Iemand sal sê: ‘Redding is uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen en nie deur geloof plus bekering of selfverloëning nie.’ Dit is so dat ’n mens deur geloof alleen gered word (Rom. 3:28, Ef. 2:8-9). Die vraag is egter: wat is geloof? Geloof is meer as om die feite in jou kop glo. Die duiwels glo ook en is verlore (Jak. 2:19).

              Ware geloof is om jou vertroue in Jesus te stel dat die Vader sy sondelose lewe, kruisdood en opstanding in jou plek sal aanvaar. Die Vader beskou jou asof jy Jesus se perfekte lewe geleef het; Hy beskou Jesus asof Hy die sondaar is wat in jou plek sterf (2Kor. 5:21). Deur geloof verkry jy die voordele van Jesus se volmaakte lewe en kruisdood (Fil. 3:9).

         Glo jy dit? Dan moet jy jouself verloën en Jesus volg (v.23). Moenie net een of twee sondes los nie, maar raak ontslae van jou self fokus waarin alles oor jóú gaan en wat jý wil hê (2Tim. 3:2). Lê jouself aan Jesus se voete en sê dat moeg vir jouself is; moeg om iets te probeer wees wat jy nie is nie. Sê vir Hom dat jy nie meer ’n obsessie met jouself wil hê nie: ‘Hoe lyk ék, wat dink mense van mý, aanvaar hulle mý, is ék genoeg, voel ék goed oor mýself?’ Sê vir Jesus dat jy nie meer vervulling in jouself soek nie, maar in Hom. Sê dat jy jou skeppingsdoel wil vervul, naamlik om Hom te vertrou, te volg, lief te hê, te ken, te dien en te verheerlik. Sê dat jy jouself wil verloën om Hom te vind en in die proses uit te vind wie jy is: vrygekoop, gered, vergewe en aangeneem met God as jou Vader, Jesus as jou Here, Verlosser en Vriend en die Heilige Gees as jou Helper en Trooster.

              Praat die Here vandag met jou? Hoor jy ’n ander stem as myne? Ek praat nie van ’n stem wat jy met jou ore hoor nie, maar van ’n onhoorbare stem wat v.23 vir jou persoonlik sê: ‘Verloën jouself en volg My.’ Het jy ’n klomp verskonings vir hoekom jy dit nie vandag kan doen nie?                                                                                                                                                              

              ‘Ek moet tot volgende Sondag wag dat ek dit in die kerk kan doen.’

              Jy klink soos die man vir wie ek gesê het: ‘Jy moet weergebore word.’ Sy reaksie was: ‘Ek sal dit more in die kerk doen.’ ‘Nee!’ het ek gesê. ‘Wat as jy vanaand sterf? Vind vandag vir jou ’n stil plek waar jy die Here kan aanroep.’ Ek het die evangelie met hom gedeel. Die volgende dag was hy in die kerk. Twee dae later toe kry hy ’n hartval op sy bed en toe sterf hy op 34 jarige ouderdom. “Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing!” (2Kor. 6:2).

‘Ek kan nie nou tot bekering kom nie. Ek moet eers my verslawing aan ’n sekere sonde los.’

Jy het dit al probeer; dit werk nie. Hou op in jouself glo (al sê almal jy moet). Vra die Here om jou vry te maak: “Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.” (Joh. 8:34, 36).

‘Ek sal na Jesus toe kom as ek oud is—ek wil eers my lewe geniet.’

Jy maak twee foute as jy dit sê:

[a] Jy neem aan jy gaan oud word. Het jy vergeet dat die dood nie ’n ouderdomsbeperking het nie? Vra vir Covid.

[b] Jy het ’n verkeerde definisie van plesier. Is dit lekker om dronk te word en ’n babalas te hê: ’n aaklige hoofpyn en ’n gevoel van naarheid? Is dit lekker dat alkohol jou baas is; dat jy nie kan nee sê vir drank nie? Is dit lekker om jou huis, huwelik, werk en gesin weg te drink?

Is dit lekker om seksueel losbandig te wees en op 15 swanger te raak? Is dit lekker as die ou jou los om die kind alleen groot te maak? Is dit lekker as jy jou huwelik opbreek, omdat jy egbreuk gepleeg het? Is dit lekker as jy ’n seksueel-oordraagbare siekte kry? Is dit lekker om aanhoudend skuldig te voel en te vrees jy gaan gevang word?

Ek kan aangaan, maar jy kry die idee. Net in Jesus kan jy ware, blywende en ewige rykdom, liefde, vrede en blydskap hê, omdat Hy bron daarvan is.

 

2. Neem jou kruis op

Jesus is nie die eerste Jood wat gekruisig is nie. In 4 v.C. was daar ’n opstand onder die Jode en het die Romeinse generaal Varus 2000 van hulle gekruisig.5 In die jare daarna het die Romeine nog baie Jode gekruisig. Jesus se dissipels het geweet wat ’n kruis is. Toe Hy dus sê jy moet jou kruis opneem en Hom volg, het nie een van hulle gedink Hy praat van ’n moeilike skoonma, ’n stormagtige huwelik, werkloosheid, ’n rebelse kind of min geld nie. Gewoonlik kies jy nie hierdie dinge nie, terwyl jy vrywillig jou kruis moet opneem en dit tot by die plek van teregstelling moet dra. Wat beteken dit?

               Soos die Christene in Afghanistan moet jy bereid wees om Jesus te volg as dit jou lewe kos. Dalk sê jy jy sal, maar is jy skaam om by werk te sê jy is ’n Christen en van Jesus te getuig? Indien wel, is jy nie gereed om jou lewe vir Hom af te lê nie. Kies aan wie se kant jy wil wees: Jesus of die wêreld s’n (Matt. 6:24, Jak. 4:4, 1Joh. 2:15). As jy Jesus kies, moet jy Hom bo alles liefhê; selfs bo jou lewe (v.23, 14:26). Dietrich Bonhoeffer het gesê: ‘When Christ calls a man, he bids him come and die.’6 Dit verwys nie net na die dood van die liggaam nie. Jy moet bereid wees om aan self te sterf en nee te sê vir die begeertes van die ou mens (v.23, Gal. 5:24). Wees bereid om vir jouself te sê:

         Ek gaan nie dit dink nie.

         Ek gaan nie daarna kyk nie.

         Ek gaan nie dit doen of sê nie.

Sê selfs nee vir wettige plesiere wat jou verhouding met die Here rem. Sê byvoorbeeld ‘Ek gaan nie verder slaap nie, want anders los dit te min tyd vir die Woord en gebed... Ek gaan nie op ’n Sondag sport speel nie, omdat ek by die kerk wil wees.’                            ’n Skotse atleet genaamd Eric Liddell het dit gesê. Toe hy aan die 1924 Olimpiese Spele in Parys moes deelneem en die 100 meter wedloop op ’n Sondag was, toe weier hy om te hardloop. Later in die week het hy an die 400 meter deelgeneem en goud gewen. Vir Liddell het dit nie hoofsaaklik oor die Sondag gegaan nie, maar oor Jesus. Sy Christenskap was meer as net ’n Sondag-ding soos dit vir tradisionele kerkgangers is. Soos Paulus in 1Kor. 15:31 het Liddell elke dag sy kruis opgeneem, aan self gesterf en vir Jesus gevolg (v.23). Om hierdie rede het hy ook later ’n sendeling geword om Jesus aan die Chinese te verkondig.7

Dit beteken nie elke Christen moet oorsee gaan en ’n sendeling word nie. Maar elke Christen moet uiverkoop wees aan Jesus en Hom volg. Doen dit as jy in die oggend opstaan, deur die dag en voor jy gaan slaap. Volg Hom elke dag totdat jy jou kop neerlê en daarna (v.23). Toe ek op hoërskool was, het ’n Bulgaarse seun in ons gemeente dit gesê. Toe hy sy getuienis gee, toe sê hy met trane in sy oë: ‘I will follow Jesus as my Lord and Saviour. I will follow Him on earth and I will follow Him in heaven.’

 

3. Volg vir Jesus

’n Arm man het my vertel dat hy op ’n stadium baie geld gekry het. Hy het ewe skielik baie vriende gehad. Toe die geld op is, toe verdwyn sy vriende (Spr. 19:4). Hulle was nie regte vriende nie.

              Moenie so wees en vir Jesus volg vir wat Hy jou kan gee nie: vergifnis, vrede, die ewige lewe, verligting van ’n skuldige en redding van die hel. Volg Hóm: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg.” (v.23).

         Waarheen gaan Hy? Hy gaan na die kruis toe voordat Hy die kroon ontvang (v.22, Heb. 12:2). In ’n sekere sin ís dit maanskyn en rose om ’n Christen te wees, maar die rose is vol dorings (v.23, 2Tim. 3:12, 1Pet. 2:21). Tog moet dit jou nie afsit nie, want eintlik is die kruis net die lelike voordeur van ’n asemrowende paleis. Iemand wat homself aan Jesus uitverkoop verloor niks nie en wen als, “want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red.” (v.24).


1  Arnold Dallimore, George Whitefield: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1980), 521-3

2  Vry vertaal uit ibid., 505

3  Ambrose of Milan, Concerning Repentance, Book II, ch. 10, par. 96. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/34062.htm

4  Angehaal in D.A. Carson, The God Who Is There (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 2010), 196

5   Flavius Josephus, Complete Works: The Antiquities of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 17:10:10, p.372. Ook Wars, 2:5:2, p. 474

6  Dietrich Bonhoeffer, The Cost of Discipleship (New York: MacMillan Publishing Co., 1963, 1979), 99

7  https://www.ericliddell.org/biography/

Kategorieë