Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 December 2021

Nuwejaarsvoornemens wat werk

2Tessalonisense 1:11-12

Gewoonlik werk Nuwejaarsvoornemens net vir die wat super gedissiplineerd is. Vir die res hou dit ’n maand of twee. Wat moet jy doen om jou voornemens vol te hou en seker te maak dit werk?

 

1. Kry ’n langtermyn visie (v.11)

In Luk. 12:16-21 lees ons van ’n suksesvolle boer wat sy aftrede beplan het. Hy wou groter skure bou en genoeg weglê vir die toekoms. ‘Jou sot!’ het die Here gesê. ‘Vanaand sterf jy en wat sal dan word van die rykdom wat jy gebêre het?’

Moenie voornemens maak wat net vir hierdie lewe duur nie. Maak voornemens met die oog op die wederkoms. Dit is hoe Paulus in v.11 gebid het: “Daarom” (Ou Vertaling) of “Met die oog hierop” (2020 Vertaling). Paulus kyk terug na v.7-10 waar hy oor die wederkoms gepraat het.

Doen dieselfde en kies ’n voorneme wat die ewigheid sal beïnvloed; iets wat nie waardeloos sal wees wanneer Jesus weer kom nie. Om te besluit om meer tyd in die Woord deur te bring of evangelisasie te doen, is beter as ’n keuse om meer geld te maak, meer te oefen of die wêreld te toer. John Piper vertel van ’n afgetrede paartjie wat hulle laaste jare deurgebring het om skulpe op te tel. Dit sal ’n tragedie wees as hulle eendag voor die Here moet staan en sê: ‘Look, Lord. See my shells.’1 Sal dit nie beter wees as jy die Here voluit dien nie en Hom hoor sê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!” (Matt. 25:21)?

’n Waardige nuwejaarsvoorneme is een wat net sowel ’n lewensvoorneme kan wees. In die ou dae het Skotse Christene hulle lewensvoorneme op ’n familiewapen laat graveer en dit êrens in die huis gehang. My lewensvoorneme is Coram Deo: om my hele lewe voor die aangesig van God, onder sy gesag en tot sy eer te lewe. My seun het vir my ’n embleem met hierdie leuse daarop ontwerp. Ek wil dit laat uitdruk en in my studeerkamer hang. Doen iets soortgelyk.

 

2. Bid daaroor (v.11)

Ek het dit ’n paar jaar gelede begin doen. Jaar na jaar het ek gesien hoe die Here my gebede verhoor en my voornemens vervul. Ek het dit by Paulus geleer. In v.11 bid hy: “To this end we always pray for you, that our God...may fulfill every resolve for good” (ESV).

As jy nie oor jou voorneme kan bid nie, is dit nie ’n waardige voorneme nie. Kies vir jou ’n voorneme waarvoor jy daagliks kan bid: “bid ons ook altyd” (v.11). Iemand wat oor sy voornemens bid, vertrou nie op sy eie feilbare krag nie, maar op God se onfeilbare krag: “deur sy krag” (v.11). Hy vertrou op die Here se genade: “op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus.” (v.12). Deur so te bid kan jy die jy die onmoontlike vermag (Matt. 21:21-22, Ef. 3:20, Jak. 5:16).

Moenie alleen oor die saak bid nie, maar vra ander om saam met jou te bid: “bid ons ook altyd vir julle” (v.11). So iemand kan jou aanspreeklik hou en saam met jou die Here dank wanneer Hy jou voornemens vervul.

 

3. Dink geestelik

Wat volg is die top voornemens op Google:

  • Verloor gewig.
  • Oefen meer.
  • Skep orde in my leefruimte.
  • Leer ’n nuwe vaardigheid.
  • Spaar meer geld.
  • Hou op rook.
  • Spandeer meer tyd met familie en vriende.
  • Maak nuwe vriende.
  • Toer meer.
  • Lees meer.
  • Koop nuwe klere.
  • Kry ’n nuwe werk.

Volgens v.11 is bogenoemde voornemens nie die beste nie. Paulus se voornemens vir die Tessalonisense was geestelik: “Met die oog hierop bid ons ook altyd vir julle, dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik” (v.11).2

Tydelike voornemens is nie noodwendig verkeerd nie, maar geestelike voornemens is beter: “want liggaamlike oefening is wel in ’n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe” (1Tim. 4:8). Wat help ’n mooi liggaam en nuwe klere as jy innerlik lelik is (Spr. 11:22, 31:30)? Daardeur sê ek nie jy moenie oefen nie, maar kry jou prioriteite in orde.

“Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe... terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig.” (2Kor. 4:16, 18).

 

4. Neem aksie

Jerry bid al vir jare vir werk, maar hy kry niks. In sy geval is dit omdat hy passief is. Hy gaan nie uit om werk te soek nie, maar hy sit by die huis en wag vir die werk om na hom toe te kom.

Party mense is so as dit by nuwejaarsvoornemens kom. Hulle bid oor die saak en hoop dat dit vanself moet gebeur. Om te bid is goed, maar wys jou geloof deurdat jy aksie neem. ‘Geloofsdade’ (2020 Vertaling) of ‘alle werk van geloof’ (Ou Vertaling) noem Paulus dit in v.11.

Gestel byvoorbeeld jy maak 2Pet. 3:18 jou voorneme vir 2022: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” Moenie net daaroor bid nie, maar doen iets (v.11). Memoriseer, oordink en bid deur tekste wat oor Jesus gaan: Joh. 1:1-18, Fil. 2:6-11, Kol. 1:15-20, Heb. 1:1-14, ens. Lees Knowing Christ deur Mark Jones. Luister baie preke oor Jesus se Persoon en sy werk—Martyn Lloyd-Jones en John MacArthur is ’n goeie begin. Vas een keer per maand hiervoor en vra die Here om jou meer van Jesus te leer. Deur sekere aksies in plek te stel, sal jy sien hoe die Here jou voornemens vervul.

 

5. Beperk jouself

Toe Jonathan Edwards 19 jaar oud was, het hy vir homself 70 voornemens gemaak. Edwards was briljant slim en baie toegewyd. Hy het sy voornemens op ’n gereelde basis deurgelees en sy lewe daaraan gemeet. Ek bewonder sy poging, maar vir die meeste van ons is 70 voornemens te veel. Kies liewer twee of drie voornemens waaraan jy regtig kan werk. Paulus het so gebid: “dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik” (v.11). Hy het nie te veel voornemens gehad nie, maar het op twee of drie besluit.

Hoe weet jy watter twee om te kies? Eintlik het ek reeds hierdie vraag beantwoord: vra jouself waaroor die blyste sal wees as Jesus voor die einde van 2022 weer sou kom? Wat sal jou en die mense rondom jou die meeste bevoordeel? Wat sal die meeste waarde in die hiernamaals hê?

 

6. Onthou die doel

Een van my vriende het ’n paar jaar gelede besluit om gewig te verloor. Sy rede was nie fisies nie, maar geestelik. ‘Ek wil nie goed lyk of goed voel nie, maar ek wil die Here verheerlik,’ het hy gesê. Hy het baie gewig verloor. Naderhand het hy begin om goed te lyk en goed te voel. Sodra hy egter hierop begin fokus het, het hy vir homself gesê: ‘Dit is nie my doel nie. My doel is om die Here te verheerlik en nie myself nie.’

Dit moet jou en my doel wees in alles wat ons doen: “sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word” (v.12). “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.” (1Kor. 10:31). Geen ongeredde persoon kan dit regkry nie: “Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie.” (Rom. 8:7-8).

Net Christus het volmaak gelewe en daarom kan net Hy die Vader tevrede stel (Matt. 3:17, Joh. 8:29). Deur sy kruisdood vergewe Hy ons sonde (Ef. 1:7). As ons in Hom glo, reken die Vader sy volmaakte geregtigheid aan ons toe (Fil. 3:9). Deur Jesus is die Vader tevrede met elkeen wat in Hom glo. Deur Hom kan ’n Christen se lewe en voornemens vir die Vader aanneemlik wees (v.12, Kol. 1:10).

As jy van hierdie doel vergeet en fokus verloor, moet jy jou sonde bely en herfokus: “sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word” (v.12). Hou hierdie doel voor oë soos ’n goeie atleet die wenpaal voor oë hou.

“Daarom, terwyl ons ook so ’n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het.” (Heb. 12:1-2). 

“Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.” (Fil. 3:13-14).


1  John Piper, Don’t Waste Your Life (Wheaton, Illinois: Crossway, 2003), 45-6

2  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

Kategorieë