Psalm 1:1-3
Wat is die verskil tussen Alzheimer’s en demensie? Demensie is nie ’n siekte nie, maar beskryf die simptome van ’n siekte; simptome soos geheue verlies, ’n onvermoë om normaal te kommunikeer, ’n stryd om logies te dink en persepsie probleme.1 Waar twee of meer van hierdie simptome by iemand teenwoordig is, noem ons dit demensie. Baie dinge kan hierdie simptome meebring: dwelms, langtermyn alkohol misbruik, ’n kopbesering, breinvliesontsteking, skildklierprobleme, die newe-effek van medikasie, ’n beroerte, suurstof tekort, ’n gebrek aan vitamien B-12, bloedarmoede, ’n gewas op die brein, depressie, koors en meer.2
Waar demensie intree, moet ’n dokter bogenoemde oorsake uitskakel, omdat baie daarvan geneeslik is. Mr. Lee is ’n goeie voorbeeld. Nadat hy met Alzheimer’s gediagnoseer is, het hy vir nege jaar in ’n siekeboeg gebly. Toe sy geld opraak, kon hy die medikasie nie bekostig nie. Na die ontrekkingsimptome het hy heeltemal gesond geword en op kollege vlak wiskunde doseer.3
Nie almal is so gelukkig nie. Die meeste mense by wie demensie-simptome teenwoordig is, het Alzheimer’s. Alzheimer’s is ’n ongeneeslike breinsiekte. Dit is terminaal. Dit vat omtrent ’n dekade voordat die slagoffer sterf. Breinproteïene genaamd plaques en tangles maak die pasiënt dood. Neurone in jou brein moet boodskappe na die res van die brein en liggaam oordra. Dit is hulle wat vir jou arm sê om te beweeg en vir jou longe om asem te haal. Plaques vergiftig die neurone en keer dat hulle die boodskappe oordra. Later kan die neurone kan nie meer seine aan die liggaam deurstuur om te funksioneer nie. Tangles vergiftig die neurone van binne af en verhoed dat dit die nodige voedingstowwe na jou breinselle vervoer. Die gevolg is dat die pasiënt se breinselle stadig maar seker doodgaan.4 Op die diagram en foto’s lyk plaques soos gekoekte wol tussen die neurone. Tangles lyk soos spaghetti binne-in elke neuron.
Alzheimer’s het drie stadiums: matig, middelmatig en gevorderd. Die matige stadium begin in die hippokampus waar die brein jou korttermyn geheue stoor. Dit affekteer ook die dele waar jou brein organiseer, beplan en die regte woorde voorsien. In hierdie stadium sal die pasiënt op bekende plekke verdwaal.
In die middelmatige stadium tas Alzheimer’s die langer termyn geheue gaan. Die persoon vergeet watter dag en tyd dit is. Hy voel gedisoriënteerd en weet nie waar hy is nie. Hy raak agterdogtig en dink mense wil sy goed steel of hom doodmaak. Hy ontwikkel persepsie probleme en begin hallusineer. Hy roep, skreeu en byt. In die nag is hy rusteloos (‘sundowning’).
In die gevorderde stadium praat die persoon skaars. Hy kan nie ses samehangende woorde bymekaar voeg nie. Sy brein gee nie emosies aan die liggaam deur nie. Hy het ’n strak uitdrukking op sy gesig en glimlag nie. Die brein stuur nie meer seine vir die slukderm nie, sodat hy maklik verstik. Sy koördinasie is uit, sodat hy sukkel om te loop. Hy kan nie meer sy blaas of maag beheer nie. Hy herken nie meer familie en vriende nie. Sy brein is so verklein en vernietig dat dit nie meer seine deurstuur om asemhaling of hartklop te reguleer nie. Daar kan net een gevolg wees: die dood.5
Hoe kan jy jouself en jou geliefdes vir Alzheimer’s voorberei? Wat moet jy doen as dit reeds in jou huis is?
1. Vermy sonde (v.1)
Wie is die gelukkige of geseënde man van Psalm 1? Dit is Hy wat altyd sonde vermy het en God se Woord liefgehad het (v.1-2). Sy Naam is Jesus. Hy is die geseënde man en in Hom is ons geseënd (Ef. 1:3). Hy maak ons kanale deur wie Hy ander seën.
Hoe word jy ’n kanaal van seën vir iemand wat Alzheimer’s of ander vorme van demensie het? Jy sit by die persoon, gesels met hom en luister geduldig as hy tien keer dieselfde storie vertel. Jy raak aan haar en hou haar hand vas. Jy speel sy of haar gunsteling musiek. Maak ’n foto album met prente uit die verlede. Vra die persoon om stories uit sy jongdae te vertel. Bid vir hom. Gee vir haar takies solank as wat sy in staat is om dit te doen. Jou ma kan byvoorbeeld groente skil, terwyl jy kos maak.
Koop ’n naglig en laat dit deur die aand brand. Sit ’n digitale horlosie met groot rooi syfers langs die pasiënt se bed. Trek die gordyne effens oop as hy gaan slaap, sodat hy weet dit is aand en nie dag nie. Voorgenoemde dinge sal help dat die pasiënt nie 03:00 opstaan en die TV aansit nie.
Installeer handreëlings en maak seker die kombuis en badkamermatjies gly nie. Huur ’n versorger of dra ruim by vir ’n versorgingseenheid (Matt. 15:4-6, 1Tim. 5:4, 8). Kuier gereeld vir die persoon. Respekteer jou bejaarde ouer selfs as hy of sy Alzheimer’s het (Eks. 20:12, Lev. 19:32). Ek weet van ’n broer en drie susters wie se bejaarde ouers in ’n verswakte eenheid gebly het. Die kinders het gereeld by hulle ouers gekuier en hulle met groot respek behandel. Volg hulle goeie voorbeeld.
Toe mev. Howard se pa Alzheimer’s kry, sou hy in die agtermiddag sê: ‘I am going upstairs.’ Sy vrou het met hom baklei: ‘Where are the stairs?’ Sy het hom buitentoe gevat dat hy kon sien die huis het net een verdieping. Mev. Howard moes haar ma reghelp en vra om geduldig te wees. ‘Sê liewer: “See you in the morning.” ’ Haar ma het die raad gevolg en dit het gehelp.6
’n Oom in ons gemeente het een of ander vorm van demensie gehad. As ons by hom gekuier het, het sy vrou vreeslik met hom geraas: ‘___, hou op nonsens praat!’ Die oom het nie geweet wat hy sê nie en wou maar net stories uit die verlede vertel. Om die Alzheimer’s pasiënt se foute te korregeer of met hom te stry, help nie. Praat liewer saam en rig hulle aandag op die Here. Laat Christus deur jou werk om vir die persoon tot seën te wees.
Maar kan ongelowiges nie ook bogenoemde dinge doen nie? Hulle kan, maar kan nooit ’n ewige seën vir ander wees nie. Die geseënde lewe begin by bekering (v.1). Vermy sonde, asook mense wat jou versoek (v.1, 26:4-5, Spr. 13:20, 1Kor. 15:33). Moenie volgens hulle raad, paaie en geselskap lewe nie (v.1). Moenie saam met hulle lewe, rondstaan of sit nie (v.1). Bly weg van die goddelose, sondaars en spotters (v.1).
Hoe kan ons hierdie vers op Alzheimer’s van toepassing maak? Baie mense met Alzheimer’s leef in die verre verlede. As v.1 jou verlede definieer, het jy probleme. Die sonde wat jy voorheen weggesteek het, sal uitkom, omdat jy nie meer tussen jou private en publieke lewe onderskei nie. Die Alzheimer’s pasiënt se woede uitbarstings, vuil taal en perverse opmerkings kom uit die hart; dit wys wie hy regtig is (Matt. 12:34, 15:19). Dr. Mol vertel van ’n oom in die versorgingseenheid waar sy betrokke was. Toe hy Alzheimer’s kry, het hy by ander vroue begin aanlê. Wat hy voorheen in die geheim gedoen het, het hy nou in sy vrou se teenwoordigheid gedoen.
Dit is belangrik om jou hart te bewaak (Spr. 4:23). Vra die Here om jou met sy bloed te reinig (1Joh. 1:7) en om jou deur sy Gees teen sonde te help (Rom. 8:13). Dit geld ook vir die Alzheimer’s pasiënt se geliefdes: moenie die sieke vir jou sonde blameer nie. Hy is maar net die sneller wat woede, frustrasie en irritasie uit jou hart bring. Bely jou sonde en bid vir meer van die Gees se vrug in jou lewe: “...liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing...” (Gal. 5:22-23).
Voel jy gefrustreerd omdat niemand jou help nie? Sluk jou trots en vra vir hulp. Vra jou familie om finansieel by te dra en die pasiënt te besoek. Vra jou vriende of mense in die gemeente om jou af te los, sodat jy een aand per week kan uitgaan. Kyk of jy ’n persoonlike versorger kan kry. Soek plek in ’n versorgingseenheid indien nodig. Vra die Here om finansieel te voorsien (Matt. 6:25-34, Fil. 4:19).
***
Om weer by die teks te kom: bekeer jou van alle sonde (v.1). Moenie dink jy sal dit eendag doen nie. Wat as jy verhard raak? ’n Tannie in ons gemeente besoek gereeld die ou mense. Wanneer sy die evangelie met Alzheimer’s pasiënte deel, sê party van hulle: ‘Jy praat stories.’ Bekeer jou terwyl die geleentheid daar is (Jes. 55:6-7).
Wat van Christene wat Alzheimer’s kry en onbybelse onsin praat? In ’n preek vertel John MacArthur dat sy mentor (Charles Feinberg) Alzheimer’s gekry het. Hy het Jesus as die Messias ontken. Voor sy bekering was Feinberg ’n Joodse Rabbi. Moontlik het sy Alzheimer’s hom in die verre verlede laat lewe; na die tyd voor sy bekering, sodat hy Jesus as die Messias ontken het. Genadiglik baseer God ons redding op die voltooide werk van Christus aan die kruis en nie op ons vermoë om te onthou nie. God se verlossing reik dieper as die brein. Hy gee ons ’n nuwe hart (Eseg. 36:26) en maak ons nuwe mense (2Kor. 5:17). Hy vernuwe die gees van ons gedagtes (Ef. 4:23). Alzheimer’s kan ons nie van God se liefde skei nie (Rom. 8:38-39). Hy wat die goeie werk in ons begin het, sal dit by die wederkoms voltooi (Fil. 1:6).
Herinner die Alzheimer’s pasiënt gereeld hieraan. Bedien hom met die nagmaal as hy gered is. Jesus het die nagmaal juis ingestel om ons aan sy kruisdood vir ons sondes te herinner (1Kor. 11:24-25). Die brood en rooi druiwesap sal die pasiënt hieraan herinner. Selfs al bereik die persoon ’n punt waar hy heeltemal vergeet, sal Christus hom nie vergeet nie: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie. Kyk, op twee handpalms het Ek jou ingegrif; jou stadsmure is steeds voor My.” (Jes. 49:15-16). “Maar tog staan die fondament van God stewig, met hierdie inskripsie, ‘Die Here ken diegene wat aan Hom behoort’ en, ‘Laat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, die rug op ongeregtigheid keer.’ ” (2Tim. 2:19).
2. Oordink God se Woord (v.2-3)
Die regverdige leef in die wet van die Here; hy maak sy hart warm langs die vuur van bepeinsing (v.2).7 Die Hebreeuse woord vir bepeinsing (hagah) beteken letterlik om saggies vir jouself te prewel. Bêre die Woord in jou hart waar Alzheimer’s nie kan kom nie (119:11). Selfs as jou brein ingee, sal die Gees jou aan sy Woord herinner, sodat jy geestelik groei: “...want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe.” (2Kor. 4:16). Dit is Stuart Olyott se tipiese ervaring wanneer hy gelowiges met Alzheimer’s besoek:
‘How are you doing, Mrs. C?’
‘The chair and the radish sank the drain, the sky is blue and please cook for three minutes’...
‘Has anybody been to see you today?’
‘The dress, the bus is red, and his has got vinegar.’
Sodra hy die Bybel lees en bid, verander die prentjie. Mev. C. sal sê: ‘Do you know, Pastor, [Jesus is] as precious to me today as he was when I was a young believer!’8 Jy kan net sowel vergeet jy lewe as om God en sy Woord te vergeet: “Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak.” (119:93). Maar dan moet dit jou lewe en vreugde wees; jy moet dit in jou hart bêre (v.2). “Hoe lief het ek u wet—die hele dag dink ek daaroor na.” (119:97). Wie diep oor die Woord nadink, kry dit lief. Wie die Woord liefhet, sal meer daaroor nadink.
Hoe peins mens oor die Woord? Jy dink en bid oor elke woord en frase. Vra vir jouself hoe dit by die res van die woorde en sinne pas; hoe dit in die hoofstuk en die res van die Bybel pas. Bid vir meer insig. Vra hoe jy die waarhede in jou lewe kan toepas. Bid vir meer insig. Bely jou sonde. Loof die Here. Wy jouself opnuut aan God toe. Bid vir meer insig. Laat God se Gees jou deur die Woord lei.
Waak daarteen om nie bloot vir interessantheid te peins, sodat jy nuwe dinge in die Bybel kan ontdek nie. Soek God in sy Woord; vind jou vreugde in die wet van die Here (v.2). Lees dit ook vir die Alzheimer’s pasiënt. Doen ’n kort Bybelstudie of speel snitte uit Bybels-behoudende preke. Wie God en sy Woord aanneem, is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is (v.3). Moontlik staan die boom selfs in ’n dor gebied. Die wortels reik diep tot by die ondergrondse strome, sodat dit altyd groen is. So is die mens wat in God se Woord lewe; wat homself daaraan wy (v.2-3, Hand. 2:42, 2Tim. 4:2). Al vergaan sy brein in die droë jare van Alzheimer’s en demensie sal hy goeie vrugte dra: “So iemand sal wees soos ’n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy... Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is. Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In ’n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.” (v.3, Jer. 17:7-8).
Lê nou weg vir die toekoms. Stoor die Woord in jou hart soos ’n mier wat vir die winter opgaar (Spr. 30:25). So sal jy die Woord enige tyd kan herroep (2Pet. 1:12-15). Jy sal geestelik voorspoedig wees, selfs as jy Alzheimer’s kry (v.3, Jos. 1:8). Maar as jy van die Here af wegdraai en die pad van sonde kies, sal jy vergaan—met of sonder Alzheimer’s (v.4-6). In die hel sal jy ’n goeie geheue hê; jy sal jou sondige lewe sonder Christus onthou (Luk. 16:25, 27-28). As jy in die hemel is, sal jy net so goed onthou. Jy sal weet dat jy as ’n sondaar uit genade gered is. Jy sal die Here prys dat jou sonde vir altyd iets van die verlede is (Op. 5:9, 7:10).
Vertel jou geliefdes met Alzheimer’s hiervan; deel die evangelie met hulle. Die Heilige Gees kan tot hulle deurdring. Hy het dit met mev. M. gedoen. Voor sy Alzheimer’s gekry het, was sy ’n ateïs. Toe Alzheimer’s intree, het sy vinnig agteruit gegaan. In haar siekte-toestand het sy op mense geskreeu, haar kleinkinders met die kiere voor haar stoel weggejaag en ander lelike dinge gedoen. Ten spyte van haar verswakte toestand, het sy nie haar haat vir Jesus verloor nie. ‘I don’t want your Jesus,’ het sy vir haar kinders gesê.
Op ’n dag is sy saam met hulle kerk toe. Toe hulle na die diens huistoe ry, toe sê sy in die kar: ‘I need their forgiveness.’ Sy het berou gehad oor hoe sy mense behandel het. Haar kinders het die evangelie met haar gedeel. Sy het haar sonde bely en Christus as haar Here en Verlosser aangeroep. Sy het Hom met ander gedeel. Selfs toe sy drasties verswak, was sy vol blydskap en vreugde, sodat selfs ongelowige familielede verbaas was.9
Hoe groot is God se genade en liefde nie! Wat Jesus in Matt. 19:23-26 van ryk mense gesê het, kan ons van mense met Alzheimer’s en demensie sê: hulle “sal moeilik in die koninkryk van die hemele ingaan. Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk mens [of iemand met Alzheimer’s en ander vorme van demensie] om in die koninkryk van God in te gaan.’ Toe die dissipels dit hoor, was hulle heeltemal uit die veld geslaan en het gesê: ‘Wie kan dan gered word?’ Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: ‘By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.’ ”
1 Inligting verkry deur persoonlike stemboodskappe van dr. Therina Mol op 20 Augustus 2022.
2 Edward T. Welch, Blame it on the Brain? (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1998), 74
3 Ibid., 72-3
4 Deborah Howard (RN, CHPN) with Juday Howe (BA, MA), Help! Someone I love has Alzheimer’s (Leominster: Day One Publications, 2012), 16
5 Howard, ibid., 21-4; Welch, ibid., 75-80 en https://www.youtube.com/watch?v=Eq_Er-tqPsA
6 Howard, ibid., 27
7 Thomas Watson in David Mathis, Habits of Grace (Wheaton, Illinois: Crossway, 2016), 58
8 Stuart Olyott, This Way to Godliness (Bridgend, Wales: Bryntirion Press, 2006), 67
9 Welch, ibid., 82-3