Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 May 2022

Persoonlike Probleme: Verslawing

Titus 2:11-14

Volgens die wêreld is verslawing ’n siekte of ’n genetiese probleem.1 Nog niemand het dit bewys nie.2 As verslawing ’n siekte of ’n genetiese probleem is, is die verslaafde nie verantwoordelik nie. In daardie geval was die man reg toe hy vir sy vriend sê: ‘Ek is kwaad vir die Here, omdat Hy my ’n alkoholis gemaak het’ (kontra Jak. 1:13).3

Verslawing is ook nie ’n bloedlynvloek nie (Eseg. 18:2, 20).4 Solank as wat jy jou siekte, gene of oupa blameer, is daar vir jou geen hoop nie. Die hoop van vergifnis is net vir dié wat persoonlike verantwoordelikheid neem, hulle sonde erken en hulle bekeer. Volgens die Bybel lê die oplossing nie in twaalf stappe, medikasie of ’n professionele bevryder nie, maar in Jesus Christus.

 

1. Verlossing (v.11, 14)

Ek ken ’n man wat gedurende sy studentejare aan dwelms verslaaf was. ‘Ek was permanent op ’n high,’ het hy gesê. Eendag het hy ’n diep sondebesef gehad. Hy het vir sy broer gesê: ‘Ek het die Here nodig!’ Sy broer het vir hom gebid en die evangelie gedeel. Deur die Here se genade het hy tot bekering gekom. Hy is al vir meer as twintig jaar ’n nuwe mens in Christus.

Deur hierdie selfde genade (v.11) kan jy reg lewe (v.1-10). God se genade het in die Persoon van Jesus Christus verskyn (v.11, 3:4, Joh. 1:16-17, Kol. 1:15, 19, 2:9). In Christus het God se genade gekom om ons te red (v.11). Jesus red ons van die verslawende mag van sonde. Ps. 107:10-16 sê:

10Hulle wat in donkerte

en digte duisternis gesit het,

was gevangenes in ellende

en ysterboeie,

11omdat hulle teen God se woorde

in opstand was

en die raad van die Allerhoogste

verontagsaam het.

12Hy het hulle harte deur swaarkry

nederig gemaak.

Hulle het gestruikel,

en daar was geen helper nie.

13Toe het hulle in hulle nood

na die Here om hulp geroep;

uit hulle benoudheid

het Hy hulle verlos.

14Hy het hulle uit donkerte,

uit digte duisternis gelei;

hulle boeie het Hy stukkend gebreek.

15Hulle moet die Here prys

vir sy troue liefde,

vir sy wonders aan mensekinders;

16want Hy het deure van brons

stukkend gebreek,

die sluitbalke van yster

stukkend gekap.

Johannes sê: “Hiervoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig.” (1Joh. 3:8).

Is jy skepties? Jy het die sondaarsgebed opgesê en is gedoop, maar nog steeds is jy onder die mag van verslawing. Dit klink nie of jy redding verstaan nie. Jy beskou dit as iets wat jy vir die Here doen. Dalk dink jy selfs Hy skuld jou vryheid van verslawing, omdat jy iets vir Hom gedoen het.

Die Here werk nie so nie. Redding is ’n gratis geskenk. Dit is iets wat jy deur geloof verkry en nie iets wat Hy jou gee, omdat jy godsdienstig geraak het nie. God red wie, waar, soos en wanneer Hy wil (Joh. 3:8). Erken jy dat sy straf verdien en niks kan doen om sy guns te wen nie. Jy is hopeloos as Hy jou nie help nie (selfs al los jy die verslawing). Roep tot Hom; nie net vir ’n lewe vry van verslawing nie, maar vir ’n lewe wat Hom sal verheerlik en die skeppingsdoel vervul waarvoor Hy jou gemaak het (Jes. 43:21, 1Kor. 10:31, 2Kor. 5:15). Hy sal jou red (Rom. 10:13), ongeag van wie of wat jy is. Sy genade is beskikbaar vir alle mense (v.11, 1-10, 1:12). Sy genade is vir groot sondaars; selfs vir dié wat Jesus gekruisig het (Matt. 21:31, Luk. 7:47-48, 50, 23:33-34, 43, Hand. 2:36-41, 3:15, 4:4, 1Tim. 1:15). Moenie wanhopig wees nie: “namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword.” (Rom. 5:20). Sal Jesus Homself vir jou gee (v.14), maar sy vergifnis weerhou? Sekerlik nie (Rom. 8:32).

Wees lief vir die Here wat jou eerste liefgehad het en Homself vir jou oorgegee het (v.14, Gal. 2:20). Sê vir die drank, dwelms, pille of enige vorm van verslawing: ‘Jy het die spykers deur Jesus se hande en voete gedryf! Jy weerhou die aanbidding wat Hom toekom en beroof my van die ewige lewe, liefde, blydskap en vrede wat Hy bied. Ek is klaar met jou! Here, neem my asseblief aan as U eie!’

Die Here sal jou gebed verhoor. Jesus het die volle prys betaal om jou uit die mag van sonde en Satan los te koop en jou aan die Vader terug te gee (v.14, Gk. lutroō). Verslawingsmiddels is nie meer jou baas nie—Jesus is (3:3-5). Hy het die straf vir ons wetsoortreding gedra. Die wet kan jou nie meer straf nie (Rom. 6:14, 8:1). Jesus het gekom om ons van verslawing en sonde te bevry (Joh. 8:32, 34, 36). Hy doen dit deur die Gees wat aan ons ’n nuwe natuur gee en die wet op ons harte skryf (Eseg. 36:26, Heb. 8:10). As die Here jou gered het, sal jy nie meer die wet wil breek nie, maar jy sal dit kan en wil nakom (v.14, Rom. 8:2-4). Jy sal nie meer onrein en in die donker lewe nie. Jesus het jou met sy bloed gereinig om in die lig te lewe (v.14, 1Pet. 2:9, 1Joh. 1:7). Jy behoort nie meer aan jouself, die wêreld, die duiwel, jou vriende, die bende, die motorfietsklub, die sportklub of die verslawing nie. Jesus het jou vir Homself gekoop (v.14). Lewe vir Hom en nie meer vir jouself of die verslawing nie (Rom. 12:1, 1Kor. 6:19-20). Doen goed aan ander (v.14, 1:7, 3:1, 8, 14, Ef. 2:10) eerder as wat jy hulle deur jou selfsugtige lewe van verslawing verwoes.

 

2. Heiligmaking (v.12)

Party Christene glo in ’n tweede genadewerk. Hulle bedoel dat die Heilige Gees êrens na jou bekering oor jou kom, sodat jy so heilig word dat jy nie meer bewustelik sondig nie. ’n Vriend het my onlangs vertel dat baie van sy lidmate dit geglo het. Toe hy hulle uit die Bybel onderrig, het God die bande van depressie gebreek.

Volgens die Bybel is heiligmaking ’n proses (Ef. 4:22-24). Dit is nie iets wat eensklaps met jou gebeur nie. Die Here se genade help jou om gehoorsaam te wees en reg te lewe (v.11-12, Fil. 2:12-13). Sy genade leer en dissiplineer jou om op die regte pad te loop en daarop te bly (v.12, Gk. paideuō, Heb. 12:10-11). Sy genade leer jou om Hom te vrees en nee te sê vir goddeloosheid (v.12, Gk. arneomai). Sy genade leer jou dat verslawing teen God is; dat dit ’n afgod is (1Kor. 10:7). Voorheen het jy na die verslawing toe gedraai vir betekenis, aanvaarding, plesier en die hantering van pyn (Pred. 2:3, Spr. 31:6-7, Luk. 21:34, kontra Mark. 15:23). Die Here het jou van jou afgod gered om die ware God te aanbid (1Tess. 1:9). Hy het selfs jou begeertes verander (v.12, Gal. 5:16-18, 2Pet. 1:4).

Wil jy op hierdie pad bly? Dan moet jy alles wat die verslawing aanwakker, verwerp. Raak ontslae van verkeerde vriende (Ps. 1:1, Spr. 13:20, 23:20, 1Kor. 15:33). Gooi die verslawingsmiddels weg: pille, dwelms, drank, die internet, speletjies—enigiets wat jou versoek (Spr. 23:31, Matt. 18:8-9, Rom. 13:14). As jy dit nie wil doen nie, wys jy dat die verslawing jou god is. Jy wil nie regtig verander nie, maar soek nog die plesier van sonde.

Die eerlike verslaafde moet erken dat sy verslawing nie ware plesier bied nie en dat die plesier gou afweer. Hy is in ’n lewe van verslawing vasgevang (Spr. 23:35, 1Kor. 6:12). Hy het ’n skuldige gewete (Rom. 2:15). Hy baklei baie (Spr. 20:1, 23:29). As gevolg van al die leuens vertrou mense hom nie meer nie. Hy vernietig sy huwelik, gesin en homself (Spr. 23:29). Die swanger verslaafde vernietig haar baba. Die verslaafde man verloor sy werk. Hy word arm (Spr. 21:17, 23:21). Hy maak ’n sot van homself. Hy sê en doen dom dinge. Hy flirt met vroumense, struikel en val, bring op voor almal, maak ’n vreemdeling swanger (Gen. 19:33, 35, Spr. 23:33, Hos. 4:11, Ef. 5:18).

Die verslaafde persoon baklei, rand mense aan, bestuur terwyl hy dronk is en steel. Sodoende tel hy probleme op met die gereg (Deut. 21:18-21). Hy raak depressief, angstig, kry nagmerries en hallusineer (Spr. 23:33). Hy het pyn en voel naar. Sy tande word lelik en hy kry sere op sy gesig. Hy kry pankreatitis, kanker, lewer-, nier- en hartversaking (Spr. 29:32, Jes. 28:7-8, Hos. 7:5).5 Hy pleeg selfmoord of sterf aan ’n oordosis. Op die einde beland hy in die hel (Gal. 5:21, 1Kor. 6:10).

Dit is onnodig. Deur die genade van God kan jy jouself beheer en nee sê vir die verslawing (v.12, 2, 5, 6, 1:8, Gal. 5:22-23). Hoe doen ’n mens dit? Jy memoriseer die Bybel en gebruik dit teen die versoeking (Ps. 119:11). Jy bely jou sonde en vat die gesteelde goed terug (Luk. 19:8). Jy wy jouself aan die Woord, gebed, die nagmaal en die samekoms van die gelowiges (Hand. 2:42). Jy word vol van die Woord en die Gees (Ef. 5:18, Kol. 3:16). Ek ken ’n vrou wat dit gedoen het. Sy was ’n heroïen verslaafde. Soms het sy tot R1000 per dag aan dwelms spandeer. Sy was in rehabilistasie sentrums en in die tronk. Op ’n dag toe kry sy lus om die Bybel te lees. Hierdie lus was sterker as enige lus wat sy ooit vir dwelms gehad het. Sy het die Bybel begin lees, onder geweldige sonde oortuiging gekom, tot bekering gekom en nooit weer heroïene gebruik nie.

Om jou verslawing te oorkom, moet jy jouself ook dissiplineer om baie te bid (1Tess. 5:17).

Dissiplineer jouself om te werk. Daardeur hou jy jou gedagtes besig en hou jy jouself uit die kwaad (2Tess. 3:11-12).

Gee voldoende tyd aan fisiese en geestelike oefening (1Tim. 4:7-8). Vra Christen vriende om jou aanspreeklik te hou, saam met jou te bid en jou tot gehoorsaamheid aan te moedig (2Tim. 2:22, Heb. 10:24-25). Onderwerp jou aan die kerk se dissipline en besef dat jy uit die gemeente verwyder sal word as jy jouself nie beheer nie (Matt. 18:15-17, 1Kor. 5:11, 13).

Moenie die verskoning gebruik: ‘Dit is nie my skuld nie—eenkeer ’n verslaafde, altyd ’n verslaafde.’ Ek het gehoor hoe ’n Christen dit sê. Al het hy vir meer as vier jaar nie gedrink nie, het hy homself ’n alkoholis genoem. Nee! Dit is nie meer jou identiteit nie! As die Here jou gered het, is nie ’n meer ’n verslaafde nie, maar ’n Christen (1Kor. 6:9-11). Deur Christus kan jy hierdie kant van die hemel reeds opreg lewe en jou verslawing aflê (v.12).

 

3. Die wederkoms (v.13)

Die spreekwoord lui: ‘Don’t be so heavenly minded that you are of no earthly use.’ Die teenoorgestelde is waar: wie gereeld oor die hemel en die wederkoms dink, sal dit bo wêreldse plesiere begeer (v.12-13, Kol. 3:1-5, 1Joh. 3:2-3). So iemand soek ewige eerder as tydelike plesiere.

Trek die verslawing jou? Dink aan die heerlike koms van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus6 (v.13). Dink aan die hemel en die hel (Matt. 25:31, 2Tess. 1:7-8). Sal Jesus jou bedwelm vind wanneer Hy weer kom (v.13)? Indien wel, sal Hy jou in die hel werp (Matt. 24:48-51). Is jy gereed om voor Hom te staan en te verduidelik hoekom jy gebrande blare, vrot pampoen, -hop en -druiwe bo Hom gekies het (Rom. 1:23, 25)?

Wil jy nie liewer soos ’n vrou in ons gemeente wees nie? Vir meer as ’n dekade het sy haar blydskap in dwelms gesoek. Uiteindelik het sy dit in die Here gevind. Haar blydskap is nie tydelik soos toe sy dwelms gebruik nie. Dit duur al vir dertig jaar en sal vir ewig aanhou. Almal wat haar ken kan sien hoe die vreugde uit haar binneste borrel. In Jesus kan jy dieselfde hê: “...wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom 'n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.” (Joh. 4:14).


1  https://www.ama-assn.org/delivering-care/public-health/court-listened-ama-defining-alcoholism-disease-not-crime

2  Edward T. Welch, Blame it on the Brain? (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1998), 196 en David Tyler & Kurt Grady, Deceptive Diagnosis: When Sin is Called Sickness (Bemidji, Minnesota: Focus Publishing, 2006), 31-2

3  Welch, ibid., 185

4  Sien http://baptistekerkkemptonpark.com/sermon/wat-se-die-bybel-oor-bloedlyn-vloeke/

5  https://drugabuse.com/blog/drug-alcohol-effects/ en https://drugabuse.com/addiction/health-issues/cancer/

6  Die Granville Sharp reël in Grieks dui aan dat ‘God en Verlosser’ nie twee Persone is nie, maar een (vgl. 2Pet. 1:1, https://www.gotquestions.org/Granville-Sharp-Rule.html). Jesus is die God en Verlosser van v.13 (vgl. 1:3, 4, 3:4, 6).

Kategorieë