receive-gift

Ek is op 6 Desember 2003 getroud. Kom ek vertel jou van die grootste geskenk wat ek op daardie dag gekry het.  Dit was nie die wasmasjien, die silwer potte of geld nie.  Dit was my vrou.

 

En net so is God se grootste gawe aan ons nie iets nie, maar Iemand, naamlik Hy self.  Hy het Homself eers in sy Seun aan ons gegee, en toe in die Heilige Gees.  Kom ons kyk wat Jh.16:5-15 hieroor te sê het.

 

Die Gees se teenwoordigheid (v.5-7)

Jesus was oppad terug na die Vader toe wat Hom gestuur het (v.5). En tog het nie een van die dissipels vir Hom gevra waarheen Hy oppad is nie (v.5).  Toe Petrus en Thomas dit in 13:36 en 14:5 gevra het, het hulle aan hulleself gedink en nie aan Jesus nie.

 

Hulle was soos kinders wie se pa vir hulle sê dat hy nie met hulle kan speel nie, omdat hy na ‘n vergadering toe moet gaan. ‘Ahhh!  Waarheen gaan pa?’ wil hulle weet.  Dit is nie dat hulle regtig wil weet waarheen hy oppad is nie, maar hulle is ongelukkig omdat hy nie met hulle kan speel nie.[1]

 

So was dit ook met die dissipels, en volgens v.5-6 het Jesus dit geweet. Hulle het nie aan Jesus se verheerliking gedink (14:28), of besef dat dit vir hulle voordelig sou wees nie (v.7).  As Jesus nie na die Vader toe teruggekeer het nie, sou die Trooster – die Heilige Gees – nie na hulle toe gekom het nie (v.7).  Maar as Jesus by die Vader was, sou Hy die Trooster vir hulle gestuur het (v.7, 15:26, Hd.2:33).  In al hierdie dinge het Jesus die waarheid gepraat (v.7).

 

Moenie die fout maak om te dink dat Jesus ‘n leemte gelos het, en dat die Heilige Gees dit sou vul nie. Die waarheid is eerder dat Jesus deur die Gees teenwoordig sou wees om die leemte te vul (14:23).  Moet dan nie dink dat dit vir jou beter sou gewees het om op die aarde te lewe toe Jesus hier was nie.  In sy menslike liggaam kon Hy nie oral gewees het of in die dissipels gewoon het nie.  Maar deur die Gees kan Hy, en daarom is dit vir ons beter dat Hy weggegaan het en die Gees na ons toe gestuur het (v.7).

 

Deur die Gees is Jesus altyd by jou en sal Hy jou nooit verlaat nie (Mt.28:20, Heb.13:5). Dit moet jou veral bemoedig wanneer jy beproef word en jy hartseer, eensaam en angstig is (v.6, 14:1).  Hy is nie ‘n telefoon oproep weg, sodat jy vir 5 minute moet wag voor Hy jou kan help nie.  Nee, Hy is nader aan jou as wat jy aan jouself is.

 

Die Gees se oortuiging (v.8-11)

Die Bybel leer vir ons dat niemand tot bekering kan kom as hy of sy nie eers gesien het dat hulle verlore is nie. Daar moet ‘n duidelike oortuiging van sonde wees.  Dit beteken egter nie dat almal oor hulle sonde moet huil nie.  Dit beteken ook nie dat almal wat onder sonde oortuiging is tot bekering gekom het nie (Hd.24:24-25).  Dit is nie ‘n kuns om mense te laat huil nie.

 

Volgens 2 Kor.7:10 bestaan daar so iets soos wêreldse berou waarin mense skuldig voel en oor die gevolge van hulle sonde huil, maar hulle nie bekeer nie. Jy is nie gered bloot omdat jy besef het jy is verlore nie.  Iain Murray sê:  ‘It is essential to understand that to be awakened is not the same as to be saved.’[2]  Hou dit asseblief in gedagte wanneer ons v.8-11 van nader bekyk.

 

Die Heilige Gees het o.a. gekom om die wêreld – die bose mensdom wat volgens Ef.2:2 en 1 Jh.5:19 agter die duiwel aanloop – te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (v.8). In die konteks van v.13-15, 15:26-27 lyk dit of Hy dit hoofsaaklik deur die apostels se geïnspireerde briewe en prediking sou doen (bv. Hd.2:36-37).  Hy sou die Woord soos ‘n swaard gebruik het om die haat en sondige intensies in hulle harte bloot te lê (15:18, Heb.4:12-13, 1 Kor.14:24-25).

 

Ons verstaan dan iets van wat dit beteken dat Hy die wêreld van sonde oortuig. Maar wat beteken dit dat Hy hulle van geregtigheid en oordeel oortuig?  Kommentators verskil oor wat dit beteken.  Volgens een interpretasie sal die Heilige Gees die wêreld oortuig van hulle sonde, Jesus se geregtigheid en God se oordeel.  Maar na my mening is dit nie wat Jesus bedoel het nie.  Dit lyk eerder of die Gees hulle sal oortuig van hulle sonde, hulle geregtigheid en hulle oordeel.  Kom ek verduidelik.

 

[1] Die Heilige Gees sal die wêreld van hulle sonde oortuig, omdat hulle nie in Jesus glo nie (v.9).  Ongeloof in Jesus as die Messias en Here is die sonde wat hulle in die hel laat beland, en is ook die wortel van elke ander sonde (8:24).

 

[2] Die Heilige Gees sal die wêreld daarvan oortuig dat hulle selfregverdig is, en dat hulle Christus se volmaakte geregtigheid verwerp (v.10). Hy sal vir hulle wys dat hulle regverdige dade soos ‘n besoedelde kleed is (Jes.64:6).  Toe Jesus op die aarde was het Hy dit gedoen (Mt.23, Lk.18:9, 16:15).  Maar noudat Hy oppad was na die Vader toe sou die Gees dit deur die apostels gedoen het (v.10b).

 

[3] Die Heilige Gees sal die wêreld daarvan oortuig dat hulle verkeerd was om vir Jesus op grond van die uiterlike te oordeel (v.11, 7:24, Jes.53:3). In húlle gedagtes het sy kruisdood gewys dat God Hom vir sy sonde geoordeel het, en dat Hy daarom nie die Messias was nie (Jes.53:4, Mt.27:43).  Maar hulle was verkeerd, omdat die kruis gewys het dat Hy vir Satan – die regeerder van hierdie wêreld – geoordeel het (v.11, 12:31, Gn.3:15, Kol.2:15, 1 Jh.3:8, 5:19).

 

Sonder die Heilige Gees kan die wêreld nie ‘n akkurate beeld van hulle sonde, geregtigheid en oordeel hê nie. Sonder Hom kan hulle nie sien dat hulle harte boos is nie.  Hulle meet hulleself aan ander en dink dan dat hulle nie só sleg is nie.  Hulle definieer sonde as dit wat ander mense seermaak, en verskoon daarom hulle homseksuele dade, wellus, pornografie en ander lelike dinge.  Hulle dink nie daaraan dat alle sonde ‘n oortreding van God se wet is, en dat dit teen Hom gedoen word nie (Ps.51:6).

 

Verder het hulle nie ‘n idee hoe baie die Here hulle selfregverdigheid haat nie. Hulle dink dat hulle goed genoeg is om hemel toe te gaan, en dat hulle net harder moet probeer om sy guns te wen.  Hulle behandel Hom asof Hy ‘n afgod is wie se woede deur hulle godsdienstige pogings bedaar kan word.  Hulle dink dat hulle Hom kan omkoop met tiendes, bydraes aan die armes, kerkbywoning en vas.

 

Hulle verstaan ook nie hoe skeef hulle oordeel is nie. In hulle oë is Jesus die sondaar (9:24) en hulle die goeie mense.  As ‘n swanger ma te veel gedrink het sodat haar baba met ‘n defek gebore word, dan is dit die Here se skuld en nie hare nie.  As mense seksueel losbandig lewe en besluit om die ongebore baba te vermoor, is dit húlle keuse en kan nie die Bybel nie vir hulle sê wat om te doen nie.  ‘Dit is mý liggaam,’ is wat hulle sê.  Maar as hulle VIGS kry, dan is die Here die vark in die verhaal.

 

Mense is so blind dat hulle hierdie dinge nie kan insien nie. Daarom moet die Gees die swaard van God se Woord in hulle harte insny.  Só wys Hy dat hulle vol van sonde en selfregverdigheid is, en dat hulle nie die vermoeë het om reg te oordeel wanneer dit by geestelike dinge kom nie.  Hy sê nie net vir hulle om hulle sonde te los nie, maar ook die goeie dade waarop hulle staatmaak om gered te word (Rm.9:31, 10:3, Fil.3:4-6).  Met harte vol berou moet hulle in geloof na die gekruisigde Jesus toe draai, sodat Hy hulle kan vergewe en sý volmaakte geregtigheid aan hulle kan toereken (Fil.3:7-9).

 

Die Gees gebruik gewoonlik Bybelse prediking en Christene se heilige lewens om die wêreld hiervan te oortuig. Daarom kan ons nie die wêreld vir die Here wen as ons soos hulle is nie – ons moet heilig wees.  Maar heiligheid op sy eie is nie genoeg nie:  ons moet ook ons monde oopmaak en die evangelie met mense deel.

 

As ons onthou dat net die Heilige Gees mense kan oortuig, sal ons meer vir hulle bid, en nie ons tyd mors om met hulle te stry nie. Maar omdat Hy mense deur die evangelie oortuig, sal ons soos Paulus wees en alles in ons vermoeë doen om hulle te probeer oorreed (Hd.18:4, 19:8, 2 Kor.5:11).

 

Die Gees se inspirasie (v.12-15)

Tydens die Europese hervorming was daar ‘n jong Duitser genaamd Thomas Müntzer. Hy het gesê dat die Bybel nie die belangrikste in ons geestelike ervaring moet wees nie, maar dat die Gees se direkte woorde tot ons harte primêr is.  Volgens hom was Martin Luther ‘n vyand van die Heilige Gees wat die ‘dooie letter’ van die Bybel aanbid het.[3]

 

As ons egter v.12-15 bestudeer, word dit duidelik dat die Heilige Gees die Bybel geïnspireer het, en dat Hy deur die Bybel met ons praat.  Sodra ons die Bybel eenkant toe skuif, word dit onmoontlik om te weet of dit die Heilige Gees of die duiwel was wat met ons gepraat het.

 

Jesus wou nog baie ander dinge vir hulle gesê het, maar hulle kon dit nie op daardie stadium verstaan het nie (v.12). Die Gees moes eers gekom het voordat hulle die volle betekenis van Jesus en sy verlossingswerk kon verstaan (v.13).  Die Gees sou hulle in die waarheid van Christus en sy Woord gelei het (v.13, 14:6, 17:17, Ps.25:5).  Soos wat Jesus die Vader se woorde gespreek het (12:49-50), sou die Heilige Gees Jesus se woorde gespreek het (v.13).

 

Dit wat Hy vir die apostels gesê het, het Hy met Christus se gesag gespreek, sodat die woorde wat hulle in die Nuwe Testament opgeteken het, die Woord van God is (1 Ts.2:13, 4:8, 15, 1 Tm.5:18, 2 Pt.3:15-16).  Die Heilige Gees het hulle aan Jesus se woorde herinner, sodat hulle dit akkuraat neergeskryf het (14:26).  Hy het ook nuwe dinge vir hulle geleer – dinge wat nie noodwendig in Lukas of Johannes staan nie, maar in 1 Korintiërs, Judas en Openbaring (v.13).

 

Die Heilige Gees het die apostels gelei om Jesus se woorde neer te skryf, sodat Hy in die lees en verkondig daarvan verheerlik kon word (v.14). Dit is sy belangrikste bediening:  soos wat Jesus die Vader verheerlik het (17:4), sou die Heilige Gees vir Jesus verheerlik het (v.14, 5:23).  Hy het dus seker gemaak dat Jesus die middelpunt van die apostels se geïnspireerde briewe was.

 

Dit is nie dat Hy van die Vader vergeet het nie. Jesus en die Vader is een, sodat alles wat aan die Vader behoort ook syne is (v.15, 10:30, 14:9, 17:10).  Ook sy woorde kom van die Vader af (v.15, 15:15).  Daarom kan ons sê dat die apostels se woorde in die Nuwe Testament die Heilige Gees, die Seun en die Vader s’n is (v.15).  Moet dan nie val vir mense wat maak of Jesus se woorde meer gesag dra as Paulus s’n nie:  Paulus en die ander apostels se woorde is Jesus s’n!

 

Wat is die lesse wat Jesus in v.12-15 vir ons wil leer? Die Heilige Gees het die apostels en profete geïnspireer om die Bybel te skryf (v.13-15, 2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).  Ons mag nie daarby byvoeg of daaruit wegvat nie (Dt.4:2, 12:32, Sp.30:6, Heb.1:1, Op.22:18).  Die Gees gee dus nie meer vir mense geïnspireerde woorde om neer te skryf nie.  Derhalwe glo ons ook dat Hy ons in die waarheid van die Bybel lei (v.13), en nie deur nuwe openbarings in drome, visioene en profesieë nie.

 

Moet dan nie dink dat jou subjektiewe emosies en ervarings onfeilbaar is nie. Maak eerder seker dat die Heilige Gees se leiding in die Bybel jou kompas is.  So sal jy weet dat dit Gees is wat jou lei, en nie jou emosies, hormone, die duiwel, slapeloosheid, siekte, stres, vrees, voedsel vergiftiging, die newe-effekte van jou medikasie, ens. wat jou bedrieg nie.

 

Jy kan ook die Gees se werk meet deur vir jouself te vra of Jesus sentraal is (v.14). Waar mense hoofsaaklik op die Heilige Gees fokus, is dit nie die Heilige Gees nie maar ‘n vals gees.  Dit is hoekom ek nie tyd het vir kerke waarin mense ‘n ekstatiese ervaring van die Gees soek, terwyl Jesus aan die agterspeen moet suig nie.  In alles wat Hy doen, verheerlik die Heilige Gees vir Jesus.

 

Sy werk sluit onder meer die volgende in:

 

  • Hy kom na God se kinders toe om in hulle te woon en om hulle te help (v.7, 14:16-17, 1 Kor.3:16, 6:19). Hy bring die Vader en die Seun na ons harte toe (14:23, 2 Kor.13:13).
  • Hy wys vir die wêreld hulle sonde (v.8-11).
  • Hy het die apostels en profete se woorde geïnspireer (v.12-15, 14:26, 15:26-27, 2 Pt.1:20-21).
  • Hy lei ons (v.13, Ps.143:10, Rm.8:14).
  • Hy is die Skepper (Gn.1:2, Job 33:4, Ps.104:30).
  • Hy gee geestelike gawes, bekragtig ons vir diens, en help ons om van Jesus te getuig (Hd.1:8, 4:31, 1 Kor.12:4-11).
  • Hy maak ons soos Jesus en vorm sy karakter in ons (2 Kor.3:18, Gal.5:22).
  • Hy roep mense om ouderlinge te wees (Hd.20:28).
  • Hy openbaar God se liefde aan ons (Rm.5:5, Ef.3:16-19).
  • Hy sal eendag ons liggame uit die dood uit opwek (Rm.8:11).
  • Hy help ons om teen sonde te veg (Rm.8:13).
  • Hy gee vir ons sekerheid van redding en die hemel (Rm.8:16, 2 Kor.1:22, 5:5, Ef.1:13-14).
  • Hy bid vir ons en help ons om te bid (Rm.8:26-27, Ef.6:18, Jud.20).
  • Hy help ons om God te aanbid (4:24, Fil.3:3).
  • Hy gee vir ons hoop (Rm.15:13).
  • Hy maak ons een met ander Christene (Ef.4:3).
  • Hy help ons in vervolging (Fil.1:19, 1 Pt.4:14).
  • Hy maak ons heilig (2 Ts.2:13, 1 Pt.1:2).
  • Hy wederbaar ons (Tit.3:5, Jh.3:5).
  • Hy praat met ons deur die Woord (Op.2:7, 11, 17, 29, 3:6, 13, 22).

 

Soos wat jy ‘n baie duur diamant oppas en in jou kluis bêre, moet jy die Heilige Gees se teenwoordigheid in jou lewe koester. Moet Hom nie weerstaan as Hy jou van jou sonde oortuig nie (Hd.7:51). Moet Hom nie met jou sonde bedroef nie (Ef.4:30). En moenie die vlam van sy werk in jou hart uitblus nie (1 Ts.5:19). Wees eerder dankbaar vir God se grootste gawe aan jou en begeer dat Hy in jou hart sal woon.

 

[1] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.533

[2] Revival and Revivalism, p.209

[3] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 3, pp.129-130

Category Bybel, Christus, Heilige Gees