Matteus 6:33-34
God is die Skepper van tyd en word nie daardeur beperk nie (Gen. 1:1, Eks. 3:14). Óns leef egter met sekondes, minute, ure, dae, weke, maande, jare, dekades, die verledetyd, die hedetyd en die toekomstige tyd. Volgens die Bybel moet ons die tyd reg gebruik (Eks. 20:9-10, Ef. 5:16). Om dit reg te kry, moet ons op God se Koninkryk fokus en ons nie oor die toekoms bekommer nie. Dit geld ook vir die nuwe jaar wat voorlê.
- Kry jou prioriteite reg (v.33)
Wat is die wêreld se prioriteite vir die lewe en die nuwe jaar?
- Om baie geld te maak en mooi goed te besit.
- Om skuldvry te wees.
- Om status en aanvaarding te hê in sekere kringe.
- Om suksesvol te wees in besigheid; om te presteer in akademie, sport, kultuur, ens.
- Om ‘n top posisie te hê (‘n direkteur, hoofseun, hoofmeisie, ens.).
- Om mooi te lyk, meer moeite te doen met jouself, gesonder te lewe, te oefen, die regte dieet te volg, genoeg slaap te kry, mooi aan te trek en grimmering te dra, ‘n ordentlike haarsny te kry.
- Om gerieflik af te tree, die land te toer en die lewe te geniet.
- Om te stap, sport te doen, ‘n stokperdjie te kry, of as ‘n vrywilliger te werk (bv. by die DBV) om sodoende van stres ontslae te raak.
- Om meer tyd met jou familie deur te bring en om saam vakansie te hou.
- Om op datum te wees met wat in die wêreld aangaan.
- Om jou huis in orde te kry, dit netjies te hou en te versier, sodat jy beter oor jouself kan voel.
Baie van hierdie dinge is nie verkeerd nie en is goeie voornemens. Dit raak egter ‘n probleem as dit vir jou belangriker word as geestelike dinge. Dit is ongelukkig hoe ongelowiges se prioriteite werk. Vir hulle gaan dit oor die tydelike, materiële en uiterlike, terwyl dit vir Christene oor die ewige, geestelike en ‘n verhouding met die Here gaan. Die verskil tussen Christene en die wêreld is soos die verskil tussen tienermeisies in die 1800’s en tienermeisies 100 jaar later. In die 1800’s het tienermeisies se dagboekinskrywings op goeie werke en ‘n goeie karakter gefokus, terwyl tienermeisies in ons tyd ‘n obessie het met hoe hulle lyk (vgl. 1Tim. 2:9-10, 1Pet. 3:3-4).
In die 1700’s het die 19-jarige Jonathan Edwards 70 voornemens gemaak waarin hy fokus op die Koninkryk van God en ‘n heilige lewe. Vandag is jong mans behep met hulleself en hulle spiere, meisies, rekenaarspeletjies, seks en drank.
As jy in 2020 en in die jare wat voorlê ‘n lewe wil lei wat saakmaak en jou ewige toekoms beïnvloed, moet jy nie op jouself fokus nie, maar op die Here. Soek sy Koninkryk (v.33) met dieselfde intensiteit waarmee ongelowiges materiële dinge najaag (v.31-32). Soek dit soos wat jy na ‘n kosbare skat sou soek (v.33, 7:7, 13:44-46, Spr. 2:4).
Wat moet jy prakties doen om die Koninkryk eerste te soek; om dit ‘n prioriteit te maak bo alles?
Eerstens moet jy sorg dat jy nie buite die Koninkryk staan nie, maar deel is daarvan. Om deel te wees, moet jy weergebore word (Joh. 3:3, 5). Smeek die Here daarvoor, totdat jy deel is (Matt. 11:12, Luk. 13:24).
Tweedens moet jy nie op wêreldse rykdom, plesiere en sukses fokus nie, maar op hemelse dinge soos Jesus, die Bybel en ‘n heilige lewe (Kol. 3:1-2).
Derdens moet dit vir jou nie genoeg wees dat jý in die Koninkryk is nie. Doen alles wat jy kan om ander deel te maak. Wees m.a.w. betrokke in sending en evangelisasie: dra by, bid en deel die evangelie met mense (v.10, Ps. 145:11-12, Hand. 8:12, Fil. 4:15).
Hierdie dinge moenie net déél van jou lewe wees nie. Volgens Jesus moet jy die Koninkryk van God eet, drink en slaap (v.33). Evangelisasie, sending, weergeboorte, die wederkoms, Jesus en die hemel moet jou gesprekke, gedagtes, planne en gebede oorheers. Dit moet vir jou ‘n obsessie wees. Die Koninkryk van God moet vir jou so belangrik wees, dat jy ‘n saak het met wat in Amerika se politiek aan die gang is, met die uitsprake wat Julius Malema maak, met wat in die effektebeurs gebeur. Vir jou moet jou eie koninkrykie en die koninkryke van hierdie wêreld onbelangrik wees. Wat saakmaak is die Koninkryk van God. Al hoekom politiek vir jou belangrik moet wees, is sodat jy vir die wêreld se redding kan bid en die evangelie met mense kan deel (1Tim. 2:1-4).
Dalk klink dit vir jou of ek van ‘n ander planeet af kom. Die waarheid is dat Jesus van ‘n ander wêreld af gekom het en dat Hý ons beveel om God se Koninkryk die eerste prioriteit te maak (v.33). As ons eerlik is, moet ons erken dat Jesus se woorde in v.33 vir ons soos ‘n ander taal klink en dat ons nie daarvolgens lewe nie. Vra die Here om die begeertes van jou hart te verander, sodat Hy en sy Koninkryk vir jou ‘n prioriteit is (Ps. 37:4). Wat help dit jy vervul jou voornemens vir die nuwe jaar en vir die res van jou lewe, as jy die Koninkryk van God mis (Mark. 8:36)?
Wat moet jy doen om deel te wees van hierdie Koninkryk? Ek het reeds gesê dat jy weergebore moet word om deel te wees van God se Koninkryk. Hoe kan jy weet of jy weergebore is, veral as so baie mense dit met die doop verwar en hulleself oortuig dat hulle weergebore is, terwyl hulle nie weet wat dit beteken nie?
Iemand wat weergebore is, is moeg vir sy eie pogings om in die hemel te kom. Hy haat nie net sy sonde nie, maar ook die selfgeregtigheid waardeur hy die Here wou beïndruk. Voorheen het hy homself op die skouer geklop, maar noudat God sy geestelike oë oopgemaak het, lyk sy beste dade soos smerige klere in vergelyking met die spierwit klere van Jesus se perfekte Persoon, lewe, kruisdood en opstanding. En wie wil nou vieslike klere dra as jy spierwit klere kan aantrek?
Dít is wat Jesus bedoel as Hy in v.33 sê dat jy die geregtigheid van God moet soek. Sien jou eie geregtigheid soos God dit sien (dis ‘n gemors) en soek Jesus se perfekte geregtigheid (Jes. 64:6, Fil. 3:7-9). Sê vir die Here dat jou selfgeregtigheid deel van dieselfde bondel wasgoed is as jou sonde, en dat jy dit nie meer wil hê nie. Sê vir Hom dat jy Jesus se geregtigheid soek. Ontvang dit deur die geloof (Rom. 1:17, 2Kor. 5:21).
Sodra jy op Jesus vertrou, is jy vir die Here aanneemlik. Hy sien jou nie meer as ‘n sondaar met vuil klere nie, maar as ‘n perfekte mens met skoon klere. Hoe so? Jesus het die vuil klere van jou sonde uitgetrek en jou met die perfekte klere van sy eie geregtigheid bedek. Daarom neem die Vader jou aan, asof sy eie Seun voor Hom staan.
Hoe weet jy of dit al met jou gebeur het en of die Here jou so sien? Vra jouself volgende die vraag af: soek jy Jesus se geregtigheid, of probeer jy nog om deur jou eie goeie lewe in die hemel te kom? Om die nuwe jaar reg te begin, moet jy God se geregtigheid soek (v.33, Fil. 3:9). Moenie nóg ‘n jaar daarsonder lewe nie. Soek dit totdat jy dit het. Sonder dit sal jou gewete nie rus nie en sal dit altyd vir jou voel of die Here jou nie aanvaar nie.
As jy reeds hierdie geregtigheid het, wil ek jou aanspoor om ‘n regverdige lewe na te streef (v.33, Heb. 12:14). In 2019 was ek bekommerd, omdat party van ons lidmate nie gelewe het soos dit by ‘n Christen pas nie. Om reg te lewe, was nie vir hulle alles nie (v.33). Bely jou sonde en los dit in 2019. Maak ‘n nuwe begin in 2020. Vergeet die dinge wat agter lê en strek jou uit na die dinge wat voor is (Fil. 3:13-14).
As jy só lewe en die Here eerste stel, sal Hy alles gee wat jy nodig het om Hom te dien (v.33, 1Kon. 3:11-14, Rom. 8:32). Jy sal m.a.w. genoeg kos en klere hê (v.33, 11, 31-32, Ps. 37:25, Mark. 10:29-30, Hand. 20:34-35). Die les is nie moeilik om te verstaan nie: as jy in 2020 op materiële dinge fokus, mag jy dit miskien kry (of nie). As jy egter op geestelike dinge fokus, sal God die materiële dinge wat jy nodig het óók voorsien (v.33, vgl. 1Tim. 4:8). Laat ons daarom nie in die strik trap en op die wêreld en sy skatte te fokus nie. Laat ons eerder die Koninkryk van God en sy geregtigheid soek (v.33).
- Moet jou nie bekommer nie (v.34)
Ek het ‘n volwasse man geken wat by sy ma gebly het. Hy wou nie werk nie, maar het TV gekyk, tennis gespeel en op die aandelemark rondgekyk. Sou dit reg wees om vir hom te sê: ‘Moenie bekommerd wees nie; die Here sal vir jou sorg’? Nee, want die Here sou nié vir hom sorg nie. Hy was lui en moes van sy ma se nek af.
Jesus se woorde in v.34 beteken nie jy kan terugsit en wag dat jou kruideniers uit die lug moet val nie. Hy bedoel eerder: ‘As jy v.33 doen, moet jy jou nie kwel oor hoe jy sal oorleef nie, omdat die Here vir jou sal sorg’ (v.34). Soos 2019, is 2020 onder sý beheer. Hy sal jou genoeg krag gee om deur die jaar te kom. Hy gee dit nie alles op een slag nie, want anders vra jy Hom in die begin van die jaar daarvoor en ignoreer jy Hom vir die res van die jaar. Vertrou die Here elke dag en vra Hom vir die dinge wat jy nodig het (v.11). Wat help dit jy kwel jou oor môre? So asof vandag nie genoeg probleme van sy eie het nie (v.34). Hoekom wil jy môre en die res van 2020 s’n ook byvoeg (v.34)?
As jy vandag probleme het, sal die Here jou vandag krag gee om dit te hanteer (v.34, Deut. 33:25, Ps. 68:20, Jes. 40:31, Klaag. 3:22-23, 2Kor. 4:16). As jy egter bekommerd is oor wat dalk môre kan gebeur, sal Hy jou nie help nie. Die Here gee jou nie krag vir dinge wat nie bestaan nie. Indien die dinge waaroor jy jou bekommer wél môre, of in 2020 gebeur, sal die Here jou krag gee wanneer jy daar kom (v.34, 1Kor. 10:13). Hy wil hê dat jy Hom moet vertrou.
Om angstig te wees oor die toekoms is niks anders as kleingeloof en sonde nie. Jesus beveel ons vyf keer in hierdie verse om nie angstig te wees nie (v.25, 27, 28, 31, 34). Moet dan nie jou angs verskoon deur dit ‘n siekte, ‘n chemiese wanbalans, of ‘n angsaanval te noem nie. Laat ons eerder die Here se hulp vra om reg te dink en te doen wat Hy in v.34 sê.
Dit is onnodig dat jy in die nag wakker lê en dink: ‘Ek weet nie hoe ons deur die jaar gaan kom nie. Wat van my kinders se skoolgelde? Alles word duurder. Hoe gaan ek dit maak as ek dalk net werk het tot die einde Maart? Besigheid was stil in 2019. Ek kan nie sien hoe dit in die nuwe jaar gaan verander nie. My getroude kinders sukkel. Ek kan nie my verpligtinge nakom én vir hulle sorg nie; my salaris is te klein. Ek weet nie wat ek gaan doen nie. Wat as die ekonomie slegter word? Wat as die politieke situasie erger word en Christene vervolg word? Hoe gaan ons oorleef?’
As jy jou gedagtes met hierdie dinge vul, gebeur dít wat mense ‘n angsaanval noem: jou hart klop vinniger, jy haal vlak asem, jy sweet, jou bors pyn, jy bewe. Maar alhoewel jy fisiese simptome het, is angs nie ‘n fisiese probleem nie. Dit is ‘n geestelike probleem; iets wat die duiwel sal uitbuit. As jy onlangs vir sy versoeking geval het, moet jy jou sonde bely en vergifnis vra dat jy die Here nie vertrou het nie. Bring jou sorge in gebed na Hom toe en vra Hom om jou te help (Jes. 41:10, Fil. 4:6, 1Pet. 5:7). Glo dat Hy sy beloftes sal nakom: nie net vandag nie, maar môre; nie net in 2019 nie, maar in 2020.
God is nie soos die politieke leiers wat ‘n rekord van leë beloftes op hulle kerfstok het en dan verwag dat ons hulle moet glo wanneer hulle nuwe beloftes maak nie. Trouens, dit is juis ómdat die Here getrou is en nie verander nie, dat ons Hom kan glo en kan weet dat Hy ook in 2020 sy beloftes sal nakom (Mal. 3:6, Jak. 1:17).