Daar is meer as een vorm van berading. Ek glo egter dat net één van hulle Bybels is, naamlik nouthetiese of Bybelse berading. Bybelse beraders glo dat die Here dokters gegee het om ons met ons liggaamlike probleme te help, terwyl die Bybel, die Heilige Gees en gebed voldoende is vir ons geestelike probleme.
Maar nie alle Christene dink so nie. Ek ken ‘n goeie predikant wat sê dat Bybelse berading die slegste en mees onsuksesvolle vorm van berading is. Maar eintlik kan ‘n mens dit nie aan sukses meet nie, want dan beteken die skaarste aan bekerings dat die evangelie onsuksesvol en onbetroubaar is.
En tog glo ek nie dat berading die eerste stap is wanneer mense probleme het nie. As ‘n persoon ongered is, benodig hy die evangelie en nie berading nie. Wat help berading as jy nie Jesus en die Heilige Gees het nie?
Indien die persoon gered is, is berading ook nie die eerste stap nie. As die persoon die gewone genademiddele van die kerk, die Bybel en gebed versaak, is berading ‘n mors van tyd. Raai daarom die gelowige wat berading soek aan om vir 3 maande getrou by sy gemeente in te skakel (mits die gemeente die Bybel preek en gehoorsaam). Hy moet ook self die Bybel lees, dit gehoorsaam en gereeld bid.
As hy daarna nog probleme het, kan jy hom beraad. Waar begin ‘n mens? Moenie vir die wêreld luister wat sê jy kan nie ander beraad nie, maar moet dit vir die professionele mense los. Was die kerk dan vir 1900 jaar in die donker, totdat sielkunde op die horison verskyn het? Verseker nie. Wat kan sielkunde doen wat die evangelie, die Bybel, die Heilige Gees, gebed en die kerk nié kan doen nie? God het ons voldoende toegerus om mense te help. Die Bybel sê:
“Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.” (Ps. 119:24).
“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jes. 9:5).
“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid… maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het… Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh. 14:16, 26, 16:13). ‘n Alternatiewe vertaling vir ‘Trooster’ is ‘Raadsman’. Sommige Engelse vertalings vertaal dit ook so (‘Counselor’).
“Maar ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan.” (Rom. 15:14).
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2Tim. 3:16-17).
“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” (2Pet. 1:3-4).
Om hierdie middele reg te gebruik moet jy self gered wees, heilig lewe, biddend wees, die Bybel ken en in die gemeente groei. Dit is skynheilig as jy ander help, maar self nie hierdie dinge doen nie (Matt. 23:2-3). Om ander mense te help, moet jy kan sê: “En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit…” (Fil. 4:9).
- Voor jy begin
Ek het in die verlede muurbal gespeel. Dit is nie soos tennis waar jy dadelik die bal vir mekaar begin slaan nie. Jy moet eers die bal opwarm. Daar is ‘n tipe voorbereiding nodig. So is dit ook in berading. Jy kan nie net inspring nie. Jy moet voorberei. Hoe doen ‘n mens dit?
[a] Bid. Vra die Here vir wysheid. Bid ook vir die persoon wie jy beraad. ‘n Christen se gebed het groot krag (Jak. 5:16). Paulus het dit geweet en het daarom baie gebid dat God in die gemeentes sal werk. Volg sy goeie voorbeeld.
[b] Ken jou Bybel. Dit sal help as jy ‘n studie maak van die probleem wat jy moet aanspreek. Lees goeie boeke daaroor. Jy kan nie verkeerd gaan as jy Jay Adams, Wayne Mack, Paul Tripp, Edward Welch en David Powlison se boeke lees nie. Jy kan teksverwysings oor die spesifieke onderwerp voor in jou Bybel skryf. Hoe meer mense jy beraad, hoe beter sal jy die verse ken.
[c] Beplan. Besluit wat jy in die sessie wil bereik. Moet egter nie rigied wees nie. Wees buigsaam en verander van plan indien die persoon ‘n krisis het wat hy of sy wil bespreek.
[d] Moenie alleen ontmoet met iemand van die teenoorgestelde geslag nie (behalwe as die persoon oud genoeg is om jou oupa of ouma te wees). Sorg dat iemand anders teenwoordig is. Sit met die deur oop of in ‘n vertrek met glas deur. As jy alleen met iemand van die teenoorgestelde geslag is, kan mense maklik stories versprei. Wanneer mense jou valslik beskuldig moet jy nie sê: ‘Dit het nie gebeur nie,’ maar: ‘Dit kon nie gebeur het nie.’
Bg. reël beskerm jóú ook teen versoeking. Wanneer jy berading doen, kan jy en die ander persoon maklik op ‘n emosionele vlak aan mekaar geheg raak en uiteindelik in sonde val. Maar as jy hierdie maatreëls toepas, verminder dit die kanse dat jy sonde doen.
[e] Moenie die duiwel onderskat nie. Moenie dink jy gaan sommer gou die persoon se probleem oplos nie. Vertrou op die Here en nie op jouself, jou kennis of jou ervaring nie.
- Die sessie
‘n Laerskool meisie het eenkeer met my kom praat oor die nagmaal. Ek het haar oor haar redding gevra. Sy het begin huil. Sy het nog nooit in die dominee se studeerkamer gesit nie. Dit het vir haar gevoel of sy in die skoolhoof se kantoor is. Ek het haar gerus gestel dat ek nie die skoolhoof is nie en dat sy kan ontspan.
Sê vir die persoon wat jy beraad om te ontspan. Die persoon moet weet dat jy ‘n vriend is wat wil help en nie ‘n geheime agent wat ‘n terroris ondervra nie. Gesels daarom eers oor gewone sake om te wys jy stel belang. Sorg dat jou liggaamshouding nie intimiderend is nie. Dit sal ook help as jy die volgende dinge in gedagte hou.
[a] Jy werk met mense en nie met probleme nie. Jy sal dit waardeer as jy in die ander persoon se skoene was, en hy gewys het hy gee om. “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Matt. 7:12).
[b] Wees sagmoedig. Onthou dat jy in dieselfde sonde kan val. “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1Kor. 10:12). “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie… Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” (Gal. 6:1, 3).
[c] Wees geduldig. “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1Tess. 5:14). As jy versoek word om ongeduldig te wees, dink aan God se geduld met jou. Onthou gerus John Newton se woorde: ‘’n Christen groei nie so vinnig soos ‘n sampioen nie, maar so stadig soos ‘n eikeboom. Jy kan skaars die groei sien, maar later word die persoon ‘n boom met diep wortels.’
[d] Hou die persoon se sake privaat. Moet egter nie belowe om die gesprek absoluut konfidensieel te hou nie. Absolute konfidensialiteit is nie Bybels nie. Wat as die persoon ‘n kind gemolesteer het? Jy moet vir die polisie sê. Wat as die persoon nie sy sonde wil los nie, maar daarmee aanhou? In daardie geval moet jy dit uiteindelik vir die gemeente sê (Matt. 18:15-17).
[e] Moenie skrik vir sielkundige terme as die persoon voorheen by een was nie. Dalk sê die persoon vir jou dat hy ‘n skisofreen, OCD of bi-polêr is. Ignoreer hierdie terme. Diagnoseer die persoon se probleem volgens die Bybel.
[f] Vra vir die persoon hoekom hy hulp soek. Soek hy ‘n kits oplossing? Wil hy die probleem uit die weg ruim om die lewe vir homself makliker te maak? Wys vir die persoon dat sy hoofdoel moet wees om die Here te verheerlik. As hy enige ander doel het, is dit afgodery.
[g] Daar is geen hoop vir iemand wat nie wil erken dat hy verantwoordelik is vir sy sonde nie. As hy sê: ‘Ek kan die pornografie nie help nie; ek het ‘n demoon van wellus in my,’ is daar nie hoop nie. “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spr. 28:13).
[h] Versamel soveel inligtig as wat jy kan. In die eerste paar sessies moet die persoon baie praat en jy min. Vra baie vrae. Sorg dat jou vrae nie net ‘n ‘ja’ of ‘nee’ antwoord vereis nie. Jou vrae moet die persoon aanmoedig om uit te brei en meer te vertel. Moet bv. nie vra: ‘Is jy gereeld depressief?’ nie. Vra eerder: ‘Hoe lyk ‘n tipiese dag in jou lewe, vandat jy opstaan totdat jy gaan slaap?’
Eggo die persoon se antwoorde om seker te maak jy verstaan: ‘Bedoel jy…?’ As jy nie mooi verstaan nie, sal jy slegte raad gee. “Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ‘n sotheid en ‘n skande wees.” (Spr. 18:13). Jy sal wees soos ‘n dokter wat die verkeerde pille voorskryf, omdat hy ‘n slegte diagnose gemaak het.
[i] Probeer om by die wortel van die probleem uit te kom. Jy wil immers nie net met simptome werk nie, maar met die oorsaak. Moenie soos iemand wees wat hoofpyn pille drink as dit sy swak sig is wat die hoofpyne veroorsaak en hy eintlik ‘n bril moet kry nie. Dit help bv. nie jy beraad iemand vir depressie as ‘n geheime sonde die skuldgevoelens en depressie veroorsaak nie.
Hoe kom jy by die wortel van probleem uit? Vra die volgende vrae:
- Waaroor word jy die meeste keer kwaad, depressiefen angstig?
- Waarop spandeer jy jou tyd en geld?
- Waaroor dagdroomjy?
- Voltooi die sin: ‘As ek net__kan hê, sal ek gelukkig wees.’
- Na wie of wat draai jy eerste wanneer jy onder druk is?
Die persoon se antwoorde op bg. vrae sal vir jou wys wat sy afgod is. Dit sentreer altyd om homself. As hy homself verloën, dan kap hy aan die slegte wortels van sy hart en sal die vrot vrugte van sy woorde en dade vanself afval. Hoe kap ‘n mens aan die wortels?
[j] Moenie net die persoon help om sy beste te doen om hard teen die sonde te stry nie. Hy sal nêrens kom as hy op sy eie krag staatmaak nie. Hy moet eers sy sonde bely en vergewe word.
As hy klaar die vuil klere van sy sonde uitgetrek het, moet hy die skoon klere van gehoorsaamheid aantrek (Ef. 4:22, 24). Hy moet die Heilige Gees se krag vra om die teenoorgestelde van sy probleem te doen. As hy bv. diefstal wil oorkom, moet hy eerlik werk en mededeelsaam wees, eerder as om te steel. Hy moet hiermee aanhou totdat dit ‘n gewoonte raak. As hy die slegte gewoonte kon aanleer, kan hy dit afleer. Hoe help jy die persoon om dit reg te kry?
[k] Gee huiswerk. Dit sal hom help om die lering toe te pas, om met die hulp van die Heilige Gees sy probleem op te los en nie afhanklik te wees van jou nie. Watse huiswerk moet jy gee? Vir elke probleem sal die huiswerk anders wees.
Hoe kan jy weet watse huiswerk jy moet gee? Jy hoef nie die wiel te herontwerp nie. Wayne Mack se Homework Manual for Biblical Living dek die meeste van die probleme wat ons in hierdie lewe ervaar. Hy bied Bybelse oplossings en doen dit op ‘n praktiese manier. Vol. 1 en 3 behandel verskillende probleme, terwyl vol. 2 oor die huwelik gaan.
Gee ook vir die persoon gepaste Bybelverse om te memoriseer. Die Bybel is die swaard om hom teen sonde en versoeking te help (Matt. 4:4, 7, 10, Ef. 6:17).
[l] Die persoon moenie dink dat berading ‘n towerformule is nie. Dit is moontlik dat dinge kan skeefloop. Die versoeking sal weer kom. Dalk trap die persoon weer in die strik. Die geheim is dat hy nie moet opgee as hy geval het nie. Hy moet opstaan, die Here se hulp en vergifnis vra, Hom vir nuwe krag vertrou en weer probeer. “Want sewe maal val die regverdige en staan weer op” (Spr. 24:16). “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Fil. 2:13).
[m] As die persoon aanhou met sondig en nie wil verander nie, moet die gemeente die stappe van kerkdissipline in Matt. 18:15-17 volg. Indien die persoon nie in jou gemeente is nie, moet jy die berading stop. Jesus het immers gesê dat jy nie jou pêrels vir die varke moet gooi nie (Matt. 7:6).
Bg. beginsels gee vir jou ‘n goeie aanduiding van hoe jy iemand uit die Bybel kan help. En tog is dit maar net die teorie. As jy die teorie verstaan maar dit nie toepas nie, is jy soos iemand wat musieknote kan lees maar nie ‘n instrument kan speel nie. En wat help dit?