Drie weke gelede het ‘n graad 4 leerling van Mooifontein Primary School 28 leerlinge met vuil inspuiting naalde gesteek. In dieselfde tyd is 13-jarige Louis de Jonge van Benoni deur kinders geboelie, en het hy gesterf. In 2001 het die Waterkloof-vier (15 en 16-jarige seuns) ‘n hawelose man aangerand en vermoor.
My swaer en suster werk by ‘n hoërskool in Boksburg. Oor die afgelope jaar het die leerlinge verskeie onderwysers aangerand. Omdat die kinders ‘minderjarig’ is, steur die polisie en die departement van onderwys hulle nie daaraan nie. Toe ‘n kind in hulle skool met dwelms gevang is, het die polisie dit geïgnoreer.
‘n Onderwyseres in ons kerk het vertel hoe ‘n graad 1 kind in haar skool die juffrou gevloek het. Toe die hoof die kind se pa bel, het hy gesê: ‘As die juffrou haar so wil gedra, kan hy haar seker maar ‘n *$&?^!# noem.’ Verlede jaar het kinders en studente skole en kampusse afgebrand.
As jy soos hierdie kinders en jongmense is, of as jy in jou hart teen gesag rebelleer, is Ef. 6:1-3 vir jou bedoel.
Wat moet jy doen? (v.1a, 2a)
Is jy in die laerskool? Kan jy soveel skoolwerk soos ‘n graad 12 kind onthou? Wat van die Bybel: kan jy 613 wette uit jou kop uit ken? Dit is hoeveel wette daar in die Ou Testament is. God het geweet dat groot mense ook sukkel om al die wette te onthou, en daarom het Hy dit in tien sinne gesê. Ons noem dit die Tien Gebooie.
Die vyfde wet is baie belangrik vir kinders. Dit sê dat jy jou pa en ma moet eer en gehoorsaam (1a, 2a). Doen jy dit elke dag? Of is jy partykeer ‘cheeky’ met jou pa en ma? Is jy partykeer stout, rebels en ongehoorsaam? Wat sal God doen as jy rebels is en nie vir jou ouers luister nie? Vir hoe lank sal die Here jou straf?
Sal jy bly wees as God sê: ‘Omdat Ek jou liefhet, hoef jy nie hel toe te gaan nie’? Maar is dit nie verkeerd as die Here iemand wat sonde gedoen het laat wegkom nie? Sal jy bly wees as ‘n skelm jou fiets steel, en die polisie laat hom aspris wegkom? Hoe kan die Here ons dan laat wegkom as ons verkeerd gedoen het?
Hier is hoe dit werk. God haat sonde en is kwaad as jy dit wil hê. Omdat God goed en regverdig is, sal Hy jou straf en nie toelaat dat jy met jou sonde wegkom nie. Daar is net een manier om van God se straf af weg te kom.
God het aarde toe gekom en ‘n mens geword. Hy het besluit om die straf te vat wat ons eintlik moes kry. Mense het spykers deur sy hande en voete geslaan, en Hom aan ‘n houtkruis vasgemaak. Toe Hy daar gehang het, het sy Vader Hom in ons plek gestraf (2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Dit was baie erg (Matt. 27:46). Hy het gesterf en is begrawe. Drie dae later het Hy weer lewendig geword en uit die graf uit opgestaan. Hy lewe nog steeds en kan nie weer doodgaan nie.
As jy jou sonde haat, jammer is daaroor, ophou daarmee en glo dat Jesus jou kan vergewe, sal Hy jou red. Sonde sal nie meer jou baas wees nie; Jesus sal. Hy sal jou verander, sodat jy goeie dinge wil dink, doen en sê. Die Heilige Gees sal jou ook help om dit reg te kry (5:18).
Dit is wat dit beteken om in die Here vir jou ouers te luister: jy moet gered wees (v.1a). As jy nie gered is nie en probeer om jou ouers te gehoorsaam, is jy soos ‘n 18-jarige wat vir die laerskool se eerstespan rugby speel en probeer om al die reëls te hou. Dit help nie dat hy die reëls hou as hy te oud is om in die span te speel nie. Eintlik mag hy glad nie speel nie. Net so is dit nie genoeg as jy vir jou pa en ma luister, maar nie gered is nie. Jy moet jou ouers in die Here gehoorsaam (v.1a).
Om jou ouers in die Here te gehoorsaam beteken ook twee ander dinge:
[1] God sê jy moenie jok nie, maar altyd die waarheid praat. As jou pa dan vir jou sê om nie te jok nie en jy gehoorsaam is, vir wie luister jy eintlik? As jy nie vir jou pa luister nie, luister jy ook nie vir die Here nie. Volgens Paulus moet jy jou ouers in die Here gehoorsaam (v.1a).
[2] Moet jy vir jou ma luister as sy vir jou sê om die tafel te dek? Ja. Moet jy luister as sy vir jou sê: ‘Gaan sê vir jou pa ék sê hy is ‘n sleg hond’? Nee. Hoekom nie? Want jy moet jou ouers in die Here gehoorsaam, en Hy sal nooit vir jou sê om sonde te doen nie (v.1a, Jak. 1:13).
Paulus het Ef. 6:1-3 in Grieks geskryf. In die Grieks staan daar dat jy aanhoudend jou ouers moet eer en vir hulle moet luister. Jy moet dit nie net partykeer doen nie, maar altyd. Jy moet hulle in alles gehoorsaam (Kol. 3:20). Jy moet luister as hulle vir jou sê dat:
- Jy jou huiswerk moet doen.
- Jy nie by Lourens se huis kan oorslaap nie, omdat hy ‘n slegte maatjie is.
- Jy nie ‘n meisie kan hê tot jy 19 is nie.
- Jy saam kerk toe moet gaan.
- Jy die wasgoed moet ophang of die gras moet sny.
- Jy jou groente moet eet.
- Jy nie ‘n hemp kan dra wat jou maag laat uitsteek nie.
- Jy nie na Justin Bieber of Taylor Swift se musiek mag luister nie.
- Jy net vir twee ure per week TV mag kyk.
- Jy teen 20:00 in die bed moet wees, of dat voor 21:00 by die huis moet wees.
- Jy nie ‘sweets’ mag koop met jou sakgeld nie.
- Jy nie jou hare in ‘n ‘comb over’ mag sny nie.
Ouers: moenie te streng wees nie, en verduidelik vir jou kinders hoekom jy sekere reëls het. Kinders: moenie dink die reëls is daar om al die lekker dinge van jou af weg te hou nie; dit is daar om jou te beskerm (Gen. 2:16-17).
Hoe moet jy gehoorsaam wees?[1]
Sonder verskoning
As jou pa sê jy moet jou inkleurboek in die kamer bêre, moet jy nie sê: ‘Ek wil net gou my storie klaar kyk’ nie.
Sonder terugpraat
Moenie sê: ‘Ahhh! Ek wil nie nou gaan slaap nie; ek wil nog speel!’ nie.
Dadelik
As jou ma sê jy moet die kamer opruim, moet jy nie eers vir jou koeldrank maak nie. Wees dadelik gehoorsaam.
Maar dit help nie jy doen die regte dinge (v.1a), as jy die verkeerde gesindheid het nie (v.2a). Dit help nie jy eet jou groente klaar, maar jy is dikbek nie. Dit help nie jy dek die tafel af, maar jy sug en rol jou oë terwyl jy dit doen nie. Respekteer jou ouers in jou dade en in jou gesindheid (v.1a, 2a).
Om ‘n gehoorsame kind te wees beteken nie net jy moet ‘n klomp reëls hou nie. Dit beteken ook dat jy jou ouers moet liefhê. Hoe kan jy vir hulle wys dat jy hulle liefhet? Gee vir hulle geskenkies. Was die skottelgoed al het hulle jou nie gevra nie. As jy klein is kan jy vir hulle ‘n prentjie teken. As jy ouer is kan jy vir hulle ‘n briefie skryf, waarin jy vir hulle sê dat jy hulle liefhet. Bid vir hulle. Sê dankie vir alles wat hulle vir jou doen. Gee vir hulle drukkies.
As jy ‘n tiener is, moet jy nie die hele middag in jou kamer sit en Play Station speel of musiek luister nie. Moenie selfsugtig wees nie. Kom ‘n bietjie uit jou kamer uit en help jou ma in die kombuis; help jou pa in die garage. Sit by jou ma in die kamer en gesels met haar. Vertel vir jou pa wat jy wil doen as jy klaar is met skool. Sê vir hom hoekom jy soms bang en onseker is. Vra hom om vir jou te bid. Vra vergifnis as jy gelieg het oor waar jy was, as jy jou ouers se vertroue gebreek het. Wees eerlik en doen jou beste om hulle vertroue terug te wen.
Speel bord speletjies saam met jou ouers. Swem saam met hulle of kyk saam met hulle ‘n storie. Vra vir hulle of jy saam met hulle ‘n roomys by Steers kan eet en net kan sit en gesels. As jy klein is kan jy vir jou pa en ma vra om saam met jou te speel. Skop bal saam met hulle of gooi frisbee. Was die kar of die hond saam met hulle. Vra vir jou pa of jy saam met hom op sy motorfiets kan ry. Aanvaar as jou ma ‘nee’ gesê het, en moenie na jou pa toe hardloop en vir hóm vra nie.
Wat as jou ouers onregverdig is? Wat as hulle lelik is en met jou baklei? Jy moet hulle nog steeds respekteer. Doen dit omdat die Here so gesê het; Hý verdien jou respek, al verdien hulle dit nie. Maar wat van jou stiefpa of stiefma? Jesus het sy stiefpa geëer (Luk. 2:51), en daarom moet jy jou stiefouers gehoorsaam.
Ek weet van ‘n 16-jarige seun wat vir sy stiefma gesê het: ‘Jy is nie my ma nie en kan nie vir my sê wat om te doen nie.’ Toe hy die middag by die huis kom, het sy nie vir hom kos gemaak nie. ‘Waar is my kos?’ het hy gevra. ‘Ek is mos nie jou ma nie,’ het sy geantwoord.
Die Here wil hê dat jy jou stiefouers moet eer. Jy moet ook jou oupa en ouma eer as jy by hulle bly. As jy in ‘n koshuis of kinderhuis bly, moet jy jou huisouers eer. By die skool moet jy jou onderwysers eer (Rom. 13:1). In die kerk moet jy respek hê vir ouer Christene, omdat hulle jou geestelike pa’s en ma’s in God se familie is (1Tim. 5:1-2).
Hoekom moet jy dit doen? (v.1b, 2b-3)
Hoekom luister Louis vir sy ma? Sy het gesê as hy soet is, sal sy vir hom ‘n Spiderman hemp koop. Hoekom luister Tiaan vir sy pa? Sy pa skreeu verskriklik hard en klap hom teen die kop. Hy is bang en weet dat dit beter is om te luister. Hoekom luister Natalie vir haar ma? Sy voel sleg, want as sy stout is huil haar ma en sê sy: ‘Jy maak my en pappa se harte baie seer!’
Moet jy soos Louis, Tiaan en Natalie wees? Ek hoop nie so nie. Hoekom móét jy dan vir jou ouers luister? Want dit is reg (v.1b, Hos. 14:10). Jy moet gehoorsaam wees, omdat jy Jesus bly wil maak en omdat jy Hom tevrede wil stel (Kol. 3:20). As jy só gehoorsaam is, belowe die Here iets: jy sal ‘n lang en gelukkige lewe hê (v.2b-3, Eks. 20:12, Deut. 5:16, Jer. 35). Jy sal ‘happily ever after’ lewe. Omdat jy gered is en jou ouers in die Here gehoorsaam, sal jy ook vir ewig op die nuwe aarde lewe (v.3).
As jy jou ouers eer, sal jy leer om vir die base in jou lewe te luister; jy sal leer om jou aan gesag te onderwerp. Jy sal vir jou meneer of juffrou by die skool luister. As jy ‘n grootmens is, sal jy weet dat jy vir jou baas en vir die regering moet luister. En as jy dit doen, sal dit met jou goed gaan.
As jy jou ouers eer, sal jou karakter goed en sterk wees. Jy sal jou werk goed doen en nie met almal baklei nie. As jy eendag trou en kinders het, sal jy húlle ook so leer, en sal jy ‘n gelukkige gesin hê. Jy mag miskien nie ryk wees nie, maar die mense in jou huis sal mekaar liefhê. En om pampoen te eet waar mense mekaar liefhet, is beter as om skaapboud te eet waar almal baklei (Spr. 15:16-17).
As jy nie vir jou ouers luister nie, sal jy ongelukkig wees en jonk doodgaan (v.3). Jy sal altyd probleme hê en op die einde hel toe gaan (Deut. 27:16, Rom. 1:30, 2Tim. 3:2). Hoe sal jy doodgaan?
[1] Het jou pa al vir jou gesê om nie naby die vuur die speel nie, en dan brand jy? Wanneer dit gebeur, sê jou pa: ‘Stoute kind slat homself.’ As jy nie vir jou pa en ma luister nie, sal die dood sommer self na jou toe kom.
Bennie se pa sê hy moenie dronk word nie. Hy luister nie. Eendag drink hy te veel bier en raak hy dronk. Hy klim in sy pa se kar en ry in ‘n boom vas. Vandag is daar ‘n wit kruis en blommetjies waar Bennie gesterf het.
Luister wanneer jou ouers jou teen dwelms, slegte flieks, vieslike musiek, lelike dinge op die internet, seks buite die huwelik, verkeerde vriende, ens. waarsku. Luister al wanneer jy klein is en hulle vir jou sê om nie met vuurhoutjies te speel nie.
[2] Party kinders luister nie vir hulle ouers nie, en doen dan dinge waarvoor die regering hulle straf of doodmaak (Eks. 21:17, Deut. 21:18-21, Matt. 15:4). Harry se ouers vind uit dat hy baie lelike dinge op die internet kyk. Hulle straf hom, maar hy wil nie luister nie. Uiteindelik kan hy sy lus nie inhou nie, en molesteer hy die bure se dogter. Vandag sit hy in die tronk.
Alex speel rekenaar speletjies waarin hy mense moet vermoor. Hy kyk ook sulke stories op TV. Eendag toe vat hy die spesiale ornament swaard in die sitkamer, en toe maak hy sy hele gesin dood. Toe die polisie daar aankom, het hy probeer om hulle aan te val. Hulle het hom doodgeskiet.
[3] Partykeer maak God sommer self die ongehoorsame kind dood. Hy sê vir ‘n wilde dier om hulle dood te byt, of dalk stuur Hy iemand om hulle dood te maak (1Sam. 2:12-17, 22-25, 34, 4:10-11, 2Kon. 2:23-24, Spr. 30:17).
Dit klink baie wreed, maar dit is waar. God haat sonde en sal jou straf as jy rebels is. Hy speel nie met sonde nie. Beteken dit dat almal wat op wrede maniere doodgaan rebels is, of dat almal wat rebels is op ‘n jong ouderdom sterf? Nee. Maar dit is hoe dit gewoonlik werk (v.3).
Wil jy op ‘n jong ouderdom sterf? Moenie vir jou ouers luister nie, maar wees rebels. Wil jy lank lewe? Glo in Jesus Christus en gehoorsaam jou ouers (v.1-3). As jy hulle respekteer sal dit nie alleen vir jóú goed wees nie, maar jy sal ook ander daardeur help.
Ek het verlede Maandag met ‘n vrou gepraat wat op ‘n eiland naby Suid-Amerika groot geword het (Trinidad). Haar naam is Sheila. Sy is ‘n Indiër en haar ouers was Hindoes wat afgode aanbid het. Toe Sheila klein was, het sy altyd gekla as haar ma vir haar gesê het om skottelgoed te was of om die stoep te vee.
Toe Sheila 14 was toe gaan sy op ‘n kamp. Toe sy terugkom het sy vir haar ouers gesê dat sy ‘n Christen geword het. Hulle het haar nie geglo nie, maar sy het regtig verander. As sy die stoep gevee het, het sy nie gekla nie maar vir die Here gevra om haar te help om ‘n goeie voorbeeld te wees. Ses maande later het haar ouers gesien dat sy verander het. ‘Sy kla nie meer as sy haar take doen nie,’ het haar ma gesê.
Haar boeties en sussies het dit ook gesien. Een van Sheila se sussies het 6 maande later ‘n Christen geword. Hulle het ‘n Bybelstudie vir kinders begin. ‘n Jaar later het haar ander sussie tot bekering gekom, omdat Sheila nie net haar eie take gedoen het nie, maar haar sussie met háár take gehelp het. Baie jare later het Sheila se boetie ook ‘n Christen geword.
Sal dit nie lekker wees as jou boeties en sussies almal die Here dien nie? En sal dit jou nie bly maak as jy ‘n goeie voorbeeld vir hulle gestel het, omdat jy in Jesus geglo het en vir jou ouers geluister het nie?
[1] Tedd Tripp, Shepherding a Child’s Heart, Shepherd Press, Wapwallopen: PA, 1995, p.134