Coram Deo Cover Image

Coming soon...

12 January 2020

Emosionele Probleme: Depressie

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Related image

Psalm 88

Saam met Ps. 39, is Ps. 88 die donkerste van al die Psalms. Dit eindig nie op ‘n positiewe noot soos die ander ‘donker’ Psalms nie. Die laaste woord in die Psalm is ‘duisternis’. Die rede hiervoor is om te wys dat Christene soms vir ‘n lang tyd in die duisternis van depressie kan sit en dat hulle sukkel om daar uit te kom.

  1. Die ervaring van depressie

In Ps. 88 sien jy die lewe deur die oë van ‘n depressiewe mens. As jy die Psalm verstaan, klim jy in die depressiewe mens se skoene; nee, in sy siel.

Volgens v.4 voel die depressiewe mens se siel sat. Die Psalmis en die res van die Skrif leer duidelik dat depressie ‘n probleem van die siel is. Dit is m.a.w. ‘n geestelike probleem en nie ‘n mediese probleem nie. Party mense sê dat dit ‘n chemiese wanbalans in die brein is, maar dit is ‘n teorie wat nog nooit bewys is nie [David Tyler & Kurt Grady, Deceptive Diagnosis: When Sin is Called Sickness (Bemidji, Minnesota: Focus Publishing, 2006), 100-104. Sien ook Robert Smith (M.D.), The Christian Counselor’s Medical Desk Reference (Stanley, NC: Timeless Texts, 2000), 63-76, 198-199].

Omdat die mens se liggaam en siel mekaar affetkeer, word depressie soms deur siektes soos Parkinson’s, multiple sclerosis, of selfs deur medikasie veroorsaak [Edward T. Welch, Blame it on the Brain? (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1998), 127]. Depressie self is egter nie ‘n siekte nie en kon nog nooit as sulks bewys word nie. ‘n Siekte is iets wat jy met mediese toetse—bloedtoetse, x-strale, CT Scans, EKG’s, ens.—kan observeer. Jy kan in die liggaam sien dat daar iets verkeerd is. Met depressie kan jy dit nie doen nie. Dit word op grond van simptome gediagnoseer.

Omdat depressie dan ‘n geestelike probleem is, is die oplossing ook geestelik. Anti-depressante kan die gevoel van depressie onderdruk, maar dit kan nie die oorsaak oplos nie. As jy die pille stop, keer die depressie terug. Dit beteken nie dat dit sonde is om anti-depressante te gebruik nie, net soos wat dit nie sonde is om ‘n hoofpyn pil te drink as jy eintlik ‘n bril nodig het nie. Dit raak egter sonde as anti-depressante jou messias word en as jy daaraan verslaaf raak. En tog moet jy dit nie dadelik los nie, maar mediese hulp kry.

Die Psalmis het nie enige medikasie gehad nie. As hy wou, kon hy seker drank gebruik het, maar dit sou nie die Here verheerlik het nie en sou net die probleem erger gemaak het.

Die Psalmis was sat van al sy teëspoede, of probleme (v.4). Dit het een na die ander soos golwe oor hom gekom (v.8, 42:8). Dit het gevoel of dit nie ophou nie en of dit hom van alle kante omsingel (v.18). Dit het gevoel of hy besig is om te verdrink (v.18). Hy was naby die dood; hy het gevoel hy wil doodgaan en het dalk selfs daarvoor gewens (v.4-7, 1Kon. 19:4, Spr. 17:22).

Omdat dit so erg is, wil sommige depressiewe mense hulle eie lewens beeïndig. Hulle voel magteloos. Hulle het geen lewenslus nie. Hulle het nie krag om op te staan, werk toe te gaan, die dag in die gesig te staar, hulleself te help, of eers verder te lewe nie (v.5). Dit voel of jou emosies, die duiwel en die wêreld jou platslaan in die bokskryt van die lewe. Jy voel heeltemal verslaan (v.6). Dit voel of die Here nie meer aan jou dink nie; of Hy jou afgesny het, of Hy jou verstoot het, of Hy Homself vir jou wegsteek (v.6, 17, Job 13:24). Dit voel of die Here teen jou is en om een of ander rede kwaad is vir jou: ‘U het...’ (v.7-9, 15-17, 19).

Die Psalmis beskryf sy depressie as ‘n diep kuil (v.7). Die depressiewe mens voel of hy in ‘n diep en donker gat is. Dit voel of hy in die tronk is en nie kan uitkom nie (v.9). Hy dink hy sal nooit weer die lig sien nie. Hy voel radeloos en verskrik (v.16-17). Wat die probleem erger maak, is dat mense gewoonlik nie veel simpatie of tyd vir depressiewe mense het nie. Selfs die mense wat naby jou is, vermy jou (v.9, 19, 142:4, Job 19:13-22, 30:10). Dit voel of die duisternis jou enigste vriend is (v.19).

Dit moet erg wees om so te voel. Moet dan nie soos die Psalmis se vriende wees en van die depressiewe persoon vergeet nie. Natuurlik moet jy nie die persoon help om in ‘n hoek te sit en sy wonde te lek nie. Doen egter wat jy kan om die persoon te bemoedig (Matt. 12:20, Rom. 12:15. 2Kor. 7:6). Help die persoon om te bid, oefening te kry, die Psalms te lees, sy of haar pligte na te kom, die huis op te ruim, kerk toe te kom en nie depressie as ‘n verskoning te gebruik om sonde te doen nie.

Die Psalmis sê verder dat sy oë van ellende vergaan. Dalk bedoel hy dat hy baie huil (v.10, 6:7-8). Soos Job in Job 23, roep hy tot die Here, maar vind hy Hom nie (v.15). In sulke tye moet Jes. 50:10 jou leuse wees: “Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie?—laat hy vertrou op die Naam van die Here en steun op sy God!”

  1. Die oorsake van depressie

‘n Paar jaar gelede het my goeie vriend in Parys op hulle plaaslike radiostasie oor depressie gepraat. Mense het ingebel en gesê dat depressie altyd deur demone veroorsaak word. Natuurlik kán demone depressie aanhits, maar om te sê dat demone altyd die oorsaak is, is naïef. In Heman se geval het hy depressief gevoel, omdat die beproewings nie wou ophou nie en omdat dit al van sy jong dae af so was (v.8, 16). In Spurgeon se woorde: ‘Constant dropping wears away stones, and the bravest minds feel the fret of repeated afflictions.’ [C.H. Spurgeon, Lectures to my Students (London: Marshall, Morgan & Scott, 1954), 162].

Die Psalmis het sy beproewings verkeerd hanteer. Dit was verkeerd om die Here te blameer: “Is u wonders vir die dooies bestem? Staan dooies op om U te loof? Word u liefde in die graf verkondig, en u trou in die plek van verderf? Is u wonders bekend in die donkerte,u regverdigheid in die plek van vergetelheid?” (v.11-13, Nuwe Lewende Vertaling).

Hy het selfs geïmpliseer dat die Here nog nooit goed was vir hom nie (v.16). Dit is wat dikwels gebeur wanneer mense depressief voel: hulle sien die glas half leeg en vergeet van die goeie dinge wat die Here vir hulle gedoen het. Dit is nie reg nie. En tog moet ons sê dat Heman ten minste nie die Here gedien het vir wat hy daaruit kon kry nie (vgl. Job 1:9-11). Hy was nie ‘n aanhanger van die Prosperity Gospel waarin mense eintlik wil hê dat die Here húlle moet dien deur rykdom, voorspoed en gesondheid vir hulle te gee nie. Selfs toe dit met hom sleg gegaan het, het Heman aangehou om die Here te dien.

Nóg ‘n rede vir Heman se depressie is dat hy ‘n verkeerde teologie van die dood gehad het. Hy het gedink dat God nie wonders vir die dooies doen nie, dat hulle nie weer sal opstaan om Hom te prys nie, dat God se troue liefde nie anderkant die graf is nie, en dat Hy die dooies heeltemal vergeet het (v.11-13). Ons kan hom dalk die voordeel van die twyfel gee, omdat hy nie die lig van die Nuwe Testament gehad het nie. Hy moes egter uit die Ou Testament geweet het dat gelowiges ná hulle dood hemel toe gaan en dat die Here hulle eendag weer sal opwek (Gen. 5:24, 2Kon. 2:11, Job 19:25-27, Ps. 16:10-11, 23:4-6, Jes. 25:7-8, 26:19, Dan. 12:2).

Ek hoop jy kan sien hoekom dit belangrik is om die Bybel goed te ken en ‘n regte teologie van die lewe, die dood, die opstanding, die hemel, sonde, die hel, Jesus se kruisdood, die duiwel, God as jou Vader, depressie, ens. te hê. Dit is omdat mense verkeerd glo en die Bybel nie ken nie, dat hulle partykeer depressief raak (1Tess. 4:13, 18). Ek sou dus voorstel dat jy Christian Beliefs van Wayne Grudem deurwerk om die basiese teologie van die Bybel te verstaan. As jy dieper wil gaan, sou ek voorstel dat jy Martyn Lloyd-Jones se werke (bv. sy Romeine-reeks, of Great Doctrines of the Bible) lees, of saam met ‘n volwasse gelowige deurwerk.

  1. Die oplossing vir depressie

‘n Man het eenkeer van sy vrou gesê dat sy onmoontlik ‘n Christen kan wees, omdat sy rook. Net so dink mense dat geen ernstige Christen depressief kan wees nie. Maar om so te dink, is ‘n fout. Heman was ‘n leier van die Levitiese koor wat lof vir die Here moes sing (1Kron. 15:16-17, 19, 16:42, 25:1). Hy was ‘n profeet en ‘n kind van die Here (v.1-2, 1Kron. 25:1, 5). En tog was hy—soos Job en Jeremia in die Ou Testament en Paulus in die Nuwe Testament (Job 3, Jer. 20, 2Kor. 4:8-9)—depressief.

Die eerste stap om depressie op te los, is om te weet dat dit met jou kan gebeur. Jy is nie immuun daarteen nie.

Die tweede stap is om te besef dat jou grootste doel nie moet wees om beter te voel nie, maar om die Here te verheerlik. As dít jou fokus is, sal jy in die oggend kan opstaan, jouself netjies kan aantrek, jou pligte kan nakom en ander kan dien, al voel jy nie vandag jou beste nie.

Die derde stap is om agter die kap van die byl te kom en vir jouself te vra hoekom jy depressief voel. Voel jy depressief, omdat jy soos Heman deur baie beproewings gaan? In daardie geval moet jy baie bid (v.2-3, 10). Bid in die oggend (v.14, 5:4). Bid deur die dag, asook wanneer jy in die nag wakker lê, omdat jy nie kan slaap nie (v.2. 22:3, 6:7, 77:5). Ek het jare gelede ‘n T-hemp gesien wat sê:

If you can’t sleep,

don’t count sheep.

Speak to the Shepherd.

As jy sukkel om te bid, vra die Heilige Gees om jou te help (Rom. 8:26-27). Memoriseer ook God se beloftes en sê dit vir jouself op as die beproewings swaar raak: Ps. 23:4, 50:15, Jes. 40:29-31, 41:10, 42:3, 43:2, 44:21, 46:4, 49:15-16, 54:10, Joh. 10:28-29, Rom. 8:38-39, Fil. 4:13, 19, Heb. 13:5-6, Jak. 1:5 en baie ander.

Voel jy depressief, omdat jy jou omstandighede verkeerd beskou? Jy sien nie die groter prentjie nie en dink dat alles besig is om teen jou te werk (Gen. 42:36, 1Kon. 19, Luk. 24). Leer om God se belofte te glo, naamlik dat Hy alles tot jou voordeel sal uitwerk (Rom. 8:28). Vul jou gedagtes met dinge wat waar is, eerbaar is, regverdig is, rein is, lieflik is en loflik is (Fil. 4:8).

Voel jy depressief, omdat jy te veel selfondersoek doen? Jy sien die heeltyd jou sonde raak en vergeet dat jy eintlik op Jesus moet fokus. Dalk wil jy selfs jou depressie as ‘n sweep gebruik om die Here se vergifnis te probeer koop. Dit is asof jy vir die Here wil wys hoe jammer jy is. Dit sal nie werk nie. Jy kan nooit God se vergifnis verdien nie. As jy daarvoor vra, sal Hy dit gratis vir jou gee.

Voel jy depressief , omdat jy besig is met sonde? Soos Kain en Dawid, pla jou gewete jou en is jy depressief (Gen. 4, Ps. 32, 38, 51). Fil. 4:4 en Prozac sal jou nie help nie. Jy moet jou sonde bely en jou daarvan bekeer (Spr. 28:13). Wees versigtig dat jy dit nie met verkeerde motiewe doen nie. Moet bv. nie jou sonde bely, omdat jy die Here probeer omkoop nie: ‘Ek het my sonde bely; waar is die verligting van my depressie?’

Voel jy depressief, omdat jou lewe doelloos en rigtingloos is (sien Pred. 2:20 in die konteks van die hele boek)? Jy weet nie waarheen jy op pad is nie. Jy moet tot bekering kom en die doel uitleef waarvoor die Here jou geskep het, naamlik om Hom te verheerlik en Hom te geniet.

Voel jy depressief, omdat iets sleg in jou lewe gebeur het; iets wat jy sukkel om te vergeet? ‘n Studie van Josef se lewe in Gen. 37-50 is die beste medisyne vir jou. Jy moet besef dat God soewerein is oor die slegte dinge wat met jou gebeur het, dat Hy jou liefhet, en dat Hy goeie dinge daaruit kan voortbring (Gen. 50:20). As die slegte ding wat met jou gebeur het die gevolg van jou eie sonde is, moet jy Ps. 51 met ‘n opregte hart bid.

Voel jy depressief, omdat jy oor jou redding twyfel? Meet jouself aan 1Johannes se toetse vir ware geloof. Vra die Heilige Gees om vir jou te wys of jy ‘n Christen is, of nie (Rom. 8:16). Indien jy nog nie gered is nie, kan jy die Here vra om jou te red. Hy sal (Rom. 10:13).

Voel jy depressief, omdat die duiwel jou aanval? Roep die Here aan en stry die goeie stryd volgens Paulus se instruksies in Ef. 6:10-18.

Voel jy depressief, omdat jy ‘n vakansie nodig het, of omdat jy meer slaap kort, oefening nodig het en gesonder moet eet? Doen dit dan.

As jou depressie nie deur een van bogenoemde dinge veroorsaak word nie, moet jy ‘n dokter gaan sien. Dit mag wees dat jy ‘n siekte het, of dat jy verkeerde medikasie gebruik.

Bowenal moet jy onthou dat Jesus in ‘n dieper en donkerder put was as wat enige van ons ooit was, of sal wees (Matt. 26-27). Omdat dit so is, kan Hy jou beter help as die beste sielkundige, psigiater, of berader. Ek onthou hoe Derek Thomas in 2006 by ‘n konferensie gesê het: ‘As jy in ‘n pikdonker grot sit en nie weet waar die uitgang is nie, moet jy die volgende doen: voel met jou hand op die grond, totdat jy voetspore voel. Dit is Jesus se voetspore. Hy was voor jou daar. As jy sy voetspore volg, sal dit jou tot buite die grot lei.’

[/column]

Kategorieë