My plan is nie om hierdie kwessies in detail te bespreek nie. Ek het al voorheen oor die teologie en teorie hiervan gepreek. In hierdie preek wil ek wys hoe ons depressiewe mense en gays in die praktyk kan help. Dit is te veel om in een preek te bespreek, en daarom gaan ek net ‘n basiese oorsig gee.
- Depressiewe mense
William Cowper het in die 1800’s gelewe. Hy was vir baie jare in ‘n diep depressie en wou meer as een keer sy eie lewe neem. John Newton het hom vir baie jare mooi bygestaan en deernis gehad.
As jy depressiewe mense wil help moet jy soos Newton wees. Jy kan nie iemand wees wat min deernis het en nie depressie verstaan nie. “[W]een met die wat ween,” sê Paulus in Rom. 12:15. Moenie die geknakte riet afbreek nie (Matt. 12:20).
Om effektief te help moet jy die oorsaak van die depressie vasstel. Dit help nie jy sê vir die persoon hy moet sing en bly wees as sy depressie ‘n newe-effek van pille is nie.
Wat is die verskillende oorsake van depressie?
[a] Lewe in ‘n gevalle wêreld. Jy gaan nie altyd op die bergtop wees nie. Maar dit beteken nie jy hoef moed op te gee nie. “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie” (2Kor. 4:8).
[b] Skuldgevoelens a.g.v. sonde (Gen. 4, Ps. 32, 38). In hierdie geval help dit nie die persoon gebruik anti-depressante nie. Sodra die pille uitwerk, sal die persoon weer skuldig voel. Ps. 51 is die oplossing in hierdie geval: die persoon moet hom bekeer, sy sonde bely en vergewe word. Vir die depressie om weg te gaan moet die persoon Jesus se kruisdood, God se vergifnis en die belofte van 1Joh. 1:9 verstaan. Indien hy dink dat die Here hom nie vergewe het nie, sal hy depressief bly.
Dalk sê hy dat die Here hom vergewe het, maar dat hy homself nie kan vergewe nie. Wys hom dat dit ‘n vorm van hoogmoed is: hy dink dat daar hoop is as hy die Here se wet oortree, maar nie as hy sy eie standaarde oortree nie. Hy dink dat sy standaarde hoër is as die Here s’n.
Dalk wil hy God se guns wen deur in die donker gat van sy depressie te bly en homself te slaan. Wys hom dit selfgeregverdig is om te dink jy kan die Here se guns verdien.
[c] ‘n Verkeerde interpretasie van die omstandighede. Asaf het gedink dat sy lyding en die voorspoed van die goddelose ‘n bewys is dat die Here hom vergeet het. Sy perspektief het verander toe hy aan die ewigheid dink en onthou dat dinge eendag sal omkeer (Ps. 73).
Elia het gedink dat hy die enigste een is wat die Here dien, en dat die res van Israel die Baäls aanbid het. God het hom gewys dat daar 7000 ander is wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie (1Kon. 19). Elia kon weer moed skep.
Die Emmaus-gangers was depressief oor Jesus wat gesterf het. Alles het verander toe hulle uit die profete verstaan dat die Messias móés sterf om sy heerlikheid in te gaan (Luk. 24).
William Thomas was dood benoud omdat hy gedink het hy het die onvergeeflike sonde gepleeg. Toe Martyn Lloyd-Jones vir hom wys wat die onvergeeflike sonde is, dat hy dit nie gepleeg het nie en dat hy vergewe kon word, het sy angs verdwyn.
Die oplossing in hierdie en soortgelyke gevalle is dat die persoon reg moet dink. Help hom deur die storie van Josef. Wys vir hom hoe die Here die slegte omstandighede in Josef se lewe vir die goeie uitgewerk het.
Watse huiswerk moet jy vir so iemand gee? Vra die persoon om Trusting God van Jerry Bridges te lees. Hy moet ook drie keer per dag dinge skryf waarvoor hy dankbaar is (Martin Holdt se metode). Dit sal hom help om nie sy gedagtes met negatiewe dinge te vul nie, maar met dinge wat goed en opbouend is. “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Fil. 4:8).
Die persoon moet leer om hardop met homself te praat en homself aan te moedig. Hy moenie na homself en sy negatiewe gedagtes luister nie (Martyn Lloyd-Jones se raad). Hy moet leer om die glas half vol te sien en nie half leeg nie. Hy moet soos Matthew Henry (1662-1714) wees. Nadat hy een aand beroof is, het hy in sy joernaal geskryf:
‘Lord, I thank you that I have never been robbed before;
that although they took my money, they spared my life;
that although they took everything, it wasn’t very much;
that it was I who was robbed, not I who robbed.’
[d] Die newe-effekte van medikasie. Die persoon moet in die voubiljet kyk en sy dokter vra om die medikasie te verander.
[e] Fisiese probleme. Die persoon mag miskien depressief wees omdat hy te min slaap of oefen, baie kafeïene inneem, of omdat hy Parkinson’s, Multiple Sclerosis of ‘n ander siekte het. Sodra siekte die depressie veroorsaak, diagnoseer hulle dit nie meer as depressie nie.
Hoe weet jy of die persoon se depressie deur ‘n siekte veroorsaak word? Dit gebeur gewoonlik as die persoon oor 40 is, as hy nog nooit voorheen depressief was nie, as daar geen drastiese verandering in sy omstandighede is nie, of as hy voorskrif medikasie gebruik. Jy kan ook agterkom dat siekte moontlik die oorsaak is as die persoon geestelik groei, maar nog steeds depressief is. Die oplossing in hierdie geval is nie om Fil. 4:4 te sing nie: die persoon moet vir ‘n mediese ondersoek gaan.
[f] Demone. Demone kan mense tot depressie versoek. In sommige gevalle kan dit wees dat iemand besete is. As demone die liggaam kan siek maak (bv. Matt. 12:22, Luk. 13:11-12, 16), kan hulle sekerlik ook die siel beïnvloed. Waar ‘n demoon ‘n Christen tot depressie versoek, is die wapenrusting van Ef. 6:10-18 die oplossing. As ‘n man of vrou besete is, is hulle nie gered nie en is die evangelie en baie gebed die enigste oplossing (Mark. 9:28-29, Joh. 8:32, 36, Rom. 1:16).
Jy het seker agtergekom dat ek nie ‘n chemiese wanbalans of te min sirotonin in die brein as ‘n oorsaak van depressie gee nie. Hoekom nie? Want dit is ‘n teorie. Daar is geen bewyse dat depressie ‘n siekte is nie. Siekte is ‘n probleem in die liggaam. Jy kan dit met konkrete toetse observeer en bewys. Depressie is nie so, maar word gediagnoseer op grond van hoe die persoon voel. Wat sal jý doen as jy vir die dokter sê jou voet is dood, en hy sonder enige toetse vir jou sê dat jy gangrene het en dat hulle jou voet moet afsit?
Depressie is nie ‘n siekte nie. Daarom is die oplossing geestelik en nie medies nie. Robert Smith (‘n mediese dokter en Bybelse berader) sê: ‘Because there is no scientific proof of an organic cause for depression, the Bible is the only solution for a depressed person.’
Pille is nie nodig nie. Dit verlig miskien die simptome, maar deel nie met die oorsaak nie. Beteken dit pille is sonde? Nee. Dit soos iemand wat pille drink vir naarheid, al is naarheid nie die oorsaak van die probleem nie.
As berader moet jy nie probeer om die persoon van die pille af te haal nie. Die persoon moet self sien dat die Here hom deur die depressie kan help, en dat hy nie pille nodig het nie. ‘n Dokter moet hom help om van die pille af te kom.
Daar is nog ‘n paar dinge om te onthou wanneer jy depressiewe mense help.
- Hy moet die Here dien en sy pligte nakom ongeag van hoe hy voel. Soms is ‘n lekker gevoel die gevolg van gehoorsaamheid en nie die oorsaak nie. Jy is nie lus om gym toe te gaan nie, maar as jy terugkom is jy bly. Jy is nie lus om te bid of kerk toe te gaan nie, maar as jy klaar is, is jy bly. So is dit ook met depressie. Die Here sal jou met blydskap seën as jy reg doen (Joh. 13:17).
- As sonde die depressie veroorsaak, moet jy nie konfrontasie vermy omdat die persoon alreeds sleg voel nie. Dit is soos ‘n dokter wat nie vir die pasiënt sê hy het kanker nie, omdat die persoon klaar siek voel. Hy moet eerder die waarheid praat en die kanker uitsny. Net so is dit beter dat die depressiewe persoon korttermyn pyn en langtermyn vreugde het, as andersom.
- Moenie baie huiswerk vir ‘n depressiewe persoon gee nie. Vat dit een dag op ‘n slag.
- Die depressiewe persoon moenie by die huis sit en homself bejammer n Hy moet uitdie huis uit kom en met ander Christene meng.
- Moenie selfmoord dreigemente ligtelik opneem nie. Wys vir die persoon dat selfmoord nie die uitweg is nie. Dit sal nie sy probleme oplos nie, maar dinge ver As hy dood is, sal hy voor die Here moet staan en rekenskap gee (Heb. 9:27).
- Gee vir die depressiewe persoon hoop. Moenie vals hoop gee nie: ‘Jy sal sien hoe jy binne drie weke werk het.’ Gee eerder ware hoop: ‘Die Here sal jou nie verlaat nie; Hy is elke tree van die pad met jou.’
- Gays
Oor die afgelope dekade of meer, het die wêreld die kerk met hulle idees oor homoseksualiteit beïnvloed. Ongelukkig is dit nie net meer liberale kerke wat beïnvloed word nie. Goeie, evangeliese groepe het ook in die strik getrap. ‘n Paar jaar gelede het Exodus International (‘n organisasie wat gays gehelp het om hulle te bekeer) gesê dat hulle verkeerd was oor gays. In 2016 het die Gospel Coalition getwiet: ‘It’s more masculine to be attracted to men yet obedient to God than attracted to women and disobedient to God.’ Hulle twiet impliseer dat aangetrokkenheid tot mans nie sonde is nie en dat dit Godvresend kan wees. James White het hulle hieroor aangevat.
‘n Bekende Gereformeerde prediker in die V.S.A. het onlangs gesê: ‘...heterosexuality does not get you to heaven...so how in the world can homosexuality send you to hell?’ Maar dit is soos om te sê: ‘Getrouheid in die huwelik kan jou nie in die hemel kry nie; hoe kan egbreuk jou dan in die hel laat beland?’
As mense wat die Bybel en die evangelie glo, moet ons sê dat homseksualiteit altyd sonde is. Daar is geen uitsondering nie. Die persoon wat jy beraad dink dalk nie so nie. Indien die persoon ‘n homoseksuele leefstyl handhaaf (hetsy in sy denke of dade) en sê dit is nie sonde nie, is hy volgens 1Kor. 6:9-10 ongered. ‘Gay Christen’ is soveel ‘n oksimoron soos ‘vierkantige sirkel’.
Die persoon wat hulp soek weet waarskynlik dat homoseksualiteit sonde is. Dit is juis om hierdie rede dat hy hulp soek. Hoe kan jy die persoon help? Onthou eerstens dat ‘n ware gelowige tot homoseksuele denke en dade versoek kan word. Maar dit beteken nie hy is gay nie. Hy het ‘n nuwe identiteit in Christus, en daarom etiketeer ons hom as ‘n Christen en nie as ‘n homoseksuele nie (1Kor. 6:11, 2Kor. 5:17).
Die feit dat die persoon dinge verkeerd verstaan beteken nie hy is ongered nie. Dalk is hy net deur die wêreld verwar. Dalk is dit liberale predikers se verdraaide eksegese wat hom verwar. Liberales sê dat homoseksualiteit nie altyd (of glad nie) verkeerd is nie. Werk saam met die persoon deur die verse in hulle konteks. Ontleed die woorde in die teks. Jy sal sien hoe die pro-gay argumente nie onder deeglike eksegese stand hou nie. Mense wat pro-gay is, praat om die teks en hanteer nie die teks self nie. Hul sê dinge wat nie in die teks staan nie.
Die persoon wat jy beraad het ook tien teen een gehoor dat gays so gebore is. Maar dit is nog nooit wetenskaplik bewys nie. Ek ken ‘n eks-gay wat vandag getroud is en sy vrou baie liefhet. Gays kan verander. Hulle is nie so gebore nie. Moet dus nie toelaat dat die persoon vir jou sê hy kan nie verander nie. Die Bybel sê hy kan (1Kor. 6:11). Niks is vir die Here ontmoontlik nie (Jer. 32:17, 26-27, Luk. 1:37, Ef. 3:20).
Die persoon mag dalk sê: ‘Ek kan nie onthou dat ek gekies het om gay te wees nie.’ Maar wat as ‘n ander gelowige sê hy kan nie onthou dat hy gekies het om ‘n kort humeur te hê nie? Dit verskoon nie sy sonde nie. Sonde werk op ‘n baie dieper vlak as die mens se wil. Dit is deel van die ou natuur. Dit is hoekom jy nie net jou morele sokkies kan optrek nie. Jy het Jesus se kruisdood en die reinigingswerk van die Heilige Gees nodig in wedergeboorte. Jy moet in die diepste deel van jou menswees verander.
Die persoon het moontlik die argument gehoor wat sê: ‘Homoseksualiteit maak niemand seer nie.’ Dit is nie waar nie. ‘n Gay leefstyl versprei siektes, breek mense se harte, vernietig die familiestruktuur soos God dit bedoel het en verwoes uiteindelik die samelewing. Maar selfs al sou dit niemand seermaak nie, is dit nog steeds sonde teen God (Ps. 51:6).
Homoseksualiteit is ‘n openlike rebellie teen God se skeppingsorde soos Hy dit van die begin af bedoel het. Wys vir die persoon wat God in Gen. 1-2 oor manlikheid, vroulikheid, seksualiteit en die huwelik sê. Moet egter nie by die teorie bly nie. Help die persoon om sy manlikheid of haar vroulikheid prakties uit te leef. Die persoon moet vriende van dieselfde geslag soek wat hulle manlikheid of vroulikheid Bybels glo en uitleef. Hulle het goeie voorbeelde nodig.
Hulle moet ook vriende soek wat hulle aanspreeklik hou, wat nie bang sal wees om vir hulle te vra hoe dit met die versoeking gaan nie. Hulle moet vriende soek wat ‘n goeie en gesonde huwelik het, sodat hulle Bybelse manlikheid en vroulikheid in die praktyk kan sien.
Die persoon moet verkeerde maniere en modes afleer en lewe volgens die geslag wat God hulle gemaak het. In Deut. 22:5 staan daar: “‘n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ‘n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die HERE jou God ‘n gruwel.”
Die persoon moet ook gesonde, nie-seksuele verhoudings met Christene van die teenoorgestelde geslag bou. Die doel is om uiteindelik met iemand van die teenoorgestelde geslag te trou. God het immers die huwelik gegee as een van die oplossings om seksuele sonde te oorkom (1Kor. 7:2, 9).
Maar totdat die persoon gereed is om te trou, moet hy dinge (die internet, ‘n selfoon, Facebook, ens.), plekke en vriende vermy wat hom tot homoseksuele denke en dade versoek (Spr. 5:8, 13:20, Matt. 5:29-30, Rom. 13:14, 1Kor. 15:33).
Help ook die persoon om sy probleme en stres reg te hanteer, en nie uitlating te gee deur seksuele losbandigheid of pornografie nie. Ek noem pornografie, want deesdae verwar die kerk mense hieroor. Hulle sal bv. sê dat homoseksuele dade verkeerd is, maar dat ‘Same Sex Attraction’ nie verkeerd is nie. Maar die Bybel noem dit wellus. Volgens Rom. 1:26-27 is dit nie net homoseksuele dade wat verkeerd is nie, maar ook die begeerte om met iemand van dieselfde geslag seks te hê. Die oplossing is dus nie net om teen homoseksuele dade te veg nie, maar teen die gedagtes (2Kor. 10:4-5, Fil. 4:8). As die persoon teen die gedagtes veg, roei hy die nes uit.
Die laaste belangrike les is dít: die persoon moet leer dat sy of haar homoseksualiteit nie hulle ouers se skuld is nie. ‘n Onbetrokke ouer kan daartoe aanleiding gee dat sy kind gay word en liefde soek by iemand van dieselfde geslag. Soms skakel dit oor in sondige dade soos seksuele immoraliteit. Maar alhoewel ouers se onbetrokkenheid ‘n rol speel, is die kind verantwoordelik vir sy eie sonde. As hy dit nie erken nie en aanhou om sy ouers te blameer, sal hy die oplossing by iemand anders soek en nie by Jesus nie.
Daarmee sê ek nie dat jy hom nie kan help om deur die verlede te werk en sy ouers te vergewe nie. Maar hy sal nie ver vorder as hy homself verontskuldig en die blaam vir sy homoseksualiteit op ander se skouers plaas nie.
Op papier klink bg. berading maklik. Uit ervaring kan ek egter getuig dat dit nie so maklik is nie. Wayne Mack het ons eenkeer ‘n video van ‘n suksesvolle berading sessie gewys. Na die video het hy gesê: ‘Dit werk nie gewoonlik so nie. In die meeste gevalle is dit baie moeilik.’
Ongelukkig is ons nog nie op die nuwe aarde nie. Jy hoef nie eers berading te doen om dit te weet nie. Kyk net na jou eie hart. As jy sien hoe vuil jou hart is, sal jy die Here se genade waardeer en meer omgee vir ander.