Coram Deo Cover Image

Coming soon...

14 March 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: Kies die Regte Lewensmaat

Verskeie Tekste

Hoe kies ’n mens die regte lewensmaat? Hollywood en Walt Disney sal sê: ‘Die oomblik toe ons mekaar sien, toe weet ons ons is vir mekaar bedoel.’ Hierdie is die tipe mense wat sê: ‘Volg net jou hart’ (kontra Jer. 17:9). Vir hulle gaan alles oor die uiterlike. Toe ek eenkeer vir ’n ongelowige vra wat hom tot sy verloofde aangetrek het, toe sê hy: ‘Haar lyf.’ Sulkes mense trou vinnig en skei net so gou.

Party mense weet voorkoms is nie alles nie. Volgens húlle weet jy iemand is die regte persoon as jy vrede het. Maar toe Jona ongehoorsaam was, het hy vrede gehad—soveel so dat hy rustig in die storm gelê en slaap het (Jona 1)! En toe Jesus aan sy Vader gehoorsaam was, het Hy nié vrede gehad nie, maar was Hy benoud in die tuin van Getsemane.

In hulle soektog na die regte lewensmaat, sal party mense die Bybel oopmaak. Ongelukkig gebruik baie van hulle dit verkeerd. Ek dink hier aan ’n paartjie wat vir John MacArthur kom sien het vir berading. Hulle het ernstige huweliksprobleme gehad. Toe MacArthur hulle vra hoekom hulle met mekaar getrou het, toe sê hulle: ‘Ons predikant het gesê dat Jerigo se mure platgeval het, nadat die Israeliete sewe keer rondom die stad geloop het. “As jy ’n jong meisie wil hê, moet jy letterlik sewe keer om haar loop,” het hy gesê. “Haar hart se mure sal platval en sy sal jou begeer,” het hy gesê.’

MacArthur was geskok. ‘You’ve got to be kidding me!’ het hy gesê. ‘No, we’re not kidding. It really happened. Several other people got married as a result of that same sermon.’

Dan is daar ook mense wat die Bybel heeltemal ignoreer. Hulle vertrou op hulle impulse en sê dan dat dit die Heilige Gees is. In Louis Trichardt het ’n jong meisie vir my gesê: ‘God showed me who to marry, and I can’t stand the guy!’

Ek hoop jy kan sien dat nie een van hierdie maniere die regte een is nie. Hoe kies ’n mens dan die regte lewensmaat?

 

1. Bid vir wysheid

As jy gaan fietsry en die pad nie ’n skouer het nie, ry jy naby die randsteen, sodat die karre jou nie tref nie. Jy ry egter nie so naby dat die randsteen jou wiel vang en jy val nie.

              Dit werk presies dieselfde as jy ’n lewensmaat kies. Party mense val teen die randsteen, omdat hulle gebed verwaarloos en sê: ‘Die Here het my ’n gesonde verstand gegee.’ Maar sonder die Heilige Gees help jou gesonde verstand jou nie om die Bybel te verstaan nie.

              Ander beland errt onder die karre, omdat hulle die Bybel afskeep en dink dat hulle net moet bid en vir ’n teken soek. Om egter die randsteen te mis en ’n veilige afstand van die karre te hou, moet jy bid én die Bybel oopmaak. Wat gebed betref, is dit nie genoeg om die Here aan die begin van die proses te vra en dan op jou eie aan te gaan nie. Praat deur die proses met Hom; vra sy wysheid en leiding (Ps. 32:8, Spr. 3:5-6, Jes. 30:21, Jak. 1:5, 5:16).

              Vra ook jou ouers en ander gelowiges om vir jou te bid. Ons sien in Gen. 24:42-48 hoe Abraham se slaaf die Here gevra het om die regte lewensmaat vir Isak te stuur. Wyle Martin Holdt het ons vertel hoe hulle die Here by Emmanuel Baptist Church se bidure gevra het om goeie lewensmaats vir die jongmense te stuur. Die Here het hulle gebede verhoor.1

              Gebruik die Bybel as jy klaar gebid het (Ps. 119:24, 105, 2Tim. 3:16-17). Moenie maak asof jou intuïsie en emosies beter raadgewers is as die Bybel nie. Hiermee sê ek nie emosie is onbelangrik nie, maar as jy wil weet of dit die Heilige Gees is wat jou lei, moet jy jou Bybel oopmaak. Mense sê te maklik: ‘Die Gees het my gelei,’ terwyl dit eintlik hulle bedrieglike harte, emosies, min slaap, medikasie, die duiwel, hulle hormone, of iets anders is. Kies die Woord bo elke ander manier van leiding (vgl. Jes. 8:19-20, Jer. 23:28, Eseg. 13:2). Bestudeer die Skrif om te sien wat dit oor die huwelik sê (Gen. 2:18-25, Ef. 5:22-33). Lees goeie boeke oor die huwelik: Strengthening Your Marriage deur Wayne Mack , of What Did You Expect? deur Paul Tripp (laasgenoemde is ook op DVD beskikbaar).

              God se Woord sal jou leer wat om te verwag en wat die Here van jou wil hê. Dit sal Hollywood en Christelike romanse se verkeerde idees oor die huwelik uitskakel. Dit sal jou help om te onthou dat die huwelik vir ’n leeftyd is. Jy kan nie van die bus afklim, omdat jy nie meer daarvan hou nie, of as dit nie is wat jy gehoop het nie, as jou lewensmaat in ’n rolstoel beland en jy vir haar moet sorg, as jou man sy werk verloor, of as jou vrou ouer raak en nie meer aantreklik is nie (1Kor. 7:28).

***

As jy die Bybel klaar bestudeer het, moet jy jou ouers se raad en toestemming vra. Dit is Bybels vir ’n pa om sy dogter te lei en haar te beskerm teen mans wat haar wil misbruik; om ja, of nee te sê vir die jong man wat sy dogter se hand in die huwelik vra (Eks. 22:16-17, Deut. 7:3, Neh. 10:30, Matt. 22:30, 24:38). ’n Pa bly sy dogter se hoof, totdat sy die dag trou en nie totdat sy 21 is nie. Luister daarom na jou ouers se insette en waarskuwings. Dit sal jou baie moeite en trane spaar.

              Ek het ’n meisie ontmoet wat graag wou trou. Haar ouers het egter nee gesê, omdat die man deel was van ’n kultus. Sy het nie haar ouers se raad gevolg nie, maar met die man getrou. Minder as twee jaar later is hulle geskei.

              My suster het iets soortgelyk beleef. Toe my ouers agterkom dat haar verloofde nie die regte man vir haar is nie, toe sê hulle sy moet die verlowing verbreek. Dit was moeilik, maar almal van ons is bly sy het dit gedoen. Vandag is sy gelukkig getroud met ’n gelowige.

              Maar wat as jy dwase en goddelose ouers het? Vra dan iemand anders se raad: nie jou ongelowige vriende, of kollegas nie, maar jou geestelike leiers en ander volwasse Christene wat die Bybel ken en uitleef (Ps. 1:1-2, Spr. 15:22).

              As die Here vir jou wys iemand is nie die regte persoon nie, moet jy nie aankarring nie. Stop die verhouding. Alhoewel dit seer is, is dit beter as wat jy trou en vir die res van jou lewe ongelukkig is.

 

2. Wéés die regte lewensmaat

Met John F. Kennedy se intreerede in 1961 het hy die volgende gesê: ‘Ask not what your country can do for you—ask what you can do for your country.’2 Hierdie beginsel geld ook vir die huwelik. Dus moet jy nie in die eerste plek ’n maat soek wat by jou pas nie, maar moet jy vra hoe jy die regte lewensmaat kan wéés. Dit help nie jy krý die regte lewensmaat as jy nie ook die regte lewensmaat ís nie. God wil hê jy moet aan ander doen wat jy aan jouself gedoen wil hê (Mat. 7:12). Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Matt. 22:39). Jy moet onthou dat dit meer geseënd is om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35). Moet dan nie net vra wat iemand anders vir jou kan wees nie, maar vra wat jy vir hulle kan wees.

              Om só iemand te wees, moet jy gered wees. Anders sal jy net trou vir wat jy uit die huwelik kan kry. As jy egter die Here ken, sal jy vra hoe jy soos Hy kan wees en sal jy jou maat wil dien (Ef. 5:22-33). Jy sal ook onthou dat die huwelik tydelik is, terwyl jou verhouding met die Here ewig is (Matt. 22:30). Die Here sal vir jou nommer 1 wees. Jy sal wil doen wat Hy vir jou sê, naamlik om jou maat lief te hê en te respekteer. Jy sal meer aandag daaraan gee om jouself vir die huwelik voor te berei as vir die troue. Jy sal nie bloot ’n Spr. 31-vrou, of ’n 1Tim. 3-man wil hê nie, maar jy sal een wil wéés.

 

3. Leer die persoon ken

Die wêreld het sy eie idees van hoe jy ’n potensiële lewensmaat kan leer ken. Party sal sê jy moet eers saam met die persoon bly. Dit is soos as jy ’n kar toetsbestuur voor jy dit koop.

              Ander sal sê jy moet van jongs af met seuns en meisies uitgaan, sodat jy kan weet hoe romantiese verhoudings werk.

              Maar wat sê die Bybel hiervan? Vir ongetroudes om in ’n seksuele verhouding saam te bly, is taboe: “Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Heb. 13:4).3 Selfs om net uit te gaan, kan gevaarlik wees. Jy vra mos vir moeilikheid as jy ’n seun en meisie wie se hormone begin verander, alleen in kar, ’n teater, of ’n kamer los. Is dit enige wonder dat daar baie ongewenste swangerskappe en daaropvolgende aborsies is, of dat talle huwelike op die wankelrige fondasie van fisiese aangetrokkenheid gebou word en kort daarna in die skeihof beland? Jy leer nie iemand in jou arms agter ’n toe deur ken nie. Jy leer die persoon eerder tussen mense ken waar julle mekaar se karakter kan sien: by jou, of die persoon se ouerhuis; by ’n braai saam met vriende; in ’n restaurant, by ’n sportbyeenkoms; by die kerk. Vra vrae oor die verskillende areas van die persoon se lewe: sy, of haar agtergrond, ouerhuis, skool, vriende, belangstellings, bekering, gemeente, geestelike groei, stokperdjies, vorige verhoudings, ensovoorts

              Kyk ook na die persoon se verhouding met sy, of haar ouers, broers, en susters. As hulle nie die mense naaste aan hulle respekteer nie, is die kanse klein dat hulle jou anders sal hanteer. Moenie met so iemand trou nie. Dit is immers die tipe mens wat gaaf sal wees voor ander, maar waar julle alleen agter geslote deure is, sal hy sy hand vir jou lig.

              Wat probeer ek sê? Moenie oorhaastig wees om te trou nie, maar vat jou tyd om die persoon te leer ken (Spr. 19:2). Wees eers net goeie vriende en moenie dadelik ’n verhouding aanknoop nie. As die persoon ontevrede is en romanse soek, is hy lief vir sy eie luste eerder as vir jou.

              Dalk dink jy jy sal die persoon verander, maar jy maak ’n fout. Dit is beter om die vriendskap te verbreek en verder te soek. Niks verplig jou om met die persoon te trou nie. Moenie vir mense luister wat sê jy laat ’n goue geleentheid deur jou vingers glip, en dat jy nie weer so iemand sal kry nie. Trou eerder met die regte persoon as wat jy trou net omdat jy nie alleen wil wees nie.

         Moet ook nie met iemand trou wat op onbybelse gronde geskei is nie, want anders pleeg jy egbreuk (Luk. 16:18). Selfs as die persoon op Bybelse gronde geskei is (Matt. 19:9, 1Kor. 7:15) en kinders het, moet jy jouself afvra: ‘Kan ek hierdie kinders as my eie aanvaar?’ Jy wil tog nie trou en elke nou en dan oor die kinders baklei nie.

 

4. Trou met ’n gelowige

Ek ken ’n gelowige wat tot in haar laat 30’s nog ongetroud was. Uiteindelik het sy besluit om met ’n ongelowige te trou. Vandag is sy spyt, omdat haar man glad nie in die Here belangstel nie. Dalk dink jy jy sal so iemand vir die Here wen. Maar Richard Baxter is reg:

‘...will you marry a leper, because God can heal him; why then should you marry an ungodly person, because God can convert him?’4

As jy gered is, is dit God se wil dat jy met ’n gelowige moet trou (Deut. 7:3, 2Kor. 6:14-15). Ek bedoel nie jy moet met enigiemand trou wat hom- of haarself ’n Christen noem nie. Maak eerder seker dat die persoon die evangelie glo en verstaan, en dat Gal. 5:22-23 (die vrug van die Gees) ’n konstante deel van sy, of haar lewe is. Vra ook die opinie van ander mense wat die persoon goed ken. Dink húlle dat hy, of sy regtig ’n Christen is?

              As alles daarop dui dat die persoon gered is, kan julle trou. Jy hoef nie ’n teken te soek om te weet of dit die regte een is nie, maar jy kan met die gelowige van jou keuse trou (1Kor. 7:39). Dit geld selfs as die persoon ’n ander velkleur het, of as hy van ’n ander land af kom. As die persoon egter uit ’n ander denominasie kom, moet julle julle verskille uitsorteer voordat julle trou. Jy wil tog nie oor die doop baklei as jy sopas jou eerste kind gehad het nie. Jy wil ook nie in ’n situasie beland waar julle in verskillende kerke is nie. Nie dat dit sonde is nie, maar sal dit nie beter wees as julle in dieselfde gemeente dien nie? As dit nie anders kan nie en jy graag met so iemand wil trou, is dit nie sonde nie. Sorg net dat die persoon dieselfde doel het as jy, naamlik om deur julle huwelik Jesus vir die wêreld te wys. Sorg ook dat jy iemand kies wat jou geestelik sal help en nie iemand wat jou geestelik sal terughou nie.

 

5. Fokus op goeie karakter

Toe wyle Martin Holdt se seun ’n Christen geword het en wou trou, toe soek hy iemand in sy gemeente. Daar was ’n paar Christen vroue. Hy het oor die saak gebid en vir een van hulle gevra of hy saam met haar ’n Bybelstudie kan hou. Sy het ingestem, maar na ’n paar weke, toe sê hy vir sy pa: ‘The Bible studies are going well, but there’s no spark!’ Sy pa het hom geantwoord: ‘Don’t worry Jonathan. Just keep ons studying the Bible with her—the spark will come!’ Volgens Martin het die ‘spark’ gekom en het sy seun uiteindelik met haar getrou.

              Die Bybel is nie teen uiterlike skoonheid nie (Gen. 12:11, 14, 24:16, 29:17, 39:6, 1Sam. 25:3). God het dit tog gemaak. En tog is die fokus op goeie karakter:

“Al my mense in die dorp weet immers dat jy ’n deugsame vrou is.” (Rut. 3:11).

“Toe hulle inkom en hy vir Eliab sien, het hy gedink: ‘Sekerlik, hier staan, voor die Here, sy gesalfde!’ Maar die Here het vir Samuel gesê: ‘Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.’” (1Sam. 16:6-7).

“’n Goue ring aan ’n vark se snoet—so is ’n vrou wat mooi is, maar goeie oordeel prysgee.” (Spr. 11:22).

“’n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde.” (Spr. 31:10).

“Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; ’n vrou wat vir die Here ontsag het, sy moet geprys word.” (Spr. 31:30).“Julle skoonheid moet nie op uiterlike dinge berus nie—soos die vleg van hare, die dra van goue juwele, of die aantrek van elegante klere nie; maar op dit wat in die mens se hart verborge is—die onverganklike skoonheid van ’n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is.” (1Pet. 3:3-4).

Kyk verby die uiterlike en kyk na die persoon se karakter. Is die man in wie jy belangstel iemand wat die Here liefhet; wat nederig in die gemeente dien en omgee vir ander? Het die meisie op wie jy jou oog het ’n sagte gees? Is sy iemand wat haarself aan goeie werke gee?

               As jy net na die uiterlike kyk, sal jou huwelik net hou totdat iemand mooier jou pad kruis. John Angell James (1785-1859) het gesê: ‘...to be attached to an individual simply on the ground of beauty is to fall in love with a doll, or a statue, or a picture. Such an attachment is lust or fancy, but certainly not a rational affection...Nothing fades so soon as beauty.’5

 

6. Berei jou finansieel voor

Blykbaar kos die gemiddelde troue in Suid-Afrika omtrent R80 000.6 Wat my betref, is dit buitensporing. Wanneer ek jou dan aanmoedig om jouself finansieel vir die huwelik voor te berei, bedoel ek nie jy moet ’n groot klomp geld op die troudag spandeer nie. Ek bedoel eerder dat jy vir jou vrou moet kan sorg. Dit beteken nie jy moet ’n groot TV, ’n duur sitkamerstel, of ’n mooi kar koop nie. Nee, maar jy moet vir haar ’n blyplek, kos en klere voorsien. Dit sal eenvoudig nie reg wees as jy ’n vrou vat, terwyl jy op die sypaadjie slaap en nie vir haar kan sorg nie. Kry dus eers vir jou ’n werk en huur ’n plek waar julle kan bly. Kry dit in plek voordat julle trou. Die beginsel in Spr. 24:27 geld hier: “Doen jou werk buite bestendig, en handel jou werk op jou land af; bou dan daarna jou huis.” Moenie van jou ouers afhanklik wees nie, maar begin jou eie lewe, sodat jy vir jou gesin kan sorg (Gen. 2:24).

               Die man wat sy gesin finansieel afskeep, oortree 1Tim. 5:8 en doen sonde: “Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as ’n ongelowige.” Ek probeer nie sê dit is ’n sonde om arm te wees nie. Ek bedoel eerder dat jy vir jou gesin se finansiële welstand verantwoordelik is. As dit beteken jy moet ’n klein woonstel huur, of dat julle net groente moet eet, is dit reg. Jy kan maar trou. Dit is immers beter as om ’n ryk man te wees wat alles vir sy gesin kan gee, maar alewig met sy vrou baklei, of nooit by die huis is nie (Spr. 15:16-17, 17:1, 27:8).

 

7. Gaan oor tot aksie

Verskoon asseblief dat ek nóg ’n Martin Holdt-illustrasie gebruik, maar ek onthou so baie van die stories wat hy ons vertel het. Toe ek ’n student was, toe vertel hy ons van ’n jong man in Baberton wat met ’n meisie in Pretoria wou trou. Sy het nie in die man belanggestel nie, maar hoe meer sy dit vir hom gesê het, hoe meer het hy ’n oorlas van homself gemaak. Hy het aanhoudend vir haar gesê dat die Here hom gelei het om met haar trou. Toe sy dit egter nie meer kon uithou nie, toe gaan sien sy vir Martin Holdt.

         Die man weer Pretoria toe ry om haar te kom haal, toe verwys sy hom na Martin Holdt. Martin het hom na Gen. 24 verwys. ‘Onthou jy toe Abraham sy slaaf gestuur het om vir Isak ’n vrou te kry? het Martin gevra. Die man was opgewonde en het gedink dat Martin sy saak ondersteun. ‘Wel, luister wat sê Gen. 24:58: “Hulle het Rebekka geroep en haar gevra: ‘Wil jy saam met hierdie man gaan?’ Sy het geantwoord: ‘Ek wil gaan.’” Volgens die Bybel het Rebekka ook ’n sê gehad of sy met Isak wou trou, of nie. Duidelik wil hierdie vrou nie saam met jou gaan nie. Dit is dus beter dat jy omdraai en teruggaan Baberton toe!’

         As jy dink jy het die regte persoon ontmoet, moet jy vra of sy dieselfde as jy voel! Indien wel, kan jy oorgaan tot aksie. Dit help tog nie jy bid vir jare, maar doen niks om ’n maat te kry nie. Dit sal wees soos om vir jare vir werk te bid, maar nooit uit te gaan en ’n werk te soek nie. Volgens Rut 3 het Rut haarself mooi gemaak, en in die volgende hoofstuk het Boas die nodige reëlings getref om met haar te trou.

               Wat probeer ek sê? Dit is reg dat jy die saak mooi uitkyk, maar moenie jaar na jaar uitstel as daar beskikbare mense om jou is nie. “In alle harde werk is daar voordeel, maar ’n blote gepraat lei net tot gebrek.” (Spr. 14:23). Hoekom sal jy wag as jy ongetroude gelowiges ken? Is dit omdat jou standaarde te hoog is, sodat jy Bible Barbie, of Prince Charming verwag? Is dit omdat jy soos die wêreld bang is om jouself te verbind? Is jy bang jy trou met die verkeerde persoon en mis dan mnr., of mev. heelal vir wie jy jou lewe lank gewag het?

               Jy leef in ’n droomwêreld. Kry jouself in rat. Vra die enkel meisie en haar pa of jy ’n vriendskap met haar kan begin. As sy nee sê, vra iemand anders. En as jy die regte vrou ontmoet het, werk deur Wayne Mack se boek, Preparing for Marriage God’s Way.

              As jy aanhou draai, sal jy dalk op die einde die vrou verloor. Voor ek getrou het, was ek huiwerig om myself te verbind. Ek wou nie dadelik trou nie. Toe my pa dit agterkom, toe sê hy: ‘Don’t play games with Deirdrè. If you break up with her now, she might get fed up and move on. Within four months she’ll meet someone else and get married to him.’

              Ek besef dat dit nie ’n ligte saak is om te trou nie, maar dat jy mooi moet kies. Maar ek weet ook dat jy nie soos ’n ongelowige moet leef, asof jy nie ’n Vader in die hemel het nie. Het jou Vader jou nie alles gegee wat nodig is om ’n besluit te neem nie? My skoonma het my hierdie les geleer. Twee weke voor my troue, toe kry ek koue voete. Dit het vir Deirdrè ontstel. ’n Dag of wat later, toe stuur haar ma vir my ’n boodskap. ‘What is wrong with you? Where is your faith? Don’t you believe God’s promises? You don’t have to marry my daughter, but I’m telling you that if you break up with her now, you’ll never see her again...’

              Haar boodskap het my tot my sinne gebring. Net so hoop ek dat vandag se boodskap jou sal help om die regte besluit te neem. Die bal is in jou baan. Die vraag is wat jy daarmee gaan doen.


1  Rex Jefferies, The Man in the Gap: The Life and Ministry of Martin Petersen Holdt (Wapwallopen, PA: Shepherd Press, 2020), 122

2  https://www.ourdocuments.gov/doc.php?flash=false&doc=91&page=transcript

3  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

4  Richard Baxter, A Christian Directory (Morgan, PA: Soli Deo Gloria Publications, 2000 [1846]), 403

5  John Angell James in Jeff Pollard & Scott T. Brown, A Theology of the Family (Wake Forest, North Carolina: NCFIC, 2014), 261

6  https://www.iol.co.za/personal-finance/did-you-know-south-african-weddings-cost-around-r80-000-31805567

Kategorieë