Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 January 2019

Hoekom bestaan jy?

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Image result for meaning of life

Deuteronomium 6:5

Bestaan jy om geld te maak, die wêreld se plesiere te geniet of by jou familie te wees? Nee, want wat sal van hierdie dinge word wanneer jy doodgaan? Dalk sê jy soos ateïste dat daar nie ‘n rede is vir jou bestaan nie. Maar is jou lewe regtig niks meer as die produk van toeval, sodat daar in essensie nie regtig ‘n verskil is tussen jou en ‘n piesang nie? Is jou lewe regtig doelloos en rigtingloos? In daardie geval het jy rede om depressief te wees en dalk selfs jou eie lewe te neem.

Volgens Deut. 6:5 bestaan jy om die Here lief te hê met jou hele wese. As daar geen God is nie, is daar uiteindelik nie ‘n rede vir hoekom jy bestaan nie. Net die Here kan maak dat die lewe ‘n doel het.

  1. Wie is die God wat jy moet liefhê?

Die Hindoes het baie gode. Party reken daar is 33, terwyl ander dink dat daar 33 miljoen of selfs tien keer soveel is. Blykbaar is daar omtrent 4200 godsdienste ter wêreld. Wat sê die Bybel hiervan? In 1Kor. 8:4-6 lees ons: “ons [weet] dat ’n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.”

Wie is dan die God wat jy moet liefhê? In Deut. 6:4 lees ons: “Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here”. Soos reeds gesê, is daar net een God (vgl. Jes. 45:5-6, 14, 18, 21-22). Wie is Hy? Deut. 6:4 sê dat Hy ‘n enige Here is. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word [echad], is dieselfde as in Gen. 2:24. Dáár lees ons van ‘n man en sy vrou wat een word. Dit gaan dus oor twee persone wat een is. Net so is die Here van Deut. 6:4 meer as een Persoon, alhoewel Hy net een God is.

Volgens Ef. 4:6 is hierdie een God die Vader. Volgens Joh. 20:28 is Jesus ons Here en God. Volgens Hand. 5:3-4 en 2Kor. 3:17-18 is die Heilige Gees ons Here en God. By Jesus se doop sien ons al drie Persone saam (Matt. 3:16-17). Weereens is dit dan duidelik dat daar drie Persone is, maar net een God. Dan is dit ook heeltemal veilig om te sê dat die enige Here van Deut. 6:4 die Vader, die Seun en die Heilige Gees is—drie unieke Persone wat elkeen volkome God is, terwyl daar terselfdertyd net een God is.

Volgens Deut. 6:5 is dít die God wat jy moet liefhê. As jy enige ander god liefhet, mis jy die doel van die lewe en bestaan jy tevergeefs. Let ook asb. op dat die opdrag in Deut. 6:5 persoonlik is. Jy kan nie net die Here in ‘n groep liefhê soos jongmense wat in die bondel vry nie. Moenie dink dat jy Hom liefhet, omdat jou ma of ouma Hom liefgehad het, of omdat jy ‘n gemeente besoek waar die mense Hom liefhet nie. ‘Het jy Hom persoonlik lief?’ is die vraag wat jy jouself moet afvra.

Wat beteken dit om die Here lief te hê? Dit beteken dat jy Hom as die waardevolste Persoon in die heelal beskou. Jy vrees, respekteer, eerbiedig, aanbid, bewonder en gehoorsaam Hom. Jy wy jouself geheel en al aan Hom toe. Jy het lief wat Hy liefhet en haat wat Hy haat. Hy is gedurig in jou gedagtes. Jy praat met Hom en van Hom. Jy wil Hom tevrede stel. Jy is bedroef wanneer jy sonde doen en Hom nie tevrede stel nie.

Kan jy eerlik sê dat jy hierdie God liefhet? As jy ‘n Christen is, weet jy dat jou liefde nie volmaak is nie. Maar jy wíl Hom meer liefhê. Hoe doen ‘n mens dit? Dit bring my by die volgende vraag.

  1. Hoe moet jy Hom liefhê?

Wat is die verskil tussen ‘n pad, ‘n weg, ‘n laan en ‘n straat? Eintlik is daar nie ‘n verskil nie. Net so praat Deut. 6:5 nie van verskillende dinge wanneer dit sê dat jy die Here met jou hele hart, jou hele siel en al jou krag moet liefhê nie. God gebruik drie terme om te beklemtoon dat jy Hom met jou hele wese moet liefhê: met alles wat jy is en het. Een kommentaar parafraseer die vers soos volg: ‘“Love the Lord your God with total commitment...with your total self...to total excess.” Loving God should be “over the top!”’ [C.J.H. Wright aangehaal in G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament (Grand Rapids: Baker Academic, 2007), 80-81].

Jy moet die Here liefhê met jou hele hart. In die Bybel spreek jou hart van die hele innerlike mens. Alles wat jy is, dink, doen, begeer, voel en sê, kom uit die hart (Spr. 4:23, Matt. 5:28, 15:19, Luk. 6:45). Jou liefde moet dus nie net uiterlik wees nie. Moenie voorgee nie. Jou liefde vir God moet uit die diepte van jou menswees kom.

Liefde met jou ‘hele hart’ impliseer dat jou hart nie verdeeld is nie. Moenie ‘n deel van jou lewe vir die Here gee en ‘n deel vir iets of iemand anders nie (Jak. 4:4-5). Vra dat Hy jou hart sal verenig, sodat jy jouself heeltemal aan Hom toewy (Ps. 86:11).

Jy moet die Here liefhê met jou hele siel. Die siel is nog ‘n manier om van die innerlike mens te praat. Ou teoloë soos Calvyn (1509-1564) het geglo dat jou gedagtes en jou wil of emosies uit die siel ontstaan [John Calvin, The Intitutes of the Christian Religion (Grand Rapids: Christian Classics Ethereal Library, 1845 [1536]), Book 1, ch. 15, par. 7, p. 171. Vertaal deur Henry Beveridge (1799-1863)]. Bloot die feit dat jy die Here met jou siel kan liefhê, wys dat jou verstaan van Hom en die emosie wat jy voel nie uit jou brein kom nie, maar uit jou siel. Jou brein speel ‘n rol in hoe jy iets of iemand verstaan en daaroor voel, maar jou gedagtes en emosies ontstaan in jou siel.

Hoe weet ek dit, veral as verse soos Pred. 9:5-6, 9-10 sê dat wanneer jy doodgaan, jy nie meer dink en voel nie? Mense wat in sieleslaap glo, hou van hierdie vers. Maar die teks sê dat wanneer jy sterf, jy nie meer oor die dinge wat in hierdie wêreld of ‘onder die son’ gebeur, dink en voel nie.

Die res van die Skrif wys dat jy ná die dood nog oor Jesus en die dinge van die hemel dink en voel (Luk. 16:22, 25, 2Kor. 5:8-9, Op. 6:9-11). Indien jy dan, nadat jy dood is nog kan dink en voel, kom jou gedagtes en emosies nie uit jou brein nie, maar uit jou siel.

In Joh. 12:27 en 13:21 was Jesus ontsteld in sy siel, en in Matt. 26:38 was Hy hartseer in sy siel. Die digter van Ps. 42:6-7 het gesê dat sy siel depressief voel. Dawid het gejuig en die Here met sy siel geprys (Ps. 103:1-2). Jesus en die psalmskrywers het eers iets omtrent hulle omstandighede verstaan, voordat hulle ‘n emosie gevoel en deur hulle wil daaraan uiting gegee het [Stuart Olyott het my gehelp om die Bybel se lering oor die siel (die verstand en die emosies of die wil) te verstaan. Ek het dit in sy boek, Something Must Be Known and Felt (Bridgend: Bryntirion Press, 2014, 13-32) geleer]. Kom ek gee ‘n voorbeeld om te verduidelik hoe dit werk.

Alta verstaan dat haar rooi bloes en die blou een ewe mooi by haar romp sal pas. Dit pla haar nie juis watse een sy aantrek nie, maar op die einde neig sy (deel van haar emosie) na die rooie en dra sy dit. Toe sy egter agterkom dat daar ‘n gat in is, toe verstaan sy dat sy verleë sal voel as iemand dit sien. Sy het nie meer tevrede gevoel met die rooi bloes nie en het besluit om die blou een te dra.

As dit dan Bybelse lering oor die siel is (die verstand, die emosies en die wil), verheerlik dit nie die Here wanneer jy ‘n emosie ervaar, sonder dat jy eers iets verstaan het nie. Wat bedoel ek? Christiaan se vriend nooi hom na ‘n erediens toe. Hy dink nie oor die liede se woorde nie, maar sien hoe ander mense hulle oë toemaak en die samesang geniet. Die dromme is hard, die kitaarspel goed en hy hou van die liede se wysies. Die musiek hou vir meer as ‘n uur aan. Daar is ‘n rookmasjien en gekleurde ligte. Hy hoor hoe die mense in brabbeltale praat. Hy verstaan nie wat hulle sê nie, maar hy geniet die atmosfeer en voel naby die Here.

Die preek is ook lekker. Die spreker snaaks en hou sy aandag. Vir ‘n oomblik trek iets sy aandag af en vir byna twee minute luister hy nie na die preek nie. Skielik sien hy hoe die mense rondom hom huil. Hy voel sommer emosioneel en kry trane in sy oë. Na die diens besluit Christiaan dat dit die kerk is vir hom. Sy besluit is egter nie gebaseer op iets wat hy verstaan het nie, maar op die emosie wat net sowel deur dwelms of die atmosfeer van ‘n rock konsert veroorsaak kon word.

Om te sê dat jy die Here liefhet sonder dat jy iets oor Hom verstaan, verheerlik Hom nie. Hy wil tog hê dat jy Hom met jou verstand moet liefhê. Baie mense het die Here nie lief met hulle verstand nie. Hul soek bv. motiverende preke wat hulle lekker laat voel, en hou nie van lerende preke waarin hulle moet dink nie. Maar hoe sal jy die Here met jou verstand liefhê as jy nie diep dinge oor Hom wil leer nie? En hoe sal jy Hom met verstand liefhê as jy net Christelike storieboeke lees, en nie ook boeke soos Iain Murray se biografie oor Jonathan Edwards of Knowing Christ van Mark Jones nie?

Hoe sal jy Hom met jou verstand liefhê as jy elke dag net dagstukkies lees en die kort gebedjie onder aan die bladsy opsê? Is dit nie beter dat jy ‘n Psalm of ‘n paar verse uit Romeine lees, dit oordink en daaroor bid nie? Hoe sal jy die Here met jou verstand liefhê as die liede wat jy in die kerk wil sing ‘n mooi wysie het, maar oppervlakkige woorde? Hoe sal jy Hom met jou verstand liefhê as jy nie dink oor wat jy sing nie? Hoe sal jy Hom met jou verstand liefhê as sonde jou gedagtes vul?

Hoe sal jy Hom met jou verstand liefhê as jy nooit diep oor Hom dink nie? Dink bv. vir ‘n oomblik oor wat dit beteken dat God ‘n oneindige Gees is (Ps. 139:7-10, Jes. 40:13 [ESV], Jer. 23:23-24, Joh. 4:24). Dit beteken Hy is onbeperk—Hy begin nêrens en eindig nêrens. Hy het nie ‘n verlede, hede en toekoms soos ons nie, maar is die Ewige ‘Nou’: Ek Is wat Ek Is (Eks. 3:14). Hy is buite tyd, sodat een dag vir Hom soos ‘n duisend jaar is en ‘n duisend jaar soos een dag (2Pet. 3:8).

As ‘n oneindige Gees is Hy oral in sy volheid teenwoordig op dieselfde tyd. Maar alhoewel Hy oral in die heelal is, is Hy nie daarvan afhanklik nie en word Hy nie daarin vasgevang nie, aangesien alles in en deur Hom bestaan (Gen. 1:1, 1Kon. 8:27, Joh. 1:1-3, Hand. 17:25, 28, Rom. 11:36, Kol. 1:17). Voor Hom het niks bestaan nie. Daar was nie ‘n groot swart ruimte met God in die middel nie. Dit was net God (Ps. 90:2).

Dit is maar net ‘n enkele gedagte oor God. As sulke gedagtes nie maak dat jy Hom bewonder en gehoorsaam nie, verstaan jy Hom nie en het jy Hom nie lief met jou verstand nie. Natuurlik het niemand van ons Hom lief soos wat ons moet nie. As ons dit kon doen, sou Hy ons aanvaar het (Luk. 10:27-28). Maar ons kan nie. In ons natuurlike toestand haat ons die Here en het ons onsself en ander mense of dinge lief met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand. Ons beskou onsself as die middelpunt van die heelal en bejammer onsself, baklei met ander, of kom in opstand teen die Here as dinge nie gebeur soos óns wil nie.

Party sê dat hulle God liefhet, maar as jy na hulle lewens kyk, dan aanbid hulle ‘n god wat nie omgee oor hulle sonde nie en wat hulle nie daarvoor sal straf nie. Dit is ‘n god van hulle eie verbeelding. Die God van die Bybel is ontevrede dat die mens, wat Hy na sy beeld gemaak het, Hom onakkuraat weerspieël en sy heilige Naam deur die modder sleep. Omdat ons sy ewige en waardige Naam so belaster, verdien ons die grootste straf denkbaar, naamlik die hel.

Maar eerder as om ons summier hel toe te stuur, het Hy aarde toe gekom. Hy het volkome mens geword en onder sy eie wet kom staan. Vir elke sekonde van sy 33 jaar hier op aarde, het Jesus die Vader liefgehad met sy hele hart, sy hele siel en sy hele verstand, en het Hy die wet volmaak onderhou. Die straf wat ons moes kry omdat ons die Here haat, het Hy namens ons gedra aan die kruis.

As jy jou sonde erken, berou het daaroor en in die lewende Christus glo, sal God jou vergewe en sy Seun se perfekte liefde vir Hom aanvaar, asof dit jý was wat Hom so liefgehad het. Hy het ook sy Gees in ons harte gestuur, sodat ons God se liefde kan verstaan en ervaar. Die Gees help ons om, soos koning Josia in 2Kon. 23:25, die Here met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand lief te hê.

Ons liefde vir God is nie perfek nie, maar met die Gees se hulp kan ons Hom opreg liefhê en kan jou liefde groei, totdat jy Hom by die wederkoms perfek sal liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand. Sodra jy Hom sien sal jy weet dat Hy jou hiervoor gemaak het en dat dit die rede is hoekom jy bestaan. Om die Here lief te hê sal vir so natuurlik wees soos wat dit vir die son is om te skyn, vir ‘n voël om te vlieg of vir ‘n vis om te swem.

[/column]

Kategorieë