
2 Korinthiërs 1:8-11
Het jy al ooit iemand hoor sê: “God sal jou nie meer gee as wat jy kan dra nie”? Hulle verwys na 1 Kor. 10:13 wat sê “[God] sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie…” Die vers gaan egter oor versoeking, nie beproewing nie. Wat beproewing betref, voel gelowiges dikwels oorlaai. Het jy nog nooit soos Elia gevoel jy kan nie meer nie? 1 Kon. 19:4 sê hy het “onder ’n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot ’n einde moet kom.” Soms raak die lewe net te veel, daarom sê Paulus: “Want, broers, ons wil nie hê julle moet onkundig wees oor die verdrukking wat ons in Asië beleef het nie, dat die swaarkry wat ons verduur het, ver bo ons kragte was, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Trouens, wat onsself betref, het ons al as’t ware die doodsvonnis oor ons ontvang” (2 Kor. 1:8-9a). Gelukkig eindig hy nie daar nie, maar sê: “maar dit was sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek. Op Hom wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het, en sal red, is ons hoop gevestig dat Hy ons weer sal uitred.” (2 Kor. 1:9b-10). ’n Boodskap deur Ivor Jefferies.

