Lukas 8:40-56
‘Die probleem met baie getroude paartjies,’ sê Wayne Mack, ‘is dat hulle dinge glo, maar nie daarvolgens lewe nie.’ ‘The truths they believe is not their working theology.’1
Baie Christene glo in teorie dat Jesus beheer oor die natuur, demone, siekte en die dood uitoefen (v.22-56). Ongelukkig lewe hulle nie asof Hy in beheer is nie. Hulle raak paniekerig as hulle hoor van iemand wat in die hospitaal beland het met Covid. Maar as ons so lewe, skep dit die idee dat God nie in beheer is nie. In die gedeelte voor ons, wil Lukas ons leer om te glo en nie te vrees nie.
1. Jaïrus se dogtertjie (v.40-42a, 49-56)
’n Paar weke gelede het ek by ’n gedenkmuur gestaan en na die datums gekyk. Op een steen was daar ’n plakker van ’n krokodil. ‘Wie doen so iets?’ het ek gewonder. Toe ek na die datum kyk, toe sien ek dat die seuntjie nege jaar oud was toe hy dood is. Sy boetie, sussie of ouers het die plakker daar geplak. Ek weet nie hoe dit voel om ’n kind verloor nie, maar ek weet dat dit traumaties is. Ek wonder hoe Jaïrus gevoel het toe sy enigste dogter op sterwe lê.
Toe Jesus van oorkant die See af terugkeer, toe verwelkom die mense Hom (v.40). Hulle het nog lering en wonders verwag. Tussen hulle was ’n man met die naam van Jaïrus. Hy was ’n leier van die sinagoge wat die gebou moes oppas, dienste moes reël en sorg dat alles ordelik geskied (v.41).2
Toe Jaïrus vir Jesus sien, toe val hy voor sy voete neer om te wys dat hy klein is en Jesus groot (v.41, 28, 47). Hy het Jesus aangehou smeek om na sy huis toe te kom (v.41, Gk. imperfektum). Sy enigste dogter, wat twaalf was, het op sterwe gelê (v.42a, Mark. 5:23). Haar dood was so naby dat Jaïrus gedink het sy sal sterf terwyl hy vir Jesus roep (Matt. 9:18).
Jesus het vir Jaïrus gevolg. Terwyl Hy op pad was, was daar ’n tweede voorval van ’n vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Jesus was nog besig om die vrou te help toe ’n boodskapper van Jaïrus se huis af kom en sê: “U dogter is nou net dood. Moenie die leermeester langer lastig val nie.” (v.49).3 Die boodskapper het drie foute gemaak:
Eerstens het hy gedink dat Jesus ’n siek dogtertjie kan help, maar nie ’n dooie een nie. Ons doen dieselfde. Ons raak desperaat en vra die Here om ons te help voordat dit te laat is: ‘Help my asseblief voor ek my werk verloor...voordat die geld op raak...voordat Covid my vrou se longe binnedring...voordat die Taliban Afghanistan oorneem!’ Asof Jesus nie kan help nadat dinge ’n sekere punt bereik het nie.
Tweedens het die boodskapper gedink Jarïus pla vir Jesus, klim onder sy vel in, hinder Hom en irriteer hom grensloos (v.49, Gk. skullō). Die waarheid is dat Jesus graag ons versugtinge en gebede hoor (Spr. 15:8).
Derdens het die boodskapper Jesus net as ’n leermeester gesien. Hy het nie besef dat Jesus die Seun van God is nie. As jy weet wie Jesus is, sal jy nie ophou bid wanneer die situasie erger of hopeloos raak nie. Jy sal v.50 glo en volhard: moenie vrees nie, glo net. Jaïrus moes glo dat Jesus sy dogtertjie kan red: nie net van siekte en die dood nie, maar van die ewige oordeel (v.50, Gk. sōzō). Jesus kan jou kinders ook red. Glo jy dit?
As jy ’n kind is, wil ek jou uitdaag om vir Jesus te volg. Moenie dink jy is te jonk nie. Verskeie Bybelkarakters het die Here leer ken toe hulle jonk was: Josef (Gen. 37:2), Samuel (1Sam. 2:18, 26, 3:1-10), Dawid (1Sam. 16:11-13), koning Josia (2Kron. 34:3), Jeremia (Jer. 1:6-7), Daniël en sy vriende (Dan. 1:17), Timoteus (Hand. 16:1-2, 1Tim. 4:12). Jy kan ook vir Jesus ken. Vra en vertrou Hom om jou sonde te vergewe en vir jou die ewige lewe te gee. Ek het tot bekering gekom toe ek 13 was.
As Jesus jou red, sal jou sterfbed soos die agtjarige John Sim s’n wees. Toe klein John op sy sterfbed gelê het, wou hy al hoe meer van Jesus hoor. Hy het gesê: ‘I lay my sins on Jesus, the spotless Lamb of God.’ Hy was hartseer dat sy ouers nie in die hemel sal wees nie. Sy ma was geskok toe hy dit vir haar sê. ‘Hoe kan jy so sê?’ wou sy weet. ‘Julle het my nie van Jesus vertel nie,’ het hy gesê. ‘Ek hoor ook nie dat julle met Hom praat of van Hom sing nie. Julle vertel nie ander van Hom nie.’ John Sim het ’n sendeling genaamd John Paton gevra om hom meer van Jesus te vertel. Soos jy jou kan indink, het John Sim in vrede gesterf.4
As jy in Jesus glo, sal jy soos Janet wees. Janet was ’n sieklike kind. Toe sy agt jaar oud was, het haar boetie gesterf. Sy naam was Ian. Ian se dood het haar baie diep geraak. Toe Janet tien was, het ’n student genaamd Graham haar besoek en die evangelie met haar gedeel. Graham het gereeld langs Janet se siekbed gesit en met haar oor Jesus gepraat. Janet het onder ’n diep sonde oortuiging gekom. Sy het gehuil en besef dat sy verlore is. Sy het Jesus vertrou om haar te red. Hy het haar gebed verhoor. Daarna het sy haar Bybel gelees, met die Here gepraat en geestelik gegroei. ’n Paar maande later toe word sy baie siek. Sy het gesukkel om asem te haal. Skielik toe sit sy penregop. Sy het in ’n rigting gestaar en gesê: ‘It’s all right, Ian, I’m coming.’ Sy het teruggesak en weer gesukkel om asem te kry. Teen 8 uur die aand kon sy beter asemhaal. Sy het haar ma omhels en gesê: ‘O Mummy, I love you so much.’ Sy het teruggesak en haar asem uitgeblaas.5
Om van die dood te hoor, is nie lekker nie, maar dit is ’n realiteit. As jy egter in Jesus glo, hoef jy nie te vrees nie (v.50, Joh. 14:1). Om jou vrese te oorkom, moet jy jou gedagtes met Jesus en die Bybel vul eerder as met DSTV, TikTok en wat in die wêreld aangaan. Een van my vriende het op Facebook gesê: ‘Mense wat die koerant lees, weet wat in die wêreld aangaan. Mense wat Bybel lees, weet hoekom.’ Ons weet dat die Here in beheer is van siektes soos Covid en die dood (Deut. 32:39, Eks. 4:11, 1Sam. 2:6, Job 14:5). Daarom is ons nie bang nie (v.50).
***
Toe Jesus by Jaïrus se huis aankom, toe vat Hy sy drie naaste dissipels saam (v.51, 9:28, Mark. 13:3, 14:33, Hand. 1:13). Hulle moes later van sy werke getuig (Hand. 10:38-39). Jaïrus en sy vrou was ook by, omdat dit hulle dogtertjie was (v.51).
Buite die huis was daar fluitspelers, asook mense wat te kere gegaan en luidrugtig gehuil het (v.52, Matt. 9:23). Die geraas was so chaoties soos simbale wat teen mekaar slaan (Mark. 5:38, Gk. alalazō, vgl. 1Kor. 13:1). Die Jode het hierdie mense gehuur om klaagliede te speel en te huil (7:32). Jesus het vir hulle gesê: ‘Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap net’ (v.52). Jesus het geweet dat Hy haar uit die dood uit gaan opwek (vgl. Joh. 11:11-14). Die mense het dit nie verstaan nie en het aangehou om Jesus uit te lag (v.53, Gk. katagelaō). Hulle het geweet die kind is dood (v.53).
Jesus het die mense uitgestuur en sy drie dissipels en die dogtertjie se ouers saam ingevat (Mark. 5:40). Hy het die kind se hand gevat en gesê: ‘Dogtertjie, staan op’ (v.54). In Aramees is dit: ‘Talitha koem’ (Mark. 5:41). Die kind se gees het teruggekeer en sy het dadelik opgestaan (v.55). Lukas bedoel nie dat die kind se gees rondgesweef of uit die hemel teruggekeer het nie, maar dat haar lewe teruggekeer het (sien Rigt. 15:19, 1Sam. 30:12, Heb. ruach). Jy kan nie jou teologie van lewe na die dood formuleer op grond van iets wat die teks nie sê nie. Lukas sê eenvoudig nie waar die dogtertjie se siel was toe sy gesterf het nie.
***
Na Jesus die dogtertjie opgewek het, toe sê Hy dat hulle vir haar iets te ete moet gee (v.55). Dit het Hy gedoen om te wys dat sy nie ’n skim is nie, maar dat sy werklik lewe (vgl. 24:36-43). Haar ouers was uitermate verbaas, buite hulleself, oorweldig en stomgeslaan (v.56, Gk. existēmi). Jesus het hulle beveel om vir niemand te sê nie (v.56). Hy wou eers die streek verlaat, sodat die mense Hom nie sou vertrap nie (v.42b, 45). Eers later het mense die storie van die dogtertjie se opstanding versprei (Matt. 9:26).
Bevind jy jou in ’n posisie soos Jaïrus, sy vrou en hulle dogtertjie waar die dood sy koue asem in jou nek blaas? Raak jy bang wanneer jy mense rondom jou sien sterf? Sukkel jy om die dood van ’n geliefde te verwerk? Vrees jy dat nog iemand naby jou sal sterf? Volgens die Bybel is ’n Christen se dood asof hy aan die slaap raak en oomblikke later by Jesus wakker word (Luk. 16:22, 23:43, Ps. 17:15, 139:18, Pred. 12:7, Hand. 7:56, 59-60, 2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23). By die wederkoms sal jou siel saam met Jesus terugkeer (1Tess. 4:14). Hy sal jou liggaam opwek, dit verheerlik en dit met jou siel herenig (1Kor. 15:20-55, 1Tess. 4:16). Omdat Jesus self uit die dood uit opgestaan het en die dooies sal opwek, hoef jy nie die dood te vrees nie (Joh. 5:28-29, Op. 1:18). Covid het nie die laaste sê nie. Jesus het.
2. Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (v.42b-48)
Daar is twee soorte beproewings. Die eerste soort is kort, maar intens. Vir my was 2018 so ’n jaar. Dan is daar beproewings wat lank en uitgerek is. ’n Sekere prediker vertel van ’n lidmaat wat kwaad vir hom was. Die man het hom probeer uitvang. Hy sou hom byvoorbeeld in die dorp agtervolg om te sien of hy die verkeerswette oortree. Dit het vir sewe jaar aangehou. ’n Ander prediker sê dat hy al vir tien jaar deur ’n moeilike beproewing gaan.
Die eerste tipe beproewing kom soos ’n vloed wat alles wegspoel. Die tweede soort is soos ’n kraan wat aanhou drup en ’n rots kan uithol. In Lukas 8 lees ons van albei soorte. Jaïrus het ’n kort en intense beproewing beleef toe sy twaalf jarige dogtertjie op sterwe lê (v.42). Die vrou wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gelei het, het ’n lang en uitgerekte beproewing gehad (v.43).
Terwyl Hy op pad was om die dogtertjie te help, het die skare teen Jesus gedruk en het ’n vrou Hom vertraag (v.42b-48). Dit was seker frustrerend vir Jaïrus wat haastig was. Dit was egter nie ’n probleem vir Jesus nie. Hy kon die vrou genees én die dogtertjie help. Jesus maak nie ’n fout wanneer Hy nie volgens jou dagboek werk nie. Sy tydsbereking is perfek. Hy bly in beheer wanneer jou en my planne vertraag word. Paulus wou Rome besoek, maar sy planne is vertraag. As gevolg van die vertraging, kon hy die evangelie op nuwe plekke verkondig (Rom. 1:13, 15:21-22). Op ’n ander keer wou Paulus by Timoteus uitkom. Weer is hy vertraag en moes hy ’n brief skryf (1Tim. 3:14-15). Vandag is 1Timoteus in ons Bybels, omdat Paulus vertraag is. John Piper sê: ‘God is up to something good for us in all our delays and detours.’6
Dit was deel van God se plan dat die vrou se beproewing vir twaalf jaar moes duur (vgl. Joh. 9:1, 3, Ef. 1:11). Gedurende die twaalf jaar, was sy seremonieel onrein. Sy kon nie by ’n plek van aanbidding kom nie; alles waaraan sy gevat het, was onrein (Lev. 15:25-27, 31). Sy het al haar geld op dokters spandeer, maar niks het gehelp nie (v.43). Dinge het erger geraak (Mark. 5:26).
Lukas probeer nie sê dat die Here teen dokters is nie. Hy self was ’n dokter (Kol. 4:14). Die probleem was dat die vrou van een dokter na die volgende toe gespring het sonder om die Here te raadpleeg (2Kron. 16:12). Eers toe haar geld opraak, het sy Jesus as ’n laaste uitweg probeer.
Ons is so. Ons kom nie dadelik na Jesus toe nie, maar bid as niks anders help nie. Jesus wil hê jy moet eerste na Hom toe kom voor jy die dokter bel en jou eie planne maak. As jy dit doen, sal jy jouself baie moeite spaar. Dit is jammer dat die vrou dit so laat besef het. Sy het van agter af gekom om Jesus se kleed aan te raak (v.44). Die Griekse woord (kraspedon) verwys na die tossels op die vier hoeke van Jesus se kleed. Die tossels moes God se volk aan sy wet herinner (Num. 15:38-39, Deut. 22:12).7 Toe die vrou Jesus se kleed aanraak, toe word Hy nie onrein nie—sy het rein geword. Die bloed het opgehou vloei. Sy kon in haar liggaam voel dat sy onmiddellik genees is (v.44, Mark. 5:29).
Wens jy jy kan Jesus so aanraak, sodat Hy jou probleme oplos? Alhoewel jy nie aan sy kleed kan raak nie, kan jy jou probleme deur gebed vir Hom gee (Ps. 55:23, 62:9, Joh. 14:13-14, Fil. 4:6, 1Pet. 5:7). Doen dit. Moenie soos die vrou dink jy pla vir Jesus nie. Moenie sê: ‘Jaïrus se probleem is groter as myne’ nie. ‘Daar is reeds te veel versoeke op die gebedslys. Ek kan nie my versoek deel nie.’ Deel jou versoek en vra ander om saam met jou te bid. Jesus se krag is nie beperk nie. Hy kan twee mense se probleme gelyk hanteer of ’n honderdmiljoen mense s’n. As jy ander vra om saam met jou te bid, is daar meer mense wat Jesus sal prys as Hy jou krisis oplos (2Kor. 1:11). Dit is hoekom Jesus wou hê dat die vrou na vore moet kom om te vertel wat Hy vir haar gedoen het. “Wie het My aangeraak?” het Hy gevra (v.45). Petrus het dit nie verstaan nie en gesê: ‘Die skare druk van alle kante af teen U; almal raak U aan!’ (v.45, 42b, Mark. 5:31). Maar Jesus kon voel dat daar krag van Hom uitgegaan het (v.46, 6:19). Hy het geweet dat iemand Hom vir genesing aangeraak het. Omdat hierdie ’n vroue-probleem was, was die vrou skaam om na vore te tree. Sy het moed bymekaar geskraap, met bewing voor Jesus neergeval en alles uitgeblaker (v.47). Haar voorbeeld het ander mense die moed gegee om Jesus aan te raak vir genesing (Matt. 9:20-21, 14:36).
Eintlik het die vrou meer as net genesing in haar liggaam ervaar. Volgens die Grieks het die vrou se geloof haar gered (v.48, sōzō). Deur die geloof het Jesus haar van sonde gered en het sy ’n dogter van God geword wat nou in vrede met Hom kon lewe (v.48, 7:50, 2Kor. 6:18, Rom. 5:1). Dit is wat sy nodig gehad het: nie net genesing van haar bloedvloeiing nie, maar vergifnis deur Jesus se bloed wat Hy aan die kruis sou stort.
Is jy rein deur sy bloed? Is jy geestelik gesond? Moenie te gou antwoord nie, selfs al is jy ’n Christen. Dink mooi. Is daar sonde wat jou gewete pla; iets wat jy met die Here moet uitklaar? Moet dit nie op jou eie probeer regstel en dink jy sal van vandag af beter doen nie. Jy gaan misluk as jy op jouself staatmaak (v.43). Kom na Jesus toe vir genesing (v.44, 5:31-32, 1Pet. 2:24).
As Hy reeds jou siel genees het, moet jy gesond bly. Besoek die hemelse Dokter gereeld en drink die vitamines van die Woord, die gemeenskap van die heiliges, die nagmaal en gebed (Hand. 2:42). Baie mense is geestelik onwel, omdat hulle die vitamines van ’n konstante verhouding met die Here verwaarloos. In baie gevalle is dit hierdie mense wat die kortisoon inspuiting van berading soek. Ek het dit al ’n paar keer in my bediening gesien: mense wat nie ’n gesonde verhouding met die Here het nie en berading soek.
Sien jy jouself so: jy is geestelik siek, maar weet nie wat om te doen nie? Volg die raad wat John MacArthur vir iemand gegee het. Toe die persoon hom vra of hy kan help, toe sê hy: ‘Nee, maar ek ken iemand wat kan. Sy Naam is Jesus.’
Hoekom raak jy nie vir ’n oomblik stil en praat met die Here nie? Doen dit vandag, terwyl die boodskap nog in jou hart brand. As jy dit vir ’n ander dag los, sal jy vergeet, sal die duiwel jou aandag aftrek of sal die begeerte verflou. Praat vandag die saak met die Here uit (Jes. 1:18, 2Kor. 6:2).
Vrees jy dat Hy jou nie sal aanneem nie? Laat my toe om John Bunyan se woorde aan te pas:
Jy: My sonde is te groot.
Jesus: Moenie vrees nie, glo net.
Jy: Ek sondig al vir jare.
Jesus: Moenie vrees nie, glo net.
Jy: Ek het my hart verhard.
Jesus: Moenie vrees nie, glo net.
Jy: Ek het weggedwaal.
Jesus: Moenie vrees nie, glo net.
Jy: Ek het die duiwel gedien.
Jesus: Moenie vrees nie, glo net.
Jy: Ek het teen die lig gesondig.
Jesus: Moenie vrees nie, glo net.
Jy: Ek het teen genade gesondig.
Jesus: Moenie vrees nie, glo net.
Jy: Daar is geen rede vir Jesus om my te aanvaar nie.
Jesus: Moenie vrees nie, glo net.8
Richard Sibbes sê: ‘there is more mercy in Christ than sin in us’.9 In Rom. 5:20 sê Paulus: “namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword.” Daarom: moenie vrees nie, glo net.
1 Hy het dit tydens ’n lesing gesê. Ek het van 2008-2010 ’n beradingkursus by hom geloop.
2 https://www.internationalstandardbible.com/R/ruler.html en https://www.biblicaltraining.org/library/ruler-synagogue
3 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
4 John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 47-8
5 Faith Cook, Singing in the Fire (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995), 179-89
6 John Piper, Future Grace (Leicester: Inter-Varsity Press, 1995), 174
7 Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 178
8 John Bunyan, Come and Welcome to Jesus Christ (London, 1681), 72. Verkry by https://www.preachtheword.com/bookstore/comewelcome.pdf
Bunyan gebruik Joh. 6:37 om die sondaar te oortuig om na Jesus toe te draai. Ek het sy aanhaling met Luk. 8:50 vervang.
9 Richard Sibbes, Puritan Paperbacks: The Bruised Reed (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1998 [1630]), 13