Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 August 2017

Hoe versoek die duiwel jou?

Serpent and apple

Van Eden af het die duiwel se taktiek nie verander nie.  Hy is soos ‘n vrou wat net vyf disse kan maak, maar haar gaste beïndruk omdat sy elke keer ‘n ander sous oor gooi.  Ons is nie onbekend met Satan se planne nie (2Kor. 2:11).  Matt. 4:1-11[1] wys vir ons hoe die duiwel[2] vir Jesus versoek[3] het, en hoe hy ons versoek.

 

Hy beskuldig jou (v.1)

Kallie en Sandra is in graad 8.  ‘Kry my pouse agter mnr. Geldenhuys se klas, dan rook ons,’ sê hy vir haar.  Mnr. Geldenhuys het haar gevang waar sy met die pakkie sigarette vir Kallie gewag het.  Kallie het gemaak of hy van niks weet nie, en het vir Sandra beskuldig.

 

Dit is presies wat die duiwel doen.  As hy klaar vir jou gesê het om iets te doen, beskuldig hy jou.  Dit is immers sy natuur.  Duiwel (v.1) beteken tog ‘aanklaer’.  As jy ‘n gelowige is, kan hy jou nie by die Here aankla nie (Rom. 8:33).  Maar hy sal die verlede voor jou gesig gooi (dalk deur ander mense) en probeer om jou met skuld te oorlaai, selfs nadat jy jou sonde bely en laat staan het.  Hy sal selfs probeer om jou skuldig te laat voel dat jy versoek is.  Die voorbeeld van Jesus se lewe wys egter vir ons dat versoeking nie sonde is nie.

 

In sulke gevalle is dit goed om verse soos Heb. 10:17 en 1Joh. 1:9 te onthou:  “en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie... ...As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

 

Hy kom as jy sterk is (v.1-2)

Jare gelede het ‘n oom my daarop gewys dat Jesus ná sy doop versoek is, en dat die duiwel ons dikwels ná geestelike hoogtepunte versoek.  Moenie dink dat hy jou sal uitlos omdat jy geestelik sterk is, of omdat jy met geestelike dinge besig is nie.  Jesus was vol van die Gees toe Hy versoek is; die duiwel het gekom toe Hy soos Moses en Elia vir 40 dae gevas het (v.1-2, 3:16, Luk. 4:1, Eks. 34:28, 1Kon. 19:28).

 

Wees op jou hoede wanneer dit geestelik goed gaan, asook terwyl jy bid, die Bybel lees, sing en na die preek luister.  Satan sal alles in sy vermoë doen om jou oor sonde, jou besige program en ander probleme te laat dagdroom.  “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” (1Pet. 5:8).

 

Hy kom as jy swak is (v.2)

‘n Trop leeus vang die wildebees wat siek of swak is.  Net so sal die duiwel jou teiken as jy swak is.  Jesus was in die woestyn, en het vir 40 dae niks geëet nie (v.2).  Sy liggaam was swak.  Maar Hy het die toets deurstaan, en nie soos Israel geval toe hulle vir 40 jaar in die woestyn geswerf het nie, of soos Adam en Eva toe hulle van die boom se vrugte geëet het nie.

 

Pasop vir die versoeking as jy moeg, siek en oorwerk is, of as jy deur ‘n moeilike tyd gaan.  In sulke tye kan die duiwel jou maklik laat val.  As jy bv. lang ure werk, sal hy vir jou sê dat jy nie krag het om te bid en die Skrif te oordink nie.  Hy sal vir jou sê om nie kerk toe te gaan nie.  Soos Petrus in die tuin van Getsemane, sal jy slaap eerder as om geestelik wakker te wees (26:40-41).  In jou toestand van swakheid sal ‘n aantreklike man of vrou na jou probleme luister, en sal die duiwel jou versoek om in die strik te trap.

 

Hy is slinks (v.3)

Piet se Yorkshire terriër is kleiner as sy nr. 13 skoen.  Die hond is naam is Killer, en pas glad nie by sy grootte of geaardheid nie.  In v.3 word Satan die versoeker genoem (vgl. 1Tess. 3:5).  Hierdie naam pas by hom, omdat hy slinks is.  Die naam impliseer dat jy nie agterkom jy word gevang nie.

 

Hy versoek jou deur te sê dat die sonde lekker is, dat niemand sal uitvind nie, dat dit tot jou voordeel sal wees, dat dit ‘n klein sonde is, dat God jou altyd weer sal vergewe en dat heilige mense dit al gedoen het.  Om sy versoeking meer aanloklik te maak, versoek hy jou deur dié mense wat die naaste aan jou is.  Hy het vir Adam deur Eva versoek (Gen. 3:6), en vir Jesus deur Petrus (16:23).

 

Hy ken ook jou swakpunte.  As vroue en geld vir jou ‘n probleem is, sal hy jou nie versoek om dronk te word of te skinder nie.  Hy sal saam met jou vlees werk om jou te versoek (Jak. 1:14-15).  Natuurlik het Jesus nie ‘n sondige natuur gehad soos ons nie (Heb. 7:26), en het die versoeking vir hom net van buite af gekom.

 

Hy misbruik goeie begeertes (v.3)

Harry is baie lief vir sy vrou.  Om haar te verras leen hy R250 000 om haar op ‘n oorsese vakansie te vat.  Is dit verkeerd dat hy sy vrou liefhet, of dat hy haar wil bederf?  Was dit slim om skuld te maak wat hy nie kan bekostig nie?

 

Satan het nie dadelik vir Jesus met blatante sonde versoek nie (v.3).  Hy het God se goedheid in twyfel getrek, en vir Jesus gesê om nie langer vir sy Vader te wag nie.  ‘Dit is mos nie verkeerd om honger te wees nie; dit lyk ook nie of die Vader U gaan help nie.  Hoekom moet U buitendien vir die Vader wag as Hy gesê het dat U die Seun van God is, en as U self die klippe in brood kan verander (v.3-4, 3:16, Deut. 8:3)?’

 

Satan versoek ons om goeie dinge op verkeerde maniere te wil kry.  Dit is nie verkeerd as jy enkel is en wil trou nie.  Maar dit is verkeerd om te sê:  ‘Ek het al te lank vir die Here gewag; ek gaan maar met ‘n ongelowige trou.’  Dit is nie verkeerd as jy gelukkig getroud wil wees nie.  Maar dit is verkeerd om te skei en te dink dat dit die enigste manier is om gelukkig te wees.

 

Hy beïnvloed jou gedagtes (v.3, 5-6, 8-9)

Toe ek ‘n kind was het ons graag Tom & Jerry gekyk.  As Tom met Jerry baklei het, het daar ‘n rooi duiwel op die een skouer gesit, en ‘n wit engel op die ander een.  Ons weet natuurlik dat dit nie regtig so werk nie, en tog dink ons dat die duiwel in ‘n sigbare vorm aan Jesus verskyn het.

 

Hoe is dit versoeking as Satan in die vorm van ‘n gedrog na jou toe kom?  Satan is ‘n gees (Ef. 6:12); dit is wat die versoeking so subtiel maak.  Soos hy met ons doen, het hy vir Jesus in sy gedagtes versoek.  Jesus is in elke opsig soos ons versoek (Heb. 4:15); Hy weet hoe dit voel as slegte gedagtes soos vuil riool water deur jou kop spoel.  Hy het nie toegegee aan die versoeking nie.

 

Het Satan deur teleportasie (verskyn en verdwyn) vir Jesus na die hoogste punt van die tempel en na die berg toe gevat (v.5, 8)?  Persoonlik dink ek dat net God dit kan doen en Satan nie (Eseg. 8:3, Hand. 8:40).  Uit Mark. 1:13 lyk dit of Jesus vir die volle 40 dae in die woestyn was, en volgens Luk. 4:5 het Hy in ‘n oomblik die koninkryke van die aarde gesien.

 

Dit lyk dus of Satan Hom in sy verbeelding versoek het, soos wat hy jou laat dagdroom dat jy met Jannie baklei en hom doodmaak, dat jy met Retha getroud is en met haar slaap, of dat jy mnr. Populêr is.

 

Hy wil jou beskadig (v.5-6)

Aokigahara is ‘n Japanese woud wat ook as die selfmoord woud bekendstaan, omdat 100 mense per jaar hulleself daar doodmaak.  Hoekom doen hulle dit?  Hoekom vlieg Moslems in geboue vas en maak hulle bomme aan hulleself vas?  Hoekom skryf mense musiek en rekenaarspeletjies wat tieners aanmoedig om selfmoord te pleeg?

 

Die duiwel het vir Jesus in sy verbeelding aangemoedig om waaghalsig te wees en van die tempel af te spring (v.5-6).  Ek twyfel dus nie vir ‘n oomblik dat hy vir mense sê om hulle lewens te neem nie.  Hy is ‘n moordenaar wat mense aanhits om hulleself te beskadig (Joh. 8:44, Mark. 5:5).  Alhoewel ek nie glo dat depressie altyd sý werk is nie, moet jy rooi ligte sien as gedagtes van selfmoord in jou kop swem.  Die brullende leeu wil jou verslind; kry Bybelse hulp.

 

Hy volhard (v.5, 8)

Kan waterdruppels ‘n rots uithol?  Hoe?  Dit drup jaar na jaar daarop.  Miskien staan jy sterk teen die duiwel se versoeking.  Maar dalk sal hy met volharding regkry wat hy nie andersins kan nie.  Hy is soos ‘n klein hondjie wat aanhou om jou aan die hakskeen te byt, al het jy hom twee keer geskop.

 

Satan het nie gevlug toe Jesus hom die eerste keer weerstaan het nie (v.5, 8).  Volgens Mark. 1:13, Luk. 4:2 het Satan Hom vir die volle 40 dae versoek.  Die versoekings in Matt. 4:1-11 is maar net die rekord van hoe dinge geëindig het.  Volgens Luk. 4:13 het Satan Hom na 40 dae verlaat, maar weer teruggekom.

 

Moet dan nie geestelik slaap nie.  Die duiwel hou nie vakansie nie.  As jy wil hê hy moet vlug, moet jy volhard (Jak. 4:7).  Maar jy hoef nie te vrees nie.  God is sterker as Satan en sal jou teen die versoeking help (Rom. 8:31, 1Kor. 10:13, 1Joh. 4:4).

 

Hy verdraai die Bybel (v.6)

Colin glo dat voorspoed en rykdom altyd God se wil vir sy kinders is.  Ef. 1:3 sê immers dat Hy ons geseën het met alle seëninge in die hemel en op aarde.  Is dit wat Ef. 1:3 sê?  Nee.  Colin het die woorde ‘en op aarde’ bygevoeg.

 

Dit is hoe Satan ons versoek.  Hy plant verse in jou kop; hy haal dit buite konteks aan.  Soos in Gen. 3:1 voeg hy woorde by of laat hy dit weg.  In v.6 het hy Ps. 91:11-12 aangehaal:  “As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe:  Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.”

 

Maar die belofte van die Psalm is vir dié wat by die Here skuil, op Hom vertrou, Hom liefhet, Hom ken en Hom aanroep (Ps.91:1-2, 9, 14-15).  As jy so lewe en in ‘n moeilike situasie is, sal God sy engele stuur om jou te help.  Maar as jy jouself wil doodmaak, geld die belofte nie vir jou nie.

 

Pasop vir die duiwel.  As jy ‘n vers wil gebruik om jou sonde te regverdig, is dit nie die Heilige Gees nie maar die duiwel.  Wees ook versigtig vir vals lering wat van die duiwel af kom; hy werk deur mense (2Kor. 11:13-14, 1Tim. 4:1-3).  Hulle is gaaf en elegant.  Hulle gebruik die Bybel en hulle praat van Jesus.  Hulle skryf populêre boeke; hulle preek op Christelike TV kanale en radiostasies.  Hulle kan Christenskap vlot praat.  Maar eintlik is hulle wolwe in skaapsklere (7:15).

 

Hulle ontrafel nie ‘n Bybelteks om vir jou te wys waar hulle hulle idees vandaan kry nie.  Hulle gryp hier en daar na halwe verse, en haal dit buite konteks aan.  Hulle sê nie altyd dinge wat blatant verkeerd is nie, maar daar is sekere dinge waaroor hulle nie praat nie:  nederige selfverloëning, sonde en bekering, God se heiligheid, die oordeelsdag en die hel.  Hulle lering oor God se Wese en die Persoon en werk van Christus klink nie soos die Bybel s’n nie, en bots ook met hoe Christene dit deur die eeue verstaan het.  Soek daarom self die verse op en bel ‘n volwasse gelowige as jy moet.

 

Hy belowe goeie dinge (v.8-9)

Het jy al ooit gewonder hoe slim mense soos dokters, prokureurs en ingenieurs vir die Word of Faith beweging val?  Is dit nie omdat hulle teologie rykdom en plesier belowe nie?  Dit is ook die rede hoekom hierdie vals evangelie populêr is in armoedige Afrika en Asië.

 

Jesus was ‘n arm skrynwerker, en daarom het die duiwel probeer om Hom met aardse rykdom, roem en geld te vang (v.8-9).  ‘U hoef nie die pad van lyding te stap nie; daar is ‘n makliker manier om die koninkryke te kry,’ is basies wat hy gesê het (vgl. 26:39).

 

Hy sê dit nog steeds vir mense:  ‘Hou op om so ernstig te wees.  Jy hoef nie seks vir die huwelik te hou nie.  Dit sal finansieel beter wees as jy saam met jou meisie intrek.  Hoekom wil julle twee huise se huur betaal?’

 

Of hy sê:  ‘Dit is onmoontlik vir jou besigheid om te oorleef as jy volgens die reëls speel.  Ek sê nie jy moet steel nie, maar om alles aan SARS te rapporteer is onnodig.  Buitendien is hulle net so skelm.  Jy vat maar net die geld terug wat hulle in die eerste plek by jóú gesteel het.’

 

Op hierdie en ander maniere versoek hy jou om hom te aanbid (v.9-10, Eks. 20:3, Deut. 6:13).  Die punt is nie dat jy ‘n Satanis moet word wat swart katte slag en bloed drink nie.  Die versoeking is eenvoudig dat jy soos die wêreld moet lewe, al gaan jy nog van tyd tot tyd kerk toe (Ef. 2:2-3).

 

Druk jou ore toe as die duiwel sê hy kan goeie dinge vir jou gee (v.9, Luk. 4:6).  Hy lieg, omdat niks aan hom behoort nie.  Hy beheer nou wel die bose wêreld sisteem (2Kor. 4:4, 1Joh. 5:19).  Maar die aarde, die nasies, hulle konings en alle goeie dinge behoort aan die Here (28:18, Ps. 2:8, 22:29, 24:1, Dan. 2:21, 7:13-14, Jak. 1:17, Openb. 5:9, 11:15).  Satan is soos die mense wat jou bel en sê dat jy ‘n gratis vakansie gewen het, maar nooit hulle beloftes nakom nie.

 

Hy verhinder jou (v.10)

In C.S. Lewis se Screwtape Letters leer ‘n senior duiwel vir ‘n junior duiwel hoe om mense te versoek.  In sy vierde brief sê hy:  ‘It is funny how [humans] always picture us as putting things into their minds:  in reality our best work is done by keeping things out.’[4]

 

Satan (v.10) beteken ‘teenstander’.  Hy wil jou verhinder om God se wil te doen.  Hy sal jou so besig hou, dat jy nie tyd kry om die Bybel te lees, te bid, met ander gelowiges te ontmoet, mense te bedien en kerk toe te gaan nie.  Hy is inderdaad die teenstander.  Hy is die teenstander van God en van alles wat goed is.

 

Buiten vir die name in Matt. 4:1-11, het hy ook die volgende name:

 

  • Beëlsebul beteken ‘heerser van die mishoop of vlieë’ (Matt. 12:24).
  • Die Bose (Matt. 13:19).
  • Die vader van leuens (Joh. 8:44).
  • Die owerste of god van hierdie wêreld (Joh. 12:31, 2Kor. 4:4).
  • Belial beteken ‘nutteloos’ (2Kor. 6:14).
  • Die prins van die magte van die lug (Ef. 2:2).
  • Apollion of Abaddon beteken verwoester (Openb. 9:11).
  • ‘Die groot draak’ spreek van sy mag, en ‘die ou slang’ van sy sluheid (Gen. 3:1, Openb. 12:9).

 

Hy is so uitgeslape soos ‘n jakkals.  Een oomblik skiet hy jou met kanonne, en die volgende oomblik sit hy sy arm om jou skouer.  Toe John Knox op sy sterfbed was, het hy in sy slaap gekreun.  Toe ‘n sekere dr. Preston hom daaroor gevra het, het hy gesê dat Satan altyd sy sonde voor hom gegooi het.  Maar op sy sterfbed het die duiwel vir hom gesê dat hy baie vir die Here gedoen het, en dat hy die hemel verdien.[5]

 

Wees versigtig dat jy nie vir sy streke val nie.  Wees ook dankbaar dat Jesus nie daarvoor geval het nie, want daarsonder sou Hy nie die perfekte offer kon wees om ons te red nie.

 

[1] Deel 2 van hierdie preek sal binnekort beskikbaar wees onder die tema, Vyf hulpmiddels teen Satan se versoeking.

[2] Moenie dink dat dit net die duiwel is wat jou versoek nie.  Daar is baie demone wat saam met hom werk om mense te versoek.

[3] Jesus is in sy menslike natuur versoek, en nie in sy Goddelike natuur nie (Jak. 1:13).

[4] C.S. Lewis, The Screwtape Letters, Collins Fount Paperbacks, 1942, 1985, p. 25

[5] John Howie, The Scots Worthies, p.62

Kategorieë