Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 March 2018

Hoekom het ons die evangelie nodig?

Club

Romeine 1:18-32

Soms laat medisyne jou slegter voel voordat dit jou beter maak.  Net so moet jy die slegte nuus van God se toorn oor sonde verstaan (Rom. 1:18-32), voordat die goeie nuus van die evangelie vir jou sin maak (Rom. 1:16-17).  Die evangelie van Christus in v.17 skitter soos ‘n sterrehemel as jy dit teen die donker agtergrond van v.18-32 sien.

 

  1. Die rede vir God se toorn (v.18-23)

Het jy al ooit gedink dat ‘n regter onregverdig is om ‘n moordenaar of verkragter vir die res van sy lewe toe te sluit?  Hoekom dink mense dan dat die Here onregverdig is om hulle te straf?  Is dit nie omdat hulle hulle sonde miskyk en dink dit is nie so ernstig nie?

Volgens Paulus is ons sonde so ernstig dat God sy vurige toorn vanuit die hemel openbaar (v.18).  Dit beteken nie dat Hy sy humeur verloor nie.  Sy woede is rasioneel en regverdig oor dié wat sy heilige wet minag (4:15).

Alhoewel dit in die toekoms soos ‘n atoombom oor die wêreld sal ontplof (2:5, 8, 9:22, 1Tess. 1:10, Op. 14:10-11), val dit alreeds soos haelstene op die goddelose (v.18, Joh. 3:36, Ef. 5:6, 1Tess. 2:16).  Hoekom?

God het Homself in die skepping aan ons bekend gemaak.  Alhoewel die plesier van ‘n koelteboom of kraakvars appel jou nie kan red nie, kan jy daardeur weet dat die Here bestaan (v.19, Ps. 19:2-7, Hand. 14:15, 17).

Die ontsaglike heelal verkondig sy onsigbare krag, terwyl komplekse plantselle en menslike DNA sy Goddelike natuur onderstreep (v.19-20).  Ons kan dus nie onskuld en onkunde pleit wanneer ons eendag voor die Here staan nie.  Niemand kan sê: ‘Ek het nie geweet nie’ (v.19-20).

Jy hét geweet, maar die waarheid in jou gewete onderdruk (v.18, 21).  Jy het van die Here geweet, maar Hom nie gevrees en gedank toe Knysna afbrand en Johannesburg reën kry nie (v.21).  Ons denke is verwronge en ons donker harte dwaas (v.21-22, Gen. 3:6, Jer. 10:14).

In ons dwaasheid kyk ons na ‘n skildery en sê ons dat daar nie ‘n Skilder is nie (v.22, Ps. 14:1).  Ons mis die onsterflike God se heerlikheid in ‘n reënboog, en kies om die beeld van ‘n sterflike mens, voël of dier te aanbid (v.23, Ps. 106:20, Jer. 2:11).

Ons is nou wel nie Indiane of Hindoes wat voor beelde buig nie, maar in die weste aanbid mense ook maar die skepping: ons eie liggame, seks, kos, drank, geld, menslike intellek en meer.

Om ons sonde te regverdig sê ons dat daar nie so iets soos absolute waarheid is nie (Joh. 18:38): ‘Wat vir jóú waar is, is nie noodwendig vir mý waar nie; elkeen moet vir homself besluit wat reg is.’

So verwerp ons die waarheid van God se bestaan (v.18).  Volgens baie mense wys sy onsigbaarheid (v.20, 1Tim. 1:17) dat Hy nie bestaan nie.  Maar op daardie gronde moet ons gedagtes en logika ook nie bestaan nie, aangesien ons dit nie met een van ons vyf sintuie kan waarneem nie.

Om so te redeneer is onsin.  Diep in elke mense hart weet hy dat daar ‘n onsigbare God is (v.20).  Hy weet dat God ewig is en materie nie (v.20, Pred. 3:11, ESV).  Hy weet dat die orde van die planete of ‘n byekorf nie uit die wanorde van die ‘Big Bang’ ontstaan het nie, maar uit die ordelike God wat dit gemaak het.

Hou dit in gedagte wanneer jy die evangelie met ateïste deel.  Moenie met hulle oor God se bestaan stry nie.  Neem aan dat hulle van God se bestaan weet, en gebruik die Tien Gebooie om by hulle gewetens uit te kom (2:14-15).

‘Maar wat van die mense wat nog nooit van die Here gehoor het nie?’ wil iemand weet.  ‘Is dit nie onregverdig dat Hy hulle straf nie?’  Nee, want volgens v.18-23 hét hulle van Hom gehoor (al was dit sonder woorde), maar die skepping aanbid.

As hulle hel toe gaan is dit nie omdat hulle nie ‘n Bybel gehad het nie, maar omdat hulle van God geweet het en nog steeds besluit het om teen Hom te rebelleer.  As hulle die Here erken sal Hy iemand stuur om die evangelie met hulle te deel (Hand. 10, 17:27).

 

  1. Die effek van God se toorn (v.24-32)

Mense wat sê dat die wêreld nog nooit so erg was soos nou nie en dat dit ‘n bewys van die einde is, wys dat hulle onkundig is oor die geskiedenis.  Die eerste eeu waarin Paulus geleef het was net so erg, indien nie erger nie.[1]

Gedurende Paulus se leeftyd was die booshede van v.24-32 aan die orde van die dag.  Ons kan sy argument in hierdie verse onder die volgende hoofde opsom:

[a] Waar mense die skepping-Skepper orde omruil, gee God hulle oor aan seksuele immoraliteit (v.23-25)

Alle sonde begin by afgodery (v.23, 24-32).  Dit is mos logies dat ‘n lewe sonder God goddeloos sal wees.  Moet dus nie dink dat die Here mense se sonde veroorsaak nie.  Hy gee hulle eenvoudig oor aan die onrein luste wat alreeds in hulle harte is (v.24).  Gevolglik het hulle geen skaamte of respek vir hulle eie en ander mense se liggame nie, en onteer hulle seks en die huwelik (v.24, Heb. 13:4).

[b] Waar mense die waarheid van God se bestaan vir die duiwel se leuen verruil, gee Hy hulle oor aan homoseksualiteit (v.25-27)

Die meeste mense sal op ‘n Sondag die Vaalrivier se vis of hulle fikse liggame op ‘n bergfiets aanbid, voordat hulle die lofwaardige Skepper in ‘n kerkgebou sal prys (v.25).

Omdat hulle die skepping-Skepper orde omruil (v.23, 25), vat dit nie lank voordat hulle die man-vrou orde omruil nie (v.26-27).  Die Here reageer deur hulle aan hulle skandelike begeertes oor te gee (v.26).

Vroue verruil hulle natuurlike seksuele begeerte vir mans (Matt. 19:5-6) vir ‘n onnatuurlike begeerte om met ander vroue te slaap (v.26).  Mans laat vaar die natuurlike begeerte vir vroue en brand met wellus vir mekaar (v.27).

In ‘n poging om hulle of hulle kinders se sonde te regverdig, sal sommige mense sê dat v.26-27 nie na gays verwys nie: ‘Paulus praat van mense wat heteroseksueel gebore is en teen hulle natuur ingaan om dan gay te wil wees.’

Maar dit impliseer dat gay mense so gebore is en dat daar ‘n gay geen is.  Maar waar is die bewyse?  As iemand se gene hom gay máák, moet ons vra hoekom homoseksuele Jerry se lewe verander het, en hoekom Dirk nie gay is soos sy tweeling broer Chris nie?

Gay mense sal sê dat hulle nie kan onthou dat hulle gekies het om so te wees nie.  Maar ek kan ook nie onthou dat ek gekies het om selfsugtig of hoogmoedig te wees nie.  Lisa se ‘ingebore’ drang vir vroue verskoon haar nie, net soos wat Gerrie se ‘ingebore’ neiging om sy vrou te slaan dit nie reg maak nie.

Buitendien kyk niemand per ongeluk gay pornografie nie, en val hulle nie per ongeluk in die bed saam met iemand van dieselfde geslag nie.  Hulle kies om dit te doen.

Die punt wat ek wil maak is dat homoseksualiteit onnatuurlik is, en dat niemand so gebore is nie (v.26-27).  Dit is nie hoe die Here dit in Gen. 1-2 bedoel het nie: Hy het ‘n man en vrou vir mekaar gemaak en nie twee mense van dieselfde geslag nie.  Biologies pas twee mans of vroue se liggame nie bymekaar nie.  Die feit dat dit biologies onmoontlik is dat hulle kinders kry bevestig dit (Gen. 1:28).

‘Maar wat as iemand homoseksuele neigings het, maar dit nie beoefen nie?’ wil iemand weet.  Paulus verdoem nie net homoseksuele dade nie, maar ook die begeerte (v.26-27).  Die wellus-beginsel wat Jesus in Matt. 5:27-28 neerlê, geld ook vir homoseksuele drange.

Iemand sal sê dat v.27 oor homoseksuele molestering of verkragting gaan, en nie oor ‘n liefdevolle gay verhouding nie.  Maar hulle is verkeerd, omdat die mense in hierdie vers met wellus teenoor mekaar ontbrand (v.27).  As hulle die begeerte nie meer kan inhou nie, lei dit tot vieslike dade wat in geen mens se woordeskat of gedagtes hoort nie (v.27, Ef. 5:3, 12).

Dit is a.g.v. súlke dade wat hierdie mense in hulleself die verdiende straf vir hulle dwaling ontvang (v.27).  In gewone Afrikaans kan ons sê dat hulle seksueel oordraagbare siektes soos VIGS kry (v.27).  Maar dit is nie die ergste nie, want uiteindelik beland hulle in die hel (1Kor. 6:9-10, Heb. 13:4, Jud. 7, vgl. Gen. 19, Lev. 20:13).[2]

[c] Waar mense die man-vrou orde omruil en dit nie die moeite werd ag om die Here te erken nie, gee Hy hulle oor aan verdraaide opvattings en ‘n slegte gesindheid (v.26-32)

Omdat mense God uit hulle gedagtes skuif, vul sonde die leemte en dink hulle onderstebo (v.28).  Hulle verkeerde denke lei tot baie ander sondes (v.29-31).

  • Hulle doen dit nie een keer nie, maar is vol daarvan (v.29).
  • Die verskeidenheid van sondes is groot (v.29).
  • Hulle doen sonde in die algemeen: “ongeregtigheid...boosheid, hebsug [of gierigheid], ondeug [of verdorwenheid]” (v.29).
  • Hulle is seksueel losbandig: “hoerery” (v.29, vgl. v.24, 26-27).
  • Hulle sondig in hulle mense-verhoudings: “nydigheid [of jaloesie], moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid...ongehoorsaam aan die ouers” (v.29-30).
  • Hulle sondig met hulle tonge: “nuusdraers, kwaadsprekers” (v.30).
  • Alles draai om hulle en nie om die Here nie: “haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters” (v.30).
  • Hulle dink nuwe sondes uit (v.30).
  • Hulle laat na om te doen wat reg is: “onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig” (v.31).

Omdat mense ‘n mini-hof in hulle gewetens het, besef hulle dat die Here hulle vir die bg. dinge gaan oordeel (v.32, 2:14-15).  Hulle weet dat Hy hulle met die tweede dood van die hel gaan straf (v.32, 6:23, Op. 21:8).

Maar dit skrik hulle nie af nie.  Hulle volhard in hulle sonde en moedig ander aan om dieselfde te doen (v.32).  Duidelik sondig hulle nie per ongeluk soos hulle partykeer wil voorgee nie.

Niks het verander van Paulus se tyd af nie; dinge is nog net dieselfde.  Omdat mense hulle sonde wil doen (v.24-32), sê hulle dat die Here nie bestaan nie (v.18-23).  Ander vervang die God van die Bybel met ‘n god van hulle eie verbeelding en sê: ‘Die god wat ék aanbid sal nie mense hel toe stuur nie.’

Omdat hulle die Here verwerp draai Hy die brieke los.  Hy gee vir hulle wat hulle wil hê, en maak dat die gevolge daarvan soos ‘n vrag bakstene op hulle afkom.

Hulle raak vasgevang in die net van Hollywood en internet pornografie (v.24).  Dit lei daartoe dat hulle voor die huwelik saam slaap, gedurig oor seks baklei, egbreuk pleeg, skei en hulle kinders se lewens verwoes (v.24).

Ander ontwikkel ‘n lus vir mense van dieselfde geslag (v.26-27).  In hulle wellus vernietig hulle hulleself, die mense met wie hulle seks het, die familie-struktuur soos God dit bedoel het, hulle ‘aangenome’ kinders en die samelewing (v.27).

Dit is erg dat regering homoseksualiteit, prostitusie en pornografie goedkeur (v.32, 24, 26-27), maar dit is erger dat die kerk mense aanmoedig om voor die huwelik saam te slaap en gay te wees.  Hoe kan ‘n samelewing staande bly as mense goed sleg noem en sleg goed (v.28, Jes. 5:20)?

Mense is blind vir hulle sonde en sal sê dat dit nie so erg is nie, maar volgens Paulus is hulle vol daarvan: dit beheer hulle gedagtes en lewens (v.29).  Dit affekteer hulle verhoudings (v.29-30).  Hulle verskoon hulle sonde deur te sê dat dit niemand seermaak nie, maar hulle lieg.

Benadeel Hannes nie vir Ria as hy haar seksuele reinheid steel nie?  En benadeel hy nie vir Gert wat eendag met haar gaan trou nie?  Is dit nie tot Hennie se nadeel as Zack hom met ‘n vuil siekte besmet nie?

Kry Karen nie seer as sy met ‘n man trou wat aan pornografie verslaaf is nie?  Voel Retha se ouers nie die pyn as sy vir hulle sê sy is ‘n lesbian nie?  En bedroef al hierdie sondes nie die Here nie?

Vergeet asb. van die mite wat sê dat sekere sondes ‘okay’ is, omdat dit niemand seermaak nie.  Moet ook nie luister as die wêreld vir jou sê dat hulle nie bedoel het om mense seer te maak nie.

Volgens v.32 sondig hulle opsetlik en geniet hulle dit dat ander hulle voorbeeld volg.  Hulle gebruik middele soos musiek, TV en die internet om mense aan te hits.  Omdat mense se harte en gedagtes verdraaid is (v.21-22, 28), weet hulle hulle sal suksesvol wees.

Duidelik is die probleem dieper as net ons dade, en daarom moet die oplossing ook dieper wees.  Die Heilige Gees moet ons van binne af nuut maak, sodat ons anders as v.18-32 lewe.

Maar wat moet ons met die sondeskuld van die verlede doen: wie gaan dít betaal?  En wat van die sonde wat ons nog gáán doen?  Omdat ons nie naastenby ‘n regverdige rekord het nie (v.18-32), het God besluit sy eie volmaakte geregtigheid te gee aan dié wat in sy Seun glo (v.17, Fil. 3:9).

Dit is wat die evangelie goeie nuus maak: ons hoef niks te doen om gered te word nie, omdat Jesus in sy lewe, kruisdood en opstanding alles vir ons gedoen het.  Ons hoef bloot te erken dat v.18-32 ons lewens opsom, dat onsself nie kan verander nie, en dat Jesus al Een is wat ons kan red.

Toe Hy in ons plek aan die kruis hang, het v.18 en 2:8 se toorn Hóm versmoor (v.18).  Hy het die Vader se toorn geabsorbeer, sodat dié wat hulle bekeer en in Hom glo nie ‘n druppel daarvan sal drink nie (3:25, 1Joh. 2:2).  Die storm van God se toorn het hom op Jesus uitgewoed, sodat geen gelowige vir sy eie sonde hoef te sterf nie (v.32).

Omdat God ons so genadig is, moet ons nie neersien op dié wat nog afgode dien, rondslaap, gay is, of die sondes van v.29-32 doen nie.  Ons moet hulle liefhê en onthou dat ons self so was (Tit. 3:3).  Ons moet die Here dank dat Hy ons gered het, en nie maak of ons dit verdien het nie.

Alhoewel die mense van v.18-32 gered moet word alvorens hulle by die gemeente kan aansluit, moet ons hulle kerk toe nooi en die evangelie met hulle deel.  Ons moet onthou dat Jesus vir sulke mense gesterf het (5:8), en dat sy arms oop is om hulle te ontvang as hulle met berouvolle geloof na Hom toe kom.

Dalk staan jy self skuldig aan die dinge wat jy vandag gehoor het.  As jy jou bekeer en die evangelie glo is die Here nie meer kwaad vir jou nie.  Hy gaan jou nie straf omdat jy jouself nie kan vergewe nie.  Wat saak maak is dat Hý jou vergewe.  Die vraag is of jy dit aanvaar en bereid is om te erken dat jy dodelik siek is, maar dat Jesus jou kan genees.

 

[1] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004

[2] Vir meer oor homoseksualiteit kan jy die volgende artikels op my blog lees:

[a] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/10/15/n-reaksie-op-gay-huwelike-in-die-ng-kerk/

[b] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2013/11/01/se-die-bybel-regtig-homoseksualiteit-is-sonde/

[c] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2013/11/16/n-oplossing-vir-homoseksualeit/

Kategorieë