Het jy geweet dat Moslems in die wederkoms glo? Dus is dit nie genoeg om te sê dat jy in die wederkoms glo nie, maar moet jy die regte Jesus verwag. Soos wat die sewe gemeentes in Op.22:6-21 gebid het dat Jesus moes kom om hulle van hulle vyande te red, moet ons uitroep en verlang dat Hy vir ‘n laaste keer na die aarde toe sal terugkeer (2 Tm.4:8).
Wees gehoorsaam (v.6-7)
In 1522 het Martin Luther ‘n voorwoord tot die boek Openbaring geskryf. Hy het gesê dat die boek onduidelik is, dat dit nie profeties of apostolies is nie, dat dit nie van die Heilige Gees af kom nie, dat die outeur sy eie werk te hoog geag het, dat baie van die kerkvaders dit verwerp het, dat hy nie vat daaraan kon kry nie, dat hy nie ‘n hoë opinie daarvan gehad het nie, en dat Christus nie daarin verkondig word nie. In 1529 en 1530 het hy egter van mening verander en gesê dat dit deur die Heilige Gees gegee is.[1]
Hy het m.a.w. erken dat Openbaring soos die res van die profetiese en geïnspireerde Woord van God, “betroubaar en waaragtig” is (v.6, 18-19, 19:9, 21:5, 2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).
Jesus het sy engel na Johannes toe gestuur om vir die sewe gemeentes te wys wat binnekort moes plaasvind (v.6, 16, 1:1, 3). Volgens Jesus se eie getuienis sou Hy binnekort na die sewe gemeentes toe gekom het (v.7, 12, 20, 2:5b, 16, 25, 3:3, 11, 20). Openbaring handel hoofsaaklik – nie uitsluitlik nie – oor dinge wat in Johannes se tyd gebeur het.[2]
Die belangrikste is egter nie wánneer die boek se profesieë vervul is nie, maar dat die seën wat daarin beskryf word jou deel is. Hoe kan jy dit ontvang en daarin deel?
- Bewaar Openbaring en die res van die Bybel se beloftes en waarskuwings in jou hart (v.7).
- Hoor en doen wat daarin geskryf staan (1:3, Jk.1:22, 25).
- Moenie ophou om in Jesus te glo nie, maar volhard totdat jy eendag jou kop neerlê (14:13).
- Moenie geestelik aan die slaap raak nie, maar wees waaksaam (16:15).
- Moenie aanneem dat jy na Jesus se troue toe genooi nie – maak seker (19:9).
- Sorg dat jy deur wedergeboorte in Jesus se opstanding deel (20:6).
- Wees heilig (22:14).
Wees versigtig (v.8-9)
Ek sal nooit vergeet hoe ‘n vrou jare gelede op RSG oor engele gepraat het, en gesê het dat jy ter enige tyd vir hulle kan vra om jou te help nie, ‘selfs as jy parkering nodig het.’ Op.22:8-9 verbied hierdie dinge ten sterkste.
Toe Johannes Openbaring se 22 hoofstukke gesien, gehoor en neergeskryf het, was dit so wonderlik dat hy op die grond geval het om die engel wat dit vir hom gewys het te aanbid (v.8). Die engel het hom gekeer: “Moenie! want ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God.” (v.9).
Hy het nie probeer om die Here se eer te steel nie, maar het erken dat hy soos Johannes, die profete en al die gelowiges ‘n slaaf is. Hy was maar net ‘n skepsel en nie die Skepper nie. Dus moes Johannes vir God aanbid het, en nie voor die engel gebuig het nie (v.9).
Ons mag nie soos die Rooms-Katoliekekerk engele vereer nie, maar moet eerder saam met hulle die Here aanbid (v.9, Lk.2:13-14, Heb.1:6). Dit is so dat God soms sy engele stuur om ons te help as ons in die moeilikheid is (2 Kon.6:15-17, Ps.91:11-12, Dn.6:22, Hd.5:19, 12:7-11, Heb.1:14).
Maar omdat daar net een God is, mag ons hulle nie aanbid nie (v.9, 19:10, Eks.20:3-5, Kol.2:18). Ons mag nie die nonsens glo van mense wat sê dat hulle met hulle beskerm-engel praat nie. Ons mag ook nie vir engele vra om ons te help wanneer ons in ‘n krisis beland nie. “Aanbid God” en vra Hóm om jou te help (v.9).
Wees gereed (v.10-13)
In Vryheid was daar ‘n verseëlde steen by een van die NG Kerke. Op die klip het gestaan dat dit eers ‘n honderd jaar ná die oprigting van die gebou oopgemaak kon word.
Net so het ‘n verseëlde boekrol in Bybelse tye beteken dat dinge vir die verre toekoms bedoel was. Daniël moes bv. sy profesie verseël het, omdat die Messias se Koninkryk eers 450 jaar later begin het (Dn.12:4, 9). Johannes moes nié sy profesie verseël het nie, omdat die vervulling daarvan naby was (v.10).
Dit was nie meer lank voordat die Here in 70 n.C. gekom het om sy vyande te oordeel en sy gehoorsame kinders te beloon nie (v.11-12, vgl. Jes.40:10, 62:11). Jesus sou elkeen hanteer het volgens wat sy of haar dade verdien (v.12). Die feit dat Hy die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste, die God van Op.1:8 en Jes.44:6 is, het dit verseker (v.13).
Omdat die vervulling van Openbaring naby was (v.10, 12), moes die lesers gou besluit het of hulle aan die Here se kant wil wees. Daar was amper nie genoeg tyd om kante te ruil nie. As bose en goddelose mense die boek gelees het, sou hulle hulle harte verhard het en so gebly het (v.11). Maar as heilige mense dit gelees het, sou hulle nóg heiliger wou wees (v.11).
Soos wat die sewe gemeentes God se oordeel oor die kerk se vyande verwag het, moet jy gereed wees vir die dag as ‘n vragmotor jou kar uitwis, of as iemand jou doodskiet. Dit mag ook wees dat Jesus in ons leeftyd na die aarde toe sal terugkeer. Ongeag van hoe en wanneer jy Hom ontmoet, maak asb. dat jy gereed is. Hoe kan jy hiervan seker maak?
[1] Moenie uitstel nie. As jy te lank wag sal jou hart hard word, en bestaan die moontlikheid dat jy jou later nie meer kan of wil bekeer nie. Tree asb. gou op en bekeer jou (2 Kor.6:2, Heb.3:15).
[2] Moenie net sê dat jy ‘n Christen is nie, maar ondersoek jouself om te sien of jy die vrug van bekering dra. Getuig jou lewe daarvan dat jy ‘n Christen is (v.11-12)?
Wees heilig (v.14-15)
In C.S. Lewis se boek, The Magician’s Nephew, het die heks van die silwer appels geëet wat ‘n mens vir ewig jonk laat bly. Digory en Polly, die twee kinders, was bekommerd en het vir Aslan daarvan vertel. Sy reaksie was: ‘She has won her heart’s desire; she has unwearying strength and endless days like a goddess. But length of days with an evil heart is only length of misery’.[3]
Vir ons is dit nie so nie. Ons lewens is deur die bloed van die Lam gereinig en ons dra die wit klere van gehoorsaamheid (3:4-5, 7:14, 19:8). Ons mag deur die stad se poorte ingaan en van die boom van die lewe eet (v.14, 2:7, 21:27, Ps.118:20). Die goddelose mag nie in die stad inkom nie; hulle is uitgesluit en sal in die hel gewerp word (v.15, 21:8, Mt.8:12). Hulle het soos honde in die vuilheid van hulle sonde gelewe (v.15, 21:8, Dt.23:18, Ps.59:7, 15, Mt.7:6, Fil.3:2).
Eintlik is dit ‘n genade dat Adam en Eva nie van die boom van die lewe geëet het terwyl hulle harte met sonde besoedel was nie, want anders sou hulle vir ewig boos gewees het (Gn.3:22-24). Adam en sy nageslag is nou wel van die boom van die lewe verban, maar omdat Jesus aan ‘n boom vir ons sonde gesterf het, kan ons in die hemelse stad ingaan en weer van die boom van die lewe eet (v.14, Gal.3:13). Die boom wat die meeste saakmaak is nie die boom in die begin of aan die einde van die geskiedenis nie, maar die een in die middel. Sterf vir jouself en jou sondige begeertes, en deel so in die boom van Jesus se kruisdood (Lk.9:23, Gal.2:20).
Wees dors (v.16-17)
In lande soos Etiopië waar water skaars of vuil is, betaal mense baie geld om dit te kry. Maar die geestelike water wat Jesus vir ons gee is heeltemal gratis; jy hoef nie daarvoor te betaal nie. Al wat Hy vereis is dat jy na Hom toe moet kom om jou dors te les. Jou begeerte vir Hom moet so groot wees, dat jy sal uitroep dat Hy na jou toe moet kom. Dit is ten minste een van die lesse wat in v.16-17 uitstaan.
Jesus het sy engel gestuur om deur Johannes hierdie dinge vir die sewe gemeentes te sê en daarvan te getuig (v.16). Dit is dus verkeerd om te sê dat Op.4-22 net vir ons bedoel is, en dat dit niks met die sewe gemeentes te doen het nie.
Jesus wat van hierdie dinge getuig het is die wortel en die nageslag van Dawid, die Messias, die Koning, die Here en seun van Dawid, volkome God en volkome mens, die blink môrester van wat aandui dat die dag oppad is (v.16, Num.24:16, Jes.11:1, 10, Mt.22:41-46, Lk.1:32-33).
Die Gees het in die bruid of kerk se hart gewerk om te bid dat Jesus sou kom om haar uit die vervolgers se mag te red (v.17, 6:10). Almal wat hierdie woorde met die oop ore van geloof gehoor het (2:29), sou dieselfde geroep het (v.17).
As jy nog nie gered is nie maar ‘n dors of ‘n begeerte na die Here het, kan jy na Hom toe kom om jou geestelike dors te les (v.17, 21:6, Jh.4:14, 7:37-39). Sy verlossing is gratis; jy hoef nie godsdienstige werke te doen om dit te kry nie (v.17, Jes.55:1, Rm.6:23b, Ef.2:8-9). Erken eenvoudig dat jy hopeloos verlore is, en ontvang dan sy verlossing met die bak hande van geloof.
Die feit dat sy verlossing gratis is, beteken nie dat dit goedkoop is nie. Ons was nie instaat om daarvoor te betaal nie, en daarom het Jesus met sy lewe betaal sodat ons vir ewig in God se lieflike teenwoordigheid kan wees.
Het jy al met die tjek van berouvolle geloof na Jesus toe gekom, en dit vir die ewige lewe gewissel? Of tas jy nog in die donker van jou sonde rond, en probeer jy om met geld, wellus, drank, mense se guns, ens. jou geestelike dors te les?
Wees gewaarsku (v.18-21)
Ek ken ‘n predikant wat sy siening oor Openbaring verander het. Toe hy nie meer sy vorige siening gehuldig het nie, het iemand in ‘n brief vir hom gesê dat die vervloeking van v.18-19 oor hom sou kom.
Johannes het sy lesers gewaarsku: as iemand by hierdie boek byvoeg, sal God die plae wat in Openbaring beskryf word by sy lewe byvoeg, en as iemand daaruit wegvat, sal God keer dat hy in die hemelse stad inkom om van die boom van die lewe te eet (v.18-19, 14).
Volgens die Ou Vertaling sal God sy deel uit die boek van die lewe verwyder, maar volgens 3:5 sal Hy dit nooit doen nie. Niks kan ons van sy liefde skei nie, niemand kan ons uit sy hand uit ruk nie (Jh.10:28-29, Rm.8:38-39). Die beste manuskripte sê eerder dié wat aan hierdie boek se inhoud torring, nie in die Nuwe Jerusalem sal inkom om van die boom van die lewe te eet nie (v.19). Hierdie mense se name was in die eerste plek nie in die boek van die lewe nie (13:8, 17:8, 20:15, 21:27).
Om sy koms te beklemtoon, het Jesus dit vir ‘n derde keer aangekondig; die sewe gemeentes se ‘amen’ het dit bevestig (v.20). Die gelowiges het gebid dat Jesus moes kom om hulle van hulle vervolgers te bevry (v.20). Voor, tydens, en na die vervolging, sou Christus se genade by hulle gewees het, en daarom kon hulle geduldig op Hom gewag het (v.21). Sy genade sou hulle ook gehelp het om nie die boek te verdraai nie, maar om dit te gehoorsaam (v.18-19, 21). Amen, laat dit so wees (v.21).
Hoe moet ons hierdie laaste vier verse toepas? Die waarskuwing van v.18-19 verwys spesifiek na Openbaring, maar dit geld ook vir die res van die Bybel, sodat ons niks mag byvoeg of wegvat nie (Dt.4:2, 12:32, Sp.30:6).
Wat God vir ons wou gesê het, het Hy in die 66 boeke van die Bybel gesê; ons het geen nuwe profesieë, drome of visioene nodig nie. Drome kan deel van God se voorsienigheid wees om ons te waarsku. As jy bv. bitter is en droom dat jy die persoon doodmaak, moet jy dit as ‘n ernstige waarskuwing beskou en jou bitterheid los.
Maar ons glo nie dat drome of sulke dinge ‘n nuwe openbaring is nie. Ons glo eerder dat die Bybel met sy 66 boeke die finale Woord van God is. Daarom voeg ons nie ekstra boeke by soos die Rooms-Katolieke of ander kultusse nie. Ons is nie Sewendedag Adventiste wat Ellen G. White se geskrifte as onfeilbaar beskou nie. Ons is ook nie Mormone wat Joseph Smith se ‘Book of Mormon’ op dieselfde vlak as die Bybel plaas nie. Ons sweer nie by Calvyn, ons gunsteling kategisme, of die voorvaders van die Afrikaanse Baptistekerke nie.
Ons glo die Bybel en bely dat dit die foutlose, gesaghebbende en algenoegsame Woord van God is. Ons is nie Scofield Reference Bible tipe premils wat Mt.5-7 uitsny, en sê dat dit nie vir ons bedoel is nie. Ons is nie soos sommige ‘Israel groepe’ wat Paulus se briewe verwerp nie. Ons is nie Jehova’s Getuies wat die Bybel verkeerd vertaal om by ons teologie te pas nie. “ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie” (2 Kor.4:2).
Met God se genade sal ons vals lering oorwin, en aan die waarheid vashou (2:7). Onthou asb. dat dit sonde is om vals lering te akkomodeer. Moenie alles glo wat jy hoor of lees nie. Meet eerder die Whatsapp en Facebook boodskappe wat mense vir jou stuur aan die Bybel (Hd.17:11).
Die waarskuwing in v.18-19 geld nie vir klein verskille tussen die Ou- en Nuwe Vertaling van die Bybel nie. Dit geld ook nie vir dié wat nie presies soos jy glo oor Openbaring nie.
Ons moet Johannes se waarskuwing ernstig opneem en nie by Openbaring byvoeg of wegvat nie. Soos Calvyn moet ons Openbaring met nederigheid benader, en erken dat dit moeilik is om te verstaan. Maar anders as Calvyn, moet ons nie so bang wees dat ons dit vermy nie. Ons moet Openbaring lees en bestudeer. Maar ons moet ook nie soveel tyd daaraan spandeer, dat ons van die ander 65 boeke vergeet nie.
[1] http://www.godrules.net/library/luther/NEW1luther_f8.htm
[2] Sien die res van die reeks in hierdie verband, en let ook op hoe die woord ‘binnekort’ of ‘gou’ in die res van die Nuwe Testament presies bedoel wat dit sê (bv. 1 Kor.4:19, Fil.2:19, 24, 2 Tm.4:9).
[3] C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Magician’s Nephew, HarperCollinsPublishers, 1955, 1998, 2001, p.100