Lukas 1:39-56

In die 1990’s het ek op TV gesien hoe iemand ’n onderhoud met kinders voer: op die strand, in die winkelsentrum, in die parkie, by die huis, en op straat. ‘Waaroor gaan Kersfees?’ het die persoon hulle gevra. ’n Klompie van die kinders het geweet dat Kersfees oor Jesus gaan. Almal van óns weet dit ook. En tog vier baie mense dit nie so nie. Vir baie Christene gaan Kersfees oor Kersvader, hope geskenke, liggies, eet-tot-jy-naar-is, en gesellig wees.

Ek geniet ook die liggies, die saam kuier, en lekker kos. Die probleem is egter dat Christene soms dat Kersfees vir hulle oor Jesus gaan, terwyl hulle dit nie so vier nie. Hoe moet ons Kersfees dan op ’n God-gesentreerde wyse vier?

1. Elisabet se blydskap (v.39-45)

Tuks Rugby kies Ruan om die kaptein van hulle eerste span te wees. Hy is bly en vertel dadelik sy familie. ’n Week later hoor hy dat sy goeie vriend vir die Springbokke gekies is. Hy word versoek om jaloers te wees. Die onvrugbare en bejaarde Elisabet was nie so nie. Sy was bly toe die Here baba Johannes vir haar gee. Toe sy egter deur die Heilige Gees besef dat die maagd Maria swanger is met die Messias, was sy nie jaloers nie maar bly. Hier is hoe dit gebeur het:

Nadat Maria gehoor het dat sy met die Messias swanger is en Elisabet met Johannes, het sy uit Nasaret in die noorde van Israel vertrek na die bergstreek van Judea in die suide om Elisabet te besoek (v.39, 26-38). Toe sy in Sagaria en Elisabet se huis aankom en Elisabet groet, toe spring baba Johannes in Elisabet se baarmoeder (v.40-41). Dit was nie net ’n gewone skop, of draai nie. Ons weet immers uit v.15 dat Johannes reeds van die moederskoot af met Heilige Gees vervul is. Elisabet en Sagaria was ook met die Gees gevul (v.41, 67). Hulle hele gesin was vol van die Heilige Gees!

As elke gesin so was, sou Kersfees en elke dag van die jaar God-gesentreerd wees (Ef. 5:18, 22-6:4). As kinders vol is van die Gees, sal hulle dankbaar wees en nie oor Kersgeskenke baklei, of ontevrede en jaloers wees nie. As jongmens en ouers met die Gees gevul is, sal hulle nie die Kersseisoen sien as ’n geleentheid om dronk te word nie. Ouers sal nie hope geld op kos en geskenke spandeer nie, maar sal eerder tyd met hulle gesinne deurbring en hulle kinders leer wat Kersfees beteken. As mans met die Gees gevul is, sal hulle nie van hulle vroue verwag om heeltyd kos aan te dra, of hulle los om alleen die skottelgoed te was nie.

As vroue met die Gees gevul is, sal hulle nie angstig wakker lê en wonder of alles perfek is vir Kersdag nie. Hulle sal nie kwaad wees as die familie oupa se spyskaart (braaivleis) bo hulle s’n (varkboud) verkies nie. Hulle sal nie depressief voel as mense nie die kos, of versierings komplementeer nie. Dit sal vir hulle oor Jesus gaan en nie oor hulleself nie. Omdat hulle ander wil dien, sal hulle nie die hele dag kla en wens die gaste wil huis toe gaan nie (1Pet. 4:9). Hulle sal soos Elisabet wees wat bly was oor Maria se besoek.

Hoe het sy dit reggekry, veral as Maria vir drie maande daar gebly het (v.56)? Sy was vol van die Gees en daarom ook vol blydskap (v.41-42, Gal. 5:22). Sy het hardop uitgeroep dat Maria gesëend is (v.42). ‘Jy is die gelukkigste vrou in die geskiedenis!’ het sy gesê (v.42). Maria self het dit besef (v.48). Sy het ongetwyfeld Gen. 3:15 en Jes. 7:14 geken wat sê dat die Messias uit ’n vrou, uit ’n maagd gebore sou word. Sy kon egter nie raai dat hierdie verse van háár praat nie! Maar nou het sy geweet.

Sy was nie geseënd omdat sy Maria is nie, maar omdat die Kind in haar baarmoeder die ewige, geseënde Messias was (v.42, Rom. 9:5, ESV). Die Kind in haar baarmoeder was waarlik en volkome mens, maar ook waarlik en volkome God: die Skepper van hemel en aarde; die God van Israel. Mark Lowry beskryf dit as volg:

Mary, did you know that your baby boy would one day walk on water?
Mary, did you know that your baby boy would save our sons and daughters?
Did you know that your baby boy has come to make you new?
This child that you’ve delivered, will soon deliver you.

Mary, did you know that your baby boy will give sight to a blind man?
Mary, did you know that your baby boy will calm the storm with his hand?
Did you know that your baby boy has walked where angels trod?
When you kiss your little baby, you kiss the face of God.

Mary, did you know that your baby boy is Lord of all creation?
Mary, did you know that your baby boy would one day rule the nations?
Did you know that your baby boy is Heaven’s perfect Lamb?
That sleeping child you’re holding is the great I am.

Elisabet het besef dat Maria se baba haar Here is (v.43, 45-47, 2:11, 20:42, Joh. 20:28). Daarom kon sy nie glo dat Maria háár besoek nie (v.43)! Dit is nie dat sy soos die Katolieke Maria vereer het nie. Die waarheid is eerder dat sy die Baba as haar Here en God vereer het. Dit is ook hoekom Johannes in Elisabet se baarmoeder gespring het (v.41, Mal. 4:2): hy het hom oor die Messias verbly toe hy Maria se stem hoor (v.44, Joh. 3:29).

Voel jý so oor Jesus? Is dit sigbaar in die manier waarop jy Kersfees vier? Indien nie, wil ek jou met ’n paar wenke help. Moenie lof en dank tot ’n Kersdiens op Kersdag beperk nie. Kry jou gesin deur Desember bymekaar om Christelike Kersliede te sing, om die profesieë van die Messias se koms en die geboorteverhale te lees, om saam te bid en die Here te dank (jy kan die Kersliede se woorde en ’n Bybelleesplan vir Kersfees op die internet kry). Moenie ophou as Kersdag verby is nie, maar hou deur die res van jaar en jou lewe hiermee aan. As jy dit deur die geloof, getrou, en met ’n opregte hart doen, sal jy die Here se seën in jou lewe en gesin beleef net soos Maria dit beleef het toe sy God se Woord en beloftes geglo het (v.45, 38, Ps. 1:2-3, Joh. 20:29, kontra v.18-20).

2. Maria se blydskap (v.46-56)

Charles Spurgeon het van John Bunyan gesê: ‘Read anything of his, and you will see that it is almost like reading the Bible itself. He had read it till his very soul was saturated with Scripture… he cannot give us his Pilgrim’s Progress…without continually making us feel and say, “Why, this man is a living Bible!” Prick him anywhere—his blood is Bibline, the very essence of the Bible flows from him. He cannot speak without quoting a text, for his very soul is full of the Word of God.’1

Maria se lied was so: gevul met die Woord van God. In haar lied verwys sy na 1Sam. 2, die Psalms, die profete, en die res van die Ou Testament. Vir Maria het dit oor Gód gegaan eerder as oor hoe spesiaal sý is. Daarom het sy die Here se Naam grootgemaak (v.46, Ps. 34:4). Sy het dit gedoen soos ’n teleskoop eerder as soos ’n mikoskoop. John Piper verduidelik:

Magnify has two distinct meanings. In relation to God, one is worship and one is wickedness. You can magnify like a telescope or like a microscope. When you magnify like a microscope, you make something tiny look bigger than it is. A dust mite can look like a monster. Pretending to magnify God like that is wickedness. But when you magnify like a telescope, you make something unimaginably great look like what it really is. With the Hubble Space Telescope, pinprick galaxies in the sky are revealed for the billion-star giants that they are. Magnifying God like that is worship.’2

Vir Maria het dit nie net oor die regte woorde gegaan nie. Sy wou die Here uit haar siel, of gees prys; uit die diepte van haar menswees (v.46-47). Net so moet ons die Here nie net met ons lippe prys, terwyl ons gedagtes op ’n ander plek is omdat ons die Kersliede se woorde ken nie. Ons moet dink wat ons sing en die waarheid daarvan in ons harte voel (Joh. 4:24). As jy dit nie so doen nie, is daar nie ’n verskil in die manier waarop jý Kersfees vier en hoe die wêreld dit vier nie, selfs al sing jy die regte woorde. Eintlik help dit nie eers jy sing die regte woorde met jou hele hart as jy Jesus deur die res van die dag en jaar vergeet nie (Jes. 1:12-15, Matt. 15:8). Dan is jy soos iemand wat een keer per jaar op Kersdag sy hoed vir Hom afhaal. Jy wil Jesus met ander woorde in die krip hou, terwyl sy lewe, kruisdood, opstanding, hemelvaart, heerskappy, en wederkoms nie ’n verskil maak in jou lewe nie. Jy kan nie soos Maria sê dat Hy jóú Verlosser is nie (v.47, Luk. 2:11, Matt. 1:21, Joh. 4:42, Acts 5:31, 13:23, Tit. 2:13, 2Pet. 1:1). Jy is nog vas in die boeie van sonde.

Vra die Here dus vandag nog om nie alleen die Verlosser van die wêreld te wees nie, maar jou persoonlike Verlosser (Joh. 1:12). Wie anders kan die kettings van sonde breek wat jou al vir so lank vashou? Maria kan nie. Sy is nie ’n sondelose mede-verlosser soos die Katolieke sê nie, maar het self ’n Verlosser nodig gehad (v.47). Jy kan jousélf nie van die sonde red nie. Jy het al probeer om te verander, maar was tot dusver onsuksesvol.

Al Een wat jou kan red en jou sonde kan vergewe, is Jesus: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees… Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie… En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Joh. 8:36, 14:6, Hand. 4:12).

As jy jouself voor die Here verneder, sal Hy jou antwoord. Hy sal jou nie wegwys nie, maar jou kop optel en jou verhef (v.48, 52, Ps. 34:19, 51:19, 138:6, 147:3, 6, Jes. 57:15, 66:2, Matt. 23:12, Luk. 18:14, Jak. 4:10). Dan sal jy soos Maria sê: ‘Ek is geseënd deur die Magtige God wat groot dinge vir my gedoen het’ (v.48-49, Gen. 49:24, Ps. 132:2, 5, Jes. 9:5, 10:21). Jy sal weet dat daar niemand so moreel volmaak, heilig, en uniek is soos die Here nie (v.49). Jy sal iets verstaan van wat A.W. Tozer gesê het: ‘We know nothing like the divine holiness… The natural man is blind to it. He may fear God’s power and admire God’s wisdom, but His holiness he cannot even imagine.’3

Jy sal dit onder andere op Kersdag besef, sodat jy die heilige Kind bewonder eerder as om net jolig te wees. Jy sal die Here vir sy barmhartigheid dank en Hom met diep ontsag prys dat Hy jou nie na verdienste in die hel straf nie, maar sy Seun aarde toe gestuur het om jou te red (v.50, Ps. 103:17). Jy sal hierdie goeie nuus met jou kinders en kleinkinders deel en sê dat dit vir hulle bedoel is, asook vir almal wat die Here vrees (v.50, Ps. 103:17).

’n God-gesentreerde beskouing van Kersfees sal jou ook help om nie die EFF, die LGBTQ+ beweging, die Verenigde Nasies, die Wêreldgesondheidsorganisasie, radikale Moslems, en sogenaamde sameswerings te vrees nie. Die Baba in die krip is God se sterk arm wat sy vyande verstrooi (v.51, Jes. 51:9, 53:1). Dit doen Hy deurdat Hy Homself as mens verneder het, sodat die Vader Hom, wat sy menslike natuur betref, tot die hoogste plek verhef het (v.52, Ef. 1:20-22, Fil. 2:6-11). As Koning sal Hy die hoogmoediges in hulle harte en gedagtes verwar en hulle hard neerbring aarde toe (v.51-52, Spr. 16:18, Dan. 4:29-33, Rom. 1:28, Jak. 4:6).

Hy sal die hongeres met goeie gawes versadig (v.53). Dit het niks te doen met Bevrydingsteologie, Sosiale Geregtigheid, Sosialisme, Marxisme, of Kommunisme waardeur Jesus die armes ryk maak en die rykes arm nie. Die mens se nommer 1 probleem is nie finansieel nie en daarom lê die oplossing nie by geld nie. Ons grootste probleem is sonde en daarom is Jesus in die krip, aan die kruis, en op die troon die oplossing.

Parkties beteken dit dat die kerk se grootste taak nie is om kos en geskenke vir die armes te gee nie—ook nie op Kersdag nie. Ons grootste taak is om die evangelie met mense te deel, sodat Jesus hulle geestelike honger kan versadig (v.53, Ps. 107:9, Matt. 5:6). Dán eers kan ons vir hulle kos en geskenke gee. As ons dit andersom doen, word Kersfees mens-gesentreerd eerder as God-gesentreerd. En hoe verskil ons dan van liberale gemeentes en Gift of the Givers?

Die meeste mense se Kersvieringe is mens-gesentreerd. Hulle kyk hoeveel hulle vir hulleself kan kry. Hulle dink nie daaraan dat hulle dit alles gaan verloor nie—dalk oor ’n jaar, maar definitief wanneer hulle sterf (v.53, Mark. 8:36). Fokus daarom op wat jy kan gee eerder as op wat jy kan kry. Hoekom nie hierdie Kerstyd en deur die res van die jaar vir ’n sendeling, of arm gelowige gee nie? Deur dit te doen, bêre jy vir jou skatte in die hemel wat jy nie kan verloor nie (Matt. 6:20, 19:21, Luk. 12:33, Fil. 4:15-17, 1Tim. 6:18-19, 1Pet. 1:4).

Vertel die petroljoggie, karwag, ongelowige familielid, of kollega van God se liefde vir sondaars. Vertel hulle dat Hy mens geword het en aan ’n kruis gesterf het vir ons sonde. Sê vir hulle wat dit beteken. Sê vir hulle dat Hy steeds ’n barmhartige Verlosser is en dat die belofte wat Hy gemaak het om Abraham se nageslag te red nie net vir Jode bedoel is nie, maar vir elkeen wat in Jesus glo (v.54-55, Gal. 3:7-9, 14, 16, 29). Dalk wil jy dit op ’n kaartjie skryf en ’n geskenkie saam gee. Of jy kan bid dat hulle jóú daaroor sal uitvra en jy gereed sal wees met ’n antwoord (1Pet. 3:15).

Dit laat my dink aan iets wat ek ’n paar jaar gelede in ’n boek gelees het. John Piper se vrou vertel van ’n Chinees wat een Kersfees in hulle huis was. Hy het van China af gekom om in die V.S.A. te studeer. Oor die Kersseisoen het hy baie van Kersvader gesien, maar toe hy in die Piper-huis kom, toe sien hy iets anders: ’n toneel van Josef, Maria, en Jesus in die krippie. Hy het vir een van die Piper seuns gevra wat dit beteken. Die seun het Jesus se geboorte aan hom verduidelik. Toe John Piper en sy vrou in die sitkamer kom, toe vertel hulle hom van Adam en Eva, die sondeval, die vloed, Abraham, die Israeliete, en die res van die geskiedenis tot by Jesus. Dit het hom aan die dink gesit.4

Mag die God-gesentreerde manier waarop ons Kersfees vier ongelowiges laat wonder oor wie die Baba in die krip is en wat sy geboorte vir die wêreld beteken.


1  Aangehaal uit Ray Rhodes, Susie: The Life and Legacy of Susannah Spurgeon (Chicago: Moody Publishers, 2018), 53

2  John Piper, Don’t Waste Your Life (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2003), 32

3  A.W. Tozer, The Knowledge of the Holy (Bromley, Kent: STL Productions, 1976), 111

4  Noël Piper, Treasuring God in Our Traditions (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2003), 84-5

Category Kersfees, Lukas 1:39-56