Coram Deo Cover Image

Coming soon...

16 October 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: ADHD, Ritalin en die Bybel

Efesiërs 6:1

Volgens die Bybel moet ouers hulle kinders dissiplineer. In die vorige preek het ons gesien dat dit pak slae insluit.

Wat as my kind regtig nie stout is nie, maar ADHD het? ADHD staan vir Attention Deficit Hyperactivity Disorder. In Afrikaans is dit AAHS of AGHS: Aandagafleibaarheid Hiperaktiwiteitsindroom of Aandaggebrek-Hiperaktiwiteitsindroom. Dit verwys na iemand ’n kort aandagspan het en sukkel om te konstreer, na iemand wat hiperaktief en impulsief is (iemand wat haastig optree sonder om te dink) of na iemand wat aandagafleibaar en hiperaktief.

Wat sê die Bybel hiervan—hoe moet ouers sulke kinders opvoed?

 

1. Wat moet jy doen?

Toe my broer in die laerskool was, wou hy van die huis af wegloop. Hy het sy tas begin pak toe my ma sê: ‘Nee. Los die klere en die tas; ek het dit gekoop.’ Hy was tevrede om te gaan soos hy is. ‘Nee, jy gaan kaal,’ het sy gesê. Die klere aan jou lyf is ook myne.’ Nodeloos om te sê; hy wou nie meer wegloop nie.

Is jy nog van jou ouers afhanklik om vir jou kos en klere te koop? Dan is jy ’n kind en geld v.1 vir jou: “Kinders, wees in die Here aan julle ouers gehoorsaam, want dit is hoe dit hoort.”1 Wat beteken dit om jou ouers te gehoorsaam? As hulle sê jy moet 20:00 in die bed klim, kan jy nie besluit 20:30 is beter nie. As hulle sê: ‘Ruim jou kamer op,’ kan jy nie eers buite wil speel nie. Jy moet hulle in alles gehoorsaam (Kol. 3:20). Die Griekse imperatief beteken jy het nie ’n keuse nie; jy móét dit doen (v.1). Die Griekse werkwoord beteken ook dat jy dit aanhoudend en altyd moet doen. Om gehoorsaam te wees, beteken letterlik jy staan onder jou ouers, jy onderwerp jou aan hulle gesag, jy luister mooi wat hulle sê en jy doen dit (Gk. hupakouō). Moet dan nie ’n opdrag halfpad uitvoer, omdat jy liewer buite wil speel nie. Doen presies wat jou ouers sê. Gee jou beste, asof Jesus vandag by jou gaan kom kuier en jou werk gaan beoordeel.

Vir kinders om so te gehoorsaam, moet die ouers mooi verduidelik. As jou kind se aandag maklik dwaal, is dit nie genoeg om te sê: ‘Ruim die kombuis op’ nie. Jy moet sê: ‘Sit die glase in die wasbak. Vee die vloer met ’n mop en die tafel met ’n nat lappie.’ Laat jou kind jou in die oë kyk wanneer jy dit sê. Gee hom een taak op ’n slag. Vra hom om die opdrag te herhaal. Wys hom hoe hy die vloer en die tafel moet afvee, sodat hy dit in die vervolg self kan doen. Laat hom ’n tien minute breek vat voordat jy hom die volgende opdrag gee. Sit sy take teen die yskas, sodat hy dit kan onthou. Werk vir hom ’n roetine uit. Moet hom nie met te veel take oorlaai nie. Dissipline en struktuur is nodig om orde te handhaaf (v.4). ADHD kan nooit ’n kind se wanorde of ongehoorsaamheid verskoon nie (v.1).

Wat as jou kind nie opstandig is nie, maar net sukkel om opdragte reg uit te voer? Help hom. As bognoemde voorstelle nie werk nie, vat hom vir ’n vol mediese ondersoek. Dit mag wees dat hy gehoor of sig probleme het. Daarom hoor hy nie jou opdragte nie en voer hy dit verkeerd uit. Hy sukkel om te sien wat die juffrou op die bord verduidelik.

Of miskien het hy ’n ooraktiewe skildklier wat hiperaktiwiteit veroorsaak.2 Dalk het hy ’n mate van autisme of breinskade. Het jy gerook of dwelms en alkohol gebruik toe jy swanger was? Asem jou kind giftige walms in, omdat julle die huis verf? Al hierdie dinge kan jou kind se konsentrasie beïnvloed. Dit is nie dat hy ongehoorsaam wil wees nie, maar hy verstaan nie die opdragte nie. In daardie geval het hy mediese hulp nodig.

Indien jy hierdie moontlikhede uitskakel, moet jy jou kind selfdissipline leer (v.4). Om dit reg te kry, moet jy jouself eers dissiplineer. Jy kan nie van jou kind verwag om ordelik en georganiseerd te wees as jou lewe, huis, voorkoms, gesin, verhoudings, gewoontes en werk lyk of ’n atoombom dit getref het nie. Jy moet jouself dissiplineer. Hiervoor moet jy gered wees. Ongelowiges kan in sekere areas dissipline hê, maar oor die algemeen is hulle slawe van hulle liggaamlike drange en sintuie (Hand. 24:25, Ef. 2:3, 4:19, 22, 1Pet. 4:3, 2Pet. 1:4). Sonder die Heilige Gees, kan jy jouself nie in toom hou nie. Vra die Gees om jou te wederbaar en jou lewe te vul, sodat jy jouself kan beheer (5:18, Gal. 5:22-23). Dit geld ook vir kinders. As Jesus jou Verlosser is en die Heilige Gees in jou woon, kán jy jou ouers en onderwyser se opdragte uitvoer. Jy kán vir jouself sê:

Ek gaan luister wat juffrou in die klas sê en nie aan ander dinge dink nie: pouse, ’n klimraam of ’n unicorn wat oor ’n reënboog spring (Spr. 2:1-2, 18:15, 22:17, 23:12, Jak. 1:19). Daar is ’n tyd om te werk en ’n tyd om te speel (Pred. 3:1 e.v.).

Ek gaan nie my werk aframmel nie; ek gaan my beste vir Jesus gee (Spr. 10:4, 12:24, 21:5, 22:29, 1Kor. 10:31). Om deurmekaar te wees, is nie goed nie (Gen. 2:15, 3:18, Spr. 24:30-34).

Ek gaan nie op die banke spring nie. As dit pouse is, kan ek lekker buite speel (Rom. 6:13, 1Kor. 9:27, 1Tim. 4:8).

Ek gaan nie aanhoudend praat of die antwoord uitblaker nie. Ek sal wag tot juffrou klaar gepraat het en dan my hand opsteek (Jak. 1:19, Spr. 10:8, 19, 15:28, 17:27-28, 18:2, 13).

Ek gaan nie voor in die ry indruk nie. Ek gaan wag totat dit my beurt is en ander mense ’n kans gee om eerste te gaan (Fil. 2:3-4).

Die Bybel sê ek moenie lui wees om te dink nie. Ek moet die brein gebruik wat die Here my gegee het (Luk. 10:27, Fil. 4:8, 2Tim. 2:7, 1Pet. 1:13).

Ek gaan altyd my goed op dieselfde plek bêre, sodat ek dit nie maklik verloor nie. Die Bybel sê ons moet in alles ordelik wees (1Kor. 14:40). 

As ’n kind vol energie en altyd aan die beweeg is, moet jy die tyd wat hy op ’n skerm deurbring tot die absolute minimum beperk (15 minute per dag is genoeg). Rekenaars en selfone maak jou kind se brein lui en vertraag sy vermoë om te konsentreer. Laat hom liewer buite speel. Toe my kinders klein was, het hulle soms te woelig geraak. My vrou het hulle sewe keer om die huis laat hardloop. Doen iets soortgelyk met jou kind. Koop vir hom ’n aktiewe hond wat hom sal moeg maak. Laat hom sport doen. Lees baie boekies as hy klein is en laat hy oudio stories luister. Dit sal hom leer om op te let, te luister en sy verbeelding te gebruik. Om legkaarte te bou, skaak en lego te speel sal sy konsentrasie- en breinvermoë ontwikkel.

’n Gebalanseerde dieet sal ook help. Ek bedoel nie dat suiker of sekere kleurstowwe kinders hiperaktief maak nie. Dit is ’n onwetenskaplike wolhaarstorie.3 Tog is dit ’n feit dat te veel kafeïen kinders hiperaktief kan maak.4 Dit het met een van my vriende se seun gebeur. Toe sy kind klein was, het hy Coke gedrink. ’n Rukkie later toe hardloop hy soos ’n springhaas in die huis rond. Hy het selfs oor die banke gespring. Vir sy klein lyfie was die kafeïen te veel. Moet dan nie vir jou kind Red Bull, Monster, Play, Dragon, sterk koffie gee nie. Jy kan nie verwag hy moet stilsit en oplet as jy dit verhinder nie.

’n Psigiater sal voorstel dat jy jou kind op Ritalin, Dexedrine, Cylert of ander stimulante sit. Hierdie middele kan egter verslawing, vertraagde groei, ’n omgekrapte maag, hoofpyne, slaaploosheid en lewerprobleme veroorsaak.5 Hoekom wil enige ouer sy kind op hierdie pille sit? Psigiaters doen dit, omdat ADHD volgens hulle deur ’n probleem in die brein veroorsaak word (moontlik ’n chemiese wanbalans). Daar is geen bewyse hiervoor nie. Dit is ’n teorie eerder as ’n feit.6 Daarom word ADHD nie deur middel van mediese toetse diagnoseer nie. Hulle doen geen x-strale, EKG’s, CT of MRI skanderings nie. Hulle trek nie bloed nie. Daar is doodeenvoudig geen bewyse dat daar iets met die liggaam of brein verkeerd is nie. Die American Psychiatric Association erken dit: ‘There is no lab test to diagnose ADHD.’7 Edward Welch sê: ‘Ritalin does not treat any known chemical deficiency in a child’s brain. No one needs Ritalin... Ritalin-type drugs act like aspirin: they suppress symptoms in some people, but they are not a cure.’8

Psigiaters werk volgens simptome.9 As jy ses of meer van die volgende simptome het, as dit lankal by jou teenwoordig is, as jy dit in twee of meer omgewings ervaar (bv. by die huis en by die skool), as dit jou lewe en werk affekteer, as jy dit voor 12-jarige ouderdom ontwikkel het, word jy as aandagafleibaar gediagnoseer:

  • Jy let nie op detail nie en maak onnodige foute in jou skoolwerk of take.
  • Jy bly nie gefokus op take of die onderwyser nie.
  • Jy dagdroom as jou ouer of onderwyser praat.
  • Jy het ’n spul onafgehandelde take.
  • Jou werk is wanordelik en ongeorganiseerd.
  • Jy verpes take wat dinkwerk vereis.
  • Jy is agterlosig en verloor noodsaaklike items.
  • Jou aandag word maklik weggelei.
  • Jy vergeet jou daaglikse take.

Indien jy ses of meer van die volgende simptome het, word jy as hiperaktief en impulsief gediagnoseer:

  • Jy vroetel.
  • Jy sit nie stil in die klas of by die werk nie.
  • Jy hardloop of klim as dit onvanpas is.
  • Jy raas en kan nie rustig speel nie.
  • Jy is altyd aan die beweeg.
  • Jy praat te veel.
  • Jy blaker die antwoorde uit nog voor jy die vraag gehoor het.
  • Jy kan nie jou beurt afwag nie.
  • Jy onderbreek mense se gesprekke en speletjies. 

Volgens die Bybel spruit ’n mens se dade uit die hart (Spr. 4:23). Die simptome van ADHD dui nie op ’n fout in die kind se brein nie, maar in sy hart: “Reeds aan sy dade laat ’n jong man hom ken, of wat hy doen, suiwer en reg is.” (Spr. 20:11). Derhalwe lê die oplossing vir ADHD nie in pille nie, maar in die Heilige Gees, weergeboorte, Bybelse ouerskap, die Bybel en gebed. Wat kan Ritalin doen wat die Here nie kan nie?

Al toon navorsing ook in die toekoms dat ADHD ’n mediese probleem is, moet ons nog steeds die Bybel gehoorsaam. Geen siekte kan maak dat jy sonde doen nie. Sonde het sy oorspring in die hart eerder as in die liggaam of die brein (Matt. 15:19). Gevolglik moet ’n kind sy ouers gehoorsaam, al is dit ’n siekte waarmee hy sukkel. Toe my dogter omtrent drie jaar oud was, het ek vir haar gesê om ’n tannie te groet. Sy wou nie. Toe ek haar beveel, het sy begin huil: ‘Maar my knie is seer!’ Ek het mooi verduidelik dat ’n seer knie haar nie verskoon om goeie maniere te hê nie.

Al wanneer jou kind ongehoorsaam mag wees, is as jy of ’n gesagsfiguur hom beveel om teen die Here te sondig (Hand. 4:19, 5:29).

 

2. Hoekom moet jy dit doen?

Isabel se boetie sê vir haar: ‘Ma sê jy moet jou hande was en kom eet.’ Wie het dit eintlik vir haar gesê? Haar ma. Haar boetie was maar net die boodskapper. Dit is wat dit beteken om jou ouers in die Here te gehoorsaam (v.1). Jou ouers is maar net die boodskapper wat jou die Bybel leer en vir jou sê wat die Here sê (v.4). Deur jou ouers te gehoorsaam, gehoorsaam jy die Here. Op jou eie kan jy dit nie regkry nie. Die Heilige Gees moet jou help. Hy moet jou in ’n nuwe mens verander wat nie rebels is en sy eie kop volg nie. Hy moet jou harde hart uithaal en jou ’n sagte hart gee wat dadelik sal luister wanneer Hy praat (Eseg. 36:26-27). Hy moet in jou woon, sodat jy gehoorsaam kán wees as jou ouers jou die Bybel leer (v.1, 5:18, Fil. 2:12-13, Heb. 8:10).

Het jy al die Heilige Gees gevra om beheer van jou hart, lewe en gedagtes oor te neem? Hoekom vra jy Hom nie nou nie? Hy sal jou help om nie meer jou eie baas te wil wees nie, maar om Jesus die Here of Baas van jou lewe te maak (v.1). Hy sal jou wys dat Jesus die Vriend van kinders is (Luk. 18:15-17).

Twyfel jy of Jesus jou Vriend wil wees, veral omdat jy baie sonde doen deur nie vir jou ouers of juffrou te luister nie? Jesus is nie net die Vriend van kinders nie; Hy is die Vriend van sondaars (Luk. 7:34). Om sondaars van hulle sonde, die dood en die hel te red, is nie net iets wat Jesus dóén nie—dit is wie Hy ís: Hy ís die Verlosser van sondaars (Joh. 4:42, 1Tim. 1:15, 1Joh. 4:14). Sê vir Hom dat jy ’n sondaar is en vra Hom om jou te Vriend wees. Sê vir Hom dat jy ook sy vriend wil wees. Dit is een van die redes hoekom Hy aan die kruis gesterf het (Joh. 15:13-15).

Jesus sal jou gebed verhoor as jy dit bedoel. Ek weet dit, omdat Hy die eerste stap geneem het om aarde toe te kom, vir ons sonde te sterf en ons te red. Verlossing is nie iets wat ek en jy doen nie; dit is iets wat Jesus gedoen het. Hy het ons van ongehoorsaamheid kom red: ongehoorsaamheid aan ons ouers en ongehoorsaamheid aan Hom.

Hoekom moet jy Hom en jou ouers gehoorsaam? Is dit omdat jy nie wil pak kry of hel toe gaan nie? Is dit omdat jy ’n hondjie, ’n fiets, sjokolade of geld wil hê? Nee. Jy moet die Here en jou ouers gehoorsaam, want dit is reg (v.1). Om buite rond te hardloop as jou ma gesê het jy moet inkom, is verkeerd. En om verkeerd te doen, is sonde (1Joh. 5:17). Sonde moet gestraf word (Rom. 6:23). Dit help nie jy sê vir die Here jy het ADHD gehad nie. Hy was bereid om jou Verlosser en Vriend te wees; om jou te help om reg te doen, maar jy wou nie. Jy wou jou eie baas wees.

Ek weet jy sukkel om stil te sit, te konsentreer en opdragte uit te voer. Maar Jesus kan jou help. Dit is nie nodig om te glo jy het ADHD en kan nooit verander nie. Psigiaters sê: ‘...some people never completely outgrow their ADHD symptoms... While treatment won’t cure ADHD, it can help a great deal with symptoms.’10 Die Bybel leer anders. Jesus verander sondaars; Hy is beter as Ritalin.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  https://www.nhsinform.scot/illnesses-and-conditions/glands/overactive-thyroid en Edward T. Welch, Blame it on the Brain? (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1998), 142

3  Robert Smith (M.D.), The Christian Counselor’s Medical Desk Reference (Stanley, NC: Timeless Texts, 2000), 143-4

4  https://www.livescience.com/36164-caffeine-bad-kids.html

5  Smith, ibid., 148

6  Ibid., 143, 145, 148

7  https://www.psychiatry.org/patients-families/adhd/what-is-adhd

8  Welch, ibid., 142-4. Welch het sy doktorsgraad in neuro-sielkunde verwerf.

9  American Psychiatric Association, Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders: Fifth Edition (Washington: American Psychiatric Publishing, 2013), 59-60

10  https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/adhd/symptoms-causes/syc-20350889

Kategorieë