Romeine 5:5b-11
Wanneer ek evangelisasie doen is my eerste vraag altyd: gaan jy hemel as jy doodgaan? Die meeste mense sê ja. My volgende vraag is: hoe weet jy jy gaan hemel toe? Toe oom Andries Rossouw in ons gemeente hierdie week oorlede is, toe vra ek dit vir die verpleegster by sy huis. Sy het soos baie mense gesê sy weet nie.
Ander mense is seker dat hulle hemel toe gaan. Hulle dink so omdat hulle die wet probeer nakom of so iets. Min mense glo dat hulle hemel toe gaan omdat God iets gedoen het. Volgens Rom. 5:5b-11 het Paulus hom berus in God se liefde wat Hy deur Jesus se kruisdood bewys het. Hy het geweet hy gaan hemel toe a.g.v. dit wat Jesus gedoen het, en nie a.g.v. homself nie.
- God se liefde wys dit (v.5b-8)
[a] Die ervaring van God se liefde (v.5b)
In die 17de eeu het Izaac Walton oor Richard Sibbes gesê: ‘Heaven was in him, before he was in heaven’ [Joel R. Beeke & Randall. J. Pederson, Meet the Puritans (Grand Rapids: Reformation Heritage Books, 2006), 535]. Die hoop van die hemel beskaam nie (v.5a). Ons hoop om by die Here te wees sal nie in stukkies breek nie. Hoe weet ons dit? Die liefde van God wat ons deur sy Gees in ons harte ervaar is ‘n klein voorsmakie van die hemel (v.5b).
Ons ervaar hierdie liefde veral wanneer ons swaarkry (v.3). Dit vul ons harte en loop oor soos wyn (v.5b, Ps. 23:5, Tit. 3:5-6). As jy dit eers gesmaak het, soek jy die pure en volle liefde van die hemel. Die Heilige Gees waarborg dat jy dit eendag sal kry (2Kor. 1:22, 5:5, Ef. 1:13-14, 4:30).
Die wêreld soek liefde, maar bly leeg. Hulle is opsoek na liefde en skryf alewig nuwe liefdesliedjies. Voel jy miskien leeg? Is jy opsoek na liefde? Ontvang dit deur die Gees en vra Hom om dit vir jou te gee (Gal. 5:22, Ef. 3:16-19). Om die Gees te ontvang moet jy Jesus hê (8:9). En om Jesus te hê moet jy in Hom glo, jou bekeer, en sy verlossing pleit totdat Hy jou antwoord (Joh. 1:12).
Onthou dat die ervaring van liefde fluktueer. Jy kan dus nie jou sekerheid van liefde en die hemel op jou emosies bou nie. Soek eerder na die objektiewe bewyse van God se liefde in die kruis.
[b] Die bewys van God se liefde (v.6-8)
Ek onthou twee gevalle waar mense my aangeval het, en toe gesê het dat hulle my liefhet. My reaksie was: ‘Ek glo julle nie. Julle dade bewys die teendeel.’ Ek is seker dat ek dit ook al met ander gedoen het.
Die Here sê nie net dat Hy ons liefhet nie; Hy wys dit (v.6-8, Spr. 20:6, 1Joh. 3:18). Hy het sy liefde in die dood van sy Seun gewys (v.6-8, Joh. 3:16, Gal. 2:20, 1Joh. 3:16). Die Heilige Gees dra hierdie liefde aan ons oor (v.5b).
Jesus het nie vir juwele, regverdige en goeie mense, sy beste vriende gesterf nie (v.7, 3:10-12). Hy het vir mense gesterf wat swak was weens die sonde, die dood, en die hel (v.6, Ef. 2:1-3). Hy het vir die goddelose gesterf: vir mense wat sonder God is en glad nie soos Hy nie (v.6). Hy het vir sondaars gesterf wat in rebellie teen Hom lewe (v.8, 3:23). Hy het vir sy vyande gesterf (v.10). Dít is liefde (v.6, 8).
Jesus het op die regte tyd vir ons gesterf (v.6). Wat beteken dit? Hy het gesterf toe die maat van ons sondes vol geword het, toe God se raadsplan dit bepaal het, toe die Paasfees gehou is, en toe Dan. 9:24-27 se profesie vervul moes word (v.6, Joh. 2:4, 7:30, 8:20, 12:23, 27, 13:1, 17:1, Gal. 4:4).
Soos wat ‘n lam in ‘n mens se plek geoffer is, het Jesus in ons plek gesterf. Soos wat Jesus en Barabbas plekke geruil het, het Jesus in ons plek gesterf. Hy het as ons plaasvervanger gesterf (v.6, 8, Jes. 53:4-6). Hy het sy siel, lewensbloed, en laaste asem gewilliglik gegee (Joh. 10:18). Hy het die eensame verlatenheid van die hel beleef toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het (Matt. 27:46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Dít is liefde.
Liefde is meer as net opoffering. Jy kan opoffer sonder om lief te hê (1Kor. 13:3). Liefde is ‘n absolute toewyding. Dit soek ander se belang, begeer hulle voordeel, en neem stappe om dit te bereik. Jesus het dit gedoen.
Maar ons moenie dink dat Hy gemaak het dat God ons liefhet nie. God het ons liefgehad nog voordat Jesus aan die kruis gesterf het. Hy het ons liefgehad met ‘n ewige liefde (Jer. 31:3). Sy liefde is so groot soos Hy self (1Joh. 4:8). Die kruis is eerder die uitdrukking van sy liefde (v.8, Joh. 3:16, 1Joh. 4:10).
This must be a cross of love
for God to bruise His only Son.
Jesus, what a sacrifice to reach us.
It had to be a cross of love.
-Steve Green & Twila Paris-
Die Gees stuur hierdie liefde na ons harte toe soos strale uit die son (v.5b). Soek daarom die son van liefde in Jesus se kruisdood voordat jy die strale van ervaring deur die Heilige Gees soek. Sien rooi ligte as die kruis nie meer vir jou belangrik is nie.
Is Jesus se kruisdood nog deel van jou gebede? Is dit sentraal in jou gedagtes? Herdenk jy dit gereeld in die nagmaal? Kom jy gereeld na die kruis toe om jou sondes te bely? Praat jy gereeld oor die kruis met ongelowiges as jy die evangelie met hulle deel? Leer jy dit vir jou kinders en kleinkinders? Preek jou ds. gereeld daaroor?
Vra vergifnis as jy nie gereeld aan die kruis dink nie. Begeer dit meer. Kom na die kruis toe wanneer jou sonde pla. Kyk meer na die kruis as na jou sonde (v.6-8). Soek dit as jy God se liefde betwyfel. Daardeur sal jy weet dat God jou liefhet en dat jy hemel toe gaan.
- God se groter werke wys dit (v.9-11)
Het jy al ooit gehoor van ‘n a fortiori argument? Rom. 8:32 gee vir ons ‘n voorbeeld hiervan: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
As God die groot ding vir ons gedoen het, sal Hy sekerlik ook die kleiner ding doen. Dit is wat ek met God se ‘groter werke’ bedoel. Wat is die groter werke waarop die kleiner werke outomaties volg?
[a] Regverdigmaking (v.9)
Aan die kruis het Jesus jou skuld betaal en ‘n oneindige bedrag in jou rekening inbetaal (v.9, 2Kor. 5:21). Maar jy kry eers die kaart om die voordele daarvan te trek wanneer jy in Hom glo (v.1, Fil. 3:9).
Deur Jesus se kruisdood weet jy jy gaan hemel toe. Sal Jesus jou straf dra, die duur prys vir jou sonde betaal, en jou dan hel toe stuur? Nee (v.9). As Hy jou van God se toorn gered het deur die kruis, sal Hy jou daarvan red op die oordeelsdag (v.9, 2:5, 8:1, 1Tess. 1:10).
Die kruis verseker dus ‘n volkome en finale redding vir God se volk, sy kerk, en sy skape (Matt. 1:21, Joh. 6:37, 10:11, 11:51-52, Hand. 20:28, Ef. 5:25, Tit. 2:14). Hoe weet jy jy is een van sy skape?
As jy ‘n skaap is sal jy Jesus en sy kruisdood liefhê (1Kor. 2:2, Gal. 6:14). Jy sal die sonde haat wat sy kruisdood veroorsaak het. Jy sal jou bekeer en wens om nie sonde te doen nie. Jy sal ‘n sondelose hemel begeer. Enige vorm van ‘Christenskap’ waarin Jesus se kruisdood nie alles en sentraal is nie, is geen Christenskap nie.
[b] Versoening (v.10-11)
Die HAT se nie-godsdienstige definisie vir versoening klink so: ‘Herstel van vrede of vriendskap; vredemaking.’ Wat is betekenis van versoening in die konteks van Rom. 5?
God het ons geskep. Ons haat Hom egter, lewe teen Hom vir onsself en ons sonde, en is Hom vyandig gesind. Hy sê nie vir ons: ‘Smile, Jesus loves you!’ nie, maar haat ons sonde, is kwaad vir ons, is ons Vyand, en is aktief teen ons (v.10, Ps. 7:12, Jak. 4:4).
Aan die kruis het Jesus egter die straf vir ons sonde gedra, sy Vader se toorn bedaar, die vriendskap tussen ons herstel, en vrede gemaak (v.10, 1, 3:25, 2Kor. 5:18-19, Kol. 1:21-22). God is nie meer kwaad vir ons nie, maar is met ons versoen en ons met Hom.
En sal Hy versoening bewerk met sy vyande en dan sy vriende vergeet (v.10)? Sal Hy versoening bewerk deur sy dood, terwyl sy lewe niks beteken nie? Hy het ons gered deur sy lewe (v.10). Hy het hierdie lewe in ons gegee deur sy Gees. Hy lewe vir altyd om vir ons in te tree (8:34, Heb. 7:25). Hy sal ons tot die einde en uiterste toe red. Hy sal ons van die hel red vir hemel.
Klink dit goed? Dit raak nog beter (v.11). Jy is nie net met die Regter versoen maar moet die hof verlaat nie. Nee! Wees bly, wees bly, wees bly (v.11, 2-3)! Wees bly dat Hy jou aangeneem het, jou Vader is en jou Here Jesus Christus (v.11).
Verbly jou in Hom (v.11) al is jou omstandighede sleg. Oom Andries Rossouw is dood. Ons kerk word beproef. Ons land is korrup. Miskien is jy siek. Dalk is jou ouderdom vir jou ‘n beproewing. Jy is moeg, werkloos, jou emosies wankel en dit voel of die Here ver is. Maar t.s.v. al hierdie dinge kan jy jou in die Here verbly.
God en die liefde wat Hy aan die kruis bewys het is die rots wat die storms van beproewing deur die eeue weerstaan het. Ons blydskap in Hom en sy kruisdood help ons om bly te wees t.s.v. die beproewing wat ons moet deurmaak (v.3). Ons hoef nie te wag vir die hemel voordat ons bly is nie. Omdat ons met die Here versoen is, kan ons ons nou al in die Here verbly (v.11).
En tog weet ons dat ons blydskap nog nie volkome is soos oom Andries s’n in die hemel nie. Ons kyk terug na die fontein van die kruis vir ons blydskap en geniet die strome daarvan in die hede. Maar ons sien uit na ‘n wêreld vol liefde, blydskap, en vrede in die hemel. Vir nou is dit die belangrikste om soos Paulus, oom Andries Rossouw, en ander gelowiges seker te maak jy sal daar wees.