Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 August 2022

Fisieke Probleme: Kroniese Pyn

Romeine 8:18-39

Iemand het eenkeer op Facebook gesê: ‘Aan die kruis het Jesus pyn deurgemaak, sodat ons in die wêreld ’n pynvrye lewe kan hê.’ Dit is foutiewe logika. Sal die Hoof pyn hê, maar die liggaam onaangeraak bly? “Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ’n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg.” (1Pet. 2:21).1

Soos sy Meester het Paulus pyn ervaar: “Is hulle dienaars van Christus?—nou praat ek sonder verstand—ek nog meer: oorvloediger in harde werk, meer dikwels in die tronk, uitermate geslaan, en dikwels in doodsgevaar. Van die Jode het ek vyf keer veertig houe minus een gekry; drie maal is ek met stokke geslaan; een maal is ek gestenig; drie maal het ek skipbreuk gely; ’n nag en ’n dag lank het ek die diepsee trotseer; dikwels op reis, met gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van die kant van my eie volk, gevare van die kant van die heidene, gevare in die stad, gevare in die woestyn, gevare op see, gevare onder vals broers, met harde werk en swaarkry, dikwels met slapelose nagte, honger en dors, dikwels sonder kos, koud en nakend. En afgesien van nog ander ongenoemde dinge, is daar daaglikse druk op my—my kommer oor al die gemeentes.” (2Kor. 11:23-28).

Sonder ’n kruis is daar geen kroon nie: “Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename—erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (v.17). “Ons moet deur baie ontberings heen in die koninkryk van God ingaan.” (Hand. 14:22).

Almal beleef pyn. Party s’n is kronies of konstant. Wat as niks die pyn verlig nie? Dit help nie jy redeneer soos Christian Science deur te sê pyn is ’n versinsel van die mens se verbeelding nie. Laat so iemand net eenkeer nierstene kry om te besef pyn is geen illusie nie.

Volgens Hindoes en Boeddhiste moet ’n mens deur oosterse meditasie bo die pyn uitstyg. Om hierdie rede loop party van hulle oor warm kole. Sterkte.

Rabbi Kushner benader die probleem vanuit ’n ander hoek. In sy boek, When bad things happen to good people, verduidelik hy hoekom daar pyn in die wêreld is. Volgens hom is daar twee opsies. #1: God is almagtig en vat nie ons pyn weg nie, daarom is Hy sleg. #2: God is goed en vat nie ons pyn weg nie, daarom is hy nie almagtig nie. Kushner kies die tweede opsie en God se Woord die eerste (Gen. 18:14, Jer. 32:17, 27, Luk. 1:37, 18:27, Ef. 3:20).

Volgens die Word of Faith beweging moet jy lewe spreek om pyn teë te werk. Hierdie oplossing is nie Bybels nie. Nêrens beveel God ons om siekte en pyn weg te spreek nie. God is die Skepper en daarom kan Hy alleen lewe spreek (Genesis 1, Klaagl. 3:37, Rom. 4:17, Heb. 11:3).2

Om pyn Bybels te hanteer, moet jy die psigosomatiese uitskakel. In 2008 het ek intense borspyn gehad. Ek het ’n dokter besoek en allerhande toetse ondergaan. Daar was geen fout met my liggaam nie. ‘Stres jy?’ het die dokter gevra. Op daardie tydstip het ek ’n baie stresvolle tyd beleef. Ek was angstig. Dit het die pyne op my bors veroorsaak. Word jou pyn deur iets soortgelyk veroorsaak: verhoudingsprobleme of verkeerde emosies soos bitterheid, jaloesie, depressie, angs? “’n Knap vrou is ’n kroon vir haar man, maar soos verrotting in sy gebeente is ’n vrou wat skande maak.” (Spr. 12:4). “’n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente.” (Spr. 14:30). “’n Vrolike hart is goed vir herstel, maar ’n neerslagtige gees sal die gebeente uitdroog.” (Spr. 17:22).

Indien hierdie dinge fisieke pyn veroorsaak, moet jy dit met die Here regstel en volgens sy Woord lewe. Indien jy nog steeds pyn het, doen die volgende:

 

1. Dink aan die heerlikheid wat kom (v.18-25)

“Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie.” (v.18). Die Grieks vir oortuig (logizomai) is ’n rekenkundige term. Dit is asof Paulus die teenwoordige lyding en toekomstige heerlikheid in twee kolomme neerskryf. Die somtotaal van die teenwoordige lyding is groot, maar vergelyk nie naastenby met die astronomiese totaal van die toekomstige heerlikheid nie. In vergelyking met die heerlikheid wat voorlê, is die teenwoordige lyding klein: “Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons ’n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid” (2Kor. 4:17). ’n Minuut in heerlikheid sal opmaak vir al die pyn wat jy op die aarde moes deurmaak.

Wat is v.18 se heerlikheid? Dit verwys na Christus se skoonheid, verhewenheid, majesteit en helder glans wat ons in die toekoms sal aanskou (Joh. 17:24, 2Tess. 1:10, Heb. 1:3). Paulus bedoel ook dat Christus se heerlikheid soos die son deur ons opstandingsliggaam sal skyn (v.23, 29, Dan. 12:3, Matt. 13:43, 2Kor. 3:18, 1Joh. 3:2). Die Grieks beteken letterlik dat God se heerlikheid in ons geopenbaar sal word (v.18, Gk. eis).

Die skepping begeer om dit te sien. Dit is asof die natuur op sy tone staan en sy nek strek om te sien wie God se kinders is (v.19). Hoekom wil die skepping sien wie verheerlikte liggame het? Toe die mens in sonde val, toe val die skepping saam (v.20-21, Gen. 3:17). Ons sien dit om ons: alles is besig om af te breek (entropie) eerder as om beter te word (evolusie). Wanneer God die mens finaal herstel, sal Hy die skepping saam herstel. Ons sal nie meer sonde doen, siek word, pyn hê of sterf nie (Op. 21:4). Die res van die skepping ook nie (Jes. 11:6-9). Dit is waarvoor die skepping sug en hoop (v.20-21). Volgens v.22 beleef die pyn nou geboortepyne. Geboortepyne is erg, maar ons weet dat dit op vreugde uitloop wanneer ’n nuwe lewe in die wêreld gebring word. Net so sal die skepping se pyn op vreugde uitloop wanneer die aarde as’t ware aan die dooies geboorte skenk: “Jou dooies sal leef, Israel; hulle lyke sal opstaan. Word wakker en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is ’n hemelse dou, en die aarde sal aan skimme [die dooies] geboorte gee.” (Jes. 26:19).

Die skepping sug vir hierdie dag. Gelowiges sug ook (v.23). Ons wens vir die wederkoms en verlang na ’n nuwe aarde waarin geregtigheid seëvier (1Kor. 16:22, 2Tim. 4:8, Tit. 2:13, 2Pet. 3:13). Gelowiges sug om van hierdie gevalle wêreld vry te wees (v.23). Ons is soos Amerikaanse slawe uit ’n vorige era. Wanneer hulle in die katoenlande tot die Here geroep het, het hulle gesug. Die herhaaldelike gebruik van die woord ‘O!’ wys dit. Hoe baie gesange begin nie met ‘O!’ nie. Ons verlang om van bevry te wees. Die Heilige Gees waarborg dat dit so sal wees. As eerstevrug of deposito in ons wys Hy dat ons die volle oes van ons hemelse erfdeel sal ontvang (v.23, vgl. Spr. 3:9-10, Ef. 1:13-14, 4:30, 2Kor. 1:22, 5:5).

Sug jy hiervoor? Dit op sigself wys dat die Heilige Gees in jou woon (v.23). By die wederkoms sal God jou liggaam opwek en dit verheerlik (v.23). Jy sal ’n nuwe liggaam ontvang wat vir ewig sondeloos, jonk, sterk en onsterflik is (1Kor. 15:42-44). Jy sal ’n verheerlikte liggaam soos Jesus s’n hê (Fil. 3:20-21). Ons sien dit nie nou nie, maar het ’n vaste hoop dat die Here sy belofte sal vervul (v.24). Omdat jy dit weet, kan jy geduldig deur die pyn vasbyt (v.25).

 

2. Bid in die Gees (v.26-27)

“So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree.” (v.26-27). Party mense dink Paulus sê ons moet in tale bid. Hierdie verse is vir elke gelowige en volgens 1Kor. 12:10, 30 praat nie almal in tale nie.

Waaroor gaan Rom. 8:26-27 dan? Dit verwys na gelowiges wat swaarkry. Soms voel jy te swak om te bid—jy weet nie waarvoor om te bid nie. Moet jy genesing vra of liewer bid om hemel toe te gaan? Die Heilige Gees weet. Hy sug in jou (v.26): “Abba, Vader!” (v.15, vgl. Gal. 4:6). God ken ons almal se harte en verstaan sy Gees se suggebede in jou (v.27, 1Kon. 8:39, Ps. 139:1, 23). Omdat die Gees volgens God se wil bid, antwoord Hy gunstig (v.27, 1Joh. 5:14-15), hetsy deur genesing (Jak. 5:15), genade om die pyn te verduur (2Kor. 12:9), of deurdat Hy jou veilig deur die vallei van die dood lei (Ps. 23:4). Dank Hom vir sy antwoord en berus daarby. Dit sal jou help om die pyn met blydskap en geduld te verduur (Kol. 1:11).

 

3. Glo God se beloftes (v.28-30)

Tannie X het siek geraak. Sy kon nie meer vrylik rondbeweeg nie en was negatief oor haar siekte. Op ’n dag het haar klaaglied in ’n loflied verander. Van daar af het sy haar siekte geduldig verduur, die Here gedank en van sy goedheid getuig. Jy kan dieselfde doen as jy v.28 glo: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is”. Deur die Gees wat vir ons bid (v.26-27), bewerk God alles tot ons voordeel (v.28).

Miskien sê jy: ‘In my geval voel dit nie so nie—alles is besig om uitmekaar te val.’ Jy kan nie volgens jou gevoelens leef nie. Leef volgens wat jy wéét, naamlik dat God alles ten goede laat meewerk (v.28); dat Hy getrou is en nie kan lieg nie (Heb. 6:18, 10:23). Vertrou op sy Woord eerder as op jou emosies.

Vers 28 geld nie vir almal nie, maar vir dié wat God liefhet en volgens sy voorneme geroep is. Wat is sy voorneme? Hy het ons geroep om soos Jesus te wees en om Hom te verheerlik (v.29, Ef. 1:5-6). Dalk gebruik Hy selfs pyn om jou na Homself toe te roep: “Want God praat op een, ja, op twee maniere, maar die mens sien dit nie raak nie... hy word met pyn op sy bed tereggewys—’n voortdurende stryd in sy gebeente” (Job 33:14, 19). Sommige mense mis dit. Ek ken ’n ongelowige wat geweldig onder kanker gely het. ’n Gelowige het hom besoek en vir sy vrou gesê: ‘Die Here gebruik ons pyn om ons nader aan Hom te trek.’ Toe die ongelowige dit hoor, het hy geweldig aanstoot geneem. Hy kon nie God se hart sien nie, naamlik dat Hy bereid was om hom te red.

Gelowiges beleef ook pyn, maar sien God se goeie hand agter dit. As ons reg geleer word, besef ons dat die Here ons pyn gebruik om ons meer soos Jesus te maak (v.29). Dit beteken nie pyn is goed nie, maar soos natrium en chloried meng Hy dit vir die goeie (v.28). Op hulle eie is natrium en chloried skadelik vir jou, maar as jy dit meng, kry jy tafelsout. Net so gebruik God ons pyn vir ’n goeie doel, naamlik om ons soos Jesus te maak (v.29). Hiervoor het Hy ons uitgekies en bestem (v.29, Ef. 1:4-5, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:1-2).

Maak dit ook jou doel om soos Jesus te wees eerder as om net die pyn te ontwyk (v.29). As Jesus wou, kon Hy sy pyn verlig het. Hy het nie, omdat Hy die volle pyn in ons plek wou verduur: “Hulle wou Hom wyn, gemeng met mirre, gee, maar Hy het dit nie geneem nie.” (Mark. 15:23). Ek bedoel nie dit is verkeerd om ’n pynstiller te neem nie. Maar dit moenie jou grootste doel wees nie. Jou grootste doel is om deur die pyn soos Jesus te wees.

Hoe doen mens dit? Jy verloor nie jou humeur met die mense om jou nie, maar jy bid vir hulle (Luk. 23:34, 1Pet. 2:23). Jy bedien ander soos Jesus gedoen het toe Hy aan die kruis was (Luk. 23:43, Joh. 19:26-27). ’n Oom in ons gemeente was so. Voor sy dood het Hy die vreeslikste pyn beleef. Op Sondae het hy homself soos ’n sprinkaan voortgesleep om by die gelowiges te wees. Ten spyte van die pyn, het hy aangehou om ander te bedien. Op hierdie manier was hy soos Jesus wat die eersgeborene onder baie broers is (v.29, Heb. 2:11-12). Die feit dat Jesus ons eersgebore broer is, maak Hom die erfgenaam van alles. Volgens v.17 deel Hy alles met ons, sodat ons mede-erfgename van die koninkryk is. Sy broederskap beteken ook dat Hy jou pyn verstaan: “Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. Want omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word, te help.” (Heb. 2:17-18).

Hoe weet jy Jesus is jou broer; dat God jou uitgekies en bestem het om soos Hy te wees? Het Hy jou by die Naam geroep om sy kind te wees (1:7, Jes. 43:1, Joh. 10:3)? Glo jy in Jesus Christus as die enigste Verlosser van sondaars? Vertrou jy Hom persoonlik as jou Verlosser en Here? In daardie geval is sy geregtigheid joune (1Kor. 1:30, Fil. 3:9). As God jou geroep en regverdig verklaar het, het Hy jou ook uitverkies en bestem om soos Jesus te wees, en om in die toekoms verheerlik te word: “want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” (v.29-30). Laat hierdie wete jou deur die pyn verseker dat God jou met ’n ewige liefde liefhet (Jer. 31:3).

 

4. Besef God is vir jou (v.31-34)

Vir baie jare het Jakob deur ’n beproewing gegaan. Toe dinge op sy ergste is, toe sê hy: “Alles is teen my!” (Gen. 42:36). Min het hy besef dat dinge op daardie oomblik besig was om uit te werk. Sy omstandighede sou binnekort ’n wending neem.

Soms voel Christene soos Jakob. Dit voel of die Here van jou pyn vergeet het. Hy het nie: “Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (v.31). Dit wat vir jou sleg lyk, is God besig om vir die goeie uit te werk (v.28, Gen. 50:20). Sal God sy Seun gee om namens jou aan die kruis vervloek te word (Matteus 27, Gal. 3:13), terwyl Hy kleiner dinge soos die hemel en genade om pyn te verduur, weerhou? “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het—hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?” (v.32).

Kla jou gewete, vriende, ’n vals prediker of die duiwel jou aan: ‘Die rede hoekom jy pyn het, is omdat jy nie gered is nie. Jy het seker een of ander sonde gedoen. Daar is iets fout met jou geloof. Is God jou Vader, maar Hy laat toe dat jy so ly?’ Antwoord hulle met Rom. 8:1, 33-34: “Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie... Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek! Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog—wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.”

Jesus het jou sonde aan die kruis afgeskryf en sy geregtigheid op jou boeke geplaas (Kol. 2:14, 2Kor. 5:21). Hy is die Advokaat wat vir jou intree en jou saak verdedig (1Joh. 2:1). Hy bid dat jy deur die pyn volhard en nie jou geloof verloor nie (Heb. 7:25, Fil. 1:6).

 

5. Rus in God se liefde (v.35-39)

’n Gelowige wat baie pyn beleef, het my gevra: ‘Hoekom straf die Here my so?’ Die waarheid is dat God sy kinders in hulle pyn soveel liefhet as voor die pyn: “Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” (v.35). God het jou lief wanneer die dokter nie weet wat fout is nie. Eintlik trek jou pyn sy hart nader aan jou: “In al hulle nood was ook Hy in die nood.” (Jes. 63:9). “Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: ‘Moenie huil nie!’” (Luk. 7:13). “Want ons het nie ’n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het.” (Heb. 4:15).

Selfs die dood kan jou nie van God se liefde skei nie, maar dit vat jou na Hom toe (v.36, Luk. 23:43, Hand. 7:59-60, Fil. 1:21, 23). Deur Christus is ons meer as oorwinnaars oor Satan, sonde, siekte, pyn en die dood (v.37, 1Kor. 15:54-55, 57). Aan elkeen dié wat oorwin gee Hy om te eet van die boom van die lewe (Op. 2:7). Hy gee ons die kroon van die lewe (Op. 2:11), die geheime manna, ’n wit klip met ’n nuwe naam daarop (Op. 2:17), die Môrester, heerskappy oor die nasies (Op. 2:26-28), wit klere, ’n ewige naam in die boek van die lewe (Op. 3:5), ’n plek as ’n pilaar in sy nuwe tempel, sy eie Naam op ons gegraveer (Op. 3:12), ’n plek op sy troon (Op. 3:21), status as kinders van God (Op. 21:7). So beloon Hy dié wat deur Hom die oorwinning behaal. Prakties beteken dit geen gelowige sal die stryd teen kanker of ander vorme van pyn verloor nie. In Christus triomfeer ons oor al hierdie dinge (v.37).

Wat sal jou dan van God se liefde skei: migraine, arthritis, jig (Eng. gout), lupus, kanker, ouderdom en slytasie, fibromalgie3, Satan, demone, die dood? God belowe om ons nie te verlaat nie (Heb. 13:5). Ook kan niks in die skepping ons van sy liefde skei nie (v.38-39). Sy liefde vir ons is vaster as die berge (Jes. 54:10). Aan sy liefde is daar geen einde nie (Psalm 136). Hy sal nie toelaat dat kroniese pyn jou van jou redding beroof of jou uit sy hand ruk nie (v.38-39, Joh. 10:28-29). In Christus is jy veilig (v.39). Hy sal jou van elke bose werk bewaar en jou veilig tot in sy hemelse koninkryk bring (2Tim. 4:18).

Hy het dit vir iemand in KwaZulu-Natal gedoen. Hierdie man was in die polisie en is deur die nek geskiet. Na vele operasies was die pyn erger as toe hy geskiet is. Selfs as ’n kombers aan hom geraak het, het hy pyn gehad. Hulle moes ’n aliminium raam bo sy bed bou, sodat die komberse daarop kon rus. Hy het aan God en sy beloftes vasgehou. Dit het hom tot in die hemel deurgedra. Ek wonder wat die Here se doel was? Ek wonder of ons in die hemel sal jy uitvind dat pyn God se medisyne was om ons naby Christus te hou?


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Besoek http://baptistekerkkemptonpark.com/sermon/het-ons-die-mag-om-lewe-en-dood-te-spreek/ vir meer oor lewe en dood spreek.

3  Fibromalgie verwys na ’n toestand waarin iemand gedurig moeg is en pyn het. Medici is nie seker wat dit veroorsaak nie. Een kenner sê: ‘“Fibromyalgia is not a disease” since there is no demonstrated tissue damage in the body.’ (Robert Smith, M.D., The Christian Counselor’s Medical Desk Reference [Stanley, NC: Timeless Texts, 2000], 255). Dit wil voorkom dat stres die moegheid en pyn vererger. Soos met enige ander siekte moet ’n mens bogenoemde waarhede onthou en toepas.

Kategorieë