Verskeie Tekste
Insomnia is die groot woord. Dit kom van twee Latynse woorde (in + somnus) wat ‘nie’ en ‘slaap’ beteken. Dit verwys na iemand wat sukkel om aan die slaap te raak, of wat sukkel om weer te slaap as hy in die nag wakker word. Wat veroorsaak slaaploosheid en hoe kan jy dit Bybels oplos?
1. Fisieke oorsake
Met fisieke oorsake verwys ek nie na die bure se musiek of honde wat jou wakker hou nie. Ek dink nie aan slaaploosheid, omdat die persoon langs jou snork nie. Ek bedoel nie jy moet drie keer in die nag opstaan om ’n huilende baba of siek kind te versorg nie. Ek praat nie van iemand wat tydens ’n hittegolf of yskoue nag wakker lê nie (vgl. Gen. 31:40, 2Kor. 11:27). Ek praat nie van iemand wat skofte werk, dwelms gebruik, op ’n stukkende matras lê of geen roetine het nie. Te veel blou lig van jou slimfoon is nie wat ek in gedagte het nie. Ek verwys na meer permanente fisieke oorsake soos jou dieet, oorwerk of luiheid, siekte en pyn.
Jou dieet
As ek na 8 uur in die aand Coke drink, kan ek nie slaap nie—kafeïen hou my wakker. Een van ons vriende slaap sleg as hy in die aand te veel rooivleis eet.1 Om voor slaaptyd baie te eet en te drink, verhinder goeie slaap. Te veel kos laat jou spysverteringstelsel werk, terwyl baie vloeistof jou in die nag sal laat opstaan. Tog is ’n bietjie koolhidrate voor slaaptyd goed, omdat dit jou lomerig maak. ’n Bietjie warm melk en heuning help vir ’n goeie nagrus.2 Jael het dit geweet toe sy Sisera aan die slaap sus en hom in sy bed vermoor (Rigt. 4:19-21)!
Oorwerk en luiheid
’n Lui mens slaap te veel in die dag (Spr. 26:14, 6:9), daarom kan hy nie in die aand slaap nie. Party mense is lui, omdat hulle baie geld het. Hulle sien geen nood om in die oggend op te staan vir werk nie. Hoekom moet hulle werk as hulle meer as genoeg geld het? Maar om nie te werk nie is Onbybels (Gen. 2:15, Eks. 20:9, 2Tess. 3:6-15). Mense wat hard werk, verbrand energie en slaap goed in die nag: “Die arbeider se slaap is soet, of hy min of baie eet; maar die oormaat van die ryke gun hom geen rus, sodat hy kan slaap nie.” (Pred. 5:11).3
Om te werk is goed. Om dag en nag te werk, sodat jy selfs jou werk kamer toe vat, is sleg. Jou brein skakel nie af nie, wat beteken jy sal sukkel om aan die slaap te raak. Hou ’n pen en ’n notaboek langs jou bed as jy bang is jy vergeet iets.4 Om angstig wakker te lê oor geld, jou werk en die toekoms, maak nie dinge beter nie; dit hou jou net uit die slaap. Vertrou die Here om jou te help en vir jou te sorg: “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap.” (Ps. 127:2).
Siekte en pyn
Soms hou rustelose bene my wakker. Job se pynlike swere het hom uit die slaap gehou: “As ek gaan lê, dink ek, Wanneer kan ek opstaan?—maar die aand sleur voort. Ek is sat van rusteloos wees, tot die oggendskemer. My liggaam is oortrek van maaiers en ’n kors stof; my vel het verhard en dit bars oop... Die nag grawe my gebeente uit my uit, my knaende pyne kom nie tot rus nie... Of hy word met pyn op sy bed tereggewys—’n voortdurende stryd in sy gebeente” (Job 7:4-5, 30:17, 33:19).
Maak diabetes, asma, ’n ooraktiewe skildklier, ander siektes of pyne jou rusteloos?5 Bid oor die saak en besoek jou dokter. As jy medisyne nodig het, moet jy seker maak slaaploosheid is nie een van die newe-effekte nie. Wat as die medisyne nie help nie; as jy kronies siek is en sukkel om te slaap? Probeer die volgende:
2. Geestelike oorsake
Doen jy wat ek hierbo genoem het, maar jy slaap nog steeds sleg? Oorweeg die volgende oorsake:
Bose gedagtes
Lê jy wakker met gedagtes vol bitterheid, wellus en ander booshede? “Onreg bedink hy op sy bed; hy gaan staan op ’n pad wat nie goed is nie; kwaad verwerp hy nie.” (Ps. 36:5). “Want hulle kan nie slaap nie, behalwe as hulle kwaad doen; hulle slaap bly weg, tensy hulle iemand tot ’n val bring.” (Spr. 4:16). “Wee hulle wat onreg bedink, wat kwaad beplan op hulle beddens! Teen dagbreek voer hulle dit uit, want die mag is in hulle hande.” (Miga 2:1). Moenie met sonde in jou hart gaan slaap nie. Bely dit voor jy in die bed klim: “Sidder, moenie sondig nie; dink na op julle beddens en wees stil.” (Ps. 4:5). “Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. Moenie vir die Duiwel plek gee nie.” (Ef. 4:26-27). “As ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.” (1Joh. 1:9).
Slegte drome
Farao en Nebukadnesar se slegte drome het hulle wakker laat skrik (Gen. 41:1-8, Dan. 2:1). Party mense droom gereeld van traumatiese ervarings in die verlede: die dood van ’n kind, ’n motorongeluk, misdadigers, die grensoorlog, iets soortgelyk. Nagmerries het Job uit die slaap gehou. Moontlik het hy van sy oorlede kinders gedroom: “As ek dink my slaapbank sal my troos, my slaapplek sal my klagte help verlig, dan verskrik U my deur drome, deur naggesigte ontstel U my” (Job 7:13-14).
Wat moet jy doen as ontstellende drome jou wakker hou? Bid, sing saggies en oordink God se Woord voor jy in die bed klim. Doen dieselfde as jy in die nag wakker word en nie kan slaap nie (Deut. 6:7, Spr. 6:22, Ps. 16:7, 42:9, 77:3, 5, 7, 12-13, Jes. 26:9, Jer. 31:25, Hand. 16:25). Moet verkieslik nie oor jou probleme bid nie, omdat jy dikwels nie eintlik daaroor bid nie, maar top. Dit sal slaaploosheid vererger. Peins liewer oor God en sy Woord. So het die psalmdigter en Jesus die nag deurgebring (Ps. 1:2, 119:55, 62, 147-148, Luk. 6:12). Wie sy gedagtes so besig hou, sal waarskynlik weer aan die slaap raak: “As jy gaan lê, sal jy nie verskrik wees nie, as jy lê, sal jou slaap soet wees.” (Spr. 3:24). Edward Welch sê: ‘Meditation...doesn’t always lead to better sleep, but meditation is a fine thing whether it yields the fruit of sleep or not.’6 Wees versigtig vir hoogmoed. Dit is nie meer geestelik om in die nag Bybel te lees en te bid as in die dag nie.7
Vrees en angs
Lê jy angstig en wonder hoekom die Here sekere dinge in jou lewe toelaat? “Toe ek my daaraan toegewy het om wysheid te ken, en om die taak te beskou wat op die aarde verrig word—terwyl ’n mens selfs dag en nag met sy oë geen slaap sien nie” (Pred. 8:16). Berus jou daarby dat die Here alles weet al verstaan jy nie noodwendig hoekom iets met jou gebeur het nie (Deut. 29:29, Psalm 131).
Al het koning Ahasveros dit nie besef nie, het die Here hom laat wakker lê (Ester 6:1). Terwyl hy wakker was, het hy die kronieke laat voorlees en besluit om Mordegai te vereer. Deur die koning se besluit, het God sy volk van ’n noue ontkoming met die dood gered. Lees gerus die boek Ester vir die konteks. My punt is dat die Here in beheer is as jy nie kan slaap nie. Slaap rustig onder sy soewereine heerskappy.
Pla sonde jou gewete—is dit hoekom jy nie kan slaap nie (Ps. 6:7, 32:4-5)? Vind rus in Christus; vra Hom om jou gewete te reinig en sonde te vergewe (Matt. 11:28-29, Heb. 4:3, 9:14). Dan sal jy rustig wees en goed slaap (Jes. 26:3).
Is jou slaaploosheid die Here se tug? “Jou lewe sal voor jou aan ’n draadjie hang; jy sal dag en nag in vrees leef en nie jou lewe seker wees nie. Oor die vrees waarmee jy in jou hart leef en oor die toneel wat hom voor jou oë afspeel, sal jy in die oggend sê, ‘Ag, was dit maar aand!’ En teen die aand sal jy sê, ‘Ag, was dit maar oggend!’ ” (Deut. 28:66-67). “Telkens wanneer dit [God se straf] verbykom, sal dit julle meesleur. Ja, oggend ná oggend, dag en nag sal dit verbykom. Dit sal net te verskriklik wees om die boodskap te verduidelik. Die bed is immers te kort om op uit te strek, en die kombers te smal om jouself in toe te wikkel.” (Jes. 28:20). Sien jou slaaploosheid as God se genade. Hy wil jou ore oopmaak; luister en bekeer jou. Dit het met ’n man en vrou in Pretoria gebeur. Lizl het die evangelie met die vrou gedeel, maar sy wou nie luister nie. Daarna het Lizl begin bid dat die Here ’n heilige vrees oor die man en sy vrou sal bring. Een aand toe gebeur dit. Die vrou kon nie slaap nie. ’n Heilige vrees het haar beetgepak. ‘Wat gaan van my word as ek sterf?’ het sy gewonder. Sy het vir Lizl gekontak en hulp gevra. Lizl het hulle na ’n goeie gemeente toe verwys. Die man en sy vrou het tot bekering gekom!
Lê jy wakker uit vrees vir boelies by die skool of die werk, uit vrees dat skelms by jou huis sal inbreek terwyl jy slaap? Moenie misdaadforums of die nuus dophou, TV programme kyk of enigiets doen wat die vrees by jou sal aanwakker nie (Fil. 4:8). Die Here kan jou teen slegte mense beskerm. As jy dit onthou, sal jy rustig slaap:
“’n Psalm. Van Dawid. Toe hy vir sy seun Absalom gevlug het... Wanneer ek hard roep na die Here, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela... Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word, want die Here onderskraag my. Ek is nie bang vir tienduisende manskappe wat reg rondom my teen my stelling inneem nie.” (Ps. 3:1, 5-7).
In vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want net U, Here, laat my veilig woon.” (Ps. 4:9).
“You have kept count of my tossings; put my tears in your bottle. Are they not in your book? Then my enemies will turn back in the day when I call. This I know, that God is for me.” (Ps. 56:8-9, ESV).
“as ek aan U dink op my slaapplek, as ek in die nagwake oor U prewel... En daardie mense wat daarop uit is om my lewe te verwoes, hulle sal die onderste dele van die aarde binnegaan.” (Ps. 63:7, 10).
“’n Gebed. Van ’n magtelose wanneer hy kragteloos is en sy klag voor die Here uitstort... Ek lê wakker; ek het geword soos ’n eensame voël op ’n dak. Die hele dag dryf my vyande die spot met my; dié wat met my die gek skeer, gebruik my naam in verwensings.” (Ps. 102:1, 8-9).
“As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker... Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap.” (Ps. 127:1-2).
Petrus se vertroue het gemaak dat hy rustig in die tronk slaap (Hand. 12:6). Herodes het beplan om hom dood te maak, maar hy het geweet dit kan nie gebeur nie, omdat Jesus gesê het hy sal sterf wanneer hy oud is (Joh. 21:18-19, 2Pet. 1:14).
Slaap rustig. Die Here waak oor jou. Hy slaap nie, sodat jy kan: “Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.” (Ps. 121:3-4). “Hulle sal veilig woon in die woestyn en in die ruigtes slaap.” (Eseg. 34:25). John Piper sê:
‘Sleep is a parable that God is God and we are mere men. God handles the world quite nicely while a hemisphere sleeps. Sleep is like a broken record that comes around with the same message every day: Man is not sovereign.... Man is not sovereign.... Man is not sovereign... [God] is not nearly so impressed with our late nights and early mornings as he is with the peaceful trust that casts all anxieties on him and sleeps.’8
Laat jou vrees vir donderstorms of ander natuurverskynsels jou wakker lê? God is in beheer van die natuur (Ps. 135:6, 148:8), daarom kan jy rustig slaap. Is dit nie hoekom Jesus rustig in die storm geslaap het nie (Matt. 8:24-27)?
Stres jy oor werk, geld, die toekoms, hoe jy vir jou kinders gaan sorg? Moenie dat dit jou wakker hou nie. Vertrou die Here; Hy sal vir jou sorg, sodat jy jou gesin kan versorg: “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. Kyk, seuns is ’n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is ’n beloning.” (Ps. 127:2-3).
Hou bekommernis oor ’n rebelse kind jou wakker? As jy jou kinders Bybels dissiplineer en opvoed, sal jy rustig slaap (Spr. 29:15, 17). Miskien het jy dit gedoen, maar jou kinders het sleg uitgedraai. Die Here kan die situasie vir die goeie laat uitwerk (Rom. 8:28). Vertrou Hom en slaap rustig.
Laat ’n krisis jou wakker lê (Dan. 6:18)? Los die saak by die Here en slaap: “deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle.” (1Pet. 5:7).
Is jy bang vir slaaploosheid waar die minute soos ure voel? Vrees jy jy gaan vanaand weer wakker lê? Jy wil nie gaan slaap nie. Jy lê in die nag en stres, omdat jy bang is jy sal nie vroeg opstaan nie. As jy nie genoeg slaap inkry nie, gaan jy sukkel om by die werk of tydens die eksamen te konsentreer. Hopelik sal Maura se storie jou help. Sy kon ook nie slaap nie en het gedink ’n skaduagtige man hou haar dop. Sy het ’n berader gaan sien. Vir haar huiswerk moes sy bid, Bybelverse oordink, die Here dank en ander geestelike take doen. Ongelukkig het sy haar skoolwerk oor haar berading huiswerk verkies. Nog steeds kon sy nie slaap nie. In die volgende sessie het die berader haar gehelp om ’n kopskuif te maak: ‘Sien jou slaaplose ure as God se geskenk aan jou. Hy maak jou wakker om met Hom tyd deur te bring.’ Hierdie raad het haar ingesteldheid verander. Stelselmatig het sy beter begin slaap en uiteindelik haar slaaploosheid oorkom.9
Dit is wonderlik: die Here maak jou wakker om met Hom te praat en na sy Woord te luister! “Elke oggend maak Hy My wakker; Hy wek my oor om soos ’n leerling te luister.” (Jes. 50:4). Al het jy min geslaap, kan die Here jou krag gee, asof jy vir agt ure geslaap het: “Dit is Hy wat vermoeides krag gee, wat lewenskrag vermeerder vir dié wat geen vermoëns het nie. Jong seuns word moeg en raak afgemat; jong manne struikel en val. Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.” (Jes. 40:29-31).
Begrawe jou vrese en vrees God alleen. Wie dit doen, sal rustig slaap: “Ontsag vir die Here lei tot lewe, en ’n mens gaan versadig slaap” (Spr. 19:23, Heb. luwn). Wie die Here vrees, sal nie eers die finale slaap van die dood vrees nie. Die dood is soos ons vakansie in 1989. ‘Ons ry nou Johannesburg toe,’ het my pa een Sondagaand 20:00 gesê. Ons was opgewonde om Kersfees by my ouma deur te bring. So 40 km buite die dorp (Louis Trichardt) het ek aan die slaap geraak. Toe ek wakker word, was ons in Johannesburg.
So is die dood vir ’n gelowige: jy raak aan die slaap en oomblikke later open jy jou oë by die Here (Ps. 17:15, 139:18, Hand. 7:59-60, 2Kor. 5:8). Om te sterf, is asof jy rustig aan die slaap raak en na ’n lieflike nagrus by jou gunsteling vakansiebestemming wakker word met die oggendlig wat deur die venster skyn. Die nag is vir ewig verby; ’n perfekte nuwe dag het begin (Op. 21:23, 25).
1 Robert Smith, M.D., The Christian Counselor’s Medical Desk Reference [Stanley, NC: Timeless Texts, 2000], 134
2 Ibid.
3 Aanhalings is uit die 2020 Vertaling.
4 Wayne Mack, A Homework Manual for Biblical Living: Vol. 1 (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1979), 166
5 https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/insomnia/symptoms-causes/syc-20355167
6 https://www.ccef.org/do-we-overvalue-sleep/
7 Richard Baxter, A Christian Directory (Morgan, PA: Soli Deo Gloria Publications, 2000 [1846]), 339
8 John Piper, Taste and See (Sisters, Oregon: Multnomah Publishers, 1999, 2005), 336
9 https://www.biblicalcounselingcoalition.org/2017/02/10/helping-an-anxious-teenage-insomniac/