Coram Deo Cover Image

Coming soon...

12 May 2018

God se oplossing vir die wêreld se probleme

Suffering-Servant

My vrou moes my al terughou en vir my sê dat ek nie die wêreld se probleme kan oplos nie.  Sy is reg.  Maar die Messias kan.  As armoede die wêreld se grootste probleem was kon ons vir Jeff Bezos, Bill Gates en Mark Zuckerberg vra om dit op te los.  Maar daar is groter probleme as dit, en daarom het ons Jes. 42:1-17 se Messias nodig.  Wie is Hy?  Jesaja beskryf Hom as...

 

  1. Die begeerlike Messias (v.1a)

Wat maak jou die blyste en begeer jy die meeste?  Vir God is dit die Messias (v.1a, Spr. 8:30, Matt. 3:17, 17:5).  Soos die bruidegom in Hoogl. 5:10, 16 is Hy “uitnemender as tien duisend... geheel en al die lieflikheid self.”  Hy is die Messias van Ps. 45:3 wat veel skoner is as die mensekinders.

 

Sy lieflikheid word daarin gesien dat Hy ‘n nederige dienskneg is wat Hom vir 33 jaar aan die Vader onderwerp het en sy lewe vir ons gegee het (Fil. 2:6-8, Joh. 10:17-18).  Dit is ook hoekom die Vader Hom gekies het (v.1a).

 

In ons geval het Hy ons nie gekies omdat Hy iets in ons gesien het nie (Rom. 9:11, 1Kor. 1:26-29).  Maar in die Messias se geval het die Vader Hom gekies omdat Hy so begeerlik is (v.1a).  En sal ons nie begeer “om die lieflikheid van die HERE te aanskou” nie (Ps. 27:4)?

 

As jy Christus begeer sal jy jou wellus vir die wêreld oorkom en sal dit vir jou soos flou Ricoffy wees, nadat jy die ryk aroma van ‘n duursame filter koffie geniet het.  Om Christus te begeer moet jy in Hom glo en oor Hom nadink (2Kor. 4:6).  Peins bv. oor Jes. 33:17: “Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou”.

 

Dink daaraan dat Christus mooier is as ‘n diamant wat in die son glinster, as ‘n reënboog voor stormwolke, as ‘n sonsondergang in die berge, as gekleurde voëls, visse, skoenlappers en blomme.

 

  1. Die gesalfde Messias (v.1b)

‘n Pleonasme is as iemand bv. van ‘n ronde sirkel praat.  Dit is verkeerd om so te praat, omdat die woord sirkel ‘n ronde objek veronderstel.  ‘n Mens kry tog nie ‘n vierkantige sirkel nie.

 

‘Gesalfde Messias’ is ‘n pleonasme.  Messias beteken immers ‘gesalfde’.  Ek gebruik dit egter so om by die ritme van my hoofpunte in te pas.  Toe Jesus gedoop is het sy Vader die Heilige Gees op Hom gelê en Hom as die Messias of Christus gesalf (v.1b, 11:2, 61:1, Matt. 3:16, Heb. 1:9).

 

Die Gees het Hom vir sy taak as die gesalfde Priester, Profeet en Koning bekragtig (Hand. 10:38).  As Priester het Hy Homself vir ons geoffer, as Profeet het Hy God se wil aan ons bekend gemaak, en as Koning vertrap Hy ons vyande.

 

Kan Hy die wêreld se probleme oplos?  Kan Hy jou sonde vergewe en jou help om dit te oorkom?  Kan Hy jou met jou persoonlike probleme help?  Kan Hy jou gebede verhoor?  Kan Hy die Vader se wil aan jou openbaar m.b.t. die kwessie wat jou verwar?  Kan Hy die duiwel verdryf?

 

  1. Die regverdige Messias (v.1c)

Ons regering, land en wêreld is vol ongeregtigheid: korrupsie, diefstal, oneerlikheid, onderdrukking, moord.  Ons benodig ‘n Messias wat reg en geregtigheid vir die nasies sal bring (v.1c, 2:4).  As jy in sonde lewe soos die wêreld sal sy geregtigheid jou benadeel en sal jy hel toe gaan.  En vir Hom om so te doen is reg.

 

Maar as jy op Hom en sy kruisdood vir sondaars vertrou en jou bekeer, sal sy geregtigheid jou bevoordeel en sal jy vir ewig op die nuwe aarde lewe “waarin geregtigheid woon.” (2Pet. 3:13).  Wat kies jy?

 

  1. Die sagmoedige Messias (v.2-3a)

Mense sal enigiets gebruik om hulleself voorop te stel.  In die verkeer sal hulle op ander se sterte ry om hulle te domineer.  Op Facebook sal hulle hulleself adverteer en vir almal sê dat hulle hier is.

 

Die Messias is nie so nie.  Toe Hy op aarde was het Hy nie geskreeu om mense te domineer of hard uitgeroep om aandag te trek nie (v.2).  Hy het saggies gewerk om stukkende en gewonde sondaars te help, te vergewe en te herstel (v.3, Matt. 11:28-30, 12:18-21).

 

Dit is wat Hy met ons gedoen het.  En dan raak ons ongeduldig met ons lewensmaats, kinders en ander mense as hulle nie dadelik verander nie.  “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1Tess. 5:14, vgl. Kol. 3:12-13).

 

  1. Die getroue Messias (v.3c)

Het jy al belowe om iets te doen, êrens te wees, vir iemand te bid, of gesê jy sal terugkom na iemand toe, en dit dan nie gedoen nie?  Die Messias is nie so nie, maar is betroubaar.  In getrouheid aan die Vader, sy volk en sy verbond sal Hy sorg dat geregtigheid geskied en sal Hy die mense wat sy kinders seermaak soos ‘n kers uitdoof (v.3, 43:17).

 

Ek was al dikwels ontrou aan die Messias; Hy was nog nooit ontrou aan my nie.  Selfs toe ek ontrou was, was Hy daar om my te help en terug te bring na die Vader toe: “u trou is groot.” (Klaagl. 3:23).

 

  1. Die volhardende Messias (v.4)

Ek ken ‘n Christen wie se man haar gelos het.  Sy is kwaad vir die Here en het opgehou kerk toe gaan.  Gelukkig gee die Here nie op nie.  As ons soos ‘n geknakte riet en smeulende kerspit is (v.3), is die Messias nie so nie (v.4).  In sy poging om geregtigheid op die aarde te vestig raak Hy nie moeg of uitgeput nie (v.4).  Hy is immers nie net ‘n mens nie, maar God (40:28, 30).

 

Op die oomblik lyk dit nie of geregtigheid seëvier nie, maar die Messias “moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.” (1Kor. 15:25).  As sy Woord na die eilande of eindes van die aarde toe versprei en hulle leer om dit te doen, sal geregtigheid seëvier (v.4, 2:3, 11:9-11, 60:9, Matt. 28:19-20).  So het die Puriteine geglo: ‘the isles of the sea would one day be Christ’s!’[1]

 

Laat dit jou aanspoor om vir sending en herlewing te bid.  Dit is tog hoe Jesus ons geleer het: “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10).  Namate die Koninkryk deur die evangelie versprei sal mense God se wil op die aarde doen soos die engele dit in die hemel doen.  Geregtigheid sal m.a.w. seëvier (v.4).

 

  1. Die geroepe Messias (v.5-6b)

Baie teologiese kolleges het ‘n hoë uitval syfer.  Van die mans wat saam met my studeer het, het ‘n goeie 40 of 50% hulle studies gelos, nooit in die bediening ingegaan nie, of binne die eerste tien jaar uitgeval.

 

Die Messias het nie uitgeval nie, maar is geroep deur die God wat alles gemaak het, dit onderhou en aan ons lewe gee (v.5, Gen. 2:7, Hand. 17:25).  Hy is die Here wat die Messias vir hierdie taak geroep het (v.6a), en sou daarom sy hand vat en Hom bewaar (v.6b).

 

In Christus het Hy jou ook geroep, vat Hy jou hand en bewaar Hy jou (41:8, 13, Joh. 10:28-29, Rom. 8:29-30).  Hy beskerm jou teen gevare waarvan jy nie eers bewus is nie.  Dit sal Hy doen totdat jy veilig in die hemel is (2Tim. 4:18).

 

  1. Die reddende Messias (v.6c-7)

‘n Verbond is sterker as ‘n belofte.  Dit word met bloed verseël om te sê: ‘As Ek my Woord nie hou nie sal Ek sterf.’  God het die Messias as ‘n verbond aan sy volk gegee (49:8), maar ook aan die nasies (v.6, Matt. 1:21, Joh. 11:50-52).  Hy het sy bloed gestort om die verbond te verseël (Luk. 22:20).  In die verbond belowe Hy om sy uitverkorenes te red.  Hy sal suksesvol wees.

 

Hy is God se lig om die nasies deur die evangelie uit die duisternis van hulle geestelike blindheid en onkunde te bevry (v.6-7, 49:6, Luk. 2:32, Joh. 8:12, 9:39-41, Hand. 13:47, 26:18, Ef. 4:18).  Hy red mense wat geboei in die donker tronksel van hulle sonde en die dood sit (v.7, 61:1, Luk. 1:79, 4:18-19, Kol. 1:12-13).

 

Is jy nog in die bande van sonde?  Vra vir Christus om jou te red.  Hy is sterk genoeg om die tralies oop te buig, die boeie te breek en jou te bevry:  “Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek...Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.” (Ps. 107:14, 16).  “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36).

 

  1. Die heerlike Messias (v.8)

Toe my kinders klein was het hulle vir my gevra: ‘Wat is God se Naam?’  ‘EK IS wat EK IS’ het ek geantwoord.  Dit is hoe Hy Homself in Eks. 3:14-15 aan Moses geopenbaar het.  Sy Naam staan vir alles wat Hy is.

 

Hy deel nie sy lof en heerlike karakter of Naam met ander gode nie (v.8, 48:11).  Hy deel dit net met die Messias, omdat hulle een is (Joh. 5:23, 10:30, 17:1, 5, Heb. 1:3).

 

As ons dit net kan onthou en besef dat ons niks is nie, sal 95% van ons verhoudingsprobleme vanself regkom (Jak. 4:1-2).  “[Christus] moet meer word, maar ek minder.” (Joh. 3:30).  Ek het onlangs ‘n aanhaling gelees wat sê: ‘Nederigheid is nie om minder aan of van onsself te dink nie, maar om meer aan Christus en ander te dink.’

 

  1. Die beloofde Messias (v.9)

Palmlesers kan vir jou sê hoeveel broers en susters jy het, waar hulle bly, en wat hulle name is.  Hoe weet hulle dit?  Demone sê vir hulle.  Dit is nie indrukwekkend nie.

 

God is indrukwekkend.  Die dinge wat Hy oor koning Kores voorspel het, het gebeur (v.9).  Die dinge wat Hy oor die Messias voorspel het, het ook gebeur (v.9).  Sy akkurate voorspellings wys dat Hy die ware God is (v.9, 41:22-24, Joh. 13:19).

 

Daar is nog profesieë wat vervul moet word.  Die feit dat die wederkoms bv. lank vat beteken nie dit gaan nie gebeur nie.  God het die Messias se eerste koms 4000 vroeër belowe (Gen. 3:15).  Dit het lank gevat, maar is vervul (v.9).  Ons wag nou al 2000 jaar vir Jesus se wederkoms.  Ek weet nie hoe lank dit nog gaan vat nie, maar die Here sal dit vervul.

 

  1. Die lofwaardige Messias (v.10-12)

Die appel val nie ver van die boom af nie: dit beteken dat Jannie baie na sy pa aard of lyk.  In die Messias se geval is Hy presies soos die Vader (Joh. 14:9).  Wie dus die Vader prys, prys ook die Seun (Op. 5:11-14).

 

Ons moet Hom vir sy skepping prys (v.5).  Maar ons moet Hom ook met ‘n nuwe lied vir sy nuwe skepping of verlossing prys (v.9-10, 2Kor. 5:17, Op. 5:9).  Hy het die eindes van die aarde verlos: die mense teen die kus, op die eilande, in die woestyn (v.10-12, 4).

 

Hy het mense in die dorpies van Kedar verlos (v.11).  Kedar is Ismael se tweede oudste seun uit wie die Arabiere afstam (Gen. 25:13).  Ja, baie Moslems sal tot bekering kom (v.11, 60:7)!

 

Sela, ‘n rotsgebied in Edom (16:1) sal die Here prys en sy lof van ‘n berg af roep sodat almal dit kan hoor (v.11, 40:9).  Oral sal mense Hom verheerlik en sy lof besing (v.10-12): “Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word!” (Ps. 113:3, vgl. Mal. 1:11).

 

Jes. 42:10-12 is reeds besig om vervul te word.  Daar is Christene in Siberië, Nieu-Seeland, Indonesië, Indië, Madagaskar, Israel, Turkye, Namibië, Noorweë, Nigerië, Spanje, Ierland, Ysland, Amerika, Peru, en so te sê elke land op aarde.

 

“laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps. 72:19).  “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Hab. 2:14).  Moenie net vir jou en jou geliefdes bid nie.  Bid dat hele nasies (ook ons s’n!) die Messias sal prys (v.10-12).

 

  1. Die verwoestende Messias (v.13-15)

‘n Leeu wyfie kan haar kleintjies saggies in haar bek dra.  Maar sy kan ook jou nek breek.  Net so praat en werk die Messias saggies met die geknakte riet (v.2-3), maar skreeu en storm Hy soos ‘n sterk en dapper krygsman teen sy vyande (v.13, 59:17, Eks. 15:3, Jos. 5:13-15, Ps. 2:2, 9, 45:3-5, 78:65, 110:1-2, 5-6, Op. 19:11-16).

 

Hy het hulle vir duisende jare kans gegee om hulle te bekeer (v.14, Eks. 34:6, Hand. 14:16, 17:30, Rom. 3:25).  En moet Hy ‘n blinde oog gooi as hulle ná die Messias se koms nog met hulle sonde aanhou?  Nee.  Hy sal soos ‘n swanger vrou teen hulle hyg en uitroep (v.14).  Hy sal hulle soos berge platvee en soos water in die woestyn opdroog (v.15, 41:15, 40:4, 2:14, 17).

 

En “ hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam” (Heb. 2:3)?  “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:29).

 

Sal jy wegkom as jy die evangelie geken en nogtans met jou sonde aangehou het?  Verseker nie.  Die Messias sal jou nek breek en jou verwoes.  ‘n Puritein het gesê: ‘sinners bring judgment in thinking sins are small, or that God is not angry with them.’[2]  Bekeer jou, sodat die Messias jou kan vergewe en saggies met jou kan werk (v.4).

 

  1. Die leidende Messias (v.16)

Ly met ‘n lang ‘y’ beteken om swaar te kry.  Lei met ‘n ‘e-i’ beteken om voor te loop en die pad aan te dui.  Jesaja verwys hier na lei met ‘n ‘e-i’.

 

Soos iemand wat ‘n blinde aan die arm lei, skyn die Messias sy lig, laat Hy dié wat geestelik blind is sien, en lei Hy hulle op die nuwe weg van verlossing (v.16, 6-7, 35:5, 8).  Hy maak die ongelyke paaie gelyk (v.16, 40:4).

 

Maar selfs nadat die Messias hierdie dinge gedoen het verlaat Hy ons nie, en lei Hy ons nog steeds (v.16).  Hy is ons Messias en Herder, en nie ‘n hulpelose afgod nie (v.16).  As jy Hom vra sal Hy jou na ‘n plek van blydskap, vrede, ‘n stil gewete, genade, liefde, aanvaarding en vervulling toe lei.

 

As jy soek wat die Messias jou kan gee sal jy dit nie kry nie.  Maar as jy Hóm soek sal jy sy geskenke en veel meer kry, want as jy Jesus het het jy alles (Luk. 11:9-13, Ef. 1:3, 3:20).

 

  1. Die betroubare Messias (v.17)

Ek het al by tye nie my tuin natgemaak nie, omdat dit gelyk het of dit gaan reën.  Die weervoorspelling het selfs gesê dit gaan reën, maar dan gebeur dit nie.  Net so sal dié wat op yster beelde vertrou en sê dat hulle gode is, beskaamd staan (v.17).

 

Afgode kan jou nie help nie.  Net die Messias kan, omdat net Hý 100% betroubaar is (Spr. 20:6).  Dit is dus onchristelik om jou volle vertroue op iets of iemand anders te stel, hetsy die ds., dokter, berader, medisyne, geld, ‘n familielid, vriend, kollega, die party vir wie jy stem, Amerika, jou intellek, opleiding, krag, ervaring, ‘n boek, of wat ook al.

 

Net die Messias is waardig van jou volle toewyding en vertroue.  Gee dit vir Hom en glo dat Hy nie net jou persoonlike probleme kan oplos nie, maar die wêreld s’n.  Hy kan dit nie speel-speel oplos soos Superman of ‘n verliefde man wat belowe om berge vir sy meisie te versit nie; Hy kan dit regtig doen.

 

[1] Iain Murray, The Puritan Hope (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1971), 180

[2] Arthur Bennett, The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1975), 69

Kategorieë