Coram Deo Cover Image

Coming soon...

29 July 2023

Die vrug van die Gees: Goedheid

Galasiërs 5:22

Kan mense goed wees sonder God? Richard Dawkins, die befaamde ateïs, sê ja. Ongelowiges soos Bill Gates gee miljoende dollars om arm kinders in Afrika te help. Almal van ons ken morele, ordentlike, gemanierde, vriendelike, gawe, goeie ongelowiges. Matt. 7:11 praat van slegte mense wat goed doen. God het die mens na sy beeld gemaak (Gen. 1:26-27), daarom het ons die vermoë om goed te doen.

Maar dit is alles uiterlik. Die Bybel beskryf die mens se hart as volg: “Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan?” (Jer. 17:9).1 “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom. 3:10-12). “Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie.” (Rom. 7:18).

Wie waarlik goed wil wees, benodig God.

 

1. Ons goeie God

Jan besit ’n winkel. Vir sy produkte om op standaard te wees, moet hulle ’n sekere toets deurstaan. Indien hulle oor hierdie kwaliteite beskik, kry hulle die SABS waarmerk.

God is nie so nie. Hy voldoen nie aan iemand se standaard van goedheid nie. Hy ís die standaard. Sy wese is goed (Eks. 33:19, Luk. 18:19). Uit die goeie God kom goedheid (Ps. 119:68). Ons sien dit in Gen. 1:31: alles wat God gemaak het, was baie goed. Sy onderhouding van die skepping is goed. Elke goeie gawe kom van Hom af; sy goedheid is oor al wat Hy gemaak het (Ps. 145:9, Jak. 1:17).

Sy wet is ook goed (Rom. 7:12). Jesus openbaar God se goedheid in mensevorm. Hy is volmaak goed (Heb. 7:26). Toe Jesus op aarde was, het Hy oral rondgegaan en goed gedoen (Hand. 10:38). Daarna het die goeie Jesus vir slegte sondaars gesterf (Joh. 10:11, 1Pet. 3:18).

Besef jy jy is een van hulle? Jou hart is sleg. Kry jy skaam oor die dinge wat jy in jou verlede gedoen; dinge wat so lelik is, jy kan dit nie noem nie? Bely jou sonde en dank God vir sy goedheid in Christus: “Prys die Here, want Hy is goed—want vir ewig duur sy troue liefde.” (Ps. 136:1). Vra dat God se Gees jou met goedheid vervul (v.22). Bid dat Hy ’n goeie werk in jou begin en dit tot by die wederkoms voortsit (Fil. 1:6).

Dink jy jy’s nie so sleg nie? Jou hart, gedagtes, gewete, verlede, en die alwetende God getuig teen jou. Solank jy jou sondige hart ontken, bly die kruis vir jou niks meer as ’n simbool nie. Ek kan met vrymoedigheid sê Jesus het nie vir jou gesterf nie. Jy het immers sopas gesê jy is nie sleg nie, terwyl die Bybel sê Jesus het vir slegte mense gesterf. Dan het Hy mos nie vir jou gesterf nie, of hoe?

Eers as jy jou sonde bely, word die kruis vir jou ’n plek van hoop, vergifnis en verlossing. Wie sy sonde die duidelikste sien, sal dit bely en vergewe word. Dan sal jy God se goedheid die meeste liefhê (Luk. 7:47).

’n Paar jaar gelede het ek dit in die praktyk gesien. ’n Man het iets baie lelik gedoen. Toe sy sonde aan die lig kom, het hy diep berou gehad. Hy het hom bekeer en sy sonde bely. Daarna het Dawid se belydenis in Psalm 51 ’n diep indruk op hom gemaak. God se genade was vir hom kosbaar.

What love could remember no wrongs we have done?
Omniscient, all knowing, He counts not their sum;
Thrown into a sea without bottom or shore!
Our sins they are many, His mercy is more.

What patience would wait as we constantly roam?
What Father, so tender, is calling us home?
He welcomes the weakest, the vilest, the poor;
Our sins they are many, His mercy is more.

What riches of kindness He lavished on us?
His blood was the payment, His life was the cost.
We stood ’neath a debt we could never afford;
Our sins they are many, His mercy is more.

Praise the Lord, His mercy is more!
Stronger than darkness, new every morn;
Our sins they are many, His mercy is more.2

Wie baie vergewe is, vir hom is God se goedheid soos die Kaapse berge en wingerde; hy word nie moeg daarvoor nie. Hoe meer hy Christus se goedheid in die Bybel sien hoe meer word hy self so (2Kor. 3:18).

 

2. God se goeie mense

Toe ek onlangs die evangelie met iemand deel, toe sê hy: ‘Ek is ’n goeie mens.’

‘Het jy al ooit gelieg?’ het ek gevra.

‘Ja, baie.’

‘Het jy al ooit egbreuk gepleeg?’

‘Ja.’

Na ons gesprek toe sê hy: ‘In geheel is ek dan op die regte pad.’ ‘Nee! In geheel is jy op die verkeerde pad,’ het ek gesê.

Die man se selfbeskouing is nie ongewoon nie. Spr. 20:6 sê: “Baie mense verklaar hulle lojaliteit, maar ’n werklik betroubare man—wie sal hom vind?”

Ons sê maklik dat mense goed is. ’n Ma sal van haar losbandige kind sê: ‘Diep binnekant is hy ’n goeie mens.’ Ons sê dit, omdat ons die Bybel en die mens se natuur sleg ken. Die mens se slegte woorde, gedagtes en dade spruit uit ’n slegte hart (Spr. 20:11, 27:19, Matt. 15:19). Mense dóén sleg, want hulle ís sleg (1Sam. 24:13, Matt. 12:33-35). Insekdoder, kunsmis en baie water maak nie ’n slegte boom goed nie. Net so word jy nie ’n goeie mens omdat jy ophou rook, drink, vloek, rondslaap, leuens vertel en skinder nie.

Wil jy goeie vrugte dra? Jy benodig ’n nuwe hart deur die Heilige Gees (v.22, Eseg. 36:26, Luk. 8:15, Ef. 5:9, 14). Daarna kan jy deur die Gees die goggas en siektes wat jou lewensboom teister, doodmaak, sodat die goeie vrugte vermeerder (v.22, Rom. 8:13).

Hoe doen ’n mens goed? Deursoek die Bybel vir wysheid om goed te doen (2Tim. 3:16-17, Jak. 3:17). Dit klink basies, maar doen jy dit? Hou jy stiltetyd, of lê jou Bybel soos ’n vergete paar skoene in die kas? Hoe lees jy jou Bybel? Ek ken ’n man wat elke dag sy Bybel lees, maar soos die duiwel leef. Hy erken ruiterlik hy is nie gered nie.

Dit is nie genoeg dat jy die Bybel lees nie. Om goeie vrug te dra, moet jy Jesus in sy Woord ontmoet (Joh. 15:5). Om goeie vrug te dra, moet jy jou gedagtes op ewige dinge rig. 2Tess. 2:16-17 sê: “En mag ons Here Jesus Christus self, en God, ons Vader, wat ons liefhet en uit genade aan ons blywende bemoediging en goeie hoop gee, julle harte bemoedig, en vir elke goeie daad en woord versterk.” (eie beklemtoning).

Party mense sê: ‘Don’t be so heavenly-minded that you are of no earthly good.’ Die waarheid is dat mense wat hulle gedagtes op Christus rig, die meeste goed doen (Kol. 3:2). Die Verenigde Nasies se humanitêre werk vervul mense se tydelike behoeftes, maar doen niks vir hulle ewige welstand nie. Party mense help nie eers tydelik nie, maar fokus net op hulleself. Hulle bestee meer tyd en geld aan oefening, gesond eet en ’n mooi voorkoms as aan goeie werke. 1Tim. 2:9-10 sê: “So ook moet die vroue hulleself versier met behoorlike kleredrag, beskeie en sober, nie met haarvlegsels en goud of pêrels of duur klere nie, maar—soos dit vroue pas wat bely dat hulle God aanbid—met goeie werke.”

Daar is genoeg mooi vroue in die wêreld. Hoeveel van hulle is soos Dorkas en ander toegewyde vroue vir hulle goeie werke bekend (Hand. 9:36, 1Tim. 5:10)?

Daar is genoeg mans met baie geld. Hoeveel van hulle is daarvoor bekend dat hulle rein is en goeie werke doen (Hand. 11:23-24, 2Tim. 2:21)?

Daar is genoeg suksesvolle jongmense met ’n blink toekoms. Hoeveel van hulle is bekend vir hulle goeie werke? Hoeveel van hulle is soos my vriend se tienerseun wat ongereddes met die evangelie wil beïnvloed? Hoeveel soek hulle naaste se ewige voordeel?

Wees anders as die wêreld. Laat mense jou goeie werke by die huis, in die kerk en by die werk sien (Tit. 1:8, 2:5, 7, 10, 14, 3:1, 8, 14). Bid vir geleenthede om goed te doen (6:10, Kol. 1:10, 2Tess. 1:11). Waar kan jy ’n goeie woord spreek, iemand bemoedig of vir hulle raad gee (Rom. 15:14, Ef. 4:29)?

Waar kan jy mense wat jou kwaad aandoen, moet die goeie vergeld (Rom. 12:21, 1Tess. 5:15)? Ongelowiges doen dit nie. Toe die hof ’n geskeide man beveel om onderhoud te betaal, toe doen hy dit met muntstukke. Hy het die geld in ’n kruiwa gelaai en op sy gewese vrou se grasperk uitgegooi.3

Waar kan jy jou geld gebruik en aan mense goed doen (2Kor. 8:9, Ef. 4:28)? Mense hoef nie te weet dit is jy nie. Ons gee nie soos The Gift of the Givers dat almal moet weet hoeveel ons gee nie (Matt. 6:1-2). Ons gee liewer om God te behaag en mense te help (Matt. 6:3-4). As mense per ongeluk uitvind ons gee, moet hulle ons Vader in die hemel verheerlik (Matt. 5:16).

Dit beteken nie jou goeie werke gaan ongesiens verby nie. As Jesus weer kom, sal Hy jou beloon (Matt. 25:21, 23, Rom. 2:7, 10, 2Kor. 5:10). Ek bedoel nie dat goeie werke jou red nie (Rom. 3:28). Maar dit wys dat jy God ken: “Wie goed doen, is uit God...” (3Joh. 11). Wys jou goeie vrugte dit? Of dra jy slegte vrugte? Bely jou sonde en beroep jou op die perfekte boom van Jesus se lewe. Vir ons sonde het God sy Seun getref soos ’n weerlig ’n boom tref. Hy het Jesus soos ’n boom afgekap (Matt. 3:10, Jes. 53:4-6, 10). Na drie dae het Jesus opgestaan en het daar lewe uit die boom gespruit. Deur geloof sal die Gees Christus se lewe in jou plant, sodat jy goeie vrugte dra (v.22, Joh. 15:4, Fil. 1:11). Die mense naaste aan jou sal eerste die verandering sien. Die vrug van goedheid begin nie oorsee of by liefdadigheid nie. Dit begin by die huis.

John MacArthur vertel van ’n predikant in Noorweë wat sy gesin afgeskeep het. Toe sy baba seuntjie oorlede is, toe gee hy die kind se klere vir die armes. Sy vrou het een truitjie gehou. Toe haar man dit sien, toe vat hy dit by haar weg. Dit was haar enigste aandenking, maar haar man het gesê die armes het dit meer nodig.

Dit is nie hoe Christene goeie werke doen nie. ‘Charity begins at home.’ Jerry Bridges sê: ‘If we are out doing good deeds for others while neglecting the needs of our spouse, our parents, or our children, we are not practicing the grace of goodness... It is a lot easier to clean up after a weekend conference than to clean out Dad’s garage back home. Somehow it seems more spiritual to baby-sit some other lady’s children for free than to help Mom with the dishes after Sunday dinner.’4

Sê dié wat jou die beste ken dat jy goeie vrugte dra? Is jou lewe vol goeie dade?


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Matt Papa & Matt Boswell

3  Jay E. Adams, How to overcome evil (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1977, 2010), 92.

4  Jerry Bridges, The Practice of Godliness (Colorado Springs, Colorado: NavPress, 2001), 195.

Kategorieë