Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 January 2018

Hoekom die Prosperity Gospel so gevaarlik is

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Prosperity Gospel 2

In Walt Disney se film The Jungle Book, kyk ‘n luislang genaamd Kaa in Mowgli (die seuntjie) se oë om hom te betower.  Hy hipnotiseer en bedwelm hom, sodat hy aan die slaap raak.  Sy plan is natuurlik om vir Mowgli in te sluk.

Dit laat my aan die slinkse slang van Gen. 3 dink wat vir Eva versoek het.  Soos wat die duiwel ‘n slang se liggaam gebruik het, kom hy nog steeds in verskillende vorme na mense toe.  In Paulus se tyd (soos hy ook in ons tyd doen) het hy vals leraars gebruik om die gelowiges te versoek:

“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus... En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.” (2Kor. 11:3, 14).

Die duiwel se doel is nie bloot om jou te verwar nie, maar om seker te maak dat jy hel toe gaan.  Hy is soos Karla.  Sy wou pienk tekkies soos haar maatjie hê.  Toe haar ma nee sê, het sy haar maatjie se tekkies gesteel.  ‘As ék nie pienk tekkies mag kry nie, kan my maatjie dit ook nie hê nie,’ het sy gesê.

Dit is hoe die duiwel redeneer:  ‘As ek nie in die hemel mag wees nie, mag niemand daar wees nie.’  Hy haat die Here en almal wat na sy beeld gemaak is, en sal alles in sy vermoë doen om jou te vernietig.  Hy sal selfs mense gebruik om jou op die verkeerde pad te lei.

Natuurlik gebruik hy enige vals lering en nie net die Prosperity Gospel nie.  Ek wil egter op die Prosperity Gospel fokus, omdat soveel mense al onder die dryfsand van hulle lering verdwyn het.  Soos met ander vals leraars, staan Prosperity predikers by die smal hek, en sê hulle vir mense:  ‘Hierdie moeilike pad gaan nie hemel toe nie; die gemaklike pad van voorspoed en rykdom is die een wat hemel toe gaan.’ (sien Matt. 7:15, 13-14).

Maar as jy hulle raad volg sal die Here jou saam met hulle en die res van die goddeloses straf.  Dit is die punt wat Judas in v.5-7 wil maak.  Hy gebruik drie Ou Testament illustrasies om duidelik te maak dat God die rebelse sondaar sal oordeel.  Judas se lesers was hiermee bekend, maar a.g.v. die vals leraars wat in die kerk ingesluip het, moes hy hulle daaraan herinner (v.5).

Die Israeliete in die woestyn (v.5)

Magda werk vir haar pa.  Sy kry ‘n goeie salaris met baie voordele.  Haar pa het egter in die laaste ses maande agtergekom dat sy lui is.  Hy het haar al hieroor aangespreek, maar sy wend nie eers ‘n poging aan om te verander nie.

Toe sy een oggend by die werk aankom, toe sit daar drie mense buite haar pa se kantoor.  ‘Wat doen júlle hier?’ wou sy weet.  ‘Ons is hier vir ‘n onderhoud,’ het hulle geantwoord.  Later in die dag het Magda se pa vir haar gesê sy is afgedank.  Sy kon nie glo dat haar eie pa haar sou afdank nie; sy het dit glad nie verwag nie.

God se volk was so.  Jesus het hulle uit Egiptiese slawerny verlos en deur die woestyn gelei (v.5, 1Kor. 10:4).  Dit is Hý wat die Rooi See vir hulle oopgemaak het, hulle met die wolk- en vuurkolom gelei het, brood, vleis en water in die woestyn voorsien het, en die wet deur Moses gegee het.

Maar t.s.v. sy goedheid aan hulle, het hulle nie geglo dat Hy hulle in die Beloofde Land kon inneem nie (Num. 14).  Hulle het Hom nie as die ware God gevrees, geëer, liefgehad en gehoorsaam nie, maar teen Hom gemurmureer.  Hy het toe besluit om oor die volgende 38 jaar almal bo 20 in die woestyn dood te maak.

Die duur les was dat hulle nie sy genade vanselfsprekend moes neem, bloot omdat hulle die uitverkore volk van God was nie.  Net so moet ons nie aanneem dat iemand deur God gestuur is en hemel toe gaan, net omdat hy agter ‘n kansel staan en Bybelverse aanhaal, of omdat hy Christelike boeke skryf nie.

As God se uitverkore volk onder sy toorn gesterf het, sal die vals leraars en dié wat hulle volg nie ligter daarvan afkom nie.  In Matt. 7:21-23 sê Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

Moenie te seker wees dat Prosperity predikers soos T.D. Jakes, Joel Osteen, John Hagee, Benny Hinn en Kenneth Copeland die ware God en sy evangelie verkondig, net omdat hulle Jesus se Naam noem nie.

[1] T.D. Jakes ontken die Drie-Eenheid.  Hy glo in modalisme, naamlik dat God nie in drie Persone bestaan nie, maar in drie vorme: partykeer is Hy die Vader, op ander kere die Seun, en dan weer die Heilige Gees - Hy is nooit al drie gelyk nie.[1]  Maar volgens Matt. 28:19 is die een God (‘Naam’, ekv.) al drie Persone gelyk: die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Jesus se doop in Matt. 3:16-17 wys dat God in drie Persone bestaan:  “En nadat Jesus [God die Seun] gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God [God die Heilige Gees] soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.  En daar kom ‘n stem [God die Vader] uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.”

[2] Joel Osteen het op Larry King live gesê dat Hindoes die Here liefhet, en dat hy nie verseker kan sê of Moslems, Jode en ateïste hemel toe gaan of nie.[2]

[3] John Hagee glo dat Jode wat die wet van Moses nakom gered is, al glo hulle nie dat Jesus die Messias is nie.  Volgens hom is dit ‘n mors van tyd om die evangelie met hulle te deel, aangesien hulle God se uitverkore volk is.[3]

[4] Benny Hinn het jare gelede gesê dat daar nege persone in die Drie-Eenheid is.[4]  Hy het erken dat hy verkeerd was,[5] maar glo nog steeds dat God nie eintlik groter is as ons nie, omdat ons ook gode is.[6]

[5] Kenneth Copeland glo dieselfde.[7]  In een preek sê hy:  ‘Adam was not subordinate [Afr. ondergeskik] to God... Adam, in the garden of Eden, was God manifested in the flesh.’[8]

Soos elke ander Prosperity prediker, belowe hierdie predikers materiële rykdom vir dié wat na Jesus toe kom.[9]  Maar volgens Luk. 9:23, 14:33 is dit nie Jesus se boodskap nie:  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg... So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”

Duidelik is die Jesus van die Prosperity Gospel nie die Jesus van die Bybel nie, en is die sg. ‘evangelie’ wat hulle verkondig geen evangelie nie.  John Piper sê:  ‘I don’t know what you feel about the Prosperity Gospel... But I’ll tell you what I feel about it: hatred.  It is not the gospel, and it’s being exported from this country to Africa and Asia, selling a bill of goods to the poorest of the poor: “Believe this message, and your pigs won’t die and your wife won’t have miscarriages, and you’ll have rings on your fingers and coats on your back.”

‘That’s coming out of America (!) - the people that ought to be giving our money and our time and our lives, instead selling them a bunch of [trash] called gospel.

‘And here’s the reason it is so horrible.  When was the last time that any American, African, Asian ever said: “Jesus is all satisfying,” because you drove a BMW?  Never!  They’ll say:  “Did Jesus give you that?  Well, I’ll take Jesus.”  That’s idolatry; that’s not the gospel.’[10]

Laat ons dan nie die Prosperity Gospel in ons huise en gemeentes verwelkom nie, maar eerder die ware evangelie glo.  Om die evangelie te glo, beteken dat Jesus vir jou alles is.  Dit beteken dat jy nie meer jou sonde wil hê nie, omdat dit jou van Hom af weghou.  Dit beteken dat die goeie werke waarop jy voorheen staatgemaak het, vir jou so walglik is soos om in hondemis te trap.

Dit beteken dat jy Jesus vir jou genoeg is, en dat Hy nie een van vele opsies is nie.  Dit beteken dat jy op sy geregtigheid vertrou om vir jou ‘n perfekte rekord voor God te gee, en dat jy op sy kruisdood vertrou om jou sondige rekord skoon te was.  Dit beteken dat jy in sy opstanding glo, en dat jy ‘n verlange het om hierdie lewe in jou hart te ervaar.  Die vraag wat jy dan vir jouself moet vra is dit:  glo jy regtig in Jesus, of is jy soos die duiwel wat net die feite in jou kop glo?

Die gevalle engele (v.6)

Toe ek studeer het, het een professor gesê dat ons nie weet waar die duiwel vandaan kom, of hoe hy tot ‘n val gekom het nie.  Vir my lyk dit egter of die Bybel duidelik vir ons sê.

Toe God in Gen. 1:1 die hemel en die aarde gemaak het, het Hy ook die engele gemaak (Eks. 20:11, Kol. 1:16).  Soos die res van die skepping was hulle goed (Gen. 1:31).  Satan was een van hierdie engele (Eseg. 28:12b-14).[11]  Saam met die ander engele was hy bly toe God die wêreld vir Adam, Eva en hulle nageslag voorberei (Job 38:4-7).

Êrens tussen Gen. 2 en 3 het hy egter hoogmoedig geraak en wou hy homself bo die Here verhef.  Hy en sy makkers is saam uit die hemel geskop (Jes. 14:12-15, Eseg. 28:15-17a, 1Tim. 3:6).  Hulle het demone geword.

Uit Gen. 6 blyk dit dat ‘n klomp engele weer daarna teen die Here in opstand gekom het.  Hy het hulle ook geoordeel en uitgeskop.  Sover ek kan agterkom is dit waaroor Jud. 6 gaan.

Dieselfde Jesus wat die Israeliete in die woestyn gestraf het (v.5), het die ongehoorsame engele geoordeel (v.6).  Hulle het buite die gesag en perke beweeg wat Hy vir hulle gestel het (v.6).  Om Judas se woorde te verstaan moet ons Gen. 6:2 bestudeer:  “die seuns van God [het gesien] dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.”

Dit mag wees dat die seuns van God na hemelwesens verwys (soos in Job 1:6, 2:1, 38:7), maar volgens Matt. 22:30 trou engele nie.  Sommige dink dat die seuns van God na wellustige konings verwys wat vir hulleself baie vroue geneem het (1Kron. 28:6, 1Kon. 11:1-3).

Maar as ons Gen. 6:2 en Jud. 6 met mekaar vergelyk, lyk dit of ons die bg. twee interpretasies moet kombineer.  Die engele het hierdie konings tot wellus versoek.  Gevolglik het die Here hulle uit die hemel geskop, en het hulle gevalle engele of demone geword.  Volgens Judas het Jesus die engele met ewige boeie in die onderaardse duisternis gebind, en hou Hy hulle daar tot die finale oordeel (v.6, 2Pet. 2:4).

‘Moet daarom nie vir die vals leraars luister nie; hulle lering kom van die duiwel af.  As jy dit volg, sal jy saam met hulle en die gevalle engele in die hel wees.’  Dit is basies die punt wat Judas in v.6 vir sy lesers wil oordra.

Jy kan dit nie bekostig om met vals lering te speel nie.  Jou ewige siel is op die spel.  Moenie vir jouself sê:  ‘Alhoewel profeet so-en-so slegte dinge preek, sê hy ook baie goeie dinge.  Wanneer ek dus sy boeke lees en sy preke luister, sal ek die vis eet en die grate uitspoeg.’

Volgens v.6, 23 speel jy met vuur as jy dit doen (letterlik en figuurlik).  Die demone wat in Gen. 6:2 die konings versoek het, sit ook agter die vals leraars.  Wanneer iemand dan na vals lering luister, is daar demoniese magte aan die werk (1Kor. 10:19-20, 1Tim. 4:1-2).  Omdat hulle duisende jare meer ervaring as jy het, kan hulle jou maklik uitoorlê.  Jy gaan hulle nie met brute breinkrag of menslike logika in ‘n hoek in redeneer nie.

Vermy eerder hulle slinkse lering.  Bly weg van hulle preke en boeke af.  Lees die Bybel.  Vul jou hart en gedagtes met goeie Bybelse lering.  Ek het in die vorige preek ‘n paar goeie predikers en outeurs se name genoem.  Min moderne predikers is beter as John MacArthur, R.C. Sproul, Steve Lawson, John Piper en Voddie Baucham.  Jy kan hulle preke gratis van die internet aflaai.

Sodom en Gomorra (v.7)

Oor die afgelope paar jaar het die gay debat in die NG-Kerk opspraak in die media veroorsaak.  Maar eintlik behoort daar nie ‘n debat te wees nie, omdat Jud. 7 en soortgelyke tekste die kwessie duidelik maak:  homoseksualiteit is sonde.

Soos wat Jesus die rebelse Israeliete en gevalle engele geoordeel het (v.5-6), het Hy vir Sodom, Gomorra en die omliggende stede geoordeel (v.7, Gen.19).  Baie van die mense in hierdie stede was homoseksueel.  Sodom se mans was bv. so wellustig, dat hulle met Lot se twee gaste (engele wat as mans verskyn het) gemeenskap wou hê.

Volgens Judas het hierdie mense ‘n onnatuurlike begeerte gehad (v.7).  Van die begin af het God die mens man en vrou gemaak.  Vir ‘n man of vrou om dan met iemand van dieselfde geslag gemeenskap te soek, is haatlik, onnatuurlik, boos en pervers (Rom. 1:26-27).  Omdat Sodom, Gomorra en die omliggende stede dit begeer het, het Jesus hulle met vuur uit die hemel verwoes (Gen. 19:24, Deut. 29:23).

Toe Hy die stede klaar verwoes het, het hy die inwoners in die hel gegooi (v.7).  Die swael en vuur waarmee Hy die stede vernietig het, was maar net ‘n voorsmakie van die ewige vuur van die hel (Matt. 25:41, Mark. 9:48, Op. 20:10, 15).  Deur sy verwysing na die geskiedenis van Sodom en Gomorra, wil Judas vir sy lesers wys wat Jesus met die losbandige vals leraars en hulle volgelinge sal doen.

Ware gelowiges kan hulle natuurlik aan seksuele immoraliteit skuldig maak (soos koning Dawid).  Maar as seksuele losbandigheid ‘n leraar se leefstyl kenmerk, moet ons erken dat hy nie net ‘n gelowige is wat oor die tou getrap het nie - hy is ‘n vals leraar.

In die afgelope 10 tot 15 jaar het ons twee sulke gevalle in ons assosiasie van gemeentes gehad.  Dit het uitgekom dat twee van ons leraars al vir jare losbandige lewens lei.  Dit het op die lappe gekom en Jesus se Naam deur die modder gesleep.

In 2010, terwyl Benny Hinn besig was om van sy vrou te skei, het hy en Paula White drie nagte in ‘n vyfster hotel in Rome deurgebring.  Hinn het onder ‘n vals naam ingeboek.  Die National Enquirer het fotos geneem van hoe hulle by die hotel uitloop en hande vashou.  Beide van hulle het erken dat hulle ‘n verhouding gehad het, maar het gesê dat dit nie immoreel was nie.[12]

‘n Mens voel amper vuil as jy hierdie dinge sê.  Ek wil nie soos wêreldse tydskrifte en koerante wees wat dit geniet om in mense se persoonlike lewens in te meng en hulle skandes uit te blaker nie.

Maar ons kan dit ook nie onder die mat invee nie, veral nie as hulle hulleself evangelie-predikers noem nie.  Dit is nodig om hulle skandes uit te wys, sodat mense nie hulle lering sal volg en dink hulle bedienaars van Christus nie.  Almal moet weet dat hulle vals leraars is.  Jesus het van die vals leraars gesê dat jy hulle aan hulle vrugte sal ken (Matt. 7:20).

Dit is presies wat ons in hierdie mense se lewens sien.  Dat hulle vrugte dodelik giftig is, is nie maar net ‘n sprokies verhaal soos in Sneeuwitjie nie.  Dit is ‘n feit.  Daarom voel ek dit so dringend om jou teen hulle leuens te waarsku.

[1] http://thepottershouse.org/explore/belief-statement/ EN http://www.equip.org/article/concerns-about-the-teachings-of-t-d-jakes/

T.D. Jakes het blykbaar gesê dat hy nou in die Drie-Eenheid glo, maar in die geloofsbelydenis van hulle gemeente se webtuiste, staan dit steeds dat God in drie vorme bestaan.

[2] https://www.youtube.com/watch?v=pKF_QgNezBY

[3] http://www.equip.org/article/pastor-john-hagee/

[4] https://www.youtube.com/watch?v=beiSK3kxh4U

[5] John MacArthur, Strange Fire, Nelson Books, 2013, pp. 13, 268

[6] John MacArthur, Charismatic Chaos, Zondervan Publishing House, Grand Rapids: Michigan, 1992, p. 334 EN Praise-the-Lord: Praise-a-Thon, Trinity Broadcasting Network, 6 Nov. 1990 aangehaal in Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson, Nashville: Tennessee, 2009, p. 381 n. 53

[7] Strange Fire, p. 11

[8] Kenneth Copeland, Following the Faith of Abraham I (audio tape, side 1), aangehaal in Hanegraaff, Ibid., p. 375 n. 13

[9] Ek sal in die volgende preek hierop uitbrei.

[10] https://www.thegospelcoalition.org/article/story-behind-john-pipers-most-famous-attack-on-the-prosperity-gospel/

[11] Sy naam was natuurlik nie Satan toe hy ‘n goeie engel was nie.  Alhoewel Jes. 14 en Eseg. 28 van konings en prinse praat, verwys dit ook na die bose magte wat agter hulle staan (vgl. Dan. 10).

[12] Strange Fire, p. 64

[/column]

Kategorieë