Die wêreld dink nie reg oor kinders en diere nie; hulle is verward. Aan die een kant vermoor hulle ongebore babas, en aan die ander kant sê hulle dat jy nie eers jou eie kind mag pak gee nie. Jy mag jou kind doodmaak, maar jy moet hom net nie seermaak nie (!?).
Wat diere betref glo hulle dat die mens ‘n soort dier is wat verder as hulle in die evolusie proses gevorder het. Hy is dus bo hulle, maar hulle is ook bo hom. Elke maand koop Bennie van Dyk spesiale hondekos wat hom R900 kos, maar as hy ‘n arm familielid moet help sê hy hy’t nie geld nie.
God het Gen. 1:26, 28 in die Bybel gesit om vir ons ‘n regte siening van kinders en diere te gee. Mag die Here dit gebruik om jou denke hieroor te beïnvloed.
Kinders (v.28)
Die Playboy ikoon Hugh Hefner, is op 27 September 2017 op 91-jarige ouderdom oorlede. In Desember 1953 het hy die eerste uitgawe van sy Playboy pornografiese tydskrif vrygestel. Hefner het geglo dat seks nie tot die huwelik beperk is nie, en dat mense vry is om hulle seksualiteit uit te leef soos hulle wil.
Sedert die sondeval was die mens immoreel, maar a.g.v. Hefner se invloed het seks buite die huwelik, egbreuk en homoseksualiteit drasties toegeneem. En in so ‘n wêreld kan dit nie anders as dat vrugbaarheid afneem nie. Twee mense van dieselfde geslag kan immers nie kinders hê nie, kan hulle?
Selfs waar mense in ‘n heteroseksuele verhouding immoreel is, het dit ‘n negatiewe effek op vrugbaarheid. In ‘n samelewing waar mense meer as een maat soek - hetsy deur egbreuk of seks voor die huwelik - soek hulle nie die ‘las’ van ongewensde kinders nie. In baie gevalle wil hulle ook nie uitgevang word nie. Gevolglik gebruik hulle sekere middele om swangerskap te voorkom. As die middel nie goed werk nie en die vrou swanger word, vermoor hulle die ongebore baba.
God se siening van kinders is heeltemal anders. Hy het ‘n sagte plek vir hulle, en wil hê hulle moet na Hom toe kom (Mark. 10:13-16). Hy wou van die begin af gehad het dat daar baie kinders op die aarde moet wees (v.28). Om dit reg te kry het Hy die man en sy vrou geseën en vir hulle gesê hulle moet vrugbaar wees (v.28). Kinders moet dus uit ‘n seksuele verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou gebore word.
God het ook die diere geseën en gesê hulle moet vrugbaar wees (v.22). Daar is egter ‘n verskil tussen God se opdrag aan die diere en aan die mens. In sy opdrag aan die diere het Hy eenvoudig gesê hulle moet vrugbaar wees. Soos die lig in v.3, het die diere nie ‘n keuse gehad nie - hulle móés vrugbaar wees. ‘n Hond, ‘n donkie of ‘n haas kan nie kies of hy vrugbaar wil wees of nie: wanneer dit paartyd is kan hy homself nie inhou nie, en neem instink oor.
Met die mens is dit anders. Toe die Here Adam en Eva in v.28 geseën het, het Hy vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde”. God het vir die mens ‘n wil gegee, sodat hy kon besluit of hy gehoorsaam wil wees of nie. Adam was nie soos die diere wat nie anders kan as om volgens hulle luste te lewe nie; hy kon sy drange beheer.
Maar toe sonde in die wêreld ingekom het, het Adam en Eva slawe van hulle sondige begeertes geword. Paulus sê dat ongelowiges se gedagtes vol sonde is, dat hulle God nie kán behaag nie (Rom. 8:7-8). Hulle is slawe van die duiwel en hulle eie sonde (Joh. 8:34, 44, Ef. 2:1-3). Hulle is soos ‘n leeu wat tussen ‘n sebra en groen gras kan kies, maar elke keer die sebra kies. Hulle is soos ‘n dronk man wat nie reguit kán ry nie. As die ongelowige tussen dwelms, pornografie, mense se applous en ‘n lewe van selfverloëning moet kies, kies hy elke keer die sonde. Sy wil is nie vry soos wat Adam en Eva s’n voor die sondeval was nie. Luther was reg toe hy gesê het dat die sondaar se wil gebonde is. Hy kan nie deur ‘n wilsbesluit die bande van sy sonde breek nie. Iets sterker is nodig.
Dit is waar Jesus in die prentjie inkom. Hy het gesien dat ons onsself nie kan bevry nie, en het as mens na die aarde toe gekom om ons te red, “om aan gevangenes vrylating te verkondig” (Luk. 4:19). “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36). “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1Joh. 3:8). Paulus sê dat God “ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kol. 1:13, vgl. Heb. 2:15).
Wat die Here van jou wil hê is dat jy jou rug op jouself en jou sonde moet draai, en in sy Seun moet glo. Glo dat sy kruisdood vir sondaars meer as voldoende is om jou sondige hart en rekord skoon te was. Kom in geloof en gebed na Hom toe, plaas die volle gewig van jou sonde op Hom, en vra dat Hy jou sal vergewe. Erken dat jy niks tot jou redding kan bydra nie, en dat Jesus in sy lewe, kruisdood en opstanding alles vir jou gedoen het. Die prys is betaal, die skuld is afgeskryf, jy is vry.
Omdat Hy jou uit die tronk van jou sonde bevry het, moet jy nie meer met ‘n geestelike tronkvoël mentaliteit rondloop nie. “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.” (Rom. 6:14). “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” (Gal. 5:1).
As gelowiges is ons nie meer gebonde nie; ons wil is vry soos wat Adam en Eva s’n voor die sondeval was. Jy kán jou seksuele drange beheer (Gen. 1:28). Jy hóéf nie losbandig te wees soos vóór jou bekering nie. Paulus sê: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie.” (1Tess. 4:3-5).
Die Here wil hê dat daar uit hierdie verhouding kinders gebore moet word, sodat die aarde vol kan wees (v.28). In ons kultuur lag mense as jy baie kinders het, maar dit is hoe die Here dit wil hê (v.28). Kenners sê dat die wêreld oorbevolk is, maar dit is loutere onsin. Jy hoef skaars 500 km deur ons land te ry om te sien dat daar meer as genoeg plek is. ‘Ja, maar die bronne is uitgeput,’ sal iemand sê. Nee, dit is nie. Mense is selfsugtig. Hulle soek alles vir hulleself en verroer nie ‘n vinger om die armes te help nie. Ander mense mors weer die bronne wat God tot ons beskikking gestel het.
Maar dit verander nie die feit dat ons baie kinders moet hê nie. Om 10 kinders te hê is nie ‘weird’ soos wat die wêreld dink nie. Moenie vir dié met baie kinders vra of hulle niks beter het om met hulle tyd te doen, en ander snedige opmerkings maak nie. By ‘n onlangse konferensie het iemand vir die spreker gevra hoekom hy 9 kinders het. ‘Omdat ons nie 10 kon hê nie,’ het die spreker geantwoord.
Ons ongehoorsaamheid om die aarde te vul het nadelige gevolge. Op 24 September 2015 het Jeremy Page bv. in The Times (Verenigde Koninkryk) geskryf: ‘Mother Russia Now Sees More Abortions Than Babies Born.’[1] As hulle so aanhou sal Rusland binne ‘n paar geslagte ‘n bedreigde nasie word. Uiteindelik sal jou kleinkind vir sý kleinkinders vertel van die Russe wat eens op die aarde was. Soos die Amalekiete en die Filistyne, sal die Russe uitsterf.
Vir ‘n samelewing om te bestaan, moet vroue ‘n gemiddeld van 2.1 kinders hê. In Europa is die gemiddeld 1.4. Moslem immigrante is besig om Europa oor te neem. In Engeland en Wallis is Mohammed reeds ‘n meer populêre baba-naam as George.[2] In lande soos China en Amerika is dit ‘n las om baie kinders te hê. In Suid-Afrika word babas doodgemaak nog voordat hulle gebore word.
Maar volgens die Bybel is baie kinders ‘n seën (Gen. 1:28, Ps. 127:3-5, 128:3). Dit is ook ‘n opdrag dat ons baie kinders moet hê (Gen. 1:28). Ek weet dat daar mense is wat nie kinders kán hê nie. God is die Een wat die moederskoot oop- en toesluit (Gen. 4:1, 20:17, 21:1-2. 25:21, 29:31, 30:1-2, 22, Rut 4:13, 1Sam. 1:19-20, 2:21, ens.). Maar as ‘n paartjie kinders kán hê en dit as ‘n oorlas beskou, sondig hulle.
Beteken die opdrag om vrugbaar te wees dat jy nie kan kies wanneer jy kinders wil hê, en hoeveel jy soek nie? Ja en nee.
[1] Jy het geen reg om familie-beplanning te doen as jy nie wil trou nie. Homoseksuele mense het ook nie die reg om ‘n kind aan te neem nie. Om kinders te hê is ‘n voorreg wat God aan getroude mense gee (Gen. 1:27-28). As ‘n getroude man en vrou nie kinders kán hê nie, staan dit hulle vry om kinders aan te neem of om van mediese tegnologie gebruik te maak. Ek dink bv. aan iets soos in vitro bevrugting.
In vitro bevrugting is wanneer ‘n getroude paartjie sukkel om swanger te raak en dan ‘n dokter gaan sien. Die man se saad word geoes. In ‘n laboratorium sit hulle dit in ‘n glasbakkie saam met die vrou se saad om dit te bevrug. Die bevrugte eierselle word in die vrou se baarmoeder ingeplant.
Uit ‘n Bybels-etiese oogpunt moet ons ‘n paar dinge onthou. Sodra die man se saad die vrou s’n bevrug, is dit ‘n mens (Ps. 51:7). Alle bevrugte eierselle moet dus in die vrou se baarmoeder ingeplant word, en nie doodgemaak word nie. Dit is ook nie wys om vier selle te bevrug, as jy weet dat hulle nie almal in die baarmoeder sal oorleef nie.
Omdat vrugbaarheid vir ‘n man en sy vrou bedoel is, moet die paartjie nie van ‘n derde persoon se saad gebruik maak nie. Die paartjie moet ook nie toelaat dat die bevrugte eiersel in iemand anders ingeplant word nie (‘n surrogaat ma). God wil nie hê dat daar ‘n derde party betrokke moet wees nie, aangesien dit probleme veroorsaak (Gen. 16).
Dit ís so dat mediese tegnologie, vrugbaarheid en kinders ‘n gawe van die Here is. Maar ons moenie ‘n afgod daarvan maak, sodat ons nie kan funksioneer tensy die Here vir ons kinders gee nie. As die Here besluit om nie vir jou kinders gee nie, moet jy weet dat Hy iets beter in gedagte het. Vir mense wat die Here dien en nie kán kinders hê nie, sê Jesaja: “never think that because [you] cannot have children, [you] can never be part of God’s people... If you honor Me...then your name will be remembered...longer than if you had sons and daughters. You will never be forgotten.” (Jes. 56:3-5, Good News Bible).
[2] Party mense dink dat familie-beplanning sonde is. Jy moet m.a.w. soveel kinders kry as wat jy moontlik kan hê. Ek stem nie hiermee saam nie. Om baie kinders te hê is goed, maar dan moet jy vir hulle kan sorg. As jy dit nié doen nie “het [jy] die geloof verloën en is [jy] slegter as ‘n ongelowige.” (1Tim. 5:8). Verder moet jy ook nie baie kinders hê as jy hulle nie kan opvoed nie. Dit help nie jy het 17 kinders, maar die ouer kinders moet die jongeres grootmaak nie. Dit is jóú plig en nie 15-jarige Sannie s’n nie, om jou kinders op te voed.
Wat voorbehoedmiddels betref kan ‘n man en vrou vir ‘n kort tydjie van mekaar af wegbly. Op hierdie manier kan hulle besluit om nie dadelik swanger te raak nie. Hulle motiewe moet egter nie selfsugtig wees nie, en hulle moet ook nie te lank van mekaar af wegbly dat die duiwel hulle tot immoraliteit versoek nie (1Kor. 7:5).
Wat van pille? Ons mag nie medikasie gebruik wat die bevrugte eiersel doodmaak nie. Ek glo egter dat voorbehoedpille as sulks nie sonde is nie. Dalk het jy ‘n sterk opinie hieroor. Wees asb. oortuig van jou mening, maar moenie met ander gelowiges stry nie (Rom. 14). As jy meer oor die saak wil weet, kan jy hfst. 8 van John MacArthur (Red.) se boek, Right Thinking in a World Gone Wrong, lees. Die hoofstuk se titel is: Planned Parenthood? (Birth Control, In Vitro Fertilization, and Surrogacy).
‘n Laaste woord voordat ek oor diere praat. Onthou asb. dat God vir die man en die vrou gesê het om vrugbaar te wees. Ouerskap is ‘n span poging. Moet asb. nie ‘n spul kinders hê en hulle dan afskeep, omdat jy onbetrokke of geskei is nie. Dit is nie net een ouer se werk om die kinders groot te maak nie. Beide ouers is verantwoordelik.
Diere (v.26, 28)
God het vir Adam en Eva gesê hulle moet die aarde onderwerp en oor die diere heers (Gen. 1:26, 28). Wat beteken dit? Volgens Benny Hinn beteken die Hebreeuse woord dat Adam presies kon doen wat die skepsels onder hom kon doen: hy kon soos ‘n vis swem en soos ‘n voël vlieg. Verder kon hy ook met ‘n enkele gedagte op die maan wees.[3] Jy weet seker dat Hinn lieg, en dat dit glad nie is wat die Hebreeuse woord beteken nie. Die Hebreeuse woord râdâh in Gen. 1:26, 28 is reg vertaal. Dit beteken eenvoudig om te heers, te regeer, en om iets te onderwerp.[4]
In baie gevalle het die wêreld hierdie opdrag omgekeer, sodat diere bo mense is. Dit kom van Gen. 3 af toe die duiwel ‘n slang se liggaam gebruik het om vir Eva te versoek. In Gen. 3 het Eva nie meer oor die diere geheers nie, maar het ‘n dier oor haar geheers. Dit hoort nie so nie. Ons moet oor die skepping heers. Die mens is nie ‘n indringer wat inmeng as hy dit doen nie.
Minder as twee maande gelede het my vriend in die bosveld gaan vakansie hou. Hy het gesien hoe ‘n klein blouwildebees in die modder vasgevang is. ‘n Man wat naby gestaan het, het gesê dat ‘n mens nie met die natuur moet inmeng nie. My vriend en sý vriend het die man geïgnoreer en die wildbewaarders laat roep om die dier uit te help. Hulle het reg gedoen, omdat God ons aangestel het om oor die diere te heers.
Dit is dus nie verkeerd wanneer mense dele van ‘n woud uitkap om ‘n meenthuis kompleks te bou nie. Tensy die wet dit verbied, is dit nie verkeerd as ‘n boer ‘n luiperd doodskiet wat sy beeste vang nie. Uit ‘n Bybelse oogpunt moet ons die natuur soos volg beskou:
Moet dit nie vernietig nie
Die aarde en alles daarin behoort aan die Here (Ps. 24:1, 50:10-12). God het ons aangestel om sy eiendom op te pas (v.26, 28, Ps. 8:7-9). Ons moenie die renosters uitwis of ons drinkwater besoedel nie.
Moet dit nie verafgod nie
Moenie meer geld aan jou troeteldiere spandeer as aan mense wat na God se beeld gemaak is nie. Ek ken nie ‘Green Peace’ mense wat glo dat dit verkeerd is om bome af te kap, of vroue wat honderde duisende rande op hulle handsak-brakkies (chihuahua’s) spandeer nie. Maar ek wonder of ons soms in die strik trap as ons R15 000 uithaal om die beste bloedlyn hond of kat te koop, maar nie iets kan bydra vir ons ma wat in die oue tehuis is nie? Sommige mense spandeer R10 000 op hulle hond se operasie, maar sê dat hulle nie geld het om sendelinge te ondersteun nie. Vir my klink dit na afgodery.
Moet dit nie ignoreer nie
Sorg vir jou diere (Spr. 12:10), moenie toelaat dat die ivy jou muur omtrek nie, doen iets aan die mier of rot probleem in jou huis, sit die hond uit wat ‘n kind se gesig vermink, sny die gras in jou agterplaas wat so hoog soos jou enkels groei. God wil hê jy moet aktief oor die skepping heers (v.26, 28).
Die mens se heerskappy oor die skepping impliseer twee dinge:
[1] Die skepping moenie oor óns heers nie. Prakties beteken dit dat gegiste hops of druiwe, kos, dagga, tabak, en metaal wat uit die aarde ontgin word (goud en silwer; geld), nie jou baas moet wees nie.
[2] Ons moet oor die diere heers, en nie oor ander mense nie. As God jou in ‘n magsposisie geplaas het, mag jy gesag oor ander mense uitoefen (Rom. 13:1). Jy mag hulle egter nie soos diere behandel nie. Jy mag nie jou vrou slaan nie. Jy mag nie ongebore babas se lewe beëindig nie. Jy mag nie met ‘n ystervuis oor ander mense regeer nie, hetsy in jou huis, oor jou mede-landsburgers (‘n diktator), of oor ‘n groep mense nie (apartheid en BEE).
Jy mag nie ‘n mens doodmaak soos jy dit met ‘n mier of muskiet doen nie. Jy mag nie iemand se seksuele privaatheid betree, en hulle dwing om met jou te slaap nie (verkragting). Jy kan plante geneties manipuleer en diere kloon, maar jy mag dit nie met ‘n mens doen nie. Jy mag nie die armes uitbuit of iemand by die skool boelie nie. Jy mag nie jou liggaam gebruik om mense te manipuleer nie (pornografiese modelle).
Jy mag met diere handel, maar nie met mense nie. Jy mag nie God speel oor iemand se gewete en hulle vryheid wegneem, sodat hulle nie hulle eie besluite mag neem nie (soos wat kultus leiers met hulle mense doen). Jy mag nie op ‘n mens skreeu nie. Jy mag nie mense met die dood dreig as hulle nie voor jou god wil buig nie (bv. in Saudi-Arabië). Jy mag nie soos Nebukadneser en Kim Jong-un van Noord Korea dink dat jy ‘n god is, en mense beveel om voor jou te buig nie. Heers oor die diere (v.26, 28), en nie oor ander mense nie.
Die enigste mens oor wie jy met ‘n ystervuis moet regeer, is oor jou eie sondige begeertes, gedagtes, woorde en dade (Jak. 3:7-8). Wat help dit jy kan oor die skepping heers, maar jy kan jouself nie in toom hou nie? Natuurlik sal jy dit nie in jou eie krag regkry nie. As jy jou bekeer en die Heilige Gees woon in jou, kán jy ‘nee’ sê vir sonde en doen wat reg is (Tit. 2:12).
Een van die dinge wat jy moet doen, is om reg te dink oor kinders en diere. Wees soos die Here. Hy is lief vir kinders en gee meer om oor diere, as wat ons oor mense omgee (Jona 4:11). Wees soos Jonathan Edwards wat hom voorgeneem het om nooit sy humeur te verloor met irrasionele diere nie.[5] Wees soos ‘n tannie in ons gemeente wat altyd ‘n klomp kinders om haar het. Gee om vir diere, wees lief vir kinders en aanbid die Here.
[1] Mark Chanski, Womanly Dominion, Calvary Press Publishing, 2008, p. 36
[2] Ibid., pp. 35-36
[3] Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson: Nashville, p. 2
[4] H7287, Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions, 1906, www.e-sword.net
[5] Jonathan Edwards, Works: Vol.1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1974, xxi: Resolution 15