Coram Deo Cover Image

Coming soon...

29 March 2023

Finansiële beproewings

Jakobus 1:9-11

Dit is moeilik as jy aan die einde van die maand nie huurgeld of genoeg geld het vir kos nie. Almal van ons weet armoede is ’n beproewing. Min mense weet rykdom is ’n groter beproewing. Die meeste rykes sal dit nie erken nie en lewe asof geld hulle gelukkig maak. Dit is ’n illusie. ’n Spoorweg magnaat uit die negentiende eeu het gesê: ‘The care of $200 million is enough to kill anyone. There is no pleasure in it.’ (W.H. Vanderbilt, 1821-1885).1 Hopelik sien jy die waarheid hiervan en maak Agur se gebed in Spr. 30:8b-9 jou eie: “Moet my nie armoede of rykdom gee nie; breek my porsie brood vir my af, sodat ek nie oorversadig raak en U misken en sê, ‘Wie is die Here?’ nie, of verarm en steel, en die naam van my God geweld aandoen nie.”2

 

1. Armoede (v.9)

My vrou se familie woon in Kanada. ’n Paar jaar gelede was daar geweldige bosbrande. My aangetroude familie se huis het letterlik tot op die grond afgebrand. Toe die brand verby is, het baie mense net die klere aan hulle lyf oorgehad. Die meeste van hulle het versekering gehad. Daar is ’n fris bedrag aan hulle uitbetaal en hulle kon hulle huise oorbou.

Jakobus se lesers was nie so bevoorreg nie. Weens die vervolging in Hand. 8:1-4 is die gelowiges deur die Romeinse ryk verstrooi (v.1). Buiten dat hulle hulle huise, tuisland, werk en besittings verloor het, het baie vroue hulle mans verloor en kinders hulle ouers. So het talle gelowiges oornag brandarm geword. Die beproewing het hulle innerlik laag gebring, verneder, depressief en gering laat voel (v.9, Gk. tapeinos). Ten spyte van hulle nederige omstandighede, was hulle geestelik ryk (2:5, Ps. 113:7-8, Ef. 1:3, 2:6, Heb. 11:16, 26, Op. 2:9). Hulle kon nie in aardse rykdom roem nie, maar hulle het iets beter gehad: hulle kon in die Here roem (v.9, Jer. 9:23-24). Dié belofte is nie vir alle armes nie. Dit is nie vir dié wat weens luiheid, losbandigheid of liefde vir luuksheid arm is nie (Spr. 21:17, 22:7, 23:21, 2Tess. 3:10). Die belofte is vir dié wat arm van gees is en besef hulle kan niks bydra om hulle redding te verdien nie (Matt. 5:3). Dit is vir dié wat weens omstandighede buite hulle beheer arm is (v.1, 9, 2:5-6, 5:1-6).

Om arm te wees, is ’n swaar beproewing. Maar met die Here se krag kan jy Hom vir jou hoë posisie in Christus dank (v.9). Deur Christus kan jy tevrede wees met jou omstandighede en die Here nie verloën nie (Fil. 4:11-13). Party armes vergeet dit. Hul stres gedurig oor geld. As die Here vandag vir hulle voorsien, begin hulle oor die volgende uitgawe stres. Hulle verkeer onder die illusie dat net ryk mense geld verafgod, maar hulle doen dieselfde. Hulle lewe draai om die kwelvraag: is daar genoeg geld? Hulle lewe asof hulle nie ’n Vader in die hemel het wat vir hulle sorg nie (Matt. 6:8, 25-34). Hulle dink as hulle net meer geld het, sal hulle minder stres. Dit is onwaar. Die probleem is nie hulle bankbalans nie, maar hulle hart. Hoe meer geld hulle het, hoe hoër lewe hulle. Dan stres hulle van voor af, omdat daar nie genoeg is om alles te betaal nie. Hulle ongesonde fokus op geld, laat hulle van die Here vergeet. Hulle begin Hom as ’n geldmasjien beskou eerder as ’n Vader met wie hulle ’n verhouding het. Hulle bid meestal oor geld en sê dankie as daar verligting kom. Party gee op met bid en help hulleself uit. Hulle maak slegte skuld (Rom. 13:8). Dit los nie die probleem op nie, maar lê ’n groter las op hulle: “’n Ryke heers oor armes, en wie leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.” (Spr. 22:7). Party mense besef skuld is ’n euwel en wend hulle tot kits rykdom. Dit werk selde en selfs as dit werk, sal God die persoon vir sy gierigheid en luiheid straf (Eks. 20:9, 17): “...wie vinnig ryk wil word, sal nie ongestraf bly nie.” (Spr. 28:20).

Die Here wil nie hê jy moet oor geld bekommer en dit die fokuspunt van jou lewe maak nie. Dank Hom vir liewer vir jou ewige skatte (v.9). Wees dankbaar jy het nie die las van aardse rykdom wat jou aandag vinnig van die Here aftrek nie. Moenie die leuen glo wat sê wie baie geld het, leef naby aan die Here nie; armoede beteken jy is kleingelowig of doen iets verkeerd nie. Dit is die Word of Faith dwaling. Die ware evangelie gaan oor geestelike rykdom wat Christus ons gee (Luk. 12:32, Rom. 8:17, 2Kor. 8:9). Wie Christus het, het alles (1Kor. 3:21-23). Ek bedoel nie jy moet Jesus soek, sodat Hy jou ’n verheerlikte weergawe van goud en diamante kan gee nie. Wie dit doen maak meer van wat die Here hom kan gee as van die Here self. Dit is soos om ’n Rolls Royce Cullinan te soek, sodat jy die ware rykdom kan vervoer, naamlik ’n hoop sand! Dit is absolute gekheid. So is iemand wat Christus as ’n trappie gebruik om ’n ‘beter’ skat te bereik.

 

2. Rykdom (v.10-11)

Min ryk mense dink Jesus is meer waardevol as geld. Derhalwe kies hulle hulle rykdom bo Hom (Luk. 18:22-23). Liefde vir geld hou baie mense uit die hemel (1Tim. 6:9). ’n Ryk mens word beswaarlik gered (Luk. 18:24-25). Selfs al word hy gered, bly sy rykdom ’n groot beproewing; groter as wat die meeste mense besef. ’n Vriend het my van ’n Britse Christen biljoenêr vertel. Die man se grootste kopseer is om te besluit wie hy moet help en wie nie. Om ryk te wees is ’n swaar las. Salomo sê: “Wie geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie aan rykdom geheg is, van inkomste nie. Ook dit is sinloos. Wanneer iemand se voorspoed toeneem, word dié wat dit verbruik meer. Wat is die wins vir die besitter daarvan behalwe dat sy oë dit aanskou? Die arbeider se slaap is soet, of hy min of baie eet; maar die oormaat van die ryke gun hom geen rus, sodat hy kan slaap nie. Daar is ’n siek euwel wat ek gesien het onder die son: rykdom wat deur die besitter bewaar is tot sy eie nadeel. Hierdie rykdom het verlore gegaan deur swak besigheid. Hy het ’n seun verwek, maar dié sit sonder iets in sy hand. Soos wat hy naak uit die skoot van sy moeder gekom het, sal hy weer heengaan soos hy gekom het. Hy sal niks saamneem vir sy inspanning nie, niks wat hy met sy hand kan dra nie. Ja, dit is ook ’n siek euwel: Net soos hy gekom het, so gaan hy heen. Watter voordeel is daar vir hom dat hy hom vir wind afsloof? Selfs al eet hy sy lewe lank in die donker; hy vermeerder net verdriet, sy siekte en die grimmigheid.” (Pred. 5:9-16).

Armoede is minder gevaarlik as rykdom. Die ryk man se hoë posisie by die werk hou hom besig. Hy kom nie by kerk of by die Here uit nie. Sy rykdom kom teen ’n prys en dit benadeel sy siel. Party rykes het die luuksheid van normale werksure plus ’n groot salaris. Maar dit help nie, want hy moet iets met sy geld doen. Die beste waaraan hy kan dink, is om sy geld te geniet. Dit hou hom so besig, hy het nie tyd vir stiltetyd, diensbaarheid en samesyn met die gelowiges nie. Is dit jou posisie? Die oplossing is eenvoudig: vra jouself hoekom die Here jou ryk gemaak het. God se Woord het die antwoord: “So word julle in elke opsig verryk, om in alles vrygewig te wees” (2Kor. 9:11). “Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, om sodoende vir hulleself ’n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry.” (1Tim. 6:17-19). Deur vir die armes en sendelinge te gee, vergader jy skatte in die hemel (Luk. 12:33, Fil. 4:17). Ek bedoel nie jy kan jou pad hemel toe koop nie (Spr. 11:14, 1Pet. 1:18-19). Ek bedoel jy kan ander mense saamvat. Gee geld vir die verspreiding van die evangelie. Maak mense ryk in Here, al is jy arm (2Kor. 6:10).

As jy jou geld vashou, sal dit jou vashou en jou sink (1Tim. 6:10). Roem liewer in jou geringheid, naamlik dat jy ’n slaaf van Christus is (v.1, 10). Om ’n Spurgeon se woorde aan te pas: ‘If God has called you to be his slave, why would you stoop to be a king?’ Hoekom wil jy van jou hoë posisie vir Elon Musk se lae vlak verruil? In die Here is jy ryker as hy. Sonder die Here is jy niks, al het jy baie geld. Rykdom maak jou nie beter as die armes nie. Dit gee jou nie meer van die Here se guns nie. Een van my kollegas het dit vir ’n skatryk besoeker gesê. Toe hy die besoeker se duur sportkarre sien, toe sê hy: ‘Moenie dink jy het ’n sê in die kerk, net omdat jy ryk is nie.’ Voor die Here is ryk mense en armes dieselfde; albei staan onder God se gesag (Job 34:19, Ps. 49:2-3). Hy is die Skepper van hulle almal (Spr. 22:2). Albei van hulle is sondaars (Rom. 3:23). Albei benodig sy genade, Jesus se kruisdood en geloof om gered te word (Gal. 3:28).

Die verskil is as die ryke sterf, verloor hy meer as die arme. Hy vergaan soos ’n veldblom. As die Mediterreense son warm daarop skyn, verlep dit en val op die grond. So is die ryk man: terwyl hy lekker lewe en geld maak, vertel die media ons van sy skielike dood (v.10-11). Sy kis het goue handvatsels en hy het ’n duur grafsteen, maar soos die arme lê hy stokstyf in die graf: “Those of low estate are but a breath; those of high estate are a delusion; in the balances they go up; they are together lighter than a breath.” (Ps. 62:9, ESV). Wanneer die ryke sterf, vat hy niks saam nie (1Tim. 6:7). In die graf is hy armer as Indië. Sy rykdom was ’n toets en hy het dit gedop. Nou staan hy met leë hande voor die Here. Sy lewe is ’n tragedie.

Dit is groot genade as ’n ryk man voor sy dood tot bekering kom. Ek het vir ’n jaar lank met so iemand gewerk. Aan die einde van sy lewe het hy besef geld is niks nie—hy kan dit nie saamvat as hy sterf nie. Selfs as die Here ’n ryk man red, moet hy versigtig wees. Die wêreld wil hom beïnvloed om soos hulle te dink: ‘Jaag ’n loopbaan; klim die korporatiewe leer; soek onmiddellike plesier; tree af en hou vakansie tot jy jou asem uitblaas.’ Wat het so iemand as hy sterf? Die ryk ongelowige sal sê: ‘Ten minste het ek my lewe geniet en die beste daarvan gemaak.’ Het jy? ’n Eerlike ryk man sal sê geld maak hom nie gelukkig nie. Ten spyte van sy weelde voel hy hol binne. John D. Rockefeller (1839-1937) het gesê: ‘I have made many millions, but they have brought me no happiness.’3 Die ryk man het vrese en verhoudingsprobleme soos die arm man. Hy het baie vriende, maar hy voel eensaam en leeg. Geld kan nie sy dors les nie; hy soek altyd meer. Net Jesus kan hom gelukkig maak. Hy alleen kan die leemte in jou siel vul en jou dors les (Joh. 4:14). Sy kruis is waar die lewende water ontspring. Kom na die kruis toe en lê jou sonde van geldgierige afgodery neer (Kol. 3:5). Erken en besef jy is nie ryk genoeg om die hemel te koop nie. Jesus alleen kon die prys betaal. Ontvang dit gratis en verniet (Jes. 55:1, Op. 21:6, 22:17). Dit is vir elke ryk man en arme wat dit wil hê.

Wees soos die man in Matt. 13:44: “Die koninkryk van die hemele is soos ’n skat wat in die veld begrawe lê. ’n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond.” As jy die hemelse skat ontdek, word rykdom en armoede ’n ligte las om te dra. Hoeveel geld jy het, maak nie saak nie. Die vraag is of jy die ewige lewe het. Het jy die hemelse skat? Moenie soos party mense tevrede wees dat jy in die drie-Eenheid glo nie. Die duiwels glo dit en hulle sidder (Jak. 2:19). Die vraag is of Jesus jou persoonlike Here en Verlosser is. Kan jy saam met Thomas sê: “My Here en my God!” (Joh. 20:28)? Voor sy bekering het John Wesley (1703-1791) hieroor gewonder. Sy gesprek met August Spangenberg het as volg verloop:

Spangenberg: Do you know Jesus Christ?

Wesley: I know He is the Saviour of the world.

Spangenberg: True, but do you know He has saved you?

Wesley: I hope He has died to save me.4

Weet jy met sekerheid Jesus is joune en jy is syne? As jy Christus het, is jy ryk. Sonder Hom is jy arm, ongeag van hoeveel geld jy het.


1  Randy Alcorn, The Treasure Principle (Colorado Springs, CO: Multnomah Books, 2001), 52.

2  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

3  Alcorn, ibid.

4  Iain H. Murray, Wesley and Men who Followed (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2003), 19.

Kategorieë