
Hosea 1:1-12
Hosea se huwelik met Gomer die prostituut was 'n prentjie van God se verhouding met Israel. Gomer het rondgeloop en so het God se volk voortdurend met ander gode egbreuk gepleeg. Gomer het buite-egtelike kinders gehad en so was Israel nie God se kinders nie. Weens Israel se ontrou, sou God hulle straf. Hulle wou nie op sy waarskuwings ag slaan nie en sou die bitter gevolge dra. Hulle ontrou het God se hart geskeur net soos Hosea diep pyn beleef het weens Gomer se ontrou. Nogtans het God sy volk liefgehad. Daarom sê Hy in Hos. 11:8-9: “Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel? Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma, jou maak soos Sebojim? My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My. Ek sal nie in my brandende toorn optree nie; Ek sal nie omdraai en Efraim vernietig nie; want Ek is God, nie 'n mens nie – die Heilige in jou midde; Ek sal nie in woede kom nie.” Op die einde het Hy hulle gestraf, maar sy hart was vol liefde. Daarom het Hy belowe om hulle in die toekoms te herstel en 'n nuwe hart te gee (Hos. 2:5, 14:5). Dan sou hulle nie weer ontrou wees nie, maar Hom vir ewig liefhê (Hos. 2:18-19). 'n Boodskap deur Roelf Power.

