Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 June 2022

Persoonlike Probleme: Obsessief-Kompulsiewe Versteuring

Kolossense 2:20-23

Toe ek 15 jaar oud was, het my ouma my van iemand vertel wat Obsessief-Kompulsiewe Versteuring het (hierna OKV). Die persoon kon nie funksioneer as al haar kleurpotlode nie in orde was nie. Blykbaar beskryf OKV iemand wat herhalende gedagtes het wat angs veroorsaak. So iemand voel baie keer gedwing om aksie te neem, sodat die gedagtes kan ophou.1 ’n Paar voorbeelde sal wys wat ek bedoel:

Antjie het ’n obsessiewe vrees vir kieme. Om daarvan ontslae te raak, was sy aanhoudend haar hande. Sy is gedurig besig om skoon te maak. Verder doen sy ook alles in haar vermoë om kieme te vermy. My geskiedenis juffrou was so en het glad nie aan roltrappe se handreëling geraak nie, omdat dit vol kieme is. Ek twyfel nie dat sy reg was nie, maar by haar het dit ’n obsessie geword.

Jurie voel geweldig gefrustreerd as alles nie perfek is nie en dus is hy gedurig besig om die koffiebekers se ore in dieselfde rigting te draai, sy potlode te orden en nie op krake in die sypaadjie te trap wanneer hy skool toe loop nie.

Maggie is baie bang vir die dood. Sy sukkel om aan die slaap te raak, omdat sy elke paar minute seker maak dat die deure gesluit is en sy die stoof afgesit het.

Hennie voel ’n sterk drang om dinge te tel. As hy in die kerk sit, tel hy die bakstene agter die predikant se kop. As hy dit klaar getel het, begin hy van voor af. Hy kan nie ’n lig aanskakel sonder om die skakelaar sewe keer aan en af te sit nie.

Vir iemand wat die dinge hoor, klink dit vreemd. Maar hoekom is dit ’n probleem? Dit raak ’n probleem as dit mense wegstoot. Aan die begin van my bediening kon ek niks doen as ek dit nie in my dagboek geskryf het nie. Ek was nie buigsaam nie en het selfs tyd met my verloofde daarin aangeteken. Toe ek en my vriend eendag by ’n T-aansluiting kom, toe vra ek: ‘Watter kant toe; links of regs?’ ‘Ek weet nie,’ het hy geantwoord. ‘Wat sê jou dagboek?’

Tyd was ook vir my ’n probleem. Ek kon nie 15:44 of 15:58 iets doen nie, maar moes tot 15:45 of 16:00 wag. Toe ek ’n student was, was netheid vir my ’n afgod. Ek was pynlik netjies—letterlik! Vir my en die mense rondom my, het dit ’n pyn geword. As ’n ander student op my bed gesit het, het ek dit onder hom reg gestryk sodra hy opstaan. Ek het eindelose minute gemors om my hangers drie vingers uitmekaar te spasieer.

Om by so iemand te kuier, laat jou ongemaklik en onwelkom voel. As jy by die deur instap, vee die persoon agter jou voete. Jy is nog besig met die laaste happie, of die bord word onder jou weggevat. Terwyl almal in die sitkamer sit en kuier, staan die persoon in die kombuis en skottelgoed was.

Nog ’n rede hoekom OKV ’n probleem is, is omdat jy nie take afhandel tensy dit perfek is nie. Vir baie jare was my stiltetyd so. As ek selfs net ’n bietjie verslaap het en daar nie genoeg tyd was om ’n sekere aantal hoofstukke te lees en deur my gebedslys te bid nie, het ek dit heeltemal gelos. Johnathon Bowers vertel hoe hy vir enige leesopdrag die sinne oor en oor sou lees om seker te maak hy jok nie as hy sê hy het dit gelees nie.2

Natuurlik is daar nog ander en groter probleme met OKV. Om die probleem te oorkom, moet ons die beginsels in Kolossense 2 toepas. Wat is hierdie beginsels?

 

1. Onthou jou posisie (v.20)

Edward tel sy geld oor en oor om seker te maak hy het genoeg vir belasting. As hy maar net sy posisie as kroonprins onthou het, sou hy nie angstig wees nie. So is dit met Christene en OKV: onthou jou posisie in Christus. Jy is nie ’n slaaf van reëls en regulasies nie. Aan die kruis het Jesus die regulasies (Gk. dogma) wat oor ons geheers het, afgeskryf (v.14). In Christus het ons vir die eerste beginsels (Gk. stoicheō) of regulasies (Gk. dogmatizō) van die wêreld gesterf (v.20).

Ons het ook vir die kosmiese geeste (Gk. stoicheō) gesterf, nadat Jesus hulle aan die kruis oorwin het (v.15, 20). Hierdie geeste kan jou nie dwing om enige obsessie uit te voer nie. Deur die Heilige Gees kan jy jou gedagtes beheer en nee sê (Rom. 8:5, Tit. 2:11-12). Geen demoon, regulasie, filosofie, tradisie of obsessie is jou baas nie (v.8, 16, 18, 20-23, Rom. 6:14, Gal. 4:3, 9-10). Jesus is jou baas (v.6, 9, 1:15-20, 3:3, 11, 15-17, 18, 20, 24).

Hoekom dan leef, asof jy onder regulasies is (v.20): Pak alles perfek! Was jou hande; doen dit oor en oor! Maak tien keer seker alles is gesluit! Spandeer ure om die teëls te skrop!

Is jy bang vir die dood? Is dit hoekom jy aanhoudend die stoof en die deure nagaan? Is dit hoekom jy alles in jou vermoë doen om kieme te vermy? Volgens die Bybel hoef geen gelowige die dood te vrees nie: “Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry.” (Heb. 2:14-15). “...Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.” (Op. 1:18).

Gaan jy die stoof en die deure na, omdat jy in beheer wil voel? Jy is nie in die beheer nie; die Here is: “Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie ...As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker.” (Ps. 121:3-4, 127:1).

Voel jy trots op jouself en beter as ander, omdat jou huis perfek is? God is ’n God van orde en daarom is dit goed om netjies te wees (1Kor. 14:33, 40). Om egter so besig te wees dat jy die Here afskeep, is sonde (Luk. 10:40-41). En om jouself as volmaak te beskou, is sonde (1Joh. 1:8, 10). Die Here alleen is perfek: “die Rots! Volmaak is sy werk, ja, al sy paaie is ’n maatstaf. ’n Betroubare God, sonder onreg, regverdig en onkreukbaar is Hy.” (Deut. 32:4).

Was jy jou hande totdat dit rou is, omdat jy vuil voel? Geen uiterlike aksie kan ’n skuldige gewete reinig nie (sien Mark. 7:1-13). Net die bloed van Jesus kan (Heb. 9:14, 10:22, 1Joh. 1:7).

Is OKV vir jou ’n poging om God se guns te wen? ’n Skoon en volmaakte huis of skoon hande beïndruk nie die Here nie. Jesus alleen is vir Hom aanneemlik (Matt. 3:17, Ef. 5:2). Om vir die Here aanneemlik te wees, moet jy in sy Seun glo. “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag...” (Heb. 11:6).

Is OKV ’n poging om jou eie hoë standaard te bereik? Is dit hoekom jy vyf keer alles skoonmaak en alles perfek pak? Jy maak ’n afgod van netheid. Jy maak meer van jou eie standaard as van God se opdrag om Hom en jou naaste lief te hê (Matt. 22:37-39). Is dit nie so dat jy min tyd vir die Here en jou naaste het nie, omdat jy alewig besig is om skoon te maak? In daardie geval moet jy jou sonde bely, sodat die Here jou kan vergewe (1Joh. 1:9).

 

2. Verwerp mensgemaakte godsdiens (v.21-23)

Oor die afgelope paar jaar het sekere gebruike Rooms-Katolieke mistisisme in evangeliese kerke ingesluip. Een daarvan is kontemplatiewe- of reflektiewe gebed (Eng. contemplative prayer). Dit verwys na iemand wat ’n stil plek besoek (moontlik ’n kerkgebou) waar hy sy hart en gedagtes stilmaak. Uiteindelik prewel die persoon ’n ‘heilige’ woord soos Maria, Jesus, vrede of iets soortgelyk. Vir my klink dit na ’n simptoom van OKV.3 Jesus praat daarvan as mensgemaakte godsdiens: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word.” (Matt. 6:7).

In Kolossense 2 vind ons dieselfde beginsel. Die ketters was oortuig dat mensgemaakte regulasies jou siel rein of onrein kan maak. “Moenie daaraan vat of proe of raak nie...” (v.21) het hulle gesê. Paulus het sy vriend Timoteus hierteen gewaarsku: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste dae sommige mense van die geloof afvallig sal word, omdat hulle hulle ophou met dwaalgeeste en die leringe van demone. Hulle word beïnvloed deur die skynheiligheid van leuenaars, wie se gewete toegeskroei is. Hulle verhinder mense om te trou, en laat hulle sekere kossoorte vermy...” (1Tim. 4:1-3a).

Party van die ketters het hulle lering op Levitikus 11-15 gebaseer. Hier praat Moses van seremoniële en higiëniese onreinheid as ’n mens aan sekere dinge raak of sekere kosse eet. Hierdie dinge was egter net ’n skadubeeld van Christus (Kol. 2:16-17) en is nooit gegee om die mens se hart te reinig nie.

Ander ketters het hulle lering oor onrein objekte en kossoorte op gnostiese filosofieë gebou. Volgens hulle was enige vorm materie onrein, terwyl nie-materiële dinge soos die mens se siel rein was. Maar hoe kan kos wat uitgeskei en weggespoel word, jou gees onrein maak? “Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe.” (v.22).

Jesus het alles goed gemaak, sodat ons dit kan geniet (1:16, Gen. 1:31, 1Tim. 6:17). Onder die Nuwe Testament is daar geen onderskeid meer tussen Jood en nie-Jood, besnede en onbesnede nie (3:11). Gevolglik het hulle nie meer ’n verskillende dieet nie (Handelinge 10-11, Gal. 2:11-14). Jesus het alle voedsel rein verklaar (Mark. 7:18-19, Romeine 14, 1Kor. 8:8). Dit word deur die Woord van God en gebed geheilig (1Tim. 4:3b-5).

Iemand sal sê: ‘Jou argument bied geen oplossing teen OKV nie. My fobie teen kieme is nie vir godsdienstige redes nie, maar vir goeie higiëne.’ Dit maak nie ’n verskil nie. Dit is nog steeds ’n vals godsdiens, omdat jy goeie higiëne verafgod. Jy lewe in vrees en vergeet dat die Here in beheer is van siekte en gesondheid (Eks. 15:26, Deut. 32:39). Om uiters higiënies en gedissiplineerd te wees, klink wys. Op die oog af lyk dit of OKV jou vrese kan oorkom, of dit siekte en die dood kan keer. Dit kan egter niks doen om jou hiervan te bevry nie: “Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.” (v.23).

Die enigste wysheid wat jou vrese kan verdryf, lê in Jesus Christus “in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” (v.3). Roep die Here aan om jou obsessiewe vrese te verdryf. “Ek het die Here geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered.” (Ps. 34:5). “God het ons tog nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2Tim. 1:7).

Om jou vrese te oorkom, moet jy die Here en jou naaste liefhê. Een wat vrees wil homself te beskerm, terwyl hy wat liefhet homself vergeet en op ander fokus. Hierdie beginsel vind ons in 1Joh. 4:18: “In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite...”

OKV is nie iets wat jy het nie; dit is iets wat jy doen. Jy het ’n obsessie met jouself; jy is selfbehep: mý gesondheid, mý veiligheid, mý netheid, mý orde. Ware godsdiens nie so. Dit is nie asketies (v.23) soos ’n monnik wat in die woestyn gaan woon om van die besmetting van die wêreld te ontvlug nie. Dit is nie asketies soos die OKV-persoon wat nie mense se hande wil skud nie, omdat hy vreesbevange is vir kieme, siekte en die dood.

Ware godsdienstig straf homself nie (v.23) in ’n poging om die Here se guns te wen nie. Dit is nie soos die monnik wat growwe klere dra, vir weke aanneen vas, op sy knieë teen die trappe opkruip en homself met ’n sweep slaan nie. Dit was nie sy hande, totdat dit rou is nie. Ware godsdiens lewe nie so nie. Inteendeel, dit vergeet van self en soek Christus: “As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn.” (3:1-4).

Ware godsdiens weet dat net Jesus sonde kan wegvat (1:14). Reëls, regulasies en OKV kan nie (v.23). Draai jou rug op hierdie dinge en laat Jesus jou obsessie word; laat Hy jou vorige obsessies vervang. Dit is wat Paulus gedoen het. Voorheen was hy obsessief oor die godsdiens en regulasies van sy voorvaders (Gal. 1:14, Fil. 3:4-6). Toe hy egter vir Jesus ontmoet, het het Jesus sy obsessie geword en sy vorige obsessies vervang. Met dieselfde ywer waarmee hy voorheen vir Jesus vervolg het, het hy Hom nou aan mense verkondig (Gal. 1:23). Die oorheersende begeerte van sy lewe was om Christus te ken: “Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ’n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry” (Fil. 3:7-8).

Volg hierdie voorbeeld en laat Jesus jou obsessies vervang. In stede daarvan dat jy gedurig jou hande was, moet jy jou hande, liggaam en gees van sonde reinig (2Kor. 7:1, Jak. 4:8). In plaas daarvan dat jy bakstene of trappe tel, moet jy die Here se seëninge oor jou tel (Ps. 103:2). In plaas daarvan dat jy alles perfek skoonmaak en regpak, moet jy die Here vir sy volmaakte geregtigheid in Christus dank, ’n heilige lewe nastreef, deur die bloed van Jesus gereinig word en uitsien na ’n perfekte wêreld wanneer Jesus weer kom (1Kor. 1:30, 2Kor. 5:21, 1Pet. 1:16, 2Pet. 3:13, 1Joh. 1:7, Op. 21:4). In plaas daarvan dat jy vyftien keer die deure nagaan, moet jy jou hart ondersoek en toets of jy gered is (2Kor. 13:5).

Moet jou nie vir ’n kiemvrye bestaan afsloof nie. Beywer jou liewer om die Here te eer; of jy nou lewe of sterwe: “Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.” (Hand. 20:24). “Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins” (Fil. 1:20-21).

Ook vir Jesus het dit nie oor Homself gegaan nie, maar deur sy lewe en dood wou Hy die Vader verheerlik en sondaars red (Fil. 2:6-8). Daarom het die Vader Hom bo alles en almal verhef (Fil. 2:9-11). Snap jy die beginsel? As jy ’n obsessie het om jouself te beskerm en ’n perfekte wêreld vir jouself wil skep, sal dit jou ontwyk. Maar as Christus vir jou die belangrikste is en jy Hom wil verheerlik, sal jy jou lewe behou en die perfekte wêreld bereik: “Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red.” (Mark. 8:36).


1  https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/obsessive-compulsive-disorder/symptoms-causes/syc-20354432

2  https://www.desiringgod.org/articles/ocd-and-the-death-of-the-christian

3  https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/obsessive-compulsive-disorder/symptoms-causes/syc-20354432

Kategorieë