Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 March 2020

God se hand agter die Koronavirus

Ncov spreading concept, Earth and virus models

2Samuel 24

Sonder om die titel te sien, kan jy aflei waaroor ’n boek gaan deur te kyk na watse woorde herhaal word. As jy byvoorbeeld in elke vierde sin die woord ‘krieket’, of ‘Rolls Royce’ sien, weet jy dat dit die outeur se punt is.

Ons vind dit ook in die Bybel. Kom ek gee jou ’n voorbeeld. In Openbaring 4-5 verskyn die woord ‘troon’15 keer. Johannes se punt is om te wys dat die plae wat volg, onder God se beheer is. Hy sit op die troon. Hý en nie die duiwel nie, beheer die geskiedenis. Dit is dus veilig om te sê dat sý hand ook agter die Koronavirus is. Kom ek wys vir jou uit 2Sam. 24 (vgl. 1Kron. 21).

 

1. Dawid en Joab (v.1-9)

Na 2004 se tsunami in Thailand het iemand vir my gesê: ‘Dit is Godslasterlik om te sê dat Gód die tsunami gestuur het.’ Maar wie het dit dan gestuur? Was dit die duiwel? Miskien. Hy het immers Job se kinders en slawe doodgemaak en pynlike swere oor hom gebring. Maar wie se hand was agter alles? God s’n (Job 1:21-22, 2:10, 42:11). Sonder sy ewige raadsplan kon Satan nie ’n vinger verroer nie. Net so het die duiwel mense aangehits om Jesus te kruisig. Maar weereens was dit binne God se ewige raadsplan. Alhoewel die Jode en die Romeine vir hulle eie sonde verantwoordelik was, het God bepaal dat Jesus gekruisig moet word (Hand. 2:23, 4:27-28).

Wie se hand is agter die Koronavirus? God s’n, of die duiwel s’n? Beide. Volgens 1Sam. 24:1 het Gód vir Dawid aangehits om die volk te tel. Volgens 1Kron. 21:1 het die duiwel hom aangehits. Volgens 1Sam. 5 het Gód die Filistyne siek gemaak en volgens Luk. 13:11, 16 het die duiwel ’n sekere vrou siek gemaak. Beteken dit dan dat God en die duiwel kop in een mus is? Nee. God bepaal alles wat gebeur (Ps. 139:16, Ef. 1:11). Hy is egter nie verantwoordelik vir Satan, demone, of mense se sonde nie. God het goeie dinge in gedagte, terwyl Satan, demone en mense slegte dinge bedoel (Gen. 50:20, Jes. 10:5-7). God is die eerste oorsaak, terwyl Satan, demone en mense die tweede oorsaak is. God se planne is volmaak, terwyl Satan, demone en mense se sonde dinge besoedel.

Ek weet dat ons nooit volmaak sal verstaan hoe God se soewereine raadsplan met die mens se verantwoordelikheid saamwerk nie. Ons moet dit egter aanvaar, omdat die Bybel beide leer. Selfs al verstaan ons nie alles nie, moet ons ons aan God se soewereine wil onderwerp. Ons moet soos Hudson Taylor wees. Hy het ’n pamflet geskryf met die titel: Refuse To Look At Second Causes. Sy punt was om te sê dat hy oor sy beproewings sal kla nie. Hy het hom voorgeneem om eerder te sien dat sy Vader dit vir die goeie bedoel (Rom. 8:28). Daarom sou hy dit geduldig uit die Vader se hand ontvang. Die leerstelling van God se soewereiniteit is veronderstel om ons te help wanneer ons siek is, of deur ander beproewings gaan: God het hierdie dinge tot jou beswil beskik. Dit help om te weet dat God en nie die duiwel nie, in beheer is.

***

God was weer kwaad vir Israel soos in 2Sam. 21 (v.1). Die teks sê nie vir ons hoekom nie. God hoef Homself egter nie aan ons te verduidelik nie. Hy het eenvoudig vir Dawid gesê om die volk te tel (v.1). Dit was nie verkeerd om die volk te tel nie (Num. 1:1-2, 26:1-2). Satan het hom egter versoek om nie in die Here te roem nie, maar om trots te wees in die oorwinnings wat hy behaal het, asook in sy sterk weermag (v.2, 1Kron. 21:1, 18:6, 12, Ps. 20:8, 44:7, Spr. 14:28, 30:29, 31, Jer. 17:5). Dit mag ook wees dat Dawid nagelaat het om die sensusbelasting op te neem soos Eks. 30:11-16 voorskryf.

Dawid het sy susterskind Joab—die bevelvoerder van sy weermag—aangesê om die volk te tel van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide (v.2, 20:23, 1Kron. 2:13-16). Hy moes m.a.w. deur die land trek om die volk te tel. Joab wou dit nie doen nie. Hy kon sien dat Dawid hoogmoedig is en het ook geweet dat die Here die volk sou straf (v.3, 1Kron. 21:3). Dawid se woord het egter meer gesag gedra as Joab en die bevelvoerders s’n (v.4). Hulle het dus nie ’n ander keuse gehad as om die volk tel nie (v.4).

Hulle het oos van Jerusalem by Aroer oorkant die Dooie See begin. Hulle het noord gereis en anti-kloksgewys om Israel getrek. Hulle het by Berseba in die suide geeïndig. Daarna het hulle Jerusalem toe teruggekeer (v.5-8). Oor ’n tydperk van 9 maande en 20 dae het hulle ’n paar honderd kilometer afgelê (v.8). In Israel was daar 800 000 soldate en in Juda 500 000 (v.9). Volgens 1Kron. 21:5 was daar 1.1 miljoen in Israel en 470 000 in Juda. Is dit ’n teenstrydigheid in die Bybel? Nee. As ons dit met 1Kron. 27 se 288 000 soldate vergelyk, kan ons dit soos volg verduidelik: in Israel was daar 800 000 wat gereed was om te veg, terwyl daar 300 000 reserwes was (288 000 afgerond). In Juda was daar 470 000 soldate. In die Ou Testament word Benjamin dikwels saam met Juda getel. Volgens 1Kron. 21:6 het Joab nie Benjamin se weermag by die 470 000 getel nie. Die outeur van Samuel het egter geweet dat Juda omtrent 30 000 troepe het. As ons dit by 1Kronieke se 470 000 tel, kom dit uit op 500 000 soos in 2Sam. 24:9.

Hoekom het Joab nie die stam van Benjamin (of selfs die stam van Levi) getel nie? Hy het Dawid se hoogmoed verafsku, maar God het ook reeds begin om die volk te straf, sodat hy die sensus moes stop (1Kron. 21:6-7, 27:24).

Is mense se hoogmoed nie ook maar die rede vir die Koronavirus nie? Ons roem in ons eie vermoëns (soos die mense wat die toring van Babel gebou het). Ons klop onsself op die skouer oor ons tegnologie, wetenskap, kennis, prestasies, status, rykdom, en meer. Niks kan mos die mens onderkry nie; nie eers die Here nie! En dan bring God die wêreld tot stilstand met iets wat onsigbaar is vir die oog. Hy maai mense af by die duisende. Hy laat die wêreld se ekonomie in duie stort. Hy wys vir die mens dat hy, sy afgode, sy voorvaderaanbidding, sy bygelowigheid, sy teologie van voorspoed en rykdom, sy gejaag na geld en plesier, sy ‘vryheid’, sy onafhanklikheid, sy kundigheid, en sy roem niks is nie.

Waar is die mens se roem nou? Mense sê: ‘Moenie outyds wees nie; ons het verby die Bybel beweeg. Gód het nie die wêreld geskep nie. Dit was die Big Bang. Dít wat ons op die aarde sien is die produk van evolusie.’ Laat evolusie en toeval ons dan asseblief teen die Koronavirus help!

Mense sê: ‘Ons is vry. Ons staan nie onder Gód se orde van manlikheid en vroulikheid nie. Elkeen kan die geslag kies wat hy, sy, dit, ‘ze’, of ‘za’ wil wees! Love is love; ek kan seks hê met wie ek wil. Dit is nie nodig vir die huwelik tussen ’n man en ’n vrou nie. Eintlik hoef ’n mens glad nie te trou nie. Om siektes soos VIGS te voorkom, kan ’n mens eenvoudig voorbehoedmiddels gebruik. En sóú jy swanger raak, moet jy die volgende onthou: “Mý liggaam, mý keuse.” Jy kan die baba doodmaak as jy wil.’ Die wêreld vermoor meer babas as wat daar mense dood is deur die twee Wêreldoorloë en die Koronavirus saamgetel.

Mense roem: ‘Ons mag nie vir kinders sê wat hulle moet doen nie. Ons mag hulle nie pak gee nie. Húlle regte kom eerste.’ En dan brand hulle skole af en sê vir die Verenigde Nasies wat om te doen (soos Gretha Thunberg onlangs gedoen het).

Mense sê: ‘Ons hoef nie reëls en orde te hê nie. Ons kan dagga rook, mense se plase vat, meer as een vrou hê, busse en stadsale afbrand, oor verkeersligte ry, en korrupsie pleeg. Ons hoef nie rekenskap te gee vir die R55 miljoen wat weg is nie.’

Mense sê: As jy ’n Bybelvers aanhaal wat sê dat homoseksualiteit sonde is, dan kla ons jou aan van haatspraak en skors ons jou uit die Australiese Rugby Unie.’ Of: ‘Ons sal jou restaurant toemaak as jy Bybelverse op die skerm teen die muur vertoon.’

Almal van ons dink te veel van onsself. Ons soek mense applous, wil hê dat hulle ons op Facebook moet like, wil hê dat hulle ons WhatsApp status moet sien, wil die middelpunt van die aandag wees, en wil dinge op ons eie manier doen.

Bekeer jou en buig die knie voor die Drie-Enige God van die Bybel. Indien jy dit nie doen nie maar aanhou om jouself te verhef, sal die Here jou tot in die stof verneder. Die Koronavirus is ’n grap in vergelyking met God se ewige oordeel in die hel. Ek wens dit oor niemand nie. Die oordeelsdag is ’n dag van duisternis en verskrikking (Spr. 17:5, Jes. 21:4, Amos 5:18-20). Moenie die Here toets, Hom tart, of Hom uitdaag nie. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God... Want onse God is ’n verterende vuur.” (Heb. 10:31, 12:29).

 

2. Dawid en Gad (v.10-17)

Met die Koronavirus wat omgaan, stuur baie Christene Eks. 12 en Ps. 91 aan. Die mense wat dit aanstuur, impliseer dat Christene dit nie kan kry nie. Maar moet ons dan sê dat almal wat die Koronavirus kry nie Christene is nie, of dat dié wat gesond is noodwendig gered is? Wat van Job se siekte in Job 2? En wat van Ps. 73 waar die goddelose voorspoedig is?

God se Woord en nie die Koronavirus nie, sal bepaal of jy verkeerd doen, of nie. Jou gewete sal ook vir jou sê as jy op die verkeerde pad is. Dit is hoe dit met Dawid gebeur het: sy gewete (v.10) en God se Woord (v.11-13) het gesê dat hy sonde gedoen het. Hy het sy sonde bely (v.10). Die Here het hom egter gestraf, sodat hy en die volk nie weer sou sondig nie. God het sy profeet gestuur om vir Dawid drie opsies te gee: hongersnood vir drie jaar (1Kron. 21:12, LXX), vir sy vyande vlug vir drie maande, of pes in die land vir drie dae (v.12-13).

Dawid het geweet hoe dit voel om vir drie jaar hongersnood te hê (2Sam. 21:1). Hy het ook geweet hoe dit voel om vir sy vyande te vlug (1Sam. 18-27, 2Sam. 15-18). Hy was benoud en het gevra om in die Here se hande te val, omdat Hy barmhartig is (v.14, kontra Spr. 21:10).

God het ’n pessiekte gestuur van die oggend af tot op die bepaalde tyd drie dae later (v.15). Die feit dat v.15 van die bepaalde tyd praat, dui aan dat God in beheer was van die pessiekte. Hy is ook in beheer van die Koronavirus. Hy het bepaal hoeveel mense daardeur sal sterf, asook wanneer dit sal ophou (Job 23:14, 42:2, Jer. 30:24). Dit is wat Hy in 2Sam. 24 gedoen het. Van Dan tot Berseba het die Here 70 000 mense doodgemaak (v.15). Van die weermag in wie Dawid geroem het, het die Here duisende laat sterf. Die straf het by die oortreding gepas.

Dalk klink dit vir jou te wreed en verkies jy die Jesus van die Nuwe Testament. Dit laat my dink aan ’n professor wat in my teenwoordigheid gesê het: ‘Dit is onmoontlik dat Engel van die Here wat 70 000 mense doodgemaak het, ’n verwysing na Jesus is.’ Maar wie is 1Kron. 21:12 se Engel van die Here dan? Volgens Eks. 3 is die Engel van die Here ‘EK IS wat Ek IS’ en in Joh. 8:58 noem Jesus Homself ‘EK IS’. Jesus is dus die Engel van die Here.

Moet my nie misverstaan nie. Anders as die Jehova’s Getuies, glo Christene nie dat Jesus maar net ’n engel is nie. Onthou eerder dat die woord ‘engel’ boodskapper beteken. Jesus is die Woord, Boodskapper, of openbaring van God (Joh. 1:18).

God het die Engel Jerusalem toe gestuur om dit te verwoes (v.16, 1Kron. 21:15). Hy het Hom egter oor die stad ontferm en vir die Engel gesê om sy hand terug te trek (v.16). Die Engel het by die dorsvloer van Arauna (of Ornan, vgl. 1Kron. 21:15) die Jebusiet gaan staan (Jebus is die ou naam vir Jerusalem, vgl. Rigt. 19:10). Dawid het die Engel met sy swaard gesien en gebid (v.17, 1Kron. 21:16). Met rouklere aan het hy en die ouderlinge voor die Engel gebuig (1Kron. 21:16). Hy het gesê: ‘Ék het beveel dat die volk getel moet word. Ék het gesondig en nie die volk nie. Laat U hand daarom teen my en my familie wees en nie teen die volk nie.’ (v.17, 1Kron. 21:17).

Dawid was verkeerd om te dink dat die volk nie gesondig het nie (v.1). Maar al was hy verkeerd hierin, is die punt dat hy bereid was om die gevolge vir sy sonde te dra. Hy het ware berou gehad (vgl. 2Kor. 7:11). Ons moet ook ware berou hê. Moenie net die gevolge probeer vryspring nie (Eks. 9:27-28, 34-35, 10:16-17, 20, Ps. 78:34-37, 2Kor. 7:10). Moenie net die Here wil dien, omdat Covid-19 die rondte doen nie. Dien Hom nou en vir altyd, selfs as die Koronavirus verby is.

 

3. Dawid en Arauna (v.18-25)

’n Gewone storie klink so: dit begin rustig, bou op tot by die hoogtepunt, en plat dan af, sodat die karakters ‘happily ever after’ saam lewe. 1Sam. 24 werk nie so nie. Die storie begin met spanning. Dit bou op en word dan baie erg. Die hoogtepunt kom eers aan die einde. Die Engel van die Here het Gad na Dawid toe gestuur. ‘Bou vir die Here ’n altaar op Arauna se dorsvloer,’ het hy gesê (v.18, 1Kron. 21:18). Arauna se dorsvloer was op die berg Moria waar Abraham vir Isak moes offer en waar Salomo op Dawid se bevel die tempel gebou het (Gen. 22:2, 1Kron. 22:1, 2Kron. 3:1).

Dawid het God se opdrag deur die profeet gehoorsaam (v.19). Arauna was besig om met sy osse koring te dors (1Kron. 21:20). In die middel van die dorsvloer was daar twee meulstene. Die groot steeun het onder gelê met die kleiner steen bo-op. Elke meulsteun het ’n gat in die middel gehad. ’n Hout juk het aan die een kant op die osse se nekke gelê en aan die ander kant op die boonste meulsteen. Die osse het al in die rondte geloop, sodat die boonste steen op die onderste een gedraai het. Tussen die twee stene het die koring gelê en is dit fyngemaal.

Nog voor hy vir Dawid gesien het, het Arauna die Engel van die Here gesien. Hy het geskrik en saam met sy vier seuns weggekruip (1Kron. 21:20). Toe hy vir Dawid met sy knegte sien aankom, het hy voor hom gebuig en gevra wat aangaan (v.20-21). Dawid het gesê: ‘Ek wil jou dorsvloer vir die volle prys koop om ’n altaar vir die Here te bou, sodat Hy die plaag kan afwend.’ (v.21, 1Kron. 21:22, vgl. Num. 16:48, 50). Arauna wou hom alles verniet gee: die dorsvloer om ’n altaar op te bou, die osse vir ’n brandoffer, die koring vir ’n graanoffer, en die jukke en die dorssleë vir brandhout (v.22, 1Kron. 21:23). Dawid wou dit nie aanvaar nie. Hy wou nie vir Arauna indoen nie (1Kron. 21:24). Hy wou die volle prys betaal, omdat hy nie vir die Here iets wou offer wat hom niks gekos het nie (v.24). Hy het vir Arauna 50 sikkels silwer vir die dorsvloer gegee en later nóg 600 sikkels goud vir die hele stuk grond (v.24, 1Kron. 21:25). Hy het ’n altaar vir die Here gebou, gebid, en brandoffers en dankoffers vir die Here geoffer (v.25, 1Kron. 21:26). God het hom met vuur uit die hemel geantwoord en vir die Engel gesê om sy swaard te bêre (1Kron. 21:26-27). God het Hom oor die land ontferm en die plaag afgewend (v.25, vgl. 21:14).

Die les is nie dat jy godsdienstige werke moet doen, sodat God die Koronavirus sal afwend nie. Die les is eerder dat Jesus ’n offer gebring het wat Hom alles gekos het, sodat die Vader die plaag van die hel sou afwend (v.24-25, Rom. 3:25, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13, 1Pet. 1:18-19). Moet dan nie hoofsaaklik wens om die Koronavirus vry te spring nie, maar eerder om vergewe te word en die ewige lewe te hê. Wat help dit dat jy die Koronavirus vryspring as jy sonder Jesus sterf en hel toe gaan?

Glo daarom in Hom. Vertrou op Hom. Bekeer jou van jou sonde. Volg Hom. Vra dat Hy jou van die hel sal verlos. Bid dat Hy jou sonde sal vergewe. As jy hierdie dinge doen, sal die Vader jou onskuldig en regverdig verklaar. Hy sal jou gewete skoonwas. Hy sal jou aanneem om sy kind te wees. Hy sal jou stelselmatig soos Jesus maak. Hy sal jou die ewige lewe gee. Soek Hom dan met jou hele hart. Soek Hom meer as wat die Wêreldgesondheidsorganisasie na ’n oplossing vir die Koronavirus soek.

[/column]

Kategorieë