Toe ons Desember in die Kaap was het ons Groot Constantia, Suid-Afrika se oudste wynplaas besoek. Alhoewel nie een van ons wyn drink nie, is daar net iets aan pragtige wingerde, wynkelders, en die luuksheid en rykdom van wêreldklas wyn. As ek aan duur en goeie wyn dink, sien ek nie ‘n besope man wat aan ‘n lamppaal hang nie. Ek sien ‘n skatryk man wat agter in ‘n Rolls Royce sit en voor sy ou styl villa stop. As hy in sy huis kom is daar ‘n dik mat, ‘n kaggelvuur wat brand, ‘n swaar hout tafel, en ‘n bruin leer enkelbank waarin hy terugsak met ‘n glas wyn in sy hand, terwyl hy na klassieke musiek luister. Vertaal dit nou in ‘n geestelike prentjie as jy in Johannes 2:1-12 lees van die nuwe wyn wat Jesus vir ons siele bring.
Die krisis (v.1-5)
Het iemand al ooit vir jou ‘n verrassingspartytjie gehou? Jy staan op en dink die dag is baie erg. Selfs jou naaste familie het vergeet jy verjaar. Almal by jou werk het vergeet. Tot die man of vrou met wie jy ‘n bed deel het nie jou groot dag onthou nie. Iemand wat jou goed ken vra jy moet gou saamry na ‘n vriend se huis toe. ‘Ek moet net gou iets gaan aflaai,’ sê hy. As jy by die vriend se huis stop is daar net karre. Familie en vriende verwelkom jou, en is bly jy verjaar. God is soms so en sit ons aspris in ‘n moeilike situasie, omdat Hy ‘n wonderlike verrassing vir ons het. Dit is wat Jesus in v.1-5 gedoen het.
Op die derde dag, toe Jesus vir Filippus en Nataniël geroep het, was daar ‘n troue in Kana tussen die See van Galilea en die Middellandse See (v.1, 1:29, 35, 44, 48). Johannes sê nie wie se troue dit was nie, en noem nie die bruid of bruidegom se name nie. Hy wil op die ware Bruidegom fokus (3:29). Jesus se heerlikheid in die wonderwerk is belangriker as die bruid se skoonheid (v.11). Hoekom het Jesus sy eerste wonderwerk by ‘n troue gedoen? Was dit om te fokus op die groot en finale bruilofsmaal? Was dit om Homself te wys as die Bruidegom, en om die huwelik goed te keur as ‘n Goddelike instelling? Die feit dat Jesus se ma by die troue was, wys dit waarskynlik familie of vriende was wat getrou het (v.1). Josef was nie daar, en was dalk alreeds oorlede (19:26-27). Jesus en die dissipels wat hy in hfst.1 geroep het was ook na die troue toe genooi (v.2). Nataniël het van Kana af gekom (21:2), en het seker die mense geken.
Gedurende die troue het die kelners vir Maria gesê die wyn is op (v.2, 5). Sy was seker dat Jesus sou help en het vir Hom gesê die wyn is op (v.2). Jesus se antwoord klink disrespekvol, maar eintlik was dit ‘n betoning van respek in hulle kultuur (v.4, 19:26). As Hy in ons kultuur geleef het, sou hy sy ma as ‘mevrou’ aangespreek het. ‘Wat het Ek met u te doen?’ (v.4) is reguit maar nie ongeskik nie. Jesus sê in effek: ‘Dis nie my troue nie. Ek is ook nie meer onder ma se gesag nie, maar moet vir my Vader wag om te sê wanneer my uur gekom het (v.4, 7:30, 8:20, 12:23, 27, 13:1, 17:1). Ek moet sý wil uitvoer (4:34). Ek het nie gekom om wyn vir partytjies te voorsien nie, maar om nuwe wyn vir die siel te gee, sodat mense kan feesvier en God kan prys (Amos 9:13-14).’ Jesus se ma het nie sy antwoord as negatief ervaar nie, maar het geweet Hy sou iets doen (v.5). Sy het vir die kelners gesê om presies te doen wat haar Seun sê (v.5).
Kry ‘n regte fokus in jou krisis. Jesus se doel is nie om dadelik jou klein krisis op te los nie, maar om sy heerlikheid te wys. Vir Hom gaan dit nie primêr oor die R400, werk, verblyf, petrol, kind, of lewensmaat waarvoor jy bid nie, maar oor sy algenoegsaamheid om in al jou behoeftes te voorsien (Filippense 4:19). Hy wil hê jy moet Hóm as die grootste gawe sien en geniet, en nie iets anders soek wat jou van Hom af kan weglei nie. Moenie die afgewaterde wyn van geld of iets anders soek, as jy die nuwe wyn van Jesus kan hê nie. Hy sal die begeertes van jou hart gee, net as dit sy heerlikheid beter in jou lewe sal wys. Hy wil nie hê jy moet angstig wees, ophou bid, of jouself probeer uithelp nie. As jy dít doen sê jy indirek: ‘Hy kan my nie help nie en het nie die krag nie… Hy wil my nie help nie en is nie goed nie.’ Jesus sal nie goeie dinge van sy kinders af weghou nie (Psalm 84:11). As Hy dit nie gee nie, is dit nie uit nyd nie. Dit is omdat dit nie goed is vir jou nie, of dalk nie nou goed is vir jou nie. As Hy op die verkeerde tyd ‘n goeie ding vir jou gee, is dit soos om vir ‘n baba te gou vleis te gee as hy dit nog nie kan verteer nie.
Jesus los jou soms in ‘n posisie waar jy fisies, finansieel, emosioneel, sosiaal, geestelik arm is, omdat Hy sy rykdom en heerlikheid wil wys (v.3, Efesiërs 3:20). Hy wil hê jy moet bid, sodat Hy jou kan help en jy sy Naam kan prys (Psalm 50:15). Onthou ook dat ons nie vir Hom kan voorskryf nie. Hy doen wat goed en reg is volgens sy Vader se wil, en nie volgens ons s’n nie (v.4). In jou krisis moet jy bid, die knie buig, op die Here wag, en nederig sê: ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’ Hoekom moet jy reg fokus in jou krisis? As jy dit nié doen nie, sal jy ‘n dubbele las dra: die krisis, asook jou vrees en angs.
Die oplossing (v.6-10)
Saam met John en Charles Wesley, het George Whitefield aan Oxford se Holy Club behoort. Hy het gedink redding kom deur sy eie godsdienstige pogings. Hy het opgehou vrugte eet, slegte kos geëet, vir dae aaneen op die vloer gelê, sy geld vir die armes gegee, wol handskoene, ou klere, en vuil skoene gedra, vir ure in die koue geloop en bid totdat sy hande swart was. As gevolg hiervan het hy siek geword en moes hy vir sewe weke in die bed lê. Gedurende hierdie tyd het hy tot die besef gekom dat hy niks kan doen om God se guns te wen en homself te red nie. Toe hy aan die einde van homself gekom het, het God die swaar las van hom af weggeneem, hom gehelp om deur geloof na Jesus te gryp, en hom deur die Gees aangeneem. Die vreugde was oorweldigend. Sy siel was vol van blydskap en die sondelas was weg. Hy het ‘n sin van God se liefdevolle vergifnis gehad, en ook volle geloofsekerheid gekry. Hy het gesê dit was soos ‘n lente stortreën wat maak dat ‘n rivier sy walle oorstroom.[1] Dit is die punt wat Johannes in v.6-10 wil maak: Jesus se nuwe wyn van die Koninkryk is oneindig keer beter as die leë kruike van godsdienstige tradisie.
By die troue was daar ses klip kruike vir Joodse reinigingsrites (v.6). Die Jode het hulle hande, potte, koppies, ens. hierin gewas, sodat dit sermonieel rein kon wees (Markus 7:3-5). Elke kruik kon 70-105 liter hou. Jesus het dus ‘n totaal van 420-630 liter wyn gemaak! Jesus het gesê dat die kelners die kruike tot bo moes volmaak met water, sodat niemand kon sê Hy het iets met die water gemeng nie. Niemand sou kon sê dit is nie ‘n regte wonderwerk nie (v.7). Jesus het dit ook laat volmaak, sodat daar meer as genoeg wyn kon wees.
Jesus het vir die kelners gesê om die water uit die kruike te skep en dit vir die hoof kelner te vat (v.8). Hulle het nie gevra hoekom nie, maar het gedoen wat Hy sê (v.8). Toe die hoof kelner uit die beker drink, het dit intussen in die beste kwaliteit wyn verander (v.9). Hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie. Die kelners wat dit geskep het, het geweet (v.9). Meer as een kelner het dit geweet. Dit bewys dat niemand se sintuie hom bedrieg het nie. Die kelners het hulself ook nie misgis omdat hulle dronk was nie. Hulle kon buitendien nie van die wyn drink nie, maar moes die gaste bedien. Dit is duidelik genoeg dat hierdie ‘n wonderwerk was.
Die hoof kelner het die bruidegom geroep, want dié moes sorg dat daar genoeg wyn is (v.10). Die feit dat hy hom geroep het wys dat die wyn besonder lekker was (v.10). Die hoof kelner het nie verstaan hoekom die bruidegom die beste wyn vir laaste gehou het nie (v.10). Jy wil mos juis die beste wyn eerste gee, en as die mense genoeg gehad het vir hulle die swakker kwaliteit wyn gee (v.10).
Los die leë kruike van mensgemaakte godsdiens en jou eie pogings. Geniet die nuwe wyn wat Jesus gee. Net Hy kan die leë kruike volmaak. Moenie dink jy kan dit by Hom koop, of Hom deur kerkbywoning, vas, tiendes, ens. omkoop om dit vir jou te gee nie. Dis nie te koop nie. Hy gee dit verniet as jy net sal erken jy is arm, en kan niks tot jou redding bydra nie (Jesaja 55:1). Moenie net een slukkie vat as jy tot bekering kom nie, maar vier elke dag fees totdat Jesus kom en vir ewig daarna. Les jou dors en geniet die soet wyn van sy liefde en verlossing (Matteus 5:6). Jesus se werk van verlossing bring oorvloedige seën en gee ‘n volheid wat die leë kruike van tradisie en godsdiens nie kan bied nie (v.6-7, 10:10, Efesiërs 1:3). Moet ook nie dink jy kan die twee meng nie. Die nuwe wyn van Jesus se Koninkryk pas nie in die ou wynsakke van godsdienstige tradisies nie (Matteus 9:17). Besluit wat jy wil hê.
Sien ook die nuwe wyn van verlossing as jy die nagmaalsap drink (Matteus 26:27-28). Laat Jesus die slegte wyn van sonde en godsdiens in die soet en smaaklike wyn van die ewige lewe verander (2 Korintiërs 5:17). Smaak en sien dat die Here goed is (Psalm 34:9).
Die les (v.11-12)
Soos jy weet ontken ateïste en liberale teoloë Jesus se wonderwerke. C.S. Lewis het sê: ‘God skep ‘n wingerd en maak dat dit water deur sy wortels opsuig. Met behulp van die son verander die water in sap wat vergis en sekere kwaliteite aanneem. Dus is God al van Noag se tyd af besig om elke jaar water in wyn te verander.’[2] Toe Jesus die water in wyn verander het, het hy die proses versnel en ook nie die normale metode gevolg nie, maar bonatuurlik ingegryp. In hierdie wonderwerk het Jesus sy heerlikheid as Skepper en Voorsiener gewys. Die Almagtige Jesus kon binne sekondes uit reënwater wyn maak wat proe of dit uit die wêreld se beste kelders kom. Maar om kwaliteit wyn te maak was nie sy hoofdoel nie. ‘n Geestelike les was.
Jesus het sy eerste twee wonderwerke in Kana gedoen (v.11, 4:46, 54). Dus is dit onsin dat Jesus as kind klei voëltjies gemaak het en dit as lewende voëls laat wegvlieg het.[3] Johannes noem Jesus se wonderwerke tekens (v.11). Elkeen van Johannes se sewe tekens sê iets van Jesus. Jesus vermeerder die brood om te wys Hy is die Brood van die Lewe (6:35). Hy wek vir Lasarus uit die dood op om te wys Hy is die Opstanding en die Lewe (11:25-26). By die troue verander Hy die water in wyn om te wys Hy is die ware Bruidegom[4] wat die nuwe wyn van die Koninkryk gee (v.11). Sy heerlikheid wat voorheen bedek was, was nou sigbaar, sodat sy dissipels geglo het Hy is die Seun van God (v.11, 1:14, 20:30-31). Jesus se broers het saam met Hom gereis, maar het eers na sy opstanding in Hom geglo (v.12, 7:5, Handelinge 1:14, vgl. Johannes 6:44, Lukas 10:21-22).
Sien ‘n refleksie van Jesus se heerlikheid in die klipkruike vol rooiwyn. Het jy al ooit hierdie nuwe wyn geniet in die lees van die Skrif, Bybelstudie, ‘n preek, persoonlike gebed, bepeinsing, lofsange, gehoorsaamheid, die gemeenskap van gelowiges, ‘n goeie Christelike boek, sondebelydenis en die vergifnis wat volg, vas, evangelisasie, diens aan ander, die nagmaal, die doop, bydraes tot God se werk, ‘n biduur? As jy dink die wyn van sy heerlikheid is nou soet en goed, moet jy kans gee dat dit verouder. Wat jy op aarde beleef het was maar net die wyn se geur wat jy geruik het – wag totdat jy dit in die hemel proe (Jesaja 25:6, Matteus 26:29, Johannes 17:24). In die hemel sal jy daarvan drink en nie kan ophou nie. Soos wat ‘n dronk persoon onder die wyn se invloed is, sal die nuwe wyn van Jesus en die Gees jou vir ewig beheer (Efesiërs 5:18). Jesus hou waarlik die lekkerste vir laaste (v.10).
Hoekom moet jy Jesus se heerlikheid in hierdie wonderwerk sien? Want as jy dit nié doen nie, is jy soos ‘n slegte Sondagskool juffrou wat die storie vir die kinders vertel, maar die les mis.
In Desember het my kinders die ou TV speletjie, Mario Brothers ontdek. Vir hulle was dit die beste speletjie ooit. Iets wat oud is, het vir hulle nuut geword. Net so is die nuwe wyn wat Jesus gee eintlik oud. Jesus help ons om eeu-oue waarhede te ontdek (Jeremia 6:16), maak dit vars, en leer ook vir ons wonderlike nuwe dinge wat ons nie geweet het nie. Is daar iets so verfrissend soos nuwe-ou wyn vir die siel?
[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.1, pp.72-77
[2] C.S. Lewis, God in the Dock, p.16 (vry vertaal)
[3] Infancy Gospel of Thomas en die Qur’an, Sura 5:110
[4] By Joodse troues moes die bruidegom die wyn voorsien.
Write a comment:
You must be logged in to post a comment.