Twee jaar gelede het ek my rifrug hondeskool toe gevat. In sy eksamen moes hy o.a. ‘n speelding vir my bring. Hy het daarmee weggehardloop. Van daar af was dit vir hom ‘n speletjie.
Hy bring nie ‘n tennisbal terug nie, maar dink dat hy daarmee moet weghardloop en dat ons hom moet vang. Hy is so rats soos ‘n Springbok senter wat sy opponente ontduik: ons kan hom nie gevang kry nie.
Gelowiges moet so wees en die duiwel se strikke deur vals leraars ontduik. Jud. 17-25 sê vir ons hoe.
- Onthou die voorspellings (v.17-19)
Waldo is ‘n mediese student in die Kaap. Voor sy finale eksamen sê die dosent dat hy baie vrae oor die mens se senuweestelsel gaan vra. Toe die dosent dit sê het Waldo nie geluister nie, maar aan sy meisie gedink. Die vraestel het hom omkant gevang, sodat hy die jaar moes oordoen.
Moenie dat die duiwel jou omkant vang nie. Jesus en die apostels het hierdie ketters se dwaling voorspel (v.17, Matt. 7:15-20, 24:24, Hand. 20:29-30, 2Tess. 2:9-12, 1Tim. 4:1-3, 2Tim. 4:3-4, 2Pet. 2:1-3:7, 1Joh. 2:18). Hulle is so glad soos ‘n paling en so skelm soos ‘n jakkals: hulle wen mense se guns en maak vriende met almal.
Wat hulle sê klink in die begin vreemd, maar as hulle dit genoeg sê en ‘n paar Bybeltekste aanhaal, val dit sag op die oor. Hulle oortuig eers een persoon, dan nog een, en dan ‘n hele gesin. Hulle hou aan totdat hulle ‘n klomp gesinne oorgehaal het. Hulle doen dit om ryk te word (v.11, 16).
Hulle leef wellustig en goddeloos (v.18, 4, 7-8, 15-16), maar spot as jy met hulle oor die hel praat (v.18). Hulle beklemtoon God se liefde en praat asof Hy hulle nie sal oordeel nie (2Pet. 3:2-4).
Hierdie goddelose vals leraars was in Judas se tyd al aktief. Judas beskryf dit as ‘die laaste tyd’. Dit verwys na die tydperk voor die verwoesting van die tempel in 70 n.C. (Hand. 2:17, 1Kor. 10:11, 2Tim. 3:1-5, Heb. 1:1, 9:26, Jak. 5:3, 1Pet. 1:20, 1Joh. 2:18).[1]
Soos in Judas se tyd is daar vandag nog baie vals leraars. “Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.” (v.19). Vals leraars roem daarin dat hulle die Gees het, maar hulle wêreldse lewens en die verdeeldheid wat hulle veroorsaak wys dat hulle ongered en sonder die Gees is (v.19, Rom. 8:9, Gal. 5:19-21, 1Joh. 2:15-19).
Moet dan nie dink dat iemand met die Gees gevul is omdat hy dinamies en emosioneel is, omdat jy hoendervleis kry wanneer hy preek, of omdat hy sê die Here praat met hom in drome nie (v.8). Kyk eerder na die vrug van sy lewe (v.19, Gal. 5:22).
- 2. Bly in God se liefde (v.20-21)
Wanneer die see verdamp vorm dit wolke wat na die binneland toe waai. Daar word dit soos reuse gieters uitgegooi. Dit loop na die riviere toe en beland weer in die see. God is soos ‘n oseaan van liefde. Deur Jesus en die Heilige Gees vul Hy ons met sy liefde (Rom. 5:5, Ef. 3:16-19). Die strome van jou liefde wat na Hom toe vloei is ‘n reaksie op sy liefde vir jou (1Joh. 4:19).
Volgens Judas is ons God se geliefdes en moet ons in sy liefde bly (v.1, 3, 17, 20-21). Hy sal ons daarin bewaar (v.1, 24), maar ons moet self ook daarin bly (v.21a). Hy maak ons gewillig en bekwaam, maar ons moet gehoorsaam wees (Fil. 2:12-13). Wat beteken dit om jouself in die liefde van God te bewaar?
Dit beteken eerstens om bewus te wees van God se liefde. Verder beteken dit dat jy sal aanhou om die Here lief te hê. Om in sy liefde te bly moet jy Hom gehoorsaam (Joh. 14:15, 21, 15:9-10). Om dit verder op te breek kan ons v.20-21 soos volg opsom:
Hoofwerkwoord: Bewaar jouself in God se liefde (v.21). Doen dit...
[a] Terwyl jy jouself in die geloof opbou (v.20a)
Hoe doen ‘n mens dit? Ten eerste moet jy aan die Christelike geloof vashou (v.3). Jy moet glo dat die Bybel die Woord van God is (2Tim. 3:16). Jy moet in die Drie-Enige God glo: die Vader, die Seun en die Heilige Gees is drie Persone, maar dieselfde God (Matt. 28:19).
Jy moet glo dat Jesus volkome God is, en dat Hy mens geword het (Joh. 1:1, 14). Jy moet glo dat Jesus sondeloos is, dat Hy aan die kruis gesterf het vir sondaars, en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood (2Kor. 5:21, Jes. 53:4-6, 1Kor. 15:1-19). Jy moet glo dat Jesus weer sal kom om die wêreld te oordeel (1Tess. 4:13-18, Op. 20:11-15).
Jy moet glo dat jy nie deur jou goeie werke gered kan word nie, maar dat God die enigste Een is wat jou kan red (Ef. 2:8-9). Om sy verlossing te ontvang moet jy jou bekeer en op Jesus alleen vertrou om jou te red (Mark. 1:15).
As jy dit nie doen nie, sal jy vir ewig in die hel wees (Matt. 13:41-42, Joh. 3:16, 36). Maar as jy in Hom glo, sal jy vir ewig in sy lieflike teenwoordigheid lewe (Matt. 13:43, 25:34).
Dít is die geloof waarin jy jouself moet opbou (v.20a, 3). Daarvoor het jy die gemeente nodig: die gereelde prediking van God se Woord, ander se geestelike gawes en gebede, die nagmaal (Hand. 2:42, 20:32, 1Kor. 14;12, 26, Ef. 4:11-12).
Baie mense dink dat hulle die Here op hulle eie kan aanbid, en dat hulle nie die gemeente nodig het nie. Ek wonder wat hulle in die vroeë kerk sou doen as daar net een gemeente in die dorp was en niemand sy eie Bybel gehad het nie?
Die ‘Jesus’ wat hierdie mense aanbid is nie die Jesus van die Bybel nie, aangesien die Jesus van die Bybel ‘n liggaam het. Iemand wat ontrou is aan die liggaam is ontrou aan die Hoof. Geen gelowige kan sonder die gemeente groei soos hy moet nie.
Hy stel homself ook in gevaar, en is soos ‘n jong olifant wat op sy eie ronddwaal. Sonder die liggaam is Hy meer kwesbaar vir vals lering (Ef. 4:14, 11-13).
[b] Terwyl jy in die Heilige Gees bid (v.20b)
Wat beteken dit? Wanneer God se Gees jou wederbaar woon Hy in jou (kontr. v.19), en help hy jou om te bid (v.20b). Hy gee aan jou die begeerte om te bid (Ef. 2:18). Hy leer jou om volgens God se wil te bid (Rom. 8:26-27). Hy help jou om die Gees-geïnspireerde woorde van die Bybel in jou hart te bêre en daarvolgens te bid (Ef. 6:17-18).
Om jouself in God se liefde te bewaar (v.21) móét jy in die Heilige Gees bid (v.20b). Die punt is dus dat ware gelowiges ‘n gesonde gebedslewe handhaaf. Ek het lank terug in ‘n preek gehoor hoe John Piper sê: ‘If you do not love prayer, you do not love God.’
Ongelowiges is soos die Fariseërs wat elegant voor ander kan bid, maar nie ‘n persoonlike gebedslewe het nie. Ander ongelowiges bid by hulle huise, maar doen dit uit vrees. Hulle hoop dat dit hulle kanse om hemel toe te gaan sal verbeter.
Net ware gelowiges het ‘n lewende verhouding met die Here. Gebed is deel van hulle normale lewens (Hand. 9:11, Ef. 1:16, 3:14, Fil. 1:3-4, Kol. 1:3, 9, ens.).
[c] Terwyl jy Jesus se barmhartigheid verwag (v.21b)
As jy weet dat daar spoedkameras en padblokkades op die N3 is, ry jy versigtiger. En as jy weet dat Jesus oppad is, leef jy versigtiger (v.21b, Tit. 2:12-13, 2Pet. 3:10-14, 1Joh. 3:2-3).
Toe God jou gered het, het jy barmhartigheid ontvang (1Tim. 1:13, 16, 1Pet. 2:10). Daarna ontvang jy dit elke dag (v.2, Klaagl. 3:22-23). Maar dit sal spesiaal aan jou geopenbaar word wanneer Jesus weer kom (v.21b). Dan sal jy nie net die kraan oopmaak om dit te drink nie, maar in die kristalhelder rivier swem.
Om dan die duiwel en sy valsheid te ontwyk, moet jy aanhou om God lief te hê (v.21a). Om dit reg te kry moet jy saam met ander gelowiges in die Woord groei (v.20a), in gebed volhard (v.20b), en in die lig van Jesus se wederkoms lewe (v.21b).
- Wees barmhartig (v.22-23)
‘n Vriend van my vra dikwels vir mense: ‘Are you born again?’ ‘n Ander gelowige het hom onlangs hieroor aangespreek. ‘Stop asking people that question; it is offensive,’ het hy gesê.
Maar om kos en komberse vir die armes te gee is nie die enigste manier om barmhartig te wees nie. Volgens Jud. 22-23 is dit barmhartig om gelowiges te dissiplineer en die evangelie met ongelowiges te deel. Soos wat die Here barmhartig is (v.21b), moet ons met ander wees (v.22-23).
[a] Wees barmhartig met dié wat deur vals lering verwar is en twyfel (v.22)
Doen wat ‘n vriend eenkeer vir my gesê het. Ek was ongeduldig omdat mnr. en mev. X ‘n sekere waarheid nie kon insien nie. ‘Jy moet onthou dat daar ‘n tyd was toe jy dit óók nie ingesien het nie, Ivor. Wees geduldig met ander soos wat die Here met jóú is.’
[b] Wees barmhartig met dié wat in vals lering vasgevang is (v.23a)
Ek ken meer as een persoon wat na Prosperity Crusades toe gaan om mense teen hierdie vals ‘evangelie’ te waarsku. Een van my vriende het al ‘n paar mense so vir die Here gewen. Hy vrees nie om die vuuroond se deur oop te maak en mense uit die vlamme te red nie (v.23a, Gen. 19, Amos 4:11, Sag. 3:2, 1Kor. 3:15).
Volgens Calvyn help dit nie om jou vinger te wys wanneer jy mense teen vals lering waarsku nie - jy moet jou hand uitstrek en hulle uit die vuur ruk.[2] Moenie bang wees om vir mense die waarheid te wys en hulle kerk toe te nooi nie.
As jy vals lering by die naam noem sal sommige sê dat jy liefdeloos is, maar volgens Judas is dit liefdevol en barmhartig. ‘n Ou Skotse prediker het gesê: ‘They do not love you that do not warn you, poor hell-deserving sinners. O! remember that love warns.’[3]
[c] Wees barmhartig met dié wat deur die vals leraars se sonde besmet is (v.23b)
Mense het eenkeer vir my gesê om nie kerktug toe te pas nie, omdat dit liefdeloos is. Volgens Judas is dit barmhartig. ‘As jy genoeg vir ander mense omgee sal jy dit doen,’ is in effek wat hy in v.23b sê. Wees lief vir die sondaar en haat sy sonde.
Wees bang wanneer jy ingaan om hierdie mense te red. Herinner hom daaraan dat die Here sondaars sal oordeel, en sê vir hom hoe erg die hel sal wees (v.23, 2Kor. 5:11).
Wees ook versigtig vir die vieslike dinge wat jy sal sien en hoor wanneer jy ingaan om die persoon te help (v.23). Jy is soos iemand wat ‘n siek persoon se beddegoed vol dodelike en aansteeklike kieme moet was. Vra die Here se beskerming voor jy dit doen.
- 4. Rus in God se bewaring (v.24-25)
Toe John Bunyan se Pilgrim na die hemelse stad toe reis, het hy deur die Vallei van Vernedering geloop. Daar het hy vir Apollion (die draak) ontmoet. In sy eie krag kon hy nie teen hom veg nie - hy het die Here se hulp en wapenrusting nodig gehad.
Net so het jy die Here se bewaring nodig om die duiwel te ontwyk en ander mense uit sy strik te bevry (v.24-25). Jy kan dit nie in jou eie krag doen nie. Maar as jy op die Here vertrou, sal Hy jou tot die einde toe bewaar sodat die duiwel jou nie kan wegsteel nie (Joh. 10:28-29, 17:12, Rom. 8:38-39, 2Tim. 4:17-18).
Die Here sal seker maak dat jy eendag sonder skuld voor Hom staan (v.24, Rom. 8:1, Ef. 5:27, Kol. 1:22, 28, Op. 14:5). Alhoewel jy vir ‘n tyd lank deur dwaling mislei kan word, sal die Here sy kinders daaruit red en nie toelaat hulle finaal wegval nie (v.24, Matt. 24:24, Fil. 1:6).
Wanneer jy op die laaste dag voor die Here staan, sal dit nie soos die goddelose met vrees en bewing wees nie, maar met oorvloedige blydskap (v.24). Deur die Here Jesus Christus sal jy die enigste God en Verlosser met jou oë sien (v.25).
Jy sal sy die heerlike glans, koninklike majesteit, soewereine heerskappy, en Goddelike mag sien (v.25). Sodra dit gebeur sal jy weet dat dit nog altyd aan Hom behoort het, en dat dit vir ewig syne sal wees: Amen (v.25).
‘n Groot en akkurate siening van God is die fondasie waarop elke ander Bybelse waarheid gebou is. As jy op hierdie punt reg is sal geen ketter jou uitvang nie, en sal jy die duiwel ontwyk. Wie is die ware God?
- Hy is ‘n volmaakte, onsigbare en oneindige Gees wat oral in sy volle wese teenwoordig is (Ps. 139:7-8, Jer. 23:24, Joh. 4:24, 1Tim. 1:17).
- Hy is een God wat in drie Persone bestaan (Deut. 6:4, Matt. 3:16-17, 28:19, 1Kor. 8:4, 6).
- Hy is onafhanklik en het nie die skepping nodig nie (Hand. 17:25).
- Hy is onveranderlik en betroubaar (Mal. 3:6, 1Kor. 1:9). Sy Woord en karakter bly konstant. As Hy iets gesê het sal Hy dit doen (Num. 23:19).
- Hy is ewig en het geen begin of einde nie (Eks. 3:14, Ps. 90:2).
- Hy weet alles gelyktydig en hoef nooit iets oor die verlede, hede, of toekoms te leer nie (Job 37:16, Ps. 139:1-4, Matt. 6:8, 1Joh. 3:20).
- Hy is alwys en raak nooit gefrustreerd omdat Hy nie weet wat om te doen nie (Ps. 104:24, Rom. 11:33, 1Tim. 1:17).
- Hy is liefdevol, goed, barmhartig, geduldig en genadig - dit is deel van wie Hy is (Eks. 34:6-7, Ps. 119:68, 1Joh. 4:8-10).
- Hy is almagtig: niks is vir Hom onmoontlik of eers moeilik nie (Jer. 32:17, 27, Matt. 19:26, Luk. 1:37).
- Hy is heilig, uniek, gans-anders, en ver verhewe bo die skepping (Jes. 6:3).
- Hy is soewerein. Hy regeer oor alles en doen wat Hy wil (Ps. 103:19, 135:6).
- Hy is regverdig en doen net wat reg is (Deut. 32:4). Hy is die definisie van wat reg en verkeerd is.
- Hy is toornig, wat beteken dat Hy alle sonde haat (Rom. 1:18).
- Hy is salig of vreugdevol in die hoogste sin van die woord (1Tim. 6:15).
- Hy is pragtig en begeerlik, mooier as enigiets in die skepping (Ps. 27:4, Jes. 33:17).
Vir hierdie God om jou teen die duiwel te beskerm en veilig in die hemel te bring, is makliker as vir ‘n 60-voet beton muur om jou teen ‘n enkele waterdruppel te beskerm.
[1] Dit impliseer o.a. dat 1Johannes voor 70 n.C. geskryf is. Die algemene siening is dat dit tussen 85 en 95 n.C. geskryf is, maar daar is genoegsame bewyse dat Johannes dit voor die verwoesting van die tempel geskryf het. Sien bv. http://www.datingthenewtestament.com/John.htm EN John A.T. Robinson, Redating the New Testament, Wipf and Stock Publishers, Eugene: Oregon, 1976 [SCM Press], 2000, hfst. 9. Robinson se boek is by die volgende skakel beskikbaar: http://web.archive.org/web/20071120235525/http:/www.preteristarchive.com/Books/1976_robinson_redating-testament.html
[2] Aangehaal in Michael Green, Tyndale New Testament Commentaries: 2Peter & Jude, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1968, p. 187
[3] Robert Murray McCheyne, Sermons of M’Cheyne, The Banner of Truth Trust, London: England, 1961, p. 168