Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 June 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: Seksuele Vervulling

Hooglied

Toe ek 14 was, het een van ons leraars oor seks gepreek. Na die samesang moes die kinders onder 13 jaar die gebou verlaat. Ek was 14, maar wou nie bly nie. Toe ek opgestaan het om uit te gaan, toe sê die predikant: ‘Ivor, jy kan maar bly.’ Ek het my doodgeskaam.

In die kerkgeskiedenis het priesters, nonne en monnike nie getrou nie. Hiervoor het mense hulle as geestelik beskou. Paulus sê egter: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste dae sommige mense van die geloof afvallig sal word, omdat hulle hulle ophou met dwaalgeeste en die leringe van demone. Hulle word beïnvloed deur die skynheiligheid van leuenaars, wie se gewete toegeskroei is. Hulle verhinder mense om te trou, en laat hulle sekere kossoorte vermy, terwyl God dit geskep het vir gelowiges, diegene wat die waarheid insien, om dit met dankbaarheid te geniet. Want alles wat God geskep het, is goed, en niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, omdat dit deur die woord van God en gebed geheilig word.” (1Tim. 4:1-5).1

Baie Christene kry skaam vir seks. Ek het ’n tannie geken wat geweier het om Hooglied te lees. Sy kon nie verstaan hoekom dit in die Bybel is nie. Die Jode self het gesê dat slegs getroude mense of mense bo die ouderdom van 30 Hooglied mag lees.2

Volgens 2Tim. 3:16 is die hele Skrif—ook Hooglied—deur God geïnspireer en het dit waarde om ons te help om reg te lewe. As ons gaan stilbly oor seks, sal die wêreld, die regering en skole ons kinders en lidmate verkeerd onderrig. Laat ons daarom ons mense leer wat die Bybel hieroor sê en hoe hulle seksueel versadig kan wees.

 

1. Wees getroud

Met betrekking tot seks wil die LGBT-kultus en Hollywood jou oortuig dat jy vir jouself kan kies wat goed is en dat dit jou sal vervul. Dit is ’n leuen. God het seks ontwerp en sê dat dit vir ’n getroude man en vrou bedoel is: “Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Heb. 13:4).

Binne die huwelik is seks soos wyn en parfuum (1:2-3, 4:10). Dit is soos soet appels, rosyne, koelte (2:3, 5), melk en heuning (4:11), ’n tuin en vars water (4:12, 15, 16, 5:1), granate en geurige speserye (4:13-14). Dit is soos om dadels of druiwe te pluk en te eet (7:7-8). Buite die huwelik is dit die teenoorgestelde: seks is soos suur druiwe, vrot vrugte, ’n tuin vol onkruid en rioolwater. Dit kan nooit vervulling bied nie. Dit is hoekom mense wat seksueel losbandig is, alewig meer en beter soek; hoekom hulle van een persoon na die volgende toe spring. Iemand wat seksueel losbandig is, voel vuil, skuldig en is bang dat hy uitgevang word. As hy die meisie swanger maak, kom die versoeking om die kind te aborteer of beland sy in die posisie waar sy die kind alleen moet grootmaak.

As jy seksueel losbandig is, word seks ’n twispunt; ’n rede vir bakleiery. Uiteindelik word seks vir jou wat pizza is vir iemand wat by Romans werk: dit is nie meer spesiaal nie en maak jou naar. Dit mag ook wees dat die Here jou met ’n seksueel-oordraagbare siekte straf (Spr. 5:11, Rom. 1:27). Dan is daar ook die hel wat vir jou voorlê (1Kor. 6:9-10, Ef. 5:5-6, Op. 21:8).

Om seksuele vervulling te hê, moet jy dit in die huwelik soek (8:6, 7:6-8, Spr. 5:15-20). Nie alle getroudes beleef seksuele vervulling nie, maar ten minste is dit binne hulle bereik. Waar ongetroudes seks het, is hulle soos ’n walvis wat probeer om op die strand te swem: hulle betree ’n terrein wat nie vir hulle bedoel is nie. Hulle sal die slegte gevolge dra.

Seks is vir die huwelik bedoel en tog is dit nie genoeg om net te trou nie. Om seksuele vervulling te hê, moet jy en jou maat lojaal wees aan mekaar. Julle is vir mekaar alleen bedoel (2:16, 4:12, 15-16, 5:1, 6:3, 9, 7:10). Niemand anders moet julle huwelik binnedring nie (8:6). As jy jou liggaam adverteer, met ander flankeer (Eng. flirt), na pornografie of lelike films kyk, vuil fotos van jouself rondstuur of aanvra en egbreuk pleeg, sal jou maat verraai voel. Die kanse is goed dat julle in die skeihof sal beland.

Wat as ek en my maat saam na pornografie kyk om ons sekslewe op te kikker, wil iemand weet? Dit is onaanvaarbaar, omdat jy die mense op die skerm begeer en nie jou lewensmaat nie: “Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” (Matt. 5:27-28). Om na pornografie te kyk, lei tot selfsugtige seks waar jy nie jou maat wil dien nie, maar jou luste wil bevredig (Spr. 30:15-16, Fil. 2:3-4). Waar dit gebeur, sal jy jouself bevredig as jou maat nie teen jou verwagtinge opmeet nie. Uiteindelik word dit ’n bose kringloop. Jou maat sê nee vir seks. Jy bevredig jouself. Jou maat voel verraai en wil nie vir jou seks gee nie. Sy sê dat sy hoofpyn het, moeg is of nie lus nie. Of sy manipuleer jou met seks: ‘As jy ___ doen, sal ek vir jou seks gee. Anders kry jy niks.’ So raak die huweliksbed koud. As jy jou oë uitvee, het julle ses maande laas seks gehad; dan ’n jaar laas, twee jaar, vyf jaar, tien jaar of langer. Voor jy dit weet, het een of beide van julle egbreuk gepleeg.

Moet jouself nie van jou maat weerhou nie (5:2-3, 1Kor. 7:3-5), maar bely daagliks julle sonde, rusie en bitterheid (Ef. 4:26-27). As jy bitter teen jou maat is en buitendien seks het, word seks ’n uitdrukking van wellus eerder as van liefde. Dit is niks meer as ’n biologiese funskie soos eet nie. Dit is nie meer spesiaal nie. Geen huwelik kan gesond wees waar sonde nie bely en vergewe word nie. Soos met Adam en Eva sal sonde die huweliksbed negatief affekteer (Gen. 2:25, 3:7).

Wat as jy dinge wil regmaak en jou maat nie wil saamwerk nie, maar seks van jou weerhou? Pas kerkdissipline toe. Praat mooi met jou maat. As hy of sy nie wil luister nie, vra ’n volwasse gelowige vir raad. As jou maat nie vir die getuies wil luister nie, moet die leiers dit voor die kerk bring. As hy nog steeds nie wil luister nie, moet die gemeente hom afsny (Matt. 18:15-17). In 1640 het die First Church in Boston dit gedoen toe James Mattock vir twee jaar seks van sy vrou weerhou het.3

Vir ’n huwelik om gesond te wees, moet die man en vrou gereeld saamkom en versadig word, sodat hulle nie versoek word deur spookasem by die kantoor, by die bure of êrens anders nie (1Kor. 7:5). Daarmee bedoel ek nie dat dit altyd skaaptjops of kreef moet wees nie. Spaghetti en maalvleis is ook reg. Jou doel is tog nie om elke keer ’n klimaks te bereik nie, maar om jou maat te bedien en God te verheerlik: “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.” (1Kor. 10:31).

Dalk het jy en jou maat seksuele probleme, omdat een of albei van julle dit verkeerd beskou. Dit sal veral die geval wees as jy voor die huwelik seks gehad het. Jou siening van seks is selfsugtig en gaan oor wat jy kan kry eerder as oor wat jy kan gee. In baie gevalle dra dit oor na die huwelik.

Party mense het seksuele probleme, omdat hulle as kind gemolesteer of verkrag is. Dit maak dat hulle ’n verwronge beeld van seks in die huwelik het. Hulle voel vuil as hulle seks het en die slegte ervaring van die verlede in hulle gedagtes opkom. In so ’n geval moet jy jou geestelike leiers of ’n Bybelse berader om hulp vra. Jy hoef nie skuldig of skaam te voel oor iemand anders se sonde nie. Moenie dink dat God jou op grond van Jesus se lewe en kruisdood aanvaar plus dat jy nie verkrag moes wees nie.

Wat van aborsie: wat as dit jou laat skuldig voel en die rede is hoekom jy nie seksuele vervulling beleef nie? Bely jou sonde en glo dat Jesus se bloed jou kan skoonwas (1Joh. 1:7, 9).

Wat as jy en jou lewensmaat mekaar regtig liefhet, maar een of albei van julle nie ’n seksuele begeerte het nie. Gaan vir ’n mediese ondersoek. As dit nie die probleem oplos nie, probeer die volgende.

 

2. Wees beste vriende

Twee of drie jaar gelede het ek ’n huwelikseminaar bygewoon. Toe die spreker oor seks praat, was dit baie smaakvol. Sonder dat hy veel woorde gebruik het, het almal geweet dat hy en sy vrou seksuele vervulling beleef. Ons het ook geweet hoekom: hulle is beste vriende; mens sien hulle altyd saam.

Dit is hoe die ideale paartjie in Hooglied was (5:16) en hoe Adam en Eva voor die sondeval was (Gen. 2:18, 24-25). Dit is hoe jy en jou maat moet wees as jy seksuele vervulling soek. Dit help nie jy soek goeie seks in die aand as jy nie in die dag ’n goeie man of vrou vir jou lewensmaat is nie. Lees of luister weer my preke oor die rol van die man en die vrou. As jy die waarhede daarin vervat biddend en konsekwent toepas, sal dit die huweliksbed ten goede verander.

 

3. Wees romanties

Een van ons lidmate wat op 68 oorlede is, het tot voor sy dood nog die kar se deur vir sy vrou oopgemaak. As hulle by die kerk opgedaag het, het hulle hande vasgehou. Hy het haar uitgevat vir ete en hulle het saam vakansie gehou.

Romanse is nie net vir die ongetroudes nie. Dit hoef nie te stop as jy getroud is nie. Die getroudes in Hooglied was romanties. Die man het ’n liefdeslied en gedigte vir sy vrou geskryf (1:1). Hulle het in die lente gaan stap (2:10-13), weggebreek en mekaar se liefde geniet (7:11-13). Hulle het dit geniet om mekaar te soen (1:2, 4:11, 5:16, 7:9), in mekaar se oë te kyk (6:5), vir mekaar troetelname te gee (2:10, 14) en mekaar te komplementeer (1:15-16).

As jy soos ek is en kortkom as ’n minnaar, moet jy die Here om hulp vra, sodat jy Hooglied in jou huwelik kan toepas. Hou jou maat se hand vas. Maak die kar se deur vir haar oop. Vat haar vir koffie. Breek weg vir die naweek. Skryf vir haar ’n liefdesbrief. Soen en druk haar soos in die begin. Maak jouself mooi vir jou maat. Ruik lekker (1:3, 4:10-11). Sorg dat jou asem vars is (7:8). Sê vir jou maat dat hy of sy aantreklik is (2:2, 4:1-7, 5:10-16, 6:4-10, 7:1-9, Spr. 31:29). Praat oor julle seksuele verhouding en vra vir jou maat wat hy of sy geniet. Dit is veral nodig dat jy jou vrou vra, omdat sy nie soos jy visueel gestimuleer word nie. Daarom dat C.J. Mahaney sê: ‘Before you touch her body, touch her heart and mind.’4 Om jou vrou se hart en verstand te bereik, moet jy deur die dag liefdevol, gemanierd, behulpsaam, sagmoedig en gaaf wees. Waar jou man dit doen, moet jy hom omhels en jou liefde gee (1:4, 3:4, 4:16, 8:2). Dit is jou plig soveel as syne om seks te inisieer. As albei van julle so aan julle verhouding werk, sal julle liefde met die jare verdiep en nie afkoel nie. Dit sal so sterk word dat geen beproewing, hoeveelheid geld of eers die dood julle liefde wat soos ’n vuur brand, kan demp nie (8:6-7).

 

4. Wees toegewy aan Jesus

Douglas Wilson sê: ‘Lust demands from a finite thing what only the infinite God can provide.’5 ’n Wellustige persoon is soos die Samaritaanse vrou wat volkome en finale vervulling in mans gesoek het. Sy het dit nie gekry nie, maar het van een man na die volgende toe gespring (Joh. 4:18). Jesus alleen kon die vervulling bied wat sy gesoek het (Joh. 4:14). Kyk dus verder as seksuele vervulling wanneer jy Hooglied lees. Ek bedoel nie dat jy elke detail van die boek moet vergeestelik nie, maar dat jy Jesus en die kerk se liefde vir mekaar moet sien (Ef. 5:22-33).

Soos Hooglied se bruidegom trek Jesus ons nader (1:4, Joh. 6:44) om sy liefde soos ’n banier oor ons te sprei (2:4, Jer. 31:3). Hy reinig ons en begeer ons skoonheid (4:7, 6:10, 7:10, Ps. 45:12, Ef. 5:27). Hy verseël ons as sy eiendom (8:6, Ef. 1:13-14, 4:30); het ons tot die dood toe lief (8:6, Joh. 13:1, 15:13, Gal. 2:20). Hy bewaar ons in sy liefde, sodat niks ons van Hom kan skei nie (8:7, Rom. 8:38-39). Hy begeer om ons stem te hoor (8:13, Ps. 5:4, Joh. 14:13-14).

Laat ons soos Hooglied se bruid reageer en Jesus met alles in ons liefhet (2:5, 5:8, 7:12-13, Matt. 22:37, 1Joh. 4:19). Begeer Hom as jy Hom nie naby voel nie (3:1, Ps. 42:2-3, Fil. 1:23). Sê vir Hom dat Hy wonderlik is bo alles en almal; dat daar niemand soos Hy is nie (5:10-16, Ps. 45:3, Heb. 1). Sê vir Hom dat Hy alleen joune is en jy syne (2:16, 6:3, 8:6, Jes. 44:5, Joh. 17:10, 20:28, 1Kor. 6:17, Jak. 4:4-5). Moenie die Woord, gebed, die nagmaal en eredienste misloop en sodoende ’n kans weggooi om gemeenskap met Jesus te hê nie (5:2-6, Op. 3:20). Bewonder Hom as jou Herder, jou Geliefde en jou Vriend (1:7, 5:16, Joh. 10:11, 15:13-15). Vra Hom om gou na jou toe te kom (8:14, Matt. 6:10, 1Kor. 16:22, 2Tim. 4:8, Op. 22:17, 20).

As jy so in jou verhouding met die Here groei, sal dit ongetwyfeld jou liefde vir jou maat en gevolglik ook julle seksuele verhouding verdiep. Bowenal sal dit jou verlange na die hemelse Bruidegom versterk. Jy sal soos James Henley Thornwell se dogter Nancy wees. In 1859 het Thornwell die nuus gebreek dat sy dogter gaan trou. In die daaropvolgende weke het sy terminaal siek geword. Terwyl sy op haar sterfbed was, het sy die volgende gesprek met haar pa gehad:

James: Oh my dear daughter, such tragedy!

Nancy: Father, do not weep. I know my Savior.

James: But this was to be your wedding, your whole life now before you.

Nancy: Father, but I now go to a greater Groom that I am prepared to meet.

Nancy is in haar trourok begrawe. Op haar grafsteen staan daar: ‘As a bride prepared for her Groom.’6

Om Jesus te sien en by Hom te wees, is beter as die beste seksuele vervulling wat jy in hierdie lewe kan hê. Laat ons Hom bo alles soek; selfs meer as seksuele vervulling in die huwelik.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Stuart Olyott, Ecclesiastes & Song of Solomon: A Life Worth Living and a Lord Worth Loving (Darlington, England: Evangelical Press, 81. Sien ook https://www.ligonier.org/learn/articles/song-solomon/

3  John Piper & Justin Taylor (ed.), Sex and the Supremacy of Christ (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2005), 254. Sien ook http://www.firstchurchbostonhistory.org/recordsofdisciplinaryaction.html

4  C.J. Mahaney, Sex, Romance, and the Glory of God (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2004), 56

5   Douglas Wilson, Reforming Marriage (Moscow, Idaho: Canon Press, 1995), 101

6  https://www.ligonier.org/learn/articles/song-solomon/

Kategorieë