Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 April 2019

Hoe moet jy jou vyande liefhê?

Related image

Romeine 12:14 & 17-21

‘n Paar weke gelede het ds. Riaan de Villiers van die Groote Kerk in Kaapstad vir die Moslems gebid, nadat 28-jarige Brenton Tarrant vyftig van hulle in Christchurch, Nieu-Seeland, doodgeskiet het. Niemand het ‘n probleem gehad dat hy vir hulle gebid het nie, maar dat hy hulle ‘kinders van God’ genoem het. Sommige mense het hom aangevat, terwyl ander gesê het dat hy reg was. Een vrou het daarop gehamer dat Moslem-organisasies soos Gift of the Givers meer doen vir mense in nood as wat enige kerk doen.

Maar terwyl Moslems in sosiale aksies betrokke is, het hulle nie hulle vyande lief soos Jesus en die res van die Bybel ons beveel nie. Het jy al gehoor van ‘n Moslem wat, soos Jesus en Stefanus, vir sy vervolgers bid (Luk. 23:34, Hand. 7:60)? Jy sal ook nie, omdat die Koran vir Moslems sê om dié te slag wat hulle godsdiens verwerp en hulle vervolg (Sura 2:190-191, 193, 9:5, 49:9).

Dus is dit maklik vir Gift of the Givers om goed te doen aan mense wat hulle nie teenstaan nie (Luk. 6:32-34). Dit is egter vir hulle onmoontlik om goed te doen aan dié wat hulle vervolg. Om dít reg te kry, moet jy eers besef dat jy God se vyand was, en dat Hy jou so liefgehad het dat Hy sy Seun gegee het om vir jou sonde aan die kruis te sterf (Rom. 5:8).

As jy hierdie liefde verstaan, kan jy ook jou vyande liefhê. Wat beteken dit om jou vyande lief te hê? Hoe lyk hierdie liefde in die praktyk? Rom. 12:14, 17-21 sê ons.

  1. Moet hulle nie vervloek nie (v.14)

Ek onthou hoe iemand eenkeer baie boos opgetree het en my met ‘n spul leuens bedrieg het. Ek was kwaad en het gebid dat die Here die persoon teen die grond sal slaan. Die Here het my gewys dat ek verkeerd was. Ek moes my sonde bely en volgens Jesus se voorbeeld en instruksie bid dat Hy die persoon vergewe (Luk. 6:28).

Volgens v.14 moet jy jou vyande seën en nie vervloek nie. Moenie die persoon met vuil taal, lelike tekens, en vervloekings slegsê nie. Wil jy regtig hê die Here moet jou vyand vir ewig in die hel gooi? As dit jou begeerte is, weet jy nie wat die hel is nie en vergeet jy dat jy self daarheen op pad was, maar dat die Here jou uit genade gered het.

Bid eerder dat Hy die slegte persoon sal red soos wat Hy Paulus gered het. As jy ander vervloek, wys dit wat in jou hart is (Matt. 12:34). Ek het al ‘n paar keer gehoor hoe mense in die gemeente kwaad raak en ander mense vloek. Dit verheerlik nie die Here nie. Bely jou sonde en vra die Here om jou daarvan te red (Ps. 141:3).

  1. Moet hulle nie vergeld nie (v.17-18)

Toe ek ‘n student was, het ek eenkeer saam met ‘n ander student Pretoria toe gery. Toe ‘n motoris voor hom indruk, het hy op die ou se stert gery en ligte vir hom geflits. Volgens Paulus is dit juis wat ons nié moet doen nie: moenie mense terugkry nie (v.17, Spr. 20:22, 1Pet. 3:9). Moenie sê: ‘As hulle my só hanteer, sal ek hulle ignoreer, slegsê, stories oor hulle versprei, hulle vuil wasgoed ophang, nie kerk toe kom nie, hulle nie groet nie, hulle naam van my gebedslys afhaal, hulle vermy, ens.’ nie.

Volgens Paulus moet jy eerder doen wat almal weet goed is (v.17). Net soos wat ongelowiges tyd neem om te dink hoe hulle hulle vyande kan terugkry, moet jy tyd neem om te beplan hoe jy aan hulle kan goed doen (v.17). In party gevalle sal jou pogings nie help nie, omdat die ander persoon nie vrede wíl hê. Jy moet egter alles in jou vermoë doen om vrede te hê in jou huwelik, met jou gesin, met jou familie, skoonfamilie, vriende, kollegas en bure (v.18). Paulus se punt is dat jy vredeliewend moet wees, en nie ‘n vegter nie.

Het jy gebroke verhoudings? Wat is die rede? Is dit omdat die persoon teen jou sondig en nie wil ophou nie? Die oplossing is nie om vir die persoon te sê: ‘Dit maak nie saak as jy aanhou sondig nie; kom ons leef in vrede met mekaar.’ Die persoon moet sy of haar sonde los. As hulle ná ‘n proses van kerktug nog met hulle sonde aanhou, moet jy hulle vermy (16:17, 1Kor. 5:9, 2Tim. 3:5, 2Tess. 3:6, 14, Tit. 3:10). In so ‘n geval is dit nie moontlik om vrede te hê nie (v.18).

Dit is ook nie moontlik om vrede te hê as jy met ‘n ongelowige getroud is en die huwelik wil red, maar hy of sy wil nie (v.18, 1Kor. 7:15). Laastens is dit nie moontlik om in vrede te lewe as iemand vals lering verkondig nie. Jy kan beleefd wees met die persoon, maar jy kan nie maak asof julle broers en susters in die Here is nie. Hier geld die Engelse gesegde: ‘Peace if possible; truth at any cost.’

Indien jy egter a.g.v. ‘n ander rede ‘n gebroke verhouding het, moet jy nie wag en dink dit sal vanself regkom nie. Moet dit nie vir maande los nie, maar vra die Here se hulp en neem stappe om dit reg te stel (v.18, Matt. 5:23-25, 18:15).

  1. Moenie wraak neem nie (v.19-20)

Ateïste hou daarvan om die Bybel af te kraak. As Christene sê dat die Koran verkeerd is omdat Allah Moslems beveel om hulle vyande dood te maak, sê ateïste dat die Bybel dieselfde doen. Maar dit is nie so nie. ‘Dit is so,’ sê iemand. ‘Volgens Eks. 21:23-25 moet jy ‘n persoon wat jou oog of tand uitslaan, terugkry: ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.’ Maar die verse gaan nie oor persoonlike vergelding nie (vgl. Matt. 5:38-42). Die les is eerder dat die regering die kwaaddoener moet straf volgens wat hy aan die ander persoon gedoen het.

‘Maar wat van die Psalms waar Dawid bid dat die Here sy vyande moet vergeld?’ Dit is presies die punt: hy neem nie self wraak nie, maar vra die Here om dit te doen. Onthou ook dat Dawid die koning is. As hy dus die boosdoener straf, voer hy Gód se wraak uit (vgl. Rom. 13:4). Dit is nie dat hy ‘n persoonlike wrok dra nie. Dit gaan eerder daaroor dat hy dié mense straf wat God se wet oortree.

Die Bybel sê dus nie soos die Koran dat jy wraak moet neem nie. Los dit vir die Here (v.19). Wees soos ‘n kind wat eenkant toe staan, sodat sy pa met die boelie kan afreken (v.19). [Jay E. Adams, How to Overcome Evil (Phillipsburg, New Jersey, P&R Publishing, 1977), 137-138].

Beteken dit dan jy moet passief sit en toekyk hoe skelms by jou huis inbreek, hoe terroriste ons land aanval, hoe die baas jou salaris vir ses maande terughou en die geld vir homself vat? Nee. Volgens die Skrif neem die Here wraak deur die hof, die polisie, die sekuriteitsfirma, of die weermag (Rom. 13:4). Soms neem Hy wraak deurdat jy die rower doodskiet wat jou, jou vrou en jou kinders aanval (Eks. 22:2-3).

Maar wat as die hof en die polisie jou nie wil help nie, omdat hulle aan die kant van die onreg staan? Waar jou eie of ander mense se lewens in gevaar is, moet jy dit verdedig. Maar as dit ‘n kwessie van onreg is wat nie jou lewe bedreig nie, moet jy nie die gereg in eie hande neem nie. Gee dit vir die Here en vertrou dat Hy sal optree (Ps. 37:5-6, 1Pet. 2:23). Weet ook dat Hy die persoon op die oordeelsdag sal straf (2:5). Dit moet jou egter nie bly maak nie, maar hartseer sodat jy vir die persoon se redding bid.

Wat as die persoon wat jou te na kom ‘n Christen is? Moenie hof toe gaan nie, maar poog om dinge op ‘n persoonlike vlak uit te sorteer (Matt.18:15, 1Kor. 6:1-8). As die persoon weier om hom of haar te bekeer, moet die gemeente help. As die persoon nog steeds met sy of haar sonde aanhou, moet die kerk die persoon afsny en as ‘n ongelowige beskou (Matt. 18:17).

As die saak ernstig genoeg is, kan jy die persoon voor die hof daag. Dit is nie ‘n oortreding van 1Kor. 6 nie, aangesien jy nie ‘n ander gelowige voor die hof daag nie, maar ‘n ongelowige. Dit beteken egter nie jy móét hof toe gaan nie. Probeer nog steeds om die saak met die persoon uit te praat. Indien die saak nie té ernstig is nie, kan jy selfs oorweeg om die hofgeding te los en die persoon se skuld af te skryf (1Kor. 6:7).

Waar dit ‘n gelowige is wat teen jou sondig, moet jy ook onthou dat God reeds die persoon se sonde aan die kruis gestraf het. Jy hoef nie die persoon verder te straf nie. As jy self probeer om die persoon te straf, sê jy die kruis is nie genoeg nie en dat Jesus misluk het.

Gee eerder die saak vir die Here. Hy sal die persoon tug. Onthou asb. dat jy self ‘n sondaar is wat uit genade gered is. Vergewe daarom die persoon soos wat die Here jou vergewe het (Ef. 4:32). Dit is nie jou plek om wraak te neem nie. Wraak kom die Here toe (v.19, Deut. 32:35). Hy weet of die persoon sy been moet breek, en of Hy die persoon se lewe moet neem.

Hy ken ook die persoon se gedagtes en motiewe. Jy het nie die mag of die kennis om reg te oordeel nie. Om te dink jy het, is om God se plek te wil inneem. En as jy dit doen, sal Hy jóú straf. God is die Regter. Laat Hy wraak neem.

Dit beteken egter nie dat jy soos Jona onder ‘n plant moet sit en wag dat die Here jou vyande met vuur uit die hemel moet vernietig nie (Jona 4:5). Jy moet eerder positief optree en gaaf wees met die persoon. Vind uit wat jou vyand nodig het en gee dit vir hom (v.20, Spr. 25:21-22, Eks. 23:4-5, 1Kon. 6:21-23).

Is hy honger? Gee hom iets om te eet. Is hy dors? Gee hom iets om te drink. Het hy ‘n kombers nodig? Gee vir hom een. Het sy kar gebreek? Betaal om dit te laat regmaak. Deur dit te doen sal jy vuurwarm kole op sy kop hoop (v.20). Wat beteken dit? Om in antieke Egipte berou oor jou sonde te toon, moes jy ‘n pan vol warm kole op jou kop dra [Douglas Moo, The NIV Application Commentary: Romans (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2000), 413 n. 10]. As jy ma.w. jou vyand help, sal hy skaam word, berou hê dat hy teen jou gesondig het en hom bekeer.

Kom ek gee ‘n voorbeeld van wat ek bedoel. R.C. Chapman (1803-1902) was ‘n prediker in Engeland. ‘n Man met ‘n kruidenierswinkel het nie van Chapman se opelug prediking gehou nie en het op hom gespoeg.

Op ‘n dag toe kom ‘n ryk familielid vir Chapman kuier. Na die besoek wou hy vir Chapman kruideniers koop. Chapman het hom gevra om asb. die kruidenier se winkel te ondersteun. Die ryk familielied het baie items gekoop en gevra dat die kruidenier die pakkies by Chapman se huis moet aflaai. Die kruidenier het gedink dit is ‘n fout, maar Chapman se familielid het gesê: ‘Hy het my spesifiek gevra om jóú winkel te ondersteun.’

Toe die kruidenier die pakkies vir Chapman vat, het hy in trane uitgebars en gevra dat Chapman hom vergewe. Hy het daardie selfde dag nog tot bekering gekom [Robert L. Peterson, Robert Chapman (Neptune, New Jersey: Loizeaux Brothers, Inc., 1995), 147]. Dit is miskien wat sal gebeur as jy nie self wraak neem nie, maar goed doen aan jou vyand.

  1. Moenie dat die kwaad jou oorwin nie (v.21)

Gestel jy stap by ‘n donker vertrek in. Kan jy die donker verdryf deur nog donker in te bring? Gestel iemand sondig teen jou. Kan jy die sonde verdryf deur verder teen die persoon te sondig? Soos wat nét lig donker kan verdryf, kan nét goeie dade die kwaad oorwin. Moet dus nie toelaat dat mense se sonde jou onderkry nie, maar oorwin hulle deur hulle met die goeie te vergeld (v.21).

Ek het ‘n ware storie gelees van ‘n man wie se vrou hom gelos het om by haar ou hoërskool kêrel in te trek. Die man se gemeente het niks gedoen om die huwelik te probeer red nie. Hy het egter teen die versoeking gestry om bitter te raak en homself te bejammer. Hy het die saak vir die Here gegee. Hy het vir sy vrou gebid, sagmoedig met haar gepraat, en geweier om haar voor die kinders of ander mense te kritiseer.

Na ‘n jaar het haar kêrel so met haar baklei, dat sy gedink het hoe sagmoedig en liefdevol haar eie man met haar was. Sy het met bewing teruggekom en gevra of hy haar sal vergewe en nog ‘n kans sal gee. Tot haar verbasing het hy ingestem. Hulle het vir berading gegaan en na agt maande hulle huweliksbeloftes hernuwe [Ken Sande, The Peacemaker (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 1991, 2004), 251-252].

Die beste manier om jou vyand te wen, is om hom in ‘n vriend te verander. As jy jou vyand vergewe sal die wêreld die krag van die evangelie in jou sien. Jou lewe sal ‘n illustrasie wees van Jesus wat aan die kruis gesterf het om sý vyande te vergewe.

[/column]

Kategorieë