Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 July 2019

Hoop vir die hopelose

Related image

Romeine 15:13

Wat bedoel ons met hoop? In Afrikaans gebruik ons die woord as ‘n term van onsekerheid: ‘Ek hoop nie dit reën Saterdag nie... Ek hoop my seun word vir die span gekies.’ Die woordeboek definieer dit egter as ‘verwagting’. Omdat jy oortuig is iets gaan gebeur, sien jy met hoop of verwagting daarna uit. Bybelse hoop is iets waarvan ons absoluut seker is.

Dit gaan daarom ook nie net oor ‘n tydelike hoop nie. Rom 15:13 gaan nie oor KFC se Add hope, waarin jy R2 in ‘n blikkie gooi, sodat hulle dit vir honger kinders kan gee nie. Dit gaan oor ‘n geestelike hoop. Dit gaan oor ‘n ewige hoop wat ten volle vervul sal word wanneer jy eendag die Here sien en vir ewig hoopvol sal wees.

Mense het hierdie hoop nodig. Baie mense voel hopeloos. Hulle voel hopeloos oor hulle omstandighede, oor die krisisse wat hulle deurmaak, oor die slegte tye waarin ons leef, oor hulle verhoudingsprobleme, oor hulle probleme by die werk en in hulle gesinne, oor hulle finansiële probleme, en oor baie ander dinge. Volgens hulle is hiérdie dinge die hoof oorsaak vir hulle hopeloosheid, maar dit is nie. Hulle voel hopeloos, omdat hulle nie op Jesus fokus nie. As hulle in Hom gehoop het, sou hulle vol blydskap en vrede gewees het.

So leer Rom. 15:13 ons. Kom ons ontleed elke deel van die vers, sodat ons kan sien hoe ons hoop kan hê in die Here.

 

  1. Die Bron van hoop

Iemand wat ‘n waterbron ontdek het, is beter af as iemand wat sy water by die munisipaliteit moet koop. Iemand wat ‘n oliebron besit, is beter af as iemand wat sy brandstof by Caltex moet koop. Iemand wat ‘n goudmyn besit, is beter af as iemand wat sy goud by ‘n juwelier moet koop.

Iemand wat die Here het, het die Bron van hoop ontdek en is beter af as iemand wat sy hoop op ander plekke soek. Volgens Rom. 15:13 en die res van die Bybel, is God die Bron van hoop. Paulus sê dit twee keer in hierdie vers. Hy sê ook in v.12 dat Jesus die fokus van ons hoop is (vgl. Jes. 11:10, Ps. 65:6, Matt. 12:21, 1Tim. 1:1).

Sonder die Here—die Bron van hoop—is jy hopeloos (Ef. 2:12). Dit is so, omdat jy sonder die Here nie ‘n kat se kans het om in die hemel te kom nie. En as die hel jou voorland is, het jy rede om hopeloos te voel as die dood sy vingers drom en ongeduldig wag dat jy graf toe kom.

Waar sal jy hoop vind? Jy kan dit nie in ander gode vind nie, want wat het hulle al ooit vir jou gedoen (Jona 2:8)? Jy kan dit nie in ander mense, of in geld en besittings vind nie, want wat word van hierdie dinge as jy jou asem uitblaas (Spr. 11:7, 23:4-5, Jes. 20:5-6, 2:22, 1Tim. 6:17)? Jy kan dit nie in die wet vind nie (Joh. 5:42). As jy op jou goeie werke staatmaak, is jy soos ‘n moordenaar wat dink hy gaan uit die tronk bly, omdat hy 50 goeie dinge gedoen het.

Jesus is die enigste mens oor wie die Vader glimlag. As jy op Hom en sy kruisdood vir sondaars hoop, sal die Vader oor jou ook glimlag.

Miskien voel dit nie so nie en voel, maar voel jy hopeloos omdat jou gewete jou met ‘n sweep slaan. Jy hoef nie pille te drink om beter te voel nie. Glo in die God van hoop.

Het jy ernstig teen die Here gesondig? Onthou dat Hy die God van hoop is. Het jy Hom gehaat, was jy kwaad vir Hom en het jy sy Naam gelaster? Onthou dat Hy die God van hoop is. Beplan jy om jou eie lewe te neem, omdat jy nie lig aan die einde van die tonnel sien nie? Onthou dat ons God ‘n God van hoop is. Het daar iets sleg met jou gebeur, sodat jy wens om dood te gaan? Die Here is ‘n God van hoop. Hy is ook die God van bemoediging (v.5).

‘Maar wat as ek op die Here hoop en Hy my teleurstel?’ wil iemand weet. Mense het my al teleurgestel, maar die Here nog nooit. Sy karakter is anders as mense s’n. Hy het die mag om te doen wat Hy belowe. Hy kan nie lieg nie en daarom sál Hy ook doen wat Hy belowe (Tit. 1:2, Heb. 6:18). Jy kan dus op die Here hoop met die wete: Hy sal jou nie in die steek laat nie (Heb. 6:19, 10:23).

 

  1. Die metgestelle van hoop

My seun en my tweede oudste dogter is soos Vinkel en Koljander, soos sout en peper, soos Ebony en Ivory, soos Dawid en Jonatan, soos Batman en Robin: jy sien hulle altyd saam.

Net so is blydskap en vrede altyd saam. Hulle is die metgeselle van hoop (v.13). Waar iemand nie hoop het nie, voel hulle depressief en angstig. Maar as hulle hoop het, is hulle vol blydskap en vrede (v.13, 14:17, Gal. 5:5, 22). Wie sal nie vol vrede en blydskap wees as hulle sonde vergewe is, as God hulle Vader is, as Jesus hulle Verlosser en Vriend is, en as hulle op pad hemel toe is nie?

As hierdie dinge waar is van jou en jy nié blydskap en vrede het nie, is dit omdat jy op jou omstandighede fokus en nie op Jesus nie (v.13, Jes. 26:3). Of miskien fokus jy op die blydskap en vrede en nie op Jesus nie (v.13). Jy is soos iemand wat by die see sit en ‘n roomys geniet. Jy het blydskap en vrede. Maar dan begin jy introspeksie doen om te sien of jou blydskap en vrede eg is. Sodra jy dit doen, gaan die blydskap en vrede weg. Wat moet jy doen vir die blydskap en vrede om terug te keer? Moenie daarop fokus nie. Fokus op die roomys en die see.

Ek is seker jy verstaan die illustrasie. Moet jouself nie uitput om blydskap en vrede te vind nie. Kyk eerder na die Fontein of die Objek van hierdie dinge, naamlik Jesus Christus. Moet dus nie dink jy kan blydskap en vrede vind deur yoga te doen, of na rustige musiek te luister nie. Jy sal dit nie vind deur alleen te wees, mense om jou te hê, plesier na te jaag, of Rooms-Katolieke mistisisme te beoefen nie.

Hierdie dinge kan miskien tydelike blydskap en vrede gee, maar om dit konstant en vir ewig te hê, moet jy in Jesus glo wat vir jou gesterf het en opgestaan het uit die dood (v.13, Luk. 2:10, 14, Joh. 14:27, Rom. 5:1, Kol. 1:20). Hy bring vrede tussen ons en die Vader, en daarom kan ons ook innerlike vrede hê. Hy vergewe ons sonde, maak ons kinders van God en berei die hemel vir ons voor. Daarom kan ons blydskap hê.

‘Ek glo in Jesus, maar ek het nog steeds nie blydskap en vrede nie,’ sê iemand. Glo jy net die feite aangaande Hom, of vertrou op Hóm? Dink jy jy glo in Hom, omdat jy lank gelede jou ‘hart vir Hom gegee het’, of hoop jy nóú op Hom? Om vars blydskap en vrede te hê, moet jy daagliks in die Here glo en jou hoop in Hom vernuwe (v.13, Gk., 2Kor. 4:16, Kol. 1:23). Jy moet weg kyk van jouself, jou omstandighede en jou gevoelens. Geniet eenvoudig jou ‘roomys by die see’.

Om dan blydskap en vrede te hê, moet jy geloof hê, omdat geloof op Jesus fokus (v.13). Moenie rus, totdat jy hierdie geloof het nie. Vra die Here daarvoor, aangesien geloof ‘n gawe van God is (Ef. 2:8-9, Fil. 1:29).

 

  1. Die oorvloed van hoop

Sam was in ‘n groot motorongeluk en lê in die hospitaal. Sy lewe hang in die weegskaal. Na ‘n week sê die dokters dat dit meer hoopvol lyk, maar dat hy moontlik breinskade het. Na ‘n maand sê hulle dat daar tog ‘n kans is dat hy nie breinskade het nie. Sam se vrou het meer hoop as wat sy in die begin gehad het, maar dit loop nie oor nie.

As die Here jou egter met blydskap en vrede vul, sal jou hoop oorloop (v.13). Jy sal nie kan wag vir die hemel waar jy vir ewig blydskap en vrede sal hê nie. Hoekom sal jy vir ewig blydskap en vrede hê in die hemel? Want Jesus is daar. Hy is die hoop van die hemel (Kol. 1:5, 27). Hy is die skat, die juweel en die prys waarna ons uitsien.

As jy op ander dinge hoop, sal jy depressief raak as dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie (Spr. 13:12). As jy egter op Jesus hoop, sal jy blydskap en vrede hê (v.13). Maar dan moet jy op Jesus hoop en nie op jou idee van wie Jesus is en van wat Hy vir jou moet doen nie. As jy op ‘n onbybelse idee van Jesus hoop i.p.v. op Jesus self, sal jy nie hoop hê nie.

Jy sal soos die twee Emmausgangers wees wat depressief geraak het toe dinge nie uitwerk volgens die idee wat hulle van Jesus gehad het nie. In húlle gedagtes was Hy ‘n militêre leier wat Israel van die Romeine moes red. Toe dit nie gebeur nie en die Romeine Hom kruisig, het hulle hopeloos gevoel (Luk. 24:17, 21). Toe Jesus egter hulle verkeerde idee reggestel het, het hulle oorvloedige hoop gehad (Luk. 24:25-27, 32).

Wie is Jesus vir jóú? Is Hy Iemand wat jou suksesvol en voorspoedig moet maak? Jy gaan teleurgesteld wees. As jy egter op Hom hoop om jou sondes te vergewe, jou heilig te maak en vir jou ‘n plek in die hemel voor te berei, sal Hy jou wense vervul, sodat jy ‘n oorvloedige hoop het.

Hoop jy op Hom om jou deur die beproewing te help, sodat jy Hom daarvoor kan prys? Hy sal jou hoop vervul en jou wense bewaarheid (Ps. 42:6, 12).

Om nie hoop te hê nie is ‘n vreeslike plek om te wees. Vra die Here om jou met hoop te vul (v.13, Ef. 1:18). Glo in die opgestane Christus wat die lewende hoop is van elkeen wat weergebore is (1Pet. 1:3). Dink gereeld aan die vervulling van jou hoop by die wederkoms (1Pet. 1:13). Dink aan God se getrouheid, sodat jy hoop kan hê (Klaagl. 3:21-24). Lees ook die Bybel en glo God se beloftes, sodat jy hoop kan hê (v.4, Ps. 119:43, 49, 81, 114, 147, 130:5). Leer dit vir jou kinders, sodat hulle hierdie selfde hoop kan hê (Ps. 78:5-7). Wees gereed om vir mense te sê wie en wat jou hoop is as hulle sien dat jy t.s.v. jou moeilike omstandighede hoop het (1Pet. 3:15).

As jy nie die hoop van ‘n beter lewe by Christus het nie, sal jy hopeloos voel. Jy sal voel dat die lewe ‘n eentonige gejaag na wind is. Jou lewe sal doelloos wees. Selfs as jy ‘n doel het, sal dit eindig wanneer jy doodgaan.

Kyk dan met hoop na Jesus en na die heerlikheid wat kom (5:2-5, 8:18-25, Hand. 24:15, 26:6-8).  As jy hierdie hoop het, sal jy meer bid (1Tim. 5:5). Jy sal nie hopeloos treur wanneer ‘n gelowige sterf nie, omdat jy die persoon weer gaan sien (1Tess. 4:13). Jy sal rein lewe, omdat jy gereed wil wees vir jou ‘troudag’ wanneer weer Jesus kom (1Joh. 3:2-3). Jy sal gelukkig wees en ‘n sterk geloof hê (v.13, Tit. 2:13, Heb. 11:1).

Dit is my opregte gebed dat jy ná hierdie boodskap nie net sal weet dat daar hoop is vir mense wat hopeloos voel nie, maar dat jy dit sal ervaar. Mag die woorde van die volgende lied jou ervaring wees:

There is a hope that burns within my heart,

That gives me strength for every passing day;

A glimpse of glory now revealed in meagre part,

Yet drives all doubt away:

I stand in Christ, with sins forgiven;

And Christ in me, the hope of heaven!

My highest calling and my deepest joy,

To make His will my home.

There is a hope that lifts my weary head,

A consolation strong against despair,

That when the world has plunged me

in its deepest pit, I find the Saviour there!

Through present sufferings, future’s fear,

He whispers ‘courage’ in my ear.

For I am safe in everlasting arms,

And they will lead me home.

There is a hope that stands the test of time,

That lifts my eyes beyond the beckoning grave,

To see the matchless beauty of a day divine

When I behold His face!

When sufferings cease and sorrows die,

And every longing satisfied.

Then joy unspeakable will flood my soul,

For I am truly home

Stuart Townend & Mark Edwards

Kategorieë