
Jesaja 57:15
Die Engelse digter John Donne het gesê: “...God has two dwellings, one in heaven, and the other in a meek and thankful heart.” Sy idee kom uit Jesaja 57:15: “Ja, so sê Hy wat hoog en verhewe is, wat vir ewig woon, wie se Naam die Heilige is: ‘In die hoogte, in ’n heilige plek, woon Ek, en ook by hulle wat verpletter en nederig is, om die gees van nederiges te laat herleef, om die hart van verpletterdes te laat herleef.’ ” Wil jy hê die Here moet na jou toe kom? Gaan na die laagste plek toe; ontmoet Hom saam met die nederige herders voor ’n nederige krippie by sy nederige ouers in nederige Betlehem. Daal nog laer en ontmoet jou Koning op ’n nederige donkie. Nog laer: ontmoet Hom as ’n nederige slaaf waar Hy sy dissipels se voete was. Nog laer: ontmoet Hom aan ’n nederige kruis waar Hy tussen twee misdadigers hang. Nog laer: ontmoet Hom waar Hy van alles gestroop word, selfs van die klere aan sy lyf. Nog laer: ontmoet Hom waar mense Hom uitlag en met Hom die spot dryf. Nog laer: ontmoet Hom waar Hy sy asem uitblaas en in ’n graf neergelê word; ontmoet Hom in die stof. Eers as jy saam met Christus gekruisig is en sterf, sal Hy jou opwek en laat herleef. ’n Boodskap deur Ivor Jefferies.

