Hebreërs 13:8-10
Hoe het sonde in die wêreld ingekom? Deur kos: “Die vrou sien toe dat die boom goed was om van te eet, dat dit ’n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om ’n mens insig te gee. Sy het van die vrugte daarvan geneem, dit geëet en ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.” (Gen. 3:6).1 Van die sondeval af benader mense kos verkeerd. Die Here het kos gegee om ons te voed en dat ons dit kan geniet (Ps. 104:14-15, 1Tim. 4:3b-5, 6:17). Mense maak ’n afgod daarvan deur vraatsug of eetstakings wat uiteindelik tot anoreksie en bulimie lei. Wat is die Bybelse oplossing hiervoor?
1. Fokus op Christus (v.8)
Alles verander. Die ou verbond met sy tabernakel, offersisteem en ander skadubeelde het verander (8:13) en is in Christus vervul: “Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ’n fees, ’n nuwemaansfees of ’n Sabbat nie. Hierdie dinge is net ’n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.” (Kol. 2:16-17).
Die skepping sal verander wanneer Jesus dit soos ’n boekrol oprol, verbrand en ’n nuwe skepping maak (1:10-12a, 2Pet. 3:10, 12, Op. 21:1). Ons verander. Die liggaam word ouer, maar die innerlike mens word daagliks vernuwe (2Kor. 4:16). Jesus alleen is onveranderlik. Alhoewel sy menslike natuur verander het (Luk. 2:40, 52), bly sy Goddelike natuur altyd dieselfde (v.8, 1:12, Eks. 3:14, Joh. 8:58, vgl. Mal. 3:6). Sy goedheid en krag om sondaars te red, bly vandag en môre dieselfde as gister (v.8). Dit geld ook vir eetversteurings: Jesus kan enigiemand vrymaak.
My vriend het 191 kg geweeg. Deur gebed en dissipline kon hy 90 kg afskud. Daarna het hy 70 kg opgetel en die afgelope paar jaar meer as 40 kg verloor. Sy doel was nie om goed te lyk of goed te voel nie. Hy wou goed doen. Met minder gewig sou hy meer energie hê om die Here te dien. Hy probeer homself hieraan herinner as hy te veel begin oefen: ‘My doel is geestelik; ek doen dit nie vir myself nie, maar om die Here te verheerlik.’
Ek ken ’n vrou wat anoreksie gehad het. Toe haar kêrel haar los, het sy gedink sy is vet. Sy was reeds maer, maar wou nog gewig verloor. Sy het eenvoudig opgehou eet. Toe sy anoreksie kry, toe dink sy: ‘Niemand sal nou van my hou nie.’ Sy het weer begin eet en ’n kêrel gekry. Toe hy haar los, toe hou sy op eet. So het sy vir ’n paar jaar wipplank gery, omdat sy mense se aanvaarding wou hê. Uiteindelik het die Here haar gered en kon sy die probleem oorkom.
Kan Jesus jou vrymaak? Sekerlik, omdat Hy nie verander nie (v.8). Sy kennis van kos en mense verander nie met wetenskaplike navorsing nie. Die Bybel se beginsels oor eetversteurings staan vas (v.8, Matt. 24:35, Jes. 40:8, 2Tim. 3:16-17). Die Here gee vir ons kos (Matt. 6:11) dat ons sy wil kan doen (Matt. 6:10) en nie dat ons kan sondig nie (Matt. 6:12). Eet vir energie, sodat jy sy wil na die beste van jou vermoë kan doen. Jonathan Edwards het so gelewe. In sy joernaal skryf hy:
‘By a sparingness of diet and eating as much as may be what is light and easy for digestion, I shall doubtless be able to think more clearly and shall gain time; 1. By lengthening my life; 2. Shall need less time for digestion, after meals; 3. Shall be able to study more closely, without injury to my health; 4. Shall need less time for sleep; 5. Shall more seldom be troubled with the head-ache.’2
Edwards se fokus was geestelik. Volg sy voorbeeld: fokus op Christus en sy genade eerder as op kos (v.8-9). Vra hoe jy die Here met jou liggaam kan dien (Rom. 6:13, 12:1, 1Kor. 6:19-20). Eet en drink om God te verheerlik (1Kor. 10:31). Dit sal keer dat jy jou maag of liggaam verafgod; dat jy die Here vergeet:
“Wees versigtig dat, wanneer jy eet en versadig word... dat jou hart dan nie hoogmoedig raak en jy die Here jou God vergeet...nie.” (Deut. 8:12, 14).
“...breek my porsie brood vir my af, sodat ek nie oorversadig raak en U misken en sê, ‘Wie is die Here?’ nie...” (Spr. 30:8-9).
“Want hierdie soort mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie maag...” (Rom. 16:18).
“ ‘Alles is my geoorloof,’ maar nie alles is voordelig nie. ‘Alles is my geoorloof,’ maar ek sal my deur niks laat oorheers nie. ‘Kos is vir die maag en die maag vir kos,’ maar God sal die een en ook die ander vernietig. Die liggaam is tog nie daar vir onsedelikheid nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam.” (1Kor. 6:12-13).
“Hulle einde is die verderf, die maag is hulle god, hulle eer is geleë in hulle skande—hulle wat aardse dinge bedink.” (Fil. 3:19).
2. Sit onder Bybelse lering (v.9)
Waak teen enige dwaling wat jou van die Bybelse Jesus af weglei: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. Moenie meegevoer raak deur allerhande vreemde leringe nie...” (v.8-9, vgl. 2Kor. 11:4, 1Joh. 4:1-6). Verkeerde lering lei tot ’n verkeerde lewe, ook met betrekking tot jou dieet. Toe God se volk die goue kalf aanbid, het hulle te veel geëet en dronk geword (Eks. 32:4-6). Toe Israel Jesaja se waarskuwing van God se oordeel minag, het hulle te veel geëet en dronk geword (Jes. 22:12-13). Mense wat die hemel, die wederkoms en die finale opstanding ontken, doen dieselfde: hulle eet en drink, asof die dood finaal is (1Kor. 15:32b).
Vat die selfbeeld kultus as ’n moderne voorbeeld van verkeerde lering wat tot ’n verkeerde lewe lei. Dit is waar dat God die mens na sy beeld gemaak het (Gen. 1:26-27). Jy moet hierdie beeld in jouself en ander mense liefhê (Ef. 5:28-29). Eet as jy honger is en drink as jy dors is. Was jouself, borsel jou tande en kam jou hare. Handhaaf goeie higiëne. Rus as jy moeg is en kry genoeg slaap. Drink ’n pil of ’n glas water as jy hoofpyn het. Haat jou sondige natuur; wees lief vir jou siel. Volg Jesus, sodat jy nie vir ewig verlore gaan nie (Luk. 9:23-25).
Om jouself so lief te hê, is Bybels. Maar dit is nie wat die wêreld met selfliefde bedoel nie. Volgens hulle moet jy goed voel oor jouself. Jy moet nooit iets negatief van jouself sê nie. Jy moet jouself liefhê. 2Tim. 3:1-2 beskryf die wêreld se selfliefde: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees...” (Ou Vertaling). Iemand wat homself so liefhet, sal te veel op sy liggaam fokus. Dit lei tot depressie oor jou gewig en tot eetversteurings. Jy kort Bybelse lering oor kos. Dit help nie om jou aan kos te wy nie: “want dit is goed dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike wat dié wat daarvolgens lewe, niks baat nie.” (v.9). Niks wat by jou mond ingaan kan jou rein of onrein maak nie (Mark. 7:14-23). Onder die nuwe verbond het God alle kos rein verklaar (Mark. 7:19, Handelinge 10). Kos kan jou nie geestelik bevoordeel of benadeel nie:
“As julle saam met Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: ‘Moenie daaraan vat of proe of raak nie’? Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.” (Kol. 2:21-23).
Fokus eerder op kos vir die siel. Vir ons is God se Woord vleis, heuning, brood en melk (5:12-14, Ps. 19:10, 119:103, Matt. 4:4, 1Pet. 2:2-3). “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh. 4:34). Wie sy siel so voed, sal weet God begeer ’n mooi hart eerder as ’n mooi liggaam (v.9, Spr. 31:30, 1Pet. 3:3-4). Die koninkryk gaan nie oor kos nie, maar oor geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees (Rom. 14:17). Om dié fokus te behou, moet jy soms vas om vir jou maag te wys wie is baas. Waak dat jy nie vas om van jou liggaam ’n afgod te maak nie. Soek jou versadiging in Christus en die evangelie. Lekker kos en ’n mooi liggaam versadig nie:
“...oë raak nie versadig van sien...nie... Al die inspanning van ’n mens is maar net vir sy mond, maar tog kry sy keel nie genoeg nie.” (Pred. 1:8, 6:7).
“Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk! Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig.” (Jes. 55:1-2).
“Want Ek verkwik ’n dors mens, en aan elkeen wat versmag, gee Ek genoeg.” (Jer. 31:25).
“Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matt. 5:6).
Wie op homself fokus, sal sonder God in die hel eindig. Ek bedoel nie mense gaan hemel toe of hel toe, omdat hulle te vet of te maer is nie. Party se gewig is as gevolg van ’n siekte of medikasie. Die vraag is nie of jy te veel of te min weeg nie, maar of jy kos, jou maag en jou liggaam verafgod. Indien wel, sal die Here jou straf. Dit geld of jy oorgewig, middelmatig, perfek gebou of te maer is. Sodom is ’n klassieke voorbeeld hiervan: “Kyk, dít was die sondeskuld van jou suster Sodom... ’n oormaat kos...” (Eseg. 16:49). Gal. 5:21 praat van mense se gefuif. Die Griekse woord (kōmos) verwys na ’n partytjie waar mense te veel eet, drink en seksueel losbandig is. Van sulkes sê Paulus dat hulle “die koninkryk van God nie sal beërf nie.”
3. Versadig jou siel (v.10)
Israel se priesters het van die tabernakel of tempel se offers geëet (v.10, Levitikus 7). Dit was God se voorsiening aan hulle, ’n voorskou van Christus se offer waarvan ons in die Nuwe Testament geestelik eet:
“Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het in die woestyn die manna geëet en nogtans gesterf. Maar die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie, is dit: Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.’ Die Jode het toe onder mekaar gestry en gesê: ‘Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?’ Daarop sê Jesus vir hulle: ‘Amen, amen, Ek sê vir julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. Want my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het—nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.’ ” (Joh. 6:48-58).
Hoe eet ons geestelik van Christus? Deur die nagmaal. Richard Sibbes sê: ‘God helps the soul with the senses; Christ, as it were, in the sacrament [the Lord’s Supper] enters through the senses more lively than in the preaching of the word, for there he enters in by the ears, but in the sacrament he is seen, tasted, handled, felt.’3
Christus voed ons geestelik as ons die nagmaal deur geloof eet en drink (v.9). Bybelse priesters wat die Messias verwerp het, kon nie hiervan eet nie (v.10). Die nagmaal is oop vir elkeen wat in Christus glo (v.10). Dit is nie tot sogenaamde priesters beperk nie. In die Middeleeue het slegs die Rooms-Katolieke priester die nagmaal gebruik.4 Vandag eet gewone lidmate die brood, maar net die priester drink die beker. Volgens die Nuwe Testament is elke gelowige ’n priester wat geestelike offers bring (1Pet. 2:5, 9). Dus moet elke gelowige die brood eet en die beker drink (v.10, Matt. 26:26-28, 1Kor. 11:23-25). Gelowiges met eetversteurings moet dit veral doen. Gebruik gereeld die nagmaal. Bely jou sonde—ook dat jy ’n afgod van kos of jou liggaam maak—en eet die geestelike brood van Christus (v.9-10). Hy ken die rede agter elke eetversteuring. Sy Gees kan dit deur die Woord oplos.
Wat is die rede en oplossing vir jou eetversteuring? Vrees jy mense sal jou seermaak? Ek ken ’n aantreklike vrou wat anoreksies geword het. Na sy verkrag is, het sy besluit om haarself lelik te maak dat sy nie die verkeerde mans se aandag sou trek nie. Ek voel jammer vir haar, maar om op te hou eet, is nie die oplossing nie. Moet jouself nie vir ander se sonde straf nie. Al het mense teen jou gesondig, kan die Here goeie dinge daaruit voortbring: “Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad...” (Gen. 50:20).
Eet jy om van jou depressie te vergeet? In Engels noem ons dit ‘comfort eating’. Vraatsug sal nie jou depressie wegvat nie. Jy sal net meer skuldig voel. Deel Bybels met jou depressie. Hopelik sal die skakel hieronder jou help.5
Voel jy in beheer as jy jou ooreet en die kos opbring? Eintlik beheer die bulimie jou. Eet en purgeer jy in die geheim? Is dit omdat jy bang is wat mense van jou dink? Dan beheer hulle opinies jou. Christus en die Heilige Gees kan jou vrymaak (Rom. 8:2). Die Heilige Gees kan jou help om ware selfbeheersing toe te pas: “Maar die vrug van die Gees is...selfbeheersing.” (Gal. 5:22-23).
Gaan jy op ’n eetstaking om jouself te straf? Voor sy bekering het Martin Luther min geëet en gereeld gevas. Hy het baie maer geword. Dit was sy poging om homself vir sy sonde te straf en vir die Here hoe jammer hy is. Maar om min te eet en sekere kosse te vermy, kan nie God se guns wen nie: “Kos bring ons nie nader aan God nie.” (1Kor. 8:8). Jesus alleen is volmaak en trek die Vader se aandag (Matt. 3:17). Glo in Hom, dan sal die Vader tevrede met jou wees (1Kor. 1:30, 2Kor. 5:21, Fil. 3:8-9).
Voel jy verwerp; is eetversteurings jou manier om vir aanvaarding te roep? Anika het gevoel haar pa het haar nie lief nie. Sy het haar vertroosting in kos gesoek. Vraatsug was haar manier om te sê: ‘Sal iemand my asseblief liefhê!’ Die keerpunt het begin toe sy besef het: ‘Ek kan nie my aanvaarding by mense soek nie. Dit moet van God af kom.’ Deur geloof in Jesus aanvaar God haar as sy kind (Ef. 1:5, 1Joh. 3:1). God kyk nie na hoe sy lyk nie; Hy kyk na haar hart (1Sam. 16:7).
Volg jy jou ouers se slegte voorbeeld? Het hulle jou van kleins af baie gevoer, sodat jy vandag oorgewig is? Sit jou ma druk op jou om slank te wees? Van kleins af moes jy gesond eet: geen koeldrank, sjokolade, roomys of ander lekkernye nie. Sulke ouers maak ’n afgod van kos of van ’n mens se liggaam. Jesus het onder andere gesterf om jou van jou ouers se sonde te bevry: “Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus—Hy wat soos ’n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek.” (1Pet. 1:18-19, eie beklemtoning).
Eet jy te veel, omdat jy verveeld is? Iemand wat te veel eet, se liggaam word traag. As jou liggaam traag is, raak jy verveeld. As jy verveeld is, eet jy. As jy te veel eet, word jou liggaam traag. As jou liggaam traag is, raak jy verveeld. As jy verveeld is, eet jy. Dit is ’n bose kringloop. Bely jou sonde en werk hard. Daardeur sal jy energie verbrand. As jy nie wil werk nie, moet jy nie eet nie (2Tess. 3:10).
Eet jy baie, omdat jy plesier soek? Jou plesier is tydelik. Buiten dat vraatsug jou naar maak, laat dit jou skuldig voel. Dit maak jou nie gelukkig nie. Net die Here kan jou gelukkig maak en jou honger stil (Ps. 16:11, 107:9, Joh. 4:14, 6:35).
Is vraatsug jou manier om af te wys? Dit gebeur veral onder jong mans. Hulle wil wys hoe baie hulle kan eet: ‘Ek kan enigiemand onder die tafel in eet.’ Hulle roem dat hulle die kos seermaak of pak gee, maar as cholestrol hulle vroeg na hulle graf toe stuur, het kos die laaste lag.
***
Geniet God se gawes en geniet Hom deur sy gawes: “Daar is niks beter vir die mens
as dat hy eet en drink en sy keel laat geniet wat goed is vir sy inspanning nie. Ook dit het ek ingesien: Dit is uit die hand van God, want: ‘Wie kan eet en wie kan geniet sonder My?’ ” (Pred. 2:24-25). Geniet die heerlike kosse op aarde, maar moenie daarvoor lewe nie. Laat dit net die aptytwekker van ’n hemelse feesmaal wees (Matt. 8:11, 26:29, Op. 19:9). As jy dit kan insien, sal eetversteurings iets van die verlede wees.
Dit het met iemand in ons gemeente gebeur. Hefsibah se ouers wou haar nie hê nie. Sy het verwerp gevoel. Op 17 het sy besluit om op te hou eet. Al het sy net 56 kg geweeg, het sy gedink sy is vet. Op universiteit het sy elke dag twee Provitas en twee driehoekies kaas geëet. Dit was haar enigste maaltyd. Sy het 24 kg verloor. Sy was letterlik net vel en been. Toe sy 32 kg weeg, was sy byna dood. Haar siekte het vir 15 jaar aangehou en het van anoreksie na bulimie toe oorgeskakel. Sy was kwaad en het gedink die wêreld skuld haar. Na haar bekering het sy aanhoudend by die Here gepleit om haar vry te maak. Niks het verander nie, totdat sy besef het sy bid verkeerd. In stede daarvan dat sy op haarself en haar probleem fokus, het sy op die Here begin fokus: ‘U moet meer word en ek minder. Ek wil meer van U hê.’ Die Here het haar gebed verhoor, die sonde gebreek en haar van die duiwel se mag bevry. Vandag is sy 60 jaar oud. Sy lei sy ’n normale lewe; haar gesonde verhouding met kos spruit uit ’n gesonde verhouding met die Here.
Party mense meen eetversteurings is erger as drank- of dwelmverslawing. Niemand het drank of dwelms nodig om te leef nie. Maar hoe leef ’n mens sonder kos? Jy kan nie jou rug daarop draai nie. Gevolglik is daar mense wat reken jy kan nooit van anoreksie en bulimie bevry word nie. God se Woord en Hefsibah se getuienis sê anders: “en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.” (Joh. 8:32, 36).
1 Aanhalings kom uit die 2020 Vertaling.
2 The Works of Jonathan Edwards: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), xxxv, Tuesday, Sept. 2.
3 Richard Sibbes, Josiah’s Reformation (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011 [1629]), 92
4 N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2 (London: Grace Publications Trust, 2000), 62-3
5 Besoek https://baptistekerkkemptonpark.com/sermon/emosionele-probleme-depressie/ vir die oorsake en oplossing van depressie.