Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 December 2016

Laat U Koninkryk kom

’n Siening oor die eindtyd wat jou lewe kan verander

mighty-river

Soos jy seker weet kom my tema uit die Onse Vader uit. Wat beteken dit om te bid dat God se Koninkryk sal kom?  Natuurlik beteken dit dat ons vir die wederkoms moet bid (is daar iets groter as dit?).  Maar oor die afgelope paar jaar het ek besef dat dit nóg iets beteken.  Ek hoop dat die waarheid hiervan in Op.11:15-19 vir jou so revolusionêr sal wees soos wat dit vir my was.

God se Koninkryk (v.15)

Het jy al gehoor van die lewegewende fontein wat uit die berg uitstroom? Dit loop teen die rotse af en word later ‘n rivier wat deur ‘n groen vallei vloei.  Op plekke is die rivier bruin, breed en vlak, en op ander plekke is dit donker blou, smal en diep.  Waar die rivier naby die see uitmond is dit 100 km breed.  Uiteindelik vloei dit in die see in, sodat daar net water is so ver as wat die oog kan sien.

Hierdie fontein, rivier en see is die Koninkryk van God. Dit het as ‘n kristalhelder stroom by die kruis begin.  By sy oorsprong het die fontein van die Koninkryk uit 12 apostels en paar ander dissipels bestaan.  Dit het egter baie vinnig ‘n rivier van 3000 en toe meer as 5000 bekeerlinge geword (Hd.2:41, 4:4).  Binne ‘n paar dekades het die rivier het deur die hele Romeinse Ryk gevloei en nuwe lewe gegee vir tienduisende sondaars.

In die eerste twee of drie eeue wat gevolg het, het meer as ‘n miljoen mense hierdie rivier se lewegewende water kom drink. Met tye in die kerk se geskiedenis het die rivier as gevolg van vals lering en sonde, bruin en vlak gevloei.  Soms was die rivier diep en blou, omdat dit gesond was.  Maar dit was smal, omdat mense nie regtig in die kerk belanggestel het nie.

Vandag vloei die rivier nogsteeds. Dit het gegroei van ‘n bergstroompie wat uit ‘n paar dissipels bestaan het, tot by honderde miljoene gelowiges dwarsoor die wêreld wat soos bome langs die rivier se walle staan.  As die rivier naby aan die einde van die geskiedenis kom, sal dit sy walle oorstroom soos die Okavango Delta in Botswana.  Oral waar dit kom sal dit lewe gee, sodat dit die woestyn van die wêreld in ‘n paradys sal verander (Jes.35, Esg.47:1-12).  Die meerderheid van die wêreld se bevolking sal die Here ken:  “die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  By Jesus se wederkoms sal die rivier van God se Koninkryk in die see inloop.  Die ganse aarde sal vir ewig en altyd onder Jesus se voete wees.

Dit is hoe ek God se Koninkryk verstaan. Dit het as ‘n stroompie uit die berg van Golgota ontspring.  Dit word groter soos wat die geskiedenis vorder.  Dit sal sy walle oorstroom in ‘n magtige herlewing wat tot die bekering van die nasies sal lei.  Dit sal in die see invloei wanneer Jesus weer kom.  Kom ek wys vir jou waar in die Bybel ek my idees vandaan kry.

In hfst.8 het God vir die sewe engele trompette gegee om sy oordele aan te kondig. Die eerste ses engele het in hfst.8-9 op hulle s’n geblaas, en nou het die sewende engel op syne geblaas om God se Koningskap aan te kondig (v.15-19, vgl. 1 Kon.1:34).  Toe hy dit gedoen het was daar harde stemme wat uitgeroep het dat God se Koninkryk gekom het (v.15, 12:10).  Hoe moet ons dit verstaan?

In Ps.2 het God die nasies tot aan die eindes van die aarde as sy Gesalfde Seun se erfdeel gegee. Wanneer sou Hy dit ontvang het?  Om die erfporsie te kry moes die testamentmaker gesterf het.  Toe Jesus dus aan die kruis gesterf het, het Hy die nasies met sy bloed gekoop (5:9).  Hulle het sy eiendom geword (v.15).

Voor dit het hulle vir die duiwel geluister en hulleself aan hom onderwerp (Lk.4:5-6). Maar deur die kruis het Jesus vir Satan vasgebind en is Hy besig om die nasies by hom terug te vat (Mt.12:28-29, Jh.12:31, 16:11).  Die Vader het vir Jesus mag oor die nasies gegee, en die titel-akte van die Koninkryk in sy Naam geregistreer (v.15, Mt.28:18, Lk.22:29).  Jesus het in ‘n wolk opgevaar hemel toe om die titel-akte te ontvang (5:1-7, Dn.7:13-14).  Hy wag nie om eers in die toekoms bekroon te word nie, maar het onmiddellik as Koning aan die Vader se regterhand gaan sit (Ef.1:20-22).  Reeds toe Hy op die aarde was het Hy gesê dat die Koninkryk op hande was (Mt.3:2, 4:17, 10:7, 12:28, Lk.10:9, 11, 17:20-21).

Op papier behoort die nasies dan aan Jesus, maar in die praktyk loop baie van hulle nog agter die duiwel aan (2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19). En tog sal dit nie vir ewig so bly nie.  Bietjie vir bietjie is Jesus besig om dít wat na regte syne is (Mt.28:18) by die duiwel terug te vat (Mt.28:19).  Sy Koninkryk is soos ‘n rots wat op die standbeeld van groot en magtige wêreldryke geval het.  Hy het die Babiloniese, Persiese, Griekse en Romeinse ryke verpletter.  Nou is die Rots van sy Koninkryk besig om te groei, totdat dit ‘n groot berg sal word wat die hele aarde vul (Dn.2:35, 31-45).  Jes.9:6 praat van die vermeerdering (‘increase’ in die ESV) van sy heerskappy.

Toe Jesus die titel-akte ontvang het, het Hy die sandkorrel-grootte mosterdsaadjie van die Koninkryk in die tuin van die wêreld geplant, en het Hy die teelepel gis van die Koninkryk in die deeg van die nasies in geknie (Mt.13:31-33). Die Koninkryk het klein begin, maar is besig om te groei en sal uiteindelik die wêreld oorneem (Ps.72:8).  Uit die vier windrigtings sal die nasies instroom om vir Jesus te aanbid (Ps.2, Lk.13:29).  Van waar die son in die ooste opkom tot waar dit in die weste ondergaan sal die nasies en hulle konings vir Jesus as die groot Koning prys (21:24, Ps.72:11, 113:3, Jes.49:7, Mal.1:11).  Omdat Hy nie kan sterf nie, sal Hy nie soos aardse konings ‘n opvolger hê nie; Hy en die Vader sal vir ewig regeer (v.15, Eks.15:18, Ps.145:13, Dn.2:44, 4:3, 34, 7:13-14, Lk.1:33).

God se koms (v.16-18)

Die ou Afrikaanse Baptiste het ‘n siening oor die eindtyd gehandhaaf wat tipies was van die Suidelike Baptiste in Amerika. Die meeste van ons is hiermee bekend, omdat dit nogsteeds ‘n baie populêre siening is.  Twee van my beste vriende handhaaf hierdie siening, en ek is seker dat ‘n klomp van my lesers en hoorders dit glo.

Dié siening sê dat Jesus se Koninkryk eers sal aanbreek wanneer Hy weer na die aarde toe terugkeer. Ek het reeds gewys dat Jesus se Koninkryk by sy eerste koms weggespring het, en dat dit by sy tweede koms vervul sal word en oor die wenstreep sal hardloop.  In v.16-18 sien ons hoe Johannes die twee bymekaar bring.

God en die Messias se Koningskap was so hoog verhewe, dat selfs die 24 ouderlinge van hulle trone afgeklim het om Hom te aanbid (v.16, 4:4, 10, Kol.1:16). Hulle het Hom as die Almagtige Here en God gedank en aanbid (v.17).  In 1:8 en 4:8 het Johannes Hom beskryf as die Een wat is en wat was en wat kom.  In 11:17 het hy ‘wat kom’ uitgelos, omdat die Koninkryk in die eerste eeu reeds in sy begin stadium gekom het (Mt.10:23, 16:28, vgl. notas hierbo).  Die 24 ouderlinge het dit bely toe hulle gesê het dat God deur sy groot mag begin het om te heers (v.17, ESV, Gk.).[1]  Hy sal regeer tot by die wederkoms en vir ewig daarna.

Die nasies wat nie die knie wil buig nie, maar in hulle woede teen Hom wil opstaan, sal sy toorn voel en verpletter word (v.18, Ps.2:1-12, 110:5, Hd.4:25-27). Hulle sal baie gou agterkom dat sy toorn sterker is as hulle s’n (v.18, Ps.2:1, 5).  By Jesus se eerste koms het hulle Hom nie as die Koning erken nie (v.15-17).  Daarom sal Hy hulle by sy tweede koms uit die dood uit opwek en hulle oordeel (v.18, Op.20:12).[2]  Hy sal dié wat verwoesting gebring het, vir ewig in die hel verwoes (v.18, 2 Ts.1:6-7, 9).  Dan sal hulle die knie moet buig en erken dat Hy die Here en Koning is (Fil.2:10-11).

Vir God se kinders is die oordeelsdag nie iets om voor bang te wees nie, omdat Hy hulle gaan beloon en nie gaan oordeel nie (v.18, 22:12, Mt.10:41-42, 25:14-30, Lk.6:22-23, 12:33, Jh.5:24, Rm.8:1, 1 Kor.3:12-15, 2 Kor.5:10, 2 Jh.8, Jud.24). Hy gaan nie net profete en predikante beloon nie, maar almal wat sy Naam vrees, liefhet en respekteer – klein en groot (v.18, Ps.115:13).

God se tempel (v.19)

Iemand het vir my kinders ‘n boek gegee wat vir ‘n mens leer om goed te teken. Wanneer jy bv. ‘n dolfyn teken wat uit die water uitspring, leer die boek vir jou om verskillende grootte sirkels en ovale te trek.  Later voeg ‘n mens driehoeke by, en uiteindelik teken jy die buitelyne en die oë.  Heel laaste voeg jy skadu en kleur by.

Sal dit vir jou vreemd wees as iemand meer van die ovale, driehoeke en sirkels hou as van die finale produk? En tog is baie mense so wanneer dit by die eindtyd kom.  Die tempel met sy priesters, offers en meubels was maar net ‘n skadubeeld van die volheid wat daar in Christus gekom het (sien Hebreërs).  Dit sal baie vreemd wees as die vervulling van hierdie dinge in Christus weer vir die skadubeelde verruil word.  Op.11:19 wys juis vir ons dat die aardse tempel tot ‘n einde gekom het, en dat dit met ‘n geestelike tempel vervang is.  Ons wag dan nie vir ‘n herboude kliptempel in die toekoms nie.

Johannes het gesien hoe God se tempel in die hemel oopgegaan het (v.19). Omdat die aardse tempel op ‘n einde was, het die hemelse een oopgegaan.  Johannes het die goue ark van die verbond binne-in die Allerheiligste van die tempel gesien (v.19).  Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die tempelgordyn wat voor die ark was van bo na onder geskeur (Mt.27:51).  In 70 n.C. het Hy die Romeine Jerusalem toe gestuur om die aardse tempel te verwoes.

Die les is dat dit nie net meer die hoëpriester was wat voor die Here kon kom nie. Deur Christus kon almal nou in God se heilige teenwoordigheid ingekom het (Heb.4:15-16, 10:19-22).  Toe God die aardse tempel deur die storm van sy oordeel verwoes het (v.19b), het Hy ‘n nuwe tempel opgerig:  die Jode en heidene wat in die Messias geglo het, was sy nuwe tempel (v.19a, 1, 1 Kor.3:16, Ef.2:11-3:9).

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Lewe soos iemand wat glo dat Jesus Koning oor die nasies is, en dat Hy uiteindelik oor elkeen van hulle sal regeer (v.15, Ps.2:8-12).  Moenie aan ‘n pessimistiese eindtyd-siening vashou wat sê dat die Verenigde Nasies, die Europese Unie, Rusland of die Moslems die wêreld sal oorneem nie.  Moenie moedeloos en vreesbevange raak oor die politieke onstuimighede in ons land en wêreld nie.

Dink eerder daaraan dat Jesus die Koning van die konings en die Here van die here is (19:16). Hy is die Koning van die nasies wat volke se leiers aanstel en afsit (v.15, Ps.22:29, Dn.2:20, Rm.13:1).  Hý sal besluit wanneer die Nasionale Party sy asem uitblaas, wanneer die ANC aan bewind kom, wanneer Mandela doodgaan, wanneer Mbeki uitgewerk word, wanneer Zuma regeer en of Malema tot ‘n val gaan kom of nie.

Dit lê dan nie binne die president se mag om te besluit of die ANC sal regeer totdat Jesus weer kom of nie. Jesus is die Koning wat besig is om sy planne uit te werk.  Hý beheer die geskiedenis van volke en hulle konings (Sp.21:1, Dn.4:35).  Daarom moet ons nie lewe asof die antwoord by ‘n sekere politieke party of leier lê nie.  Ons moenie lewe asof Donald Trump die wêreld se probleme gaan oplos nie.  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die Here.” (Sp.29:26).

Onthou asb. dat Jesus se Koninkryk geestelik en nie polities van aard is nie.  Jesus het gesê:  “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie.  Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Jh.18:36).  Die kerk moet dan op die verspreiding van die evangelie fokus, en nie op sosiale en politieke aksies nie.

Deur die eeue het die kerk haar fokus verloor, sodat sy die regering se rol ingeneem het en betrokke geraak het in oorloë, die invordering van belasting, die toepassing van die doodstraf op ‘ketters’, politiese samesprekings met ander lande, sosiale aksies wat niks met die redding van mense se siele te doen het nie, die daarstelling van politieke wette, en allerhande ander twak. In die proses het die kerk haar plig versuim om die evangelie aan die nasies te verkondig.

Vandag nog is die kerk in ons land skuldig aan dieselfde sonde. Ons het die swart mense gefaal, omdat ons die evangelie het, maar nie ‘n daadwerklike poging aangewend het om dit by hulle uit te bring nie.  Sendelinge moet van oorsee af kom om die werk te doen.  Ons fokus meer daarop om kermisse te hou en komberse uit te deel, as om die evangelie met mense te deel.  Ons spandeer duisende rande aan vermaaklikheid wat jong mense sal trek, maar gee dan vir hulle ‘n oppervlakkige boodskap wanneer hulle by die kerk opdaag.

Ons gemeente, denominasie en ek self is nie onskuldig nie. Wat het ons in die afgelope twee jaar gedoen om vir mense van ons groot en goeie Koning te vertel?  Hoeveel geld het ons op denominasionele- en gemeentevlak uitgegee om toe te sien dat mense die Goeie Nuus van Jesus Christus hoor?  Hoe gaan ons in die komende jaar hierop verbeter?

As ons die evangelie effektief gaan verkondig moet ons hoopvol, vrymoedig en dapper wees. Ons moet getuig asof Jesus die Koning is wat vereis dat die nasies voor Hom moet buig, asof hulle reeds syne is en Hy nog net hulle harte na Hom toe moet draai.  Die evangelie kan nie kop-onderstebo of stert-tussen-die-bene na Jesus toe terugkeer nie, en daarom moet ons uitgaan met die vertroue dat die evangelie suksesvol sal wees.

“Jou God is Koning!” is wat ons vir die mense moet sê (Jes.52:7). As hulle die knie in geloof en bekering voor Hom buig, sal Hy hulle vergewe.  Maar as hulle volstrek weier om die wit vlag te waai, sal Hy hulle vernietig (v.18, Ps.2:9-12).  Dit is tyd dat ons wegdoen met die benadering wat maak asof Jesus hulpeloos moet wag vir sondaars om hulle harte vir Hom te gee.  Jesus eis van jou dat jy weergebore moet word en dat jy jou moet bekeer, want “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Jh.3:3).

Wat Paulus vir die Korintiërs gesê het geld ook vir ons: “Moenie dwaal nie!  Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” (1 Kor.6:10).

Laat ons dan met ‘n berouvolle hart voor die Here buig en Hom as ons Koning aanbid (v.16). Laat ons vir die verspreiding van die evangelie en vir ‘n ware herlewing bid, sodat die nasies (ook ons eie land) Jesus as die Koning sal erken en aanbid.  Laat ons bid dat Jesus weer na die aarde toe sal terugkeer, sodat ons vir ewig onder sy goeie en regverdige heerskappy kan lewe.  Laat ons nie vergeet om te bid volgens die patroon wat Jesus vir sy dissipels geleer het nie:  “laat u koninkryk kom” (Mt.6:10).

My gunsteling aanhaling van Spurgeon (wat ek seker al holrug gery het!) sluit mooi hierby aan: “if our Lord does but stamp His foot, He can win for Himself all the nations of the earth against heathenism, and Mohammedanism, and Agnosticism, and Modern-thought, and every other foul error.  Who is he that can harm us if we follow Jesus?  How can His cause be defeated?  At His will, converts will flock to His truth as numerous as the sands of the sea.”[3]

_______________________________

[1] A.T. Robertson, Word Pictures in the New Testament, nota op Op.11:17

[2] Sommige dink dalk dat dit nie geldig is om tussen v.17 en 18 van Jesus se eerste na sy tweede koms toe te spring nie. Maar doen die Ou Testament profete dit nie dikwels nie (sien bv. Jes.11:1-9)?  Buitendien het ek reeds gewys hoe die Koninkryk reeds by Jesus se eerste koms begin het, en hoe dit stadiger maar seker besig is om te groei totdat Hy weer kom.

[3] C.H. Spurgeon, An All-Round Ministry, p.396

Kategorieë