Matteus 24:32-51
‘n Paar jaar gelede was daar ‘n advertensiebord langs die R21 wat gesê het dat Jesus op 21 Mei 2011 sal terugkeer. In 2012 het Hollywood die einde van die wêreld in Desember van dieselfde jaar voorspel. Ek het ‘n DVD gekyk waarin iemand sê dat die groot verdrukking in 2013 sou begin, en dat Jesus in 2017 sou terugkeer.
Nie een van die bg. datums is vervul nie. Ons weet ook nie of Jesus in 2018 sal kom nie. Maar ons moet gereed wees. So leer Matt. 24:36-51 vir ons. Maar voordat ons daarby uitkom, moet ons v.32-35 bestudeer.
- Die vyeboom (v.32-35)
As ‘n vyeboom of ander bladwisselende bome se takke sag word en dit blare kry, weet jy dat die winter verby is en dit amper somer is (v.32, Luk. 21:29-30). So was dit met die verwoesting van Jerusalem en die tempel: “So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” (v.33).
‘Al hierdie dinge’ verwys na v.15-31 se groot verdrukking in 67-70 n.C. (v.1-3, 15-28, 23:36). Die verdrukking het gewys dat Jesus voor tempel se deur staan, gereed om dit te verwoes (v.33, Jak. 5:9). Toe dit gebeur het die winter van die Jode se vervolging op die kerk geëindig en het die somer aangebreek (v.32, Luk. 21:28, 1Tess. 2:14-16).
Deur die tekens van v.15-28 dop te hou, kon die dissipels die tyd van die tempel se verwoesting uitwerk (v.33). Niemand weet egter wanneer Jesus weer kom nie (v.36). Dit bevestig dat v.33 na die verwoesting van die tempel verwys, en nie na die wederkoms nie.
Jesus sê dit direk in v.34: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Al die dinge van v.1-33 het in die geslag na Jesus se hemelvaart gebeur (vgl. 10:23, 16:28). Dit is wat ‘geslag’ in die res van Matteus beteken (11:16, 12:41, 42, 45, 23:36). Omdat Jesus se woorde vaster as die hemel en aarde is, kon die dissipels dit glo (v.35, Jes. 40:8, Op. 21:1).
Wat ek in vorige preke gesê het sê ek weer: die Bybel is betroubaar. As die voorspellings oor die verwoesting van die tempel in 70 n.C. vervul is, kan jy verseker weet dat die profesieë rakende die wederkoms vervul sal word.
Ek glo nie dat iemand in ons gemeente dit betwyfel nie, maar leef ons in die lig daarvan? Hoeveel Christene het werklik ‘n verlange na Jesus se wederkoms? Volgens Wayne Grudem wys die mate waarin jy na Jesus se koms verlang iets van jou geestelike toestand.[1] As jy gereeld aan die wederkoms dink sal jy:
- Nie aanhoudend uitstel om dinge met die Here reg te maak nie. Jy sal jouself nie rus gee, totdat jy weet jy is gered nie (2Pet. 3:9, 15).
- Nie geestelik aan die slaap wees nie, maar waaksaam (v.42).
- Jou sonde aflê en na Jesus toe kom om jou hart te reinig (Kol. 3:4-5, 1Joh. 3:2-3, 1:7, 9). Jy sal jou rug op die wêreld draai en heiligheid najaag (Tit. 2:12-13, 2Pet. 3:11).
- In Christus bly en nie van Hom af wegdwaal nie (1Joh. 2:28).
- Gebroke verhoudings regstel (2Pet. 3:14).
- Nie kort paaie vat in die Here se werk nie (25:14-30, 1Kor. 3:12-15).
- Nie ophou om in die gemeente dien nie, maar volhard (1Kor. 15:58).
- Werk om die Here te behaag en nie om mense te beïndruk nie (2Tim. 4:1-2).
- Vasbyt in beproewing en vervolging (Rom. 5:2-5, 8:24-25).
Geloof in Jesus se belofte van die wederkoms sal jou dapper maak en help om saam met Martin Luther te sê: ‘Christians must have the vision which enables them to disregard…the devil and the guns of the whole world, and to see Him who sits on high and says: “I am the One who spoke to you.”’[2]
- Die vloed (v.36-42)
Iemand het eenkeer vir my gesê dat Jesus Christus se onkunde oor die wederkoms wys Hy is nie God is nie. Ek twyfel nie vir ‘n oomblik oor Jesus se Godheid nie, maar wat beteken hierdie vers?
Die voegwoord ‘maar’ wys dat v.36-51 oor die wederkoms gaan, terwyl v.1-35 oor die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. gaan. In v.36, 42, 50, 25:13 kontrasteer Jesus die ‘dag’ (ekv.) van sy wederkoms met die ‘dae’ (mv.) van die groot verdrukking in 67-70 n.C. (v.19, 22, 29).
Wanneer sal hierdie dag wees? Niemand weet nie: nie die engele in die hemel nie, en ook nie die Seun nie (v.36, Mark. 13:32). Net die Vader weet (v.36, Dan. 2:21, Hand. 1:6-7). Natuurlik weet Jesus nou. Toe Hy op aarde was het Hy nie opgehou om God te wees nie, maar die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe prysgegee om in afhanklikheid van die Vader te leef (Joh. 6:38, Fil. 2:6-7). Hy was bv. net op een plek op ‘n slag, terwyl Hy in sy Goddelike natuur oral is (Matt. 18:20, 28:20). Sy kennis was beperk (v.36), terwyl Hy in sy Goddelike natuur alles weet (Joh. 2:24-25, 5:20, 16:30, 21:17).
Die wederkoms sal so onverwags soos Noag se vloed wees (v.37). Voor die vloed het mense geëet, gedrink, getrou en hulle dogters in die huwelik uitgegee (v.38). Selfs toe Noag in die ark was het mense nog nie besef dat die vloed oppad is nie (v.39). Dit het onverwags soos ‘n luiperd of skerpskutter op hulle afgekom en hulle weggespoel (v.39).
So sal die wederkoms op ‘n doodgewone dag plaasvind (v.39): “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.” (v.40-41).
Ek is nie seker dat ‘aangeneem’ die beste vertolking van die Grieks is nie [Gk. paralambanō]. ‘Aangeneem’ impliseer dat die gelowige gevat word, terwyl die ongelowige agterbly. Maar tydens die vloed is die ongelowige gevat, terwyl Noag en sy gesin veilig in die ark was.
Wanneer Jesus weer kom sal God die ongelowige vat om geoordeel te word, en die gelowige los om saam met Jesus op die nuwe aarde te heers (v.40-41). Omdat dit skielik sal gebeur moet ons gereed wees (v.42). Ons moenie geestelik aan die slaap wees soos die gemeente in Sardis nie (v.42, Op. 3:2). Jy weet nie wanneer die Here kom nie (v.42, 36).
Wat leer v.36-42 vir ons?
[a] God se geheime kennis van die wederkoms beteken dat ons nie moet probeer om dit uit te werk nie. Mense wat dit doen is besig met diefstal, omdat hulle kennis probeer steel wat die Here nie aan hulle geopenbaar het nie (Deut. 29:29). Moenie jou ore uitleen vir mense wat die presiese datum van Jesus se wederkoms probeer vasstel nie.
[b] Aan die anderkant moet jy dit nie ignoreer, omdat dit volgens jou nog ver in die toekoms lê nie. As jy dit doen is jy soos die spotters in 2Pet. 3:4: “Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”
Jesus se wederkoms sal so skielik en onverwags soos Noag se vloed wees (v.39). Dink gereeld daaraan. Om daagliks volgens Matt. 6:10 bid sal jou help: ‘laat u Koninkryk kom’.
[c] Jesus is onpartydig en onderskei nie tussen mans en vroue, ryk en arm nie (v.40-41, Rom. 2:11). As sonde jou lewe opgesom het sal Hy jou oordeel; as jy jou bekeer het sal jy saam met Hom op die nuwe aarde woon.
[d] Wees waaksaam vir die duiwel se versoeking (1Pet. 5:8), maar wees meer waaksaam vir Jesus se wederkoms. Jy weet nie wanneer Hy kom nie (v.42, 36)! Dalk kom Hy terwyl jy die kerse op jou verjaarsdag koek uitblaas, of terwyl jy voor die kansel staan om ‘I do!’ te sê.
- Die dief (v.43-44)
As die baas van die huis weet hoe laat die dief gaan inbreek, sal hy hom met ‘n knuppel of ‘n geweer inwag (v.43). Hoeveel te meer moet ons nie wakker wees nie, aangesien ons nié weet wanneer die Here kom nie (v.44, Mark. 13:35, 2Pet. 3:10)? Ek sien twee lesse in hierdie verse.
[a] As iemand sy besittings beskerm, sal jy nie jou ewige siel beskerm nie? Dit moet jou pla as jy geestelik lou is of handevat met die wêreld. Waak oor jou verhouding met die Here.
[b] Jesus kom op ‘n uur wat jy dit nie verwag nie (v.44). Moet dan nie sê dat die toenemende korrupsie en misdaad, aardbewings en droogtes ‘n bewys is dat die wederkoms naby is nie. As jy so redeneer sal jy minder waaksaam wees as die misdaadsyfer afneem en die ekonomie optel. Jy moet altyd gereed wees vir die wederkoms en nie net wanneer die wêreld in ‘n gemors is nie.
- Die dienskneg (v.45-51)
‘n Ryk man stel ‘n getroue en wyse slaaf aan oor sy huishouding (v.45, 7:24, 25:21). Hy moet o.a. sorg dat die ander slawe se etes betyds reg is (v.45). As die baas huis toe kom en sien dat die slaaf gehoorsaam is, sal hy hom oor al sy besittings aanstel (v.46-47, 25:21).
Maar wat as hy ‘n slegte slaaf is en sê: ‘My baas is al vir jare weg en sal nie binnekort terugkeer nie; ek kan doen wat ek wil’ (v.48, 25:5, 2Pet. 3:4)? Die slaaf gee nie vir die ander hulle kos nie, maar slaan hulle en vat dit vir homself en sy dronk pelle (v.49).
Terwyl hy so te kere gaan daag sy baas onverwags by die huis op (v.50). Hy kom wanneer die slaaf dit die minste verwag (v.50, 36). Hy vat ‘n swaard en kap die slaaf in stukke soos ‘n bees [Gk. dichotomeō], soos toe Samuel vir Agag in stukke gekap het (v.51, 1Sam. 15:33, Luk. 19:27). Hy gooi hom saam met die skynheiliges in die hel waar hy weens die pyn ween en op sy tande kners (v.51, 13:42, 50, 22:13, 25:30).
Ek wil ‘n paar toepassings maak.
[a] Wees ‘n getroue en wyse slaaf wat doen wat die Here vir jou sê (v.45). Dit is al wat die Here van jou vra, naamlik dat jy gehoorsaam moet wees. Sal Jesus jou op die dag van afrekening as ‘n getroue slaaf beloon (25:21, 23, Luk. 16:10)? Het jy gedoen wat Hy vir jou gesê het: met jou huweliksmaat, kinders, gemeente, familie, vriende, kollegas, werk, geld, besittings, tyd, ens.?
[b] Toe die baas huis toe kom was die goeie slaaf besig om sy take uit te voer (v.46). Wanneer Jesus kom hoef jy nie in die kerk te sit of besig te wees met jou stiltetyd nie. Maar jy moet doen wat Hy jou beveel het, of dit nou skoolwerk is of iets anders (v.46).
As jy moet ophou waarmee jy besig is, is jy besig met die verkeerde dinge. Spurgeon het gesê: ‘I think that watching for the Lord’s Second Coming means acting just as you would like to be acting if He were to come.’[3]
[c] As jy getrou is sal die Here jou oor al sy besittings aanstel (v.47). Jy sal saam met Christus op sy troon sit en die Koninkryk erf (Rom. 8:17, 1Kor. 3:21-23, Op. 3:21). ‘n Mens kan dit amper nie glo nie, maar dit is waar!
[d] Toe die slegte slaaf dink dat sy meester se koms vertraag is, het hy losbandig opgetree (v.48). Maar die rede hoekom Jesus nog nie gekom het nie, is sodat ons ons kan bekeer en nie dat ons meer kan sondig nie (Rom. 2:4, 2Pet. 3:9, 15).
[e] Die slegte slaaf het hom ooreet en dronk geword (v.49). Moenie net vir tydelike plesiere lewe nie, maar dink aan die ewige pyne van die hel en die ewige plesiere van die hemel.
Sal jy nou ‘n druppel plesier geniet en daarna in die oseaan van God se toorn swem? Sal jy nie eerder ‘n druppel ongemak verduur om later vir ewig in die sonskyn van God se glimlag te lewe nie?
[f] Die slegte slaaf is saam met die skynheiliges gestraf (v.51). Dit is nie net moordenaars en verkragters wat in die hel is nie, maar skynheilige mense wat op ‘n Sondag in die kerk sit en selfs aangestel is om ander te lei (v.49, 51, 23:15). Eintlik sal die skynheilige mens ‘n swaarder straf ontvang as die prostituut en die dwelmverslaafde (Luk. 12:47-48).
[g] Die hel is ‘n plek waar mense huil en op hulle tande kners (v.51). Mense brand in die vuur wat nooit geblus word nie (3:12, 25:41, Op. 14:10-11, 20:10). Hulle ly en kou hulle tonge van pyn (Luk. 16:23-25, Op. 16:10). Die wurms knaag vir ewig aan hulle (Mark. 9:48).
Dit is donker (Matt. 8:12). God sal vir ewig hulle liggame en siele verwoes (10:28, 2Tess. 1:9). Hulle word van sy heerlikheid geskei, en ervaar glad nie sy goedheid en liefde nie (2Tess. 1:9). Hulle sal bewus wees van die hemel, maar nie daarin deel nie (Luk. 13:28, 16:23).
Die gekners van tande mag ook beteken dat hulle woedend is vir God en hom haat (v.51, Hand. 7:54, Op. 16:11). Maar hulle verdien sy oordeel (v.48-49). Wat van jou? Kan jy met jou sonde aanhou en die hel vryspring? Nee. “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig” (2Kor. 5:11). Moenie langer met jou sonde aanhou nie. Kom terug na die Here toe as jy afgedwaal het.
Blaas die vuur van jou liefde aan as jy koud geraak het. Word wakker as jy geestelik sluimer en nie meer teen sonde stry nie. Dit geld ook vir jou diens: “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here” (Rom. 12:11).
Ons kan nie sê dat Jesus in 2018 kom nie. Maar ons kan ook nie sê dat Hy nié hierdie jaar kom nie, al strook dit nie met jou eindtyd siening wat sê dat daar sekere tekens voor die wederkoms moet wees nie.[4] Ons moet eerder soos my pa se buurman in Louis Trichardt wees. Hy het gereeld na die wolke gekyk en gewonder of Jesus dalk op hierdie een kom?
[1] Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, Nottingham: England, 1994, 2000, 2007, p. 1093
[2] Aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971, p. 237
[3] Charles Spurgeon, The Second Coming of Christ, Whitaker House, Springdale: PA, 1996, p. 181
[4] Die meeste pre-, post- en amils verwag een of meer van die volgende tekens voor die wederkoms: die evangelisering van al die nasies, die Antichris, die bekering van die Jode, die duisendjarige vrederyk. En tog glo hulle dat Jesus enige dag kan kom. Hoe kan dit wees? Ek is nie seker nie, maar beide Petrus en Paulus het verwag om dood te gaan en op dieselfde tyd uitgesien na die wederkoms (2Tim. 4:6-8, 2Pet. 2Pet. 1:14, 3:12). Al kom Jesus nie in ons leeftyd nie, moet jy buitendien gereed wees omdat jy enige dag kan sterf.