[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]
Het iemand al vir jou gesê dat alle jong mense op een of ander stadium rebels raak? Wanneer jou laerskool kinders nader aan die hoërskool kom, vrees jy dat hulle rebels sal raak. Maar dit is eenvoudig nie waar dat alle jong mense deur ‘n fase van rebelsheid gaan nie.[1] Josef het nie. Dawid het nie. Jeremia het nie. Daniël en sy drie vriende het nie. Die apostel Johannes het nie. Timoteus het nie. Titus het nie. Jesus het nie.
Die bg. karakters leer vir ons dat jongmense ‘n diep verhouding met die Here kan hê, en dat hulle hulle lewens volgens die Woord van God rein kan hou (Ps. 119:9, 1Tim. 4:12, 2Tim. 2:22). God wil hê dat jongmense se ouers hulle hiermee moet help. Buiten vir die positiewe insette wat ons moet hê, moet ons ook sekere dinge vermy om nie rebelsheid in hulle aan te moedig nie. Dit is wat Paulus in Ef. 6:4 bedoel: “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie...”
Wat is dan die dinge wat ons moet vermy, om te keer dat ons kinders nie rebels raak nie?[2]
[1] Onbetrokkenheid
Willem is geskok dat sy 14-jarige seun skielik hierdie jaar rebels geraak het. Die waarheid is dat hy al in sy hart gerebelleer het toe hy 9 was, omdat Willem nie in sy lewe betrokke was nie. Salomo het gesê: “Soos ‘n voël wat van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (Spr. 27:8).
Geld en geskenke kan nie opmaak vir onbetrokkenheid nie. Wees daar vir jou kinders. Jou dogter het jou liefde, leiding en beskerming nodig. Jou seun het ‘n sterk pa nodig wat vir hom sal leer hoe om ‘n man te wees.
[2] Te veel dissipline
Is medisyne goed vir ‘n kind? Net as hy siek is. Wat sal gebeur as jy jou kind se gewone dieet met medisyne vervang? Hy sal siek word. Wat sal gebeur as dissipline jou kind se stapel dieet is? Hy sal opstandig raak. Jy kan nie nét jou kind op die medisyne van dissipline grootmaak nie; gee ook vir hom die aartappels, vleis, groente en vrugte (en soms ook roomys) van Bybelse instruksie, omgee, tyd en aandag.
[3] Mishandeling
Ek het een berading sessie gehad waarin ‘n pa sy seun met ‘n leer gordel oor die rug geslaan het. Ek en sy vrou het opgespring om hom te keer. ‘n Paar maande later het ek uitgevind dat dit al vir jare aangaan. Vandag is die kind ‘n rebel. ‘n Pakslae is Bybels; mishandeling nie. Slaan jou kind op die boude en nie met die vuis nie. Moet hom nie só slaan dat hy mediese hulp benodig nie.
[4] Te min dissipline
Van kleins af het Peter nie sy seun pak gegee nie. Reeds op 12-jarige ouderdom het sy seun dagga gerook. Peter was geskok, maar het hom nie gedissiplineer nie. Toe die seun 19 is, het hy sterker dwelms gebruik en op 22 is hy tronk toe. Hy het sy pa gehaat, omdat hy hom nie gedissiplineer het en teen die pynlike gevolge van sonde gewaarsku het nie (Gal. 6:7, Heb. 12:10-11).
Ouers wat hulle kinders nie dissiplineer nie pluk vir hulleself ‘n lat, omdat sulke kinders dikwels rebels raak (Spr. 23:13-14, 17:25, 29:15, 17). ‘God many times whips an aged parent by that child that was unwhipped at first.’[3]
[5] ‘n Kritiese gees
Michael leer hard en kry ‘n B vir wiskunde. Sy pa sê nie vir hom geluk nie, maar wil weet hoekom hy nie ‘n A gekry nie. Moenie alewig fout vind met jou kind nie; jy sal hom moedeloos maak (Kol. 3:21).
[6] Afbrekende woorde
Die spreekwoord sê: ‘Sticks and stones may break my bones, but words can never harm me.’ Almal weet dis nie waar nie, en dat woorde ‘n mens baie seer kan maak. Moenie vir jou kind sê: ‘Jou idioot; jy sal ook niks in die lewe bereik nie! Ek wens jy is nooit gebore nie!’ (vgl. 1Sam. 20:30-34). Moenie jou kind se gees breek nie (Spr. 12:18, 15:4b). Bou hom eerder op – selfs wanneer jy hom dissiplineer.
[7] Voortrekkery
Verlede jaar toe hoor ek van twee sussies wat bitter is. ‘Ons het swaargekry omdat pa jóú in ‘n privaat skool gesit het,’ het hulle vir hulle broer gesê. Ons mag onder geen omstandighede hulle bitterheid regverdig nie, maar ons moet ‘n les daaruit leer. Onthou jy wat met Josef gebeur het toe sy pa hom voorgetrek het? Kan jy onthou hoe sy broers gevoel het en wat hulle gedoen het? Die gevolge was lelik (Gen. 37). Maak asb. seker dat jy nie witbroodjies en swart skape het nie.
[8] Voorwaardelike liefde
Marié se ma sê vir haar: ‘Pappa is lief vir jou as jy soet is.’ Sy weet dis waar, want wanneer sy stout is praat haar pa vir twee dae nie met haar nie. God is nie so nie, maar het ons liefgehad toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8). Volg sy voorbeeld.
[9] Kloning
Was jy al ooit by ‘n sport byeenkoms waar ‘n ouer sy humeur verloor het, omdat sy kind nie gewen het nie? Hoekom doen hy dit? Is dit nie omdat hy wil hê dat sy kind soos hý moet wees nie? ‘Toe ék op skool was het ek vir die eerste span gespeel en provinsiale kleure gekry,’ sê Adriaan se pa vir hom. Hy druk sy seun om ‘n goeie sportman te wees, omdat hy deur sy seun wil goed lyk.
[10] ‘n Slegte huwelik
Markus breek sy vrou af en baklei voor die kinders met haar. Die kinders is bitter en kan nie wag om eendag uit te trek nie. Hulle hou nie daarvan om by die huis te wees nie. Hulle sit die hele middag in die kamer, en wens om by hulle vriende se huise te wees. Hulle kry skaam om vriende oor te nooi.
[11] ‘n Ongelyke juk
Riana volg haar eie kop en trou met ‘n ongelowige. Vandag wil haar kinders niks met die Here te doen hê nie. As jy met ‘n ongelowige trou is die kanse goed dat jou kinders rebels sal raak en nie die Here sal dien nie. Dit is hoekom Mal. 2:15 sê ons moet met gelowiges trou (lees gerus die konteks): “Hy het ‘n geslag van God gesoek.” Die ESV praat van ‘godly offspring’. As jy wil hê jou kinders moet rebels raak, trou met ‘n ongelowige.
[12] Skynheiligheid
Marcia se pa sê vir haar om eerlik te wees, maar hý is nie. John Bunyan het gesê: ‘Many children learn that wickedness of their parents for which they beat and chastise them.’[4] As jy skynheilig is, kan ek jou amper waarborg dat jou kinders opstandig sal raak.
[13] Doofheid
Ek kan partykeer so besig raak, dat ek nie eers hoor as my kinders met my praat nie. In een berading kursus het ek iets geleer wat ek probeer toepas. As my kinders na my lessenaar toe kom, sê ek: ‘Wag net gou.’ Ek maak klaar waarmee ek besig is, draai na die kind toe, en luister na wat hy of sy vir my wil sê.
[14] Tergery
Het jy al ‘n ma met drie kinders hoor sê dat sy eintlik vier kinders het? Sy praat van haar man, omdat pa’s soms soos kinders aangaan. Simon terg sy dogter en weet nie wanneer om op te hou nie. As sy kwaad raak gee hy haar pak omdat sy hom nie respekteer nie. Dit maak haar moedeloos.
[15] Te veel werk
Toe Ruan klein was moes hy op Saterdae van vroeg tot laat op die plaas werk, terwyl sy maatjies buite gespeel het. Hy het die plaas gehaat en wou net wegkom. Oor die afgelope 15 jaar was hy nog nie weer daar nie.
[16] Perfeksionisme
As 5-jarige Klara haar bed nie soos ‘n grootmens s’n opmaak nie, kry sy pak. Fanie se maatjies het vir hom karretjies gegee vir sy verjaarsdag. Dit staan op ‘n rak in sy kamer. Hy mag nie daarmee speel nie, omdat hy die kamer sal omkrap.
[17] Wettisisme
Trevor gee vir sy kinders ‘n verkeerde idee van God en van hoe hulle Hom tevrede moet stel. As hulle nie hulle groente klaar eet nie, sê hy: ‘Jy maak die Here se hart seer.’ In húlle gedagtes moet hulle ‘n klomp reëls nakom om God se guns te wen.
Hulle verstaan nie dat Jesus namens ons die wet perfek onderhou het, dat Hy vir ons sonde aan die kruis gesterf het, dat Hy uit die dood opgestaan het sodat ons kan lewe, en dat elkeen wat in Hom glo die Heilige Gees ontvang om hulle te help om reg te lewe nie. Gevolglik raak hulle opstandig, omdat hulle dit nie regkry om al die reëls te hou nie.
[18] Onduidelikheid
Kobus kry soms pak sonder dat hy weet hoekom. Hy weet nie wat hy verkeerd gedoen het nie. As hy vir sy pa wil verduidelik wat gebeur het, dan sê hy: ‘Ek wil níks hoor nie; buk!’ Dink jy Kobus sal moedeloos, bitter en opstandig raak?
Iemand wat die bg. 18 punte reg doen, kan nie daardeur waarborg dat sy kind glad nie rebels sal wees nie. Ek weet dat sommige mense Spr. 22:6 sal aanhaal: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” Onthou egter dat Spreuke dikwels vir ons wys hoe dinge oor die algemeen werk. Dit beteken nie dat daar geen uitsonderings is nie.
God voed sý kinders reg op, en tog rebelleer ons partykeer teen Hom (Jes. 1:2, Jer. 2:30). Deur die geskiedenis was daar gelowiges wat hulle kinders reg geleer het, en tog het hulle kinders rebels geraak. Daar was ook al ouers wat ‘n gemors gemaak het, en dan raak hulle kinders nié rebels nie. Die algemene reël is egter dat ‘n getroue toepassing van Ef. 6:4 rebelsheid sal voorkom.
[19] Hoop vir ouers met rebelse kinders
Ek het ‘n storie gelees van ‘n man wie se seun so erg gerebelleer het, dat hy vir 20 jaar van die kerk afvallig geraak het. Dit het gebeur nadat sy pa ‘n ernstige verhouding met die Here gehad het, en ook sy kinders van die Here geleer het.
Dalk het so iets met jou gebeur. Jy het jou kinders reg grootgemaak en vir hulle ‘n voorbeeld gestel, en tog het hulle rebels geraak. Indien dít die geval is, hoef jy jouself nie te kasty nie.
In Eseg. 18:20 lees ons: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.”
Dalk het jy bygedra tot jou kind se rebelsheid. Wat moet jy doen?
- Onthou dat jou situasie nie hopeloos is nie. Die Here kan jou vergewe. Bely jou sonde en vra Hom om jou te vergewe.
- Vra ook vir jou kinders om jou te vergewe. As hulle jou nie wil vergewe nie, kan jy jou hande in onskuld was (Rom. 12:18).
- Bid vir hulle en doen moeite om na hulle toe uit te reik. “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rom. 12:21).
- Onthou dat die Here ook hiérdie situasie vir die goeie kan uitwerk (Rom. 8:28).
- Vra volwasse gelowiges vir raad (Spr. 15:22).
- Aanvaar die feit dat jou kind waarskynlik nie gered is nie. Moenie dink hy is gered omdat hy die sondaarsgebed gebid het toe hy vier was nie. As jy dít dink, sal jy nie die regte medisyne gee nie, nl. om vir sy redding te bid en die evangelie met hom te deel.
- Pasop om nie altyd oor die rebelse kind te praat, sodat jy die ander kinders afskeep nie.
- Onthou dat God die rebel se hart kan verander (Luk. 15).
- Moenie opgee as dit vir jou lyk of daar niks gebeur nie; volhard.
Het jou ouers miskien dinge gedoen wat jou tot rebelsheid versoek het? As jy bitter voel moet jy dit bely en vir die Here vra om dit weg te vat. Vergewe jou ouers en sê vir hulle dat jy dit met hulle wil uitpraat. Indien hulle nie daaroor wil praat nie, moet jy dit in gebed vir die Here gee; Hý sal hulle oordeel. As hulle hulle bekeer, sal Hy hulle vergewe.
As jy vandag hierdie dinge hoor en jou nié bekeer, is Jesus se waarskuwing in Matt. 18:6-7 vir jou: “maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.”
[20] Die hoogste doel
Jare gelede het iemand vir my gesê: ‘You must learn to relax.’ Blykbaar het ek nie my les geleer nie, want laas maand het iemand anders vir my gesê: ‘Hoor hier, moenie die bediening so ernstig opneem nie.’
Nou moet ek dit vir jóú sê. Jy kan vandag baie moedeloos hier uitstap en dink dat jy dit nooit gaan regkry nie. Ontspan en vertrou die Here. Moet dit nie jou hoogste doel maak om te keer dat jou kinders rebels raak nie. Sorg eenvoudig dat jy as ‘n gelowige groei, dat jy in ‘n verhouding met die Here lewe, en dat jy Hom verheerlik. Dít moet jou hoogste doel wees.
Verlede jaar was ek by ‘n diens waarin ‘n vrou met trane vir die gemeente gevra het om vir haar rebelse kind te bid. ‘n Paar weke gelede het iemand by ons kerk se Bybelstudie gevra dat ons vir die jongmense in die gemeente moet bid. Die punt is dat ons die ouers in ons gemeente moet ondersteun. Hulle het ‘n groot taak. Moenie vergeet om vir mekaar en vir ons kinders te bid nie.
[1] Ek weet dat alle mense van nature teen God rebelleer, maar dit is nie wat ek bedoel nie. Ek praat hier van die rebelse ‘tiener fase’ soos mense dit noem. Ek praat van die fase waarin jong mense nie vir hulle ouers wil luister nie, maar losbandig lewe.
[2] Party van die dinge het ek in Wayne Mack se boek, Strengthening Your Marriage geleer. My doel in hierdie preek is om te wys hoe ons rebelsheid in ons kinders kan keer, en nie hoe ons dit moet oplos waar dit reeds bestaan nie. As jy hulp soek met rebelse kinders, kan ek Wayne Mack se klasnotas vir jou aanstuur.
[3] Jeff Pollard & Scott T. Brown: red., A Theology of the Family, p.139
[4] Ibid., p.293
[/column]