Hooglied 2:7
In 1997 het Josua Harris sy topverkoper boek, I Kissed Dating Goodbye gepubliseer. Ek het die boek in 2003 gelees en later ’n preek deur Rick Holland (een van John MacArthur se medeleraars) teen die boek geluister. Holland se reaksie was basies dat die Bybel hom nie ‘dating’ uitspreek nie en dat dit nie sonde is nie. Meer as 20 jaar na die publikasie van Harris se boek, het hy teruggetrek wat hy gesê het. Na sy mening het hy die kerk skade berokken. Kort daarna het Harris aangekondig dat hy die Christelike geloof verloën en van sy vrou gaan skei. Later het Harris aan ’n LGBT optog in Kanada deelgeneem.
Wat sê die Bybel van Harris se siening teen ‘dating’ of van Holland se ondersteuning daarvan? Wat leer die Bybel oor romantiese verhoudings? Hoor my asseblief uit en meet my lering teen die Bybel (vgl. Hand. 17:11).
1. Hou jou rein
Romantiese liefde is soos vuur (8:6): in ’n kaggel is dit goed, maar as jy dit buite die kaggel in jou huis loslaat, saai dit verwoesting. Om hierdie rede sê die bruid in Hoogl. 2:7: “Meisies van Jerusalem, ek besweer julle by die ribbok- en takbokooie van die veld: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie.”1 Sy bedoel basies: ‘Belowe my julle sal julleself rein hou vir die huwelik.’ Dit kan net gebeur as jy nie romanse aanwakker, sodat jou hormone oorneem en jy jou morele waardes by die venster uitgooi nie. Ongelukkig is daar mense wat hulle vuur buite die kaggel maak en dinge doen waaroor hulle later spyt is. Hulle saai verwoesting in hulle lewe deurdat hulle hulle gewete besoedel, mekaar se reinheid vertrap, mekaar met seksuele siektes besmet, hulle verhouding met die Here beskadig en sy dissipline oor hulleself haal, hulle Christelike getuienis beskadig en die duiwel skietgoed teen Jesus en die kerk gee.
Hou jouself rein! So het my predikant vir my gesê voor ek teologie gaan studeer het. Paulus sê dieselfde in 1Tess. 4:3-7: “Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid, dat elkeen sal weet hoe om sy eie vrou op ’n heilige en eerbare wyse te verkry, nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie, en dat hy nie sal oortree, en sy broer in dié saak bedrieg nie. Want, soos ons tevore vir julle gesê en nadruklik bevestig het: die Here vergeld al hierdie dinge. God het ons tog nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid.”
Om voornemens te hê is nie genoeg nie. Jy moet daarvoor bid en glo die Here kan jou help. Neem aksie, steun op God se krag en genade en bly rein, omdat jy die Here wil verheerlik: “Met die oog hierop bid ons ook altyd vir julle, dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik, sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus.” (2Tess. 1:11-12).
Wees ook aanspreeklik soos die bruid in v.7 die jong vroue aanspreeklik hou. Gee jou vriend of vriendin toestemming om jou reguit te vra of jy jouself rein hou, of jy dinge doen wat die Bybel en jou gewete oortree, en of jy eerlik is hieroor?
Hoekom besweer die bruid die jong vroue by die ribbok- en takbokooie van die veld (v.7, 3:5, 8:4)? Sy kom van die plaas af (1:6) en het baie ribbok- en takbokooie gesien (v.7). In die natuur weet ooie dat daar ’n paarseisoen is. Dit is asof sy hulle vra om vir mense te sê dat daar ’n geskikte tyd vir liefde is: herfs vir die diere en die huweliksebed vir mense. Moenie romanse aanwakker as jy nie gereed is om te trou nie. Bly vriende as jy jonk is of as jy jouself nie plegtig tot die huwelik wil verbind nie. Hoekom wil jy tog ’n ou of meisie hê as jy nie van plan is om te trou nie? Is dit om gerieflikheidshalwe of omdat jy nie alleen wil wees nie? Is dit omdat jy romanse soek? Volgens die Bybel is romanse vir die huwelik bedoel. Rick Holland sê: ‘Sex is God’s wedding gift, and He does not want it opened early!’2
Dalk sê jy: ‘Ons sal nie so ver gaan nie. Ons wil net aan mekaar vat en mekaar soen.’ Volgens Hooglied is vat en soen deel van seks (1:2, 4:11, 5:16, 7:7-9). Michael Lawrence sê:
‘All of the things that dating couples engage in physically, short of intercourse, married couples engage in too. The only difference is that the married couple has a name for this activity. They call it foreplay. So while the unmarried couple console themselves by saying, “This is okay, because it is not sex,” the married couple says, “This is great, because it is part of sex.” The fact is, God not only created sexual intercourse, he created all the things that lead up to sexual intercourse too. And they are all linked together. Foreplay is a one-way on-ramp onto the highway of sexual intercourse. In our cars, we are not meant to slow down on an on-ramp, and we are not meant to go backwards. That is not what on-ramps are designed for. They are meant to get the car up to speed. So it is with foreplay. God designed foreplay to get a man and a woman up to speed. And it works. So if you are not married, what are you doing on the on-ramp? It is not meant to be a place where you hang out in idle, revving your engines, but not going anywhere.’3
Volgens die wêreld en die Sinode van die NG Kerk is saambly aanvaarbaar.4 In 2005 het ons ’n man onder tug geplaas omdat hy ’n seksuele verhouding met sy meisie gehad het. Baie mense was kwaad oor die tugsaak. Een man het vir my gesê: ‘As twee verliefdes ’n vonk tussen hulle het, moet ons hulle die geleentheid gee om ’n seksuele verhouding te hê. Is dit regtig so verkeerd?’ Die Bybel sê dat voorhuwelikse seks sonde is (Deut. 22:13-21, 23-29, Joh. 4:18, 1Kor. 7:9, 36, Heb. 13:4).
Iemand sal vra: ‘Maar wat daarvan as ons saambly sonder om saam te slaap?’ Goeie probeerslag. Ek is die aand gebore, maar dit was nie gisteraand nie.
***
Nog ’n rede hoekom die bruid in v.7 die jong vroue by die ooie van die veld besweer, is omdat sy en haar man in die veld gaan stap en mekaar liefkoos (2:10-13, 7:11-13). Dit is asof sy sê: ‘Ek roep die ooie tot getuie om te sien of die ongetroudes net piekniek hou wanneer hulle in die veld is en of hulle oor die tou trap. As julle onsedelik is, sal die natuur teen julle getuig.’ Selfs lewelose dinge soos ’n sitkamerbank, bed of jou kar sal op die oordeelsdag teen jou getuig as jy met sonde besig is (net soos ’n moordenaar se vingerafdrukke of bloed aan die muur teen hom getuig as die polisie ’n forensiese ondersoek instel). Volgens 1Kor. 6:9-10, Gal. 5:19-21, Ef. 5:5, Kol. 3:5-6, Op. 21:8 gaan mense wat seksueel losbandig is hel toe.
Dit hoef nie so te wees nie. In Lukas 7, Johannes 4 en Johannes 8:1-11 het Jesus mense wat seksueel losbandig was, vergewe. Glo in sy kruisdood vir sondaars. Vertrou en ontvang Hom as jou persoonlike Verlosser. Gehoorsaam Hom as jou Here. So ver soos oos en wes van mekaar verwyder is, sal Hy jou sonde van jou verwyder (Ps. 103:12). Hy sal dit in die diepste see begrawe (Miga 7:19). Omdat God ons sondeskuld aan die kruis vasgenael het, is daar geen veroordeling vir dié wat in Christus is nie (Rom. 8:1, Kol. 2:14). As jy deur geloof na Jesus toe kom, sal Hy jou onskuldig verklaar, jou sonde vergewe en jou skoon was (1Kor. 6:11).
Bid Ps. 25:7 as die duiwel jou aan die sonde van die verlede herinner: “Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, Here.” Die Here dink nie meer daaraan nie (Heb. 10:17) en jy moet ook nie.
2. Moenie die liefde aanwakker nie
Sewe jaar gelede het ons ’n braai vir die enkellopende vroue in ons gemeente gehad. Ons het enkel mans van ander gemeentes genooi. Toe ’n ouer leraar hiervan hoor, toe sê hy: ‘I hope it’s not a matchmaking opportunity.’ Ek het nie verstaan hoekom dit vir hom ’n probleem is nie. Maar hy was reg. Alhoewel ons motiewe suiwer was en daar niks sondig gebeur het nie, sê v.7 dat ons nie die liefde moet aanwakker nie.
Hoe kan die ongetroudes keer dat hulle romantiese liefde aanwakker?
[a] Moenie met iemand uitgaan as jy geen intensie het om te trou nie. Ek bedoel nie jy moet met die eerste persoon wat jy ontmoet trou nie. Die punt is eerder dat ‘dating’ nie ’n speletjie moet wees, sodat jy daardeur jou hormone aanwakker nie.
[b] Moenie alewig oor ouens en meisies praat nie. Moet veral nie seksuele dinge bespreek nie. Een van my skoolvriende het dit gedoen: hy het altyd oor seks en meisies gepraat. As jy dit doen, wakker jy jouself onnodig aan.
[c] Moenie jou vriende en vriendinne aanmoedig om vir iemand te gaan nie.
[d] Raak ontslae van vriende en vriendinne wat jou uitdaag om iemand te soen of te kyk of jy hulle in die bed kan kry (Spr. 13:20, 1Kor. 15:33).
[e] Bewaar die fisieke aspek van julle verhouding vir die troudag. Ek ken ’n man wat dit gedoen het. Hy het geweier om sy verloofde te soen, omdat hy homself nie vertrou nie. “Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan?” (Jer. 17:9). Vermy enigiets wat jou seksueel stimuleer en jou versoek om verder te gaan.
[f] Moenie die kultuur se voorbeeld volg, sodat jy van kleins af iemand het nie. Party mense sal sê ek is eng, maar jy pluk ’n lat vir jouself. Wat gaan jy doen as die meisie groter is en jou hormone ontwikkel? Hoeveel ouers weet wat hulle seun en sy meisie doen wanneer hulle alleen is? Wat het jý op hulle ouderdom gedoen? Vir die ou en meisie wat hierdie preek lees: wat sê jou gewete—hou jy jouself rein?
Ek sê nie ‘dating’ is sonde nie, maar ek wonder of dit wys is. Mark Chanski sê: ‘Couples began the [twentieth] century chaperoned on the family front porch. They ended the century alone, late at night, in a private automobile. Fornication, use of contraceptives, illegitimate pregnancies, and abortions has [sic] become tragically common. Ill-advised marriages, easy divorces, and broken families have littered the landscape. Such is the spoiled harvest of the contemporary “dating game.”’5
[g] Bly weg van ‘dating’ webtuistes.6 Die persoon wat jy aanlyn ontmoet, is nie wie of wat hy voorgee nie. Sy sit die beste voet voor. Hy lieg vir jou (‘kittenfishing’). Party van hulle is selfs getroud. Die probleem met aanlyn ‘dating’ is dat dit selfgefokus is. Die vraag is: ‘Wat kan ek kry?’ eerder as ‘Wie kan ek vir iemand anders wees?’ Daar is ook geen aanspreeklikheid teenoor ouers en ander Christene soos in ’n normale verhouding nie. Die hele ingesteldheid is verkeerd. ’n Normale verhouding ontwikkel van ’n vriendskap tot romantiese belangstelling. Aanlyn ‘dating’ begin met die intensie om romanties te wees en wakker die liefde aan (v.7). Aanlyn kan jy maklik ’n paar verhoudings op dieselfde tyd hê of gedurig op die uitkyk vir iemand anders wees.
Aanlyn ‘dating’ oortree v.7 deurdat die vrou die jagter kan wees. Dalk dink jy ek is ou skool om te sê dat die man die verhouding moet iniseer, maar dit is Bybels (Gen. 24; 2:24). Dalk wonder jy oor Rut 3 waar sy die verhouding met Boas geïniseer het. Die waarheid is dat Naomi haar gestuur het (Rut 3:1-5). Naomi was die oorblywende ouer wat die huwelik moes reël. Volgens die leviraatshuwelikwet in Deut. 25:5-10 moes die naaste familielid met die afgestorwene se weduwee trou. Daardeur het die Here verseker dat die weduwee versorg is en dat die afgestorwe man se familienaam nie uitsterf nie. Dit is wat in Rut 3 aangaan. Hierdie is glad nie ’n geval van Rut wat die romanse aanwakker of seks voor die huwelik met Boas het nie.7
[h] Moet verkieslik nie alleen in ’n kamer of by jou huis wees nie (Gen. 39:10). Dit is ’n manier om slapende hormone wakker te maak.
[i] Moenie onbeskeie aantrek nie, want daardeur lok jy die verkeerde mense.
[j] Hou jou gedagtes besig met werk, diensbaarheid, die Bybel of ander goeie dinge (Ps. 119:11, Fil. 4:8). Moet jouself nie toelaat om oor ouens of meisies te dagdroom nie. Moenie boeke lees, tydskrifte deurblaai, musiek luister of films kyk wat jou romanties aanwakker nie. Kry jou idee van ’n goeie man of vrou uit die Bybel en nie uit jou gunsteling sepie, Karen Kingsbury se boeke, Hollywood, Disney of Hallmark se ‘prince charming’ op ’n wit perd nie. Die wêreld se idee van romanse is so onrealisties en fiktief soos ’n feëverhaal. Dwight Harvey Small sê:
‘The fairy story is usually told something like this: “I am a very attractive and lovable person, fascinating and desirable in every way. But I managed to go unnoticed for a long time. The reason for that was that the one and only person in this universe had not come my way. There was one just made for me and for no other, and at the right moment he was to come into my life. Then suddenly he appeared! In that moment our eyes met and I knew he was for me. He was my dream, my inspiration! He had everything! He was tall, tan, and terrific! We kissed and I knew I could not live without him. This was love, because I was tingling with excitement all over. Nothing mattered now except that we were together. How could anything else be important but this? We would live only for each other in perfect bliss...
There could be no reason to wait a moment longer. With his scintillating sense of humor I knew we would never disagree about anything. Our love for each other would hurldle all obstacles as though they were nothing. Brought together by the hand of fate, we must obey and marry before it’s too late! You dare not put off love for it might die if not acted on right now.” And so they married and lived happily ever after in the delightful ecstasy of marital bliss!’8
In die ‘regte lewe’ werk dit nie so nie. Alles is nie maanskyn en rose nie. Leer die persoon goed ken en wees vriende voor jy ’n romantiese verhouding najaag. Lees en luister weer my preek oor hoe mens die regte lewensmaat kies.9 As jy, jou ouers en ander toegewyde gelowiges oortuig is jy het regte lewensmaat ontmoet, trou. As jy te lank uitstel, sal een van twee dinge gebeur:
[i] Jou potensiële lewensmaat sal iemand soek wat nie vir die lekker wil uitgaan nie, maar ernstig is om hom- of haarself tot die huwelik te verbind.
[ii] Jy sal in sonde val. Hier moet ouers hulle kinders aanmoedig om te trou as hulle daarvoor gereed is. As jy hulle van mekaar weerhou, lei jy hulle in die versoeking. Laat daarom toe dat hulle met mekaar trou (1Kor. 7:36).
Jy moet darem ook die moed hê om jou mond oop te maak as jou kinders v.7 oortree en die liefde aanwakker. Soms moet jy hulle selfs aansê om die verhouding te verbreek. Moenie soos baie ouers wees wat niks sê, omdat jy jou kind nie wil seermaak nie. Deur stil te bly, maak jy haar seerder, omdat sy na ses maande geskei sal wees. In so ’n geval is jy medepligtig, omdat jy niks gesê het nie.
Laat jou kind se verhouding spontaan ontwikkel. Help en leer jou kinders uit die Bybel en jou lewenservaring om die balans te vind. Vir party moet jy sê: ‘Moenie jou hormone aanwakker en die perskes ryp druk nie (v.7).’ Vir ander moet jy sê: ‘Hoekom sleep jy jou voete as jy die regte persoon ontmoet het? Waarvoor wag jy? Trou en moenie vir die duiwel luister as hy jou probeer wysmaak dat ‘dating’ so goed is soos om getroud te wees nie (1Tim. 4:3-4).’
My pa het dit vir my gesê. Terwyl ek en my vrou uitgegaan het, het ons ’n paar keer die verhouding beeïndig. Toe ek en my pa eendag in die kar ry, toe sê hy: ‘Don’t play games with Deirdrè. If you don’t reach a decision she will meet someone who is serious. They will get engaged and within three months she will be married. You’ve got to make up your mind.’
Martin Luther het iets soortgelyk gesê: ‘Don’t put off till tomorrow! By delay Hannibal lost Rome. By delay Esau forfeited his birthright. Christ said, “Ye shall seek me, and ye shall not find.” Thus Scripture, experience, and all creation testify that the gifts of God must be taken on the wing.’10
1 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
2 John MacArthur (Et al.), Right Thinking in a World Gone Wrong (Eugene, Oregon: Harvest House Publishers, 2009), 39
3 John Piper & Justin Taylor (ed.), Sex and the Supremacy of Christ (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2005), 140
4 https://www.glodiebybel.co.za/huwelik-en-saamwoon-algemende-sinode-ng-kerk-2011-10-12/
5 Mark Chanski, Manly Dominion (Calvary Press Publishing, 2004), 235
6 Onder hierdie punt het ek Rick Holland se lering oor aanlyn ‘dating’ waardevol gevind. Sien sy hoofstuk hieroor in MacArthur, ibid., 29-39
7 https://www.evidenceunseen.com/bible-difficulties-2/ot-difficulties/joshua/ruth-37-did-ruth-have-sex-with-boaz/
8 Aangehaal in Chanski, ibid., 236
9 https://baptistekerkkemptonpark.com/sermon/familie-huisgesin-en-huwelik-kies-die-regte-lewensmaat/
10 Piper & Taylor, ibid., 222