Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 July 2021

Regte Christene

Lukas 8:4-15

Om en by 80% van alle Suid-Afrikaners sê hulle is Christene. Dit lyk nie so as ’n mens kyk na wat in ons land aangaan nie.

Hoe weet jy dan of jy en die mense rondom jou regtig Christene is? Hoe weet jy iemand sê dit nie net met sy lippe nie? Dit is waar die gelykenis van die saaier ons help.

 

1. Die storie (v.4-10)

Daar is ’n metode van Skrif-interpretasie wat allegorie genoem word. Dit beteken dat jy die Bybel vergeestelik. As jy byvoorbeeld ’n Bybelverhaal lees, gee jy ’n geestelike betekenis aan elke karakter, voorwerp of gebeurtenis. In Genesis 24 sien ons byvoorbeeld dat Abraham sy slaaf stuur om vir sy seun Isak ’n vrou te kry. Mense wat die hoofstuk allegories interpreteer, sal sê dat Abraham God die Vader verteenwoordig. Isak stel Jesus voor. Om ’n bruid vir sy seun te kry, stuur God die Heilige Gees om mense se harte na Jesus toe te draai net soos die slaaf vir Rebekka moes oortuig om met Isak te trou. Die tien kamele met geskenke stel tien van die geestelike gawes voor.

Dit is gevaarlik om die Bybel so te interpreteer, omdat elke ketter sy eie interpretasie daarop kan plaas. Hoe monitor jy watter interpretasie reg is? As jy die Skrif allegories uitlê, kan elke mens dit verstaan soos hy wil. Jy kan nie sê dat een persoon se interpretasie reg is en ’n ander s’n verkeerd nie. Dit is beter dat ons die Bybel letterlik, in sy historiese konteks en volgens sy literatuursoort uitlê. As jy byvoorbeeld in ’n verhaal van bome en berge lees, is dit presies wat dit beteken. Dit is net wanneer ’n letterlike interpretasie nie sin maak nie, dat jy ander moontlikhede kan oorweeg. As Jes. 55:12 byvoorbeeld sê dat die berge sing en die bome hande klap, weet jy dit is beeldspraak.

Ook as die skrywer sê dat sy beelde ’n geestelike betekenis het, kan jy dit allegories verstaan. Volgens Luk. 8:4, 9-10 is hierdie gelykenis. In die verse wat volg verduidelik Jesus wat die verskillende dele van sy storie beteken (v.11-15).

***

Jesus was by die See van Galilea. Die mense het op die land gesit, terwyl Hy in die boot gesit het en besig was om hulle leer (Matt. 13:1-2). Hy het ’n gelykenis van ’n boer vertel wat in sy lande geloop en saai het (v.5). Die boer het sy saadsak skuins oor sy skouer gedra, sodat dit op sy heup gelê het. Hy het sy hand in die sak gesteek en die saad met ’n rughand aksie op die kaal grond gestrooi. Daarna het hy die saad in die grond ingeploeg.1

Party van die sade het op die vasgetrapte paadjie geval (v.5). Dit kon nie eers die grond binnedring nie, maar die voëls het dit opgepik (v.5).

Party van die sade het geval waar ’n rotslaag vlak onder die grond gelê het (v.6). Die vlak grond het gou uitgedroog as die son daarop bak. As gevolg van die rotslaag kon die plante se wortels nie diep penetreer om vog uit die klam grond te trek nie (v.6).

Party van die sade het geval waar daar doringsade onder die grond was (v.7). Toe die reën kom, toe groei die dorings vinniger as die koring. Dit het die koring toegegroei, die sonlig en water gesteel en die koring verstik (v.7).

Party van die sade het op goeie grond geval (v.8). Die grond was los genoeg sodat dit suurstofryk was en die water goed kon dreineer. Dit was nie so los dat die water weggesyfer het nie. Die grond se waterhouvermoë was goed. Die minerale en pH was reg, sodat die saad dertig, sestig en ’n honderd keer vermenigvuldig het (v.8, Gen. 26:11, Mark. 4:8).

Jesus het hard uitgeroep, sodat almal sy boodskap kon hoor (v.8). Dié wie se geestelike ore oop was, sou luister en reageer (v.8, Op. 2:29).

Toe Jesus die storie klaar vertel het, het die meeste mense huistoe gegaan. Dit het hulle nie gepla dat hulle nie verstaan het nie. Die dissipels en nog ’n paar uit die skare wou beter verstaan en het Jesus oor die gelykenis uitgevra (v.9, Mark. 4:10). Hulle is God se vriende aan wie Hy die geheime van sy koninkryk openbaar (v.10, Gen. 18:17, Jes. 41:8, Ps. 25:14, Joh. 15:15). Hulle verstaan sy Woord en sy lering, omdat Hy hulle open oë, hart en verstand geopen het (v.10, 10:21-22, 1Kor. 2:14-16, 2Kor. 4:4-6).

Verstaan jý die Bybel? Ek bedoel nie alles is ewe maklik om te verstaan nie (2Pet. 3:15-16), maar maak dit oor die algemeen vir jou sin? Pas jy dit in jou lewe toe of is die Bybel vir jou ’n oudmodiese en vervelige boek? Lees jy dit of los jy dit op die rak om stof te vergader? Wil jy dit beter leer ken en die Here daardeur ken? Of interesseer dit jou nie juis nie? Hoe jy hierdie vrae antwoord, sal wys of jy ’n nuwe hart met nuwe aptyte het; of jy ’n regte Christen is. As jy ongered is, sal jy die Bybel as ’n storie hoor en op jou weg gaan (v.4-8, 10, Mark. 4:11). Jy sal die Bybel toemaak, by die kerk se deure uitstap en nie vra wat jy daaromtrent moet doen nie. Dit sal jou nie pla dat jy nie verstaan nie. Om hierdie rede bly die Bybel vir jou ’n toe boek. Jy lees die woorde, maar verstaan nie wat dit beteken nie (2Kor. 3:14-15, 2Tim. 3:7).

As jy God se stem lank genoeg ignoreer, sal Hy jou gee wat jy wil hê: oë wat nie kan sien nie, ore wat nie kan hoor nie en ’n hart wat nie verstaan nie (v.10, Jes. 6:9-10, Matt. 13:10-15, 34-35, Hand. 28:25-28). Spits daarom jou ore wanneer die Here met jou praat. As jy Hom vra om jou oë te open en jy die verse oordink en toepas, sal Hy die waarheid aan jou bekendmaak (24:27, 32, 45, Esra 7:10, 2Tim. 2:7, 15).

 

2. Die betekenis (v.11-15)

George Orwell se boek Animal Farm is ’n goeie voorbeeld van ’n allegorie, omdat elke plaasdier iets of iemand voorstel. In die gelykenis van die saaier is dit dieselfde. Die saad stel die Woord van God voor (v.11). Die potensiaal om lewe te gee, lê in die Bybel self (Jak. 1:21, 1Pet. 1:23-25). Maar vir mense om gered te word en geestelik te groei, moet God die saad laat ontkiem (1Kor. 3:6, 2Kor. 3:17-18). Daarom is prediking op sy eie onvoldoende as God nie die sondaar se hart open nie (Hand. 16:14). Om die Bybel suiwer te preek, is nie genoeg nie. Die prediker en die gemeente moet by die Here pleit om te werk terwyl die Woord verkondig word (Ef. 6:19-20, Kol. 4:3-4, 2Tess. 3:1).

Wie of wat is die saad wat op die voetpaadjie geval het waar die voëls dit oppik? Dit verwys na mense met harde harte en na die duiwel wat die Woord steel, sodat hulle dit nie glo, verstaan en gered word nie (v.12, Matt. 13:19). Dit verwys na mense wat op hulle fone besig is wanneer ek die evangelie met hulle deel. Dit verwys na mense wat in die middel van ’n evangelie-gesprek wegloop en sê: ‘Sure; next time.’ Dit verwys na die man wat aggressief gereageer en begin skreeu het toe ek die evangelie deel. Dit verwys na die Fariseërs wat hulle ore toegestop het terwyl Stefanus besig was om die evangelie te preek.

Dit verwys na die mense wat hulle musiek harder gesit het om ons prediking uit te doof. Dit verwys na mense wat ons traktaatjies weggooi; na die man wat sy traktaatjie voor my opgeskeur en op die grond gegooi het. Dit verwys na die man wat ’n glashelder evangelie-boodskap uitgelag en daarmee gespot het; wat gesê het dit maak nie sin nie. Dit verwys na mense wat tydens die preek slaap en nie na die boodskap luister nie. Die duiwel steel die saad, sodat die Woord nie ’n indruk op hierdie mense se maak nie (v.12). Hy hou mense in sy greep en in die duisternis van hulle sonde (2Kor. 4:4). Hy hou hulle besig, sodat hulle nie by ’n kerk uitkom wat die Bybel preek nie.

Wat van die saad in die vlak grond? Dit het nie diep wortels gehad nie, omdat die rots dit verhinder het? Dit verwys na dié wat die Woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem (v.13, Mark. 4:16, Eseg. 33:31-32). Hulle geniet veral die dele oor die hemel, vergifnis en God se liefde. Hierdie is emosionele mense wat meer met hulle hart dink as met hulle verstand. Hulle is nie net emosioneel wanneer dit by godsdienstige dinge kom nie. As jy emosioneel genoeg is, kan jy hulle oortuig om al die DBV se hondjies te koop. Hulle is die tipe mense wat dadelik ’n groot bydrae vir die kerk wil gee, gedoop wil word en by die kerk wil aansluit, omdat hulle ’n preek gehoor het wat hulle harte roer. Hulle reageer emosioneel op enige uitnodiging, veral as die prediker passievol is, die musiek genoeg herhaal, ander rondom hulle huil en vir gebed uitkom. As hulle klaar gebid het, wil hulle met mag en mening die kerk vol maak en die wêreld omkeer.

Maar dit hou nie lank nie (v.13). So gou soos wat hulle die Woord aangeneem het, so gou val hulle weer weg (Mark. 4:17). Hulle harte is vlak; hulle het nie diep wortels nie (v.13). Hulle geloof is soos die duiwel s’n (Jak. 2:19): hulle glo die feite aangaande Jesus, maar dit verander nie hulle lewens nie. Hulle geloof is tydelik. ’n Mens sien dit veral in prosperity kerke waar mense die Here nie vir verlossing van sonde vertrou nie, maar om hulle lewens op aarde te verbeter. As die Here nie die beloofde sukses gee nie, verdamp hulle geloof soos die oggenddou. Sodra hulle vir die Woord vervolg word of die Here iets moeilik van hulle vereis, draai hulle weg (Mark. 4:17, Joh. 6:60, 66). Hulle het nie hiervoor aangeteken nie. Dit is juis die probleem: hulle het ’n verkeerde verwagting gehad. Hulle het gedink dat Christenskap ’n geestelike pretpark is, terwyl dit eintlik ’n oorlog is. Hulle het gedink dat dit maanskyn en rose is en toe die rose dorings het, toe draai hulle terug.

Dink mooi voordat jy Jesus volg. Is jy bereid om vir Hom gespot en vervolg te word; om vir sy Naam te sterf as dit daarop aankom? Indien nie moet jy Hom nie volg nie, want jy gaan nie lank hou nie (14:25-33). Ek het dit al ’n paar keer in my bediening gesien. Nadat ek die evangelie met ’n vrou gedeel het, was sy baie opgewonde. Daar was trane en groot blydskap. Voor sy geloop het, toe vra sy: ‘Beteken dit ek moet by my kêrel uittrek?’ ‘Ja,’ het ek gesê. ‘Jy kan nie meer losbandig lewe as jy vir Jesus wil volg nie.’ Haar gesig het geval en sy het soos ’n boek toegeslaan.

Na ek die evangelie met iemand anders gedeel het, was hy baie opgewonde. In sy groot ywer het hy besluit om teologie te studeer. Maar dit het nie gehou nie. Sy ywer het verflou en hy het soos ’n speld verdwyn. Ek het nog eenkeer van hom gehoor en toe nooit weer nie.

Toe ek op hoërskool was, het ’n slegte meisie by ’n jeugbyeenkoms op ’n uitnodiging gereageer. Sy het gehuil en haar lewe vir die Here gegee. Twee weke later toe dien sy weer die wêreld. Sy was soos Pliable in John Bunyan se Pilgrim’s Progress. Pliable was buigsaam en beïnvloedbaar. Hy het saam met die honde geblaf en die hase gehardloop. Hy was baie opgewonde toe Christen hom van die hemelse stad vertel. Hy wou met alle ywer daar uitkom. Maar toe die eerste beproewing tref en hulle in die moeras val, toe draai hy om. Hy wou nie meer hemel toe gaan nie.

Hierdie voorbeelde maak dat ek nie meer oorgretig is om belydende Christene te doop nie. Ek het al te veel kere v.13-tipe mense gedoop en my vingers verbrand. Soos Johannes die Doper wil ek die vrug van bekering sien voordat ek mense doop (Matt. 3:8). In die Nuwe Testament en vervolgde lande word nuwe bekeerlinge dadelik gedoop. Maar dit is anders, omdat hulle nie sommer gedoop wil word as hulle nie ernstig is met die Here is nie. Hulle weet dat daar ’n koste aan verbonde is. In Suid-Afrika is dit anders. Niemand word vir sy geloof toegesluit of doodgemaak nie. Daarom besluit mense ligtelik om in Jesus te glo en gedoop te word. My pa was toe hy en my swaer aan tafel gesels het. Voordat my swaer aan my suster verloof was, toe vra hy: ‘So, uncle Rex; do you think I am saved?’ My pa het vir ’n oomblik stilgebly en toe gesê: ‘I’ll tell you in six months.’

Die grond wat tussen die dorings geval het, verwys na mense wat die Woord hoor, maar so met die tydelike dinge van die wêreld besig is, dat hulle nie tyd kry om oor ewige dinge te dink nie (v.14). Jy sien hierdie mense nie maklik in die kerk nie. Hulle is te besig. Hulle hou elke naweek vakansie. Hulle geniet hulle aftrede en toer vir ses maande van die jaar. Of hulle is besig om geld te maak. Party van hulle werk elke naweek en kom nie in die kerk nie, omdat hulle angstig is. Hulle glo nie die Here kan vir hulle sorg nie. Hulle wonder hoe hulle die werk gaan klaarkry. Selfs al kom hulle kerk toe, luister hulle nie na die Woord nie. Hulle dink aan die week se probleme en wonder hoe hulle alles gaan betaal. Omdat hierdie bekommernisse hulle gedagtes beset, is daar nie plek vir die Woord nie. Hoe sal jy vrug dra en ’n goeie karakter ontwikkel as God en sy Woord skaars in jou gedagtes is, omdat jy alewig aan die dinge van hierdie wêreld dink (v.14)? Hoe wil jy jou kinders van Jesus en die hemel vertel as jy vir jouself en die aarde lewe?

Die saad wat op die goeie grond geval en ’n oes voortgebring het, is dié mense wat die Woord met ’n eerlike en opregte hart ontvang en met volharding vrug dra (v.15). Hulle lees nie net die Bybel omdat dit hulle interesseer nie. Hulle doen dit omdat hulle dit wil verstaan. Hulle wil groei, gehoorsaam wees en volhard (v.15). Dit kry hulle reg omdat God se Gees hulle ’n nuwe hart gegee het (v.15, Eseg. 36:26). Gewoonlik is hierdie die soort mense wat nie ’n geleentheid sal mis om die Woord te leer en te doen wat dit sê nie. Ek is bly dat baie van hulle in ons kerk is. Hulle is nie soos vuurwerke wat indrukwekkend lyk maar vinnig uitbrand nie. Hulle is soos die son wat week na week, maand na maand, jaar na jaar, dekade na dekade skyn. Hulle is vir ’n leeftyd getrou en groei stadig maar seker. Hulle is soos iemand wat ons in gemeente was en nou in Europa bly. Vir jare het hy elke erediens bygewoon en in die gemeente gedien. Hy het die Woord ingeneem en gegroei. Vandag is hy ’n soliede Christen.

Wat is praktiese implikasies van hierdie geduldige volharding (v.15)?

[a] Moenie moedeloos raak en ophou Bybel lees, omdat jy na drie maande nog nie vrug sien nie. John Newton het gesê dat Christene soos eikebome groei en nie soos sampioene nie.2 Om goeie vrug te dra, moet jy geduldig wees en volhard. Dit is beter dat jy elke dag 20 of 25 minute in die Woord spandeer as 3 ure op ’n naweek. Moenie vir die perfekte oomblik wag voordat jy die Bybel optel nie. As jy wag totdat jou kinders groot is, tot dinge by die werk bedaar het of tot die beproewing verby is, sal jy nooit begin nie: “Wie die wind dophou, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie.” (Pred. 11:4).3

Bely eenvoudig dat jy die Here afgeskeep het, tel jou Bybel op en hervat jou stiltetyd. Ondersoek jou hart en bely alle sonde voordat jy begin (1Pet. 2:1-2). Vra die Heilige Gees om jou oë te open (Ps. 119:18). Waak oor jou gedagtes sodat dit nie dwaal nie. Dink en bid oor wat jy lees. Kies een ding om toe te pas. Lees my twee preke oor stiltetyd as jy meer wil weet.4

As jy geduldig hiermee volhard, sal jy groei. As jy oor 5, 10 of 20 jaar terugkyk, sal jy sien dat jy ’n sterk boom geword het, omdat jy daagliks die water van die Woord indrink (Ps. 1:2-3).

[b] Laat ander mense se geloof jou aanspoor om te groei. Moet net nie na hulle kyk en sê: ‘Ek dra nie ’n honderdvoudig vrug soos hy nie en daarom dra ek seker nie vrug nie.’ Dit is reg dat jy streef om meer vrug te dra (Fil. 3:12-14), maar selfs al dra jy net dertigvoudig vrug dra jy nog steeds vrug. As jy so aanhou, sal jy eendag ’n honderdvoudig vrug dra. Bloot die feit dat jy vrug dra wys al klaar dat jy ’n regte Christen is (v.15, Matt. 10:22, Kol. 1:23, Heb. 3:14). Ek probeer nie sê dat volharding jou red nie. Maar as jy gered is, sal jy met volharding vrug dra (v.15).

’n Regte Christen kan vir ’n tydjie wegval, maar hy sal terugkeer (22:31-32). As hy permanent wegval, was hy in die eerste plek nie ’n regte Christen nie (v.13-14). 1Joh. 2:19 sê: “Hulle het uit ons geledere gekom, maar hulle was nie werklik deel van ons nie; want as hulle werklik deel van ons was, sou hulle by ons gebly het. Maar dit moes duidelik word dat nie een van hulle deel van ons is nie.”

***

’n Man in ons gemeente het my eendag gevra: ‘Wat bedoel jy as jy van ware Christene praat?’ Het jy dit al ooit gewonder? Na vandag se preek hoef jy nie meer te wonder nie.


1  Sien Talmud: Shabbat 73b, par. 2. Verkry by https://www.sefaria.org/Shabbat.73b?lang=bi

2  Iain H. Murray, Heroes (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2009), 99

3  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

4  https://baptistekerkkemptonpark.com/stiltetyd-die-woord/ EN https://baptistekerkkemptonpark.com/stiltetyd-gebed/

Kategorieë