In The Secrets of Jonathan Sperry praat mnr. Sperry met ‘n paar jong seuns oor die Here. Een van die jong seuns, Albert, is nie beïndruk nie en sê: ‘Ja, die Bybel sê alewig: “Moenie dit doen nie” en “Moenie dat doen nie.”’ Mnr. Sperry se reaksie was: ‘Ek sien dit nie so nie. Alles in die Bybel is daar om ons lewens beter te maak. Die Bybel sê: “Moenie steel nie.” Wil jy hê iemand moet by jou steel Mark? Nee? Ek reken dan dat dit ‘n goeie ding is. Die Bybel sê: “Moenie lieg nie.” Wil jy hê iemand moet vir jou lieg Albert? Nee? Ek reken dan dat dit goeie ding is, of hoe?’ Albert se reaksie was: ‘Ek het nog nooit só daaroor gedink nie.’
Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Matteus 7:12). Dit is presies hoe ons oor die Tien Gebooie in Eksodus 20:12-17 moet dink – as ‘n uitdrukking van liefde vir jou naaste (Romeine 13:9).
Die vyfde gebod (v.12)
Eer jou pa en jou ma. Om jou ouers te eer is om hulle te vrees en te respekteer (Levitikus 19:3). Dit is ‘n gesindheid wat lei tot dade van gehoorsaamheid. Omdat dit eerste ‘n gesindheid is, kan ‘n kind gehoorsaam optree, maar rebels wees in sy hart. Kinders moet daarom selfs met hulle oë, stemtoon, liggaamshouding, en gesindheid respek wys (Spreuke 30:17). Ek het onlangs gesien hoe ‘n klein kind sy oë gerol het vir sy ma. Dit was duidelik dat hy haar nie geëer het nie.
Natuurlik is dit nie net kleiner kinders wat hulle ouers moet eer nie, maar selfs jong mense wat die huis verlaat het, en volwasse kinders wie se ouers al oud en grys is (Matteus 15:4-6, Efesiërs 6:1-3, Kolossense 3:20).
Vir klein kinders is dit belangrik om te weet dat jý die gesag in hulle lewe is. As hulle jou gesag uitdaag moet jy hulle straf. Leer vir hulle om uit liefde vir God aan jou gehoorsaam te wees (Efesiërs 6:1, Kolossense 3:20). Hulle moenie gehoorsaam wees omdat jy hulle laat skuldig voel, hulle intimideer, of omdat hulle ‘n beloning soos lekkers soek nie. Dit is reg dat jy met jou jong kinders moet speel. Maar moenie toelaat hulle jou as ‘n maatjie sien of dat hulle jou slaan nie.
Tieners en jong mense moet nogsteeds hulle ouers eer. Hulle het nie die reg om ‘cheeky’ te wees of teen jou gesag te rebeleer nie (Spreuke 30:11). Dalk het jy altyd fout gevind of was jy te streng, en is jý die oorsaak dat hulle vandag rebels is (Efesiërs 6:4, Kolossense 3:21). In só ‘n geval moet jy hulle en die Here se vergifnis vra.
As jy egter jou kinders reg grootgemaak het, en hulle nogsteeds rebels is, moet jy die regering se hulp vra. God het polisie en ander staatsinstansies daargestel om sulke sake te hanteer (sien Deuteronomium 21:18-21). Onthou jy hoe die polisie in die ou dae rebelse tieners met ‘n rottang geslaan het?
Volwasse kinders moet ook hulle ouers eer (Jeremia 35, Spreuke 23:22, Matteus 15:4-6, 1 Timoteus 5:3-8). Jy het nie die reg om lelik te praat met jou bejaarde ma, jou pa by jou huis weg te jaag, jou ouers af te skryf, hulle te vloek, jou ma te slaan nie (21:15, 17, Spreuke 19:26). Ek weet van ‘n man wat sy bejaarde ouers by sy huis weggejaag het, en het op RSG gehoor hoe ‘n ander inbel en sê: ‘Ek slaan my ma.’ Al het jou ouers ook Alzheimers moet jy hulle respekteer. Moenie jou ouers by die tehuis vir bejaardes aflaai en van hulle vergeet nie. Dawid het vir sy ouers gesorg en Jesus ook (1 Samuel 22:3, Johannes 19:26-27).
Ons teks sê dat jy jou vader en jou moeder moet eer. Jy moet dit veral onthou as jou ouers geskei is en jy by een van hulle bly.
Wie is die ouers vir wie jy respek moet hê? Dié gebod geld nie net vir biologiese ouers nie, maar ook vir stiefouers (Lukas 2:51), aanneemouers, huisouers in die koshuis of weeshuis, peetouers (Ester 2:7, 20), skoonouers (Miga 7:6), grootouers (1 Timoteus 5:3, 8), ou mense in die kerk (Levitikus 19:32, 1 Timoteus 5:1-2), leiers in ons land, kerke, skole, en werkplekke.
Onderwerp jou aan die gesag wat oor jou gestel is. Jy mag nie vir jou stiefpa sê: ‘Jy is nie my pa nie en kan nie vir my sê wat om te doen nie!’ Moenie toelaat dat jou kind so praat met jou huweliksmaat nie. As hulle disrespekvol is moet daar gevogle wees (Spreuke 22:15, 29:15).
‘n Kollega se tweede vrou het vir sy seun ‘n opdrag gegee. Hy het gesê: ‘Jy is nie my ma om vir my te sê wat ek moet doen nie.’ Toe hy ná skool by die huis kom het hy gevra: ‘Waar is my kos?’ Sy het gesê: ‘Ek is nie jou ma nie en hoef nie vir jou kos te maak nie.’
Eer jou ouers. Pasop egter dat jy hulle nie meer liefhet as vir God nie. As jy tussen jou ouers en die Here moet kies, moet jy die Here kies (Lukas 14:26, Handelinge 5:29).
Hoekom moet jy jou ouers eer? ‘n Kind wat nie sy ouers eer nie, sal ook nie vir ander luister nie. Later in die lewe sal dit lei tot groot probleme. Respek vir ‘n mens se ouers is die eerste gebod wat te doen het met medemens verhoudings. Alle ander verhoudings in die samelewing (gebooie 6-9) sal reg wees as ons verhouding met ons ouers (gebod 5) reg is. ‘n Samelewing vol van korrupsie, misdaad, bedrog is ‘n samelewing waar kinders nie hulle ouers eer nie.
As jy jou ouers eer sal jy lank lewe (v.12, Efesiërs 6:3). Natuurlik is daar uitsonderings op die reël, maar dié belofte geld in die algemeen. Soms tref die Here rebelse kinders deur bonatuurlike ingrype, maar gewoonlik sterf hulle deur die normale gevolge van hulle optrede. ‘n Rebelse kind wat nie vir sy ouers luister nie en dronk word, met ‘n kar jaag, dwelms gebruik, rondslaap, slegte vriende het, en roof sal waarskynlik verongeluk, in ‘n geveg betrokke raak en met ‘n mes gesteek word, aan ‘n oordosis van dwelms sterf, VIGS kry, doodgeskiet word, ensovoorts.
Die lang lewe praat nie van ‘n lang maar misrabele lewe nie. Dit verwys na ‘n lewe van vrede en geluk (Deuteronomium 5:16). As jy help om ‘n samelewing te bou wat omgee vir ou mense sal jy self die vredevolle vrugte pluk as jý eendag oud is.
Jy sal ook lank (vir ewig) lewe op die nuwe aarde. Jesus het ons ongehoorsaamheid (ook ongehoorsaamheid aan ons ouers) op Homself geneem aan die kruis. Hy het sy aardse ouers en hemelse Vader geëer en onder andere dié geregtigheid op ons rekord geplaas. Nou verander Hy ons harte, sodat ons ons ouers wíl eer.
Die sesde gebod (v.13)
Moenie moord pleeg nie. Manslag, doodstraf, selfverdediging, oorlog, jag, en bosbou is nie moord nie (22:2, Numeri 35, Genesis 9:6, Romeine 13:4, Deuteronomium 20, Levitikus 24:17-18). Die Bybelse definisie vir moord is ‘n kwaadwillige en beplande daad waarin jy iemand doodmaak (Numeri 35:20-21).
Laasjaar het mense op RSG se Loslip ingebel en gesê dat moord dikwels op die ingewing van die oomblik plaasvind. Dit is nie heeltemal waar nie. Die daad mag dalk onverwags plaasvind, maar haat en bitter gedagtes broei al lankal.
Ons almal wil iemand uit ons lewens hê. Om dit reg kry sal jy hulle haat, ignoreer, uitskuif, afskryf, slegsê, beskinder, vloek, uitskel, slaan, bitter of kwaad wees, weier om hulle te vergewe. Volgens Jesus en Johannes is dit moord (Matteus 5:21-22, 1 Johannes 3:15).
‘n Seuntjie het gesukkel om sy reënjas op die hakkie te kry. Uiteindelik het hy dit reggekry. ‘n Meisie het gekom en sy reënjas afgehak om hare op te hang. Hy was woedend. Sy ma het dit gesien en vir haar seun gesê: ‘Dink jy dit sal reg wees om die meisie dood te maak?’ ‘Nee,’ het hy gesê. ‘Wel, volgens die Bybel het jy nou-net moord gepleeg in jou hart,’ het sy ma gesê.
Met verwysing na v.13 sê die ESV voetnota: ‘The Hebrew word [for murder] also covers causing human death through carelessness or negligence.’ Iemand wat dus nalatig is met ander se lewens pleeg ook moord. ‘n Man wat byvoorbeeld dronk bestuur en kind dood ry is skuldig aan moord.
Deesdae heers daar debat oor dié vorme van moord:
GENADEDOOD
Genadedood is moord (iemand het baie gepas gepraat van ‘genademoord’). Aktiewe genadedood gebeur byvoorbeeld as ‘n dr. ‘n pasiënt inspuit sodat hy sterf. Passiewe genadedood is as die dr. of familie byvoorbeeld die pasiënt van medisyne ontneem wat sy of haar lewe drasties kon verleng. Beide aktiewe en passiewe genadedood is moord.
Om egter toe te laat dat iemand sterf is anders. As die dr. of familie byvoorbeeld die sterwende persoon se medikasie wegvat, sodat die sterwensproses nie onnodiglik uitgerek word nie, is dit nie moord nie. Sodra die medikasie verwyder word, sterf die persoon binne ‘n kort tyd daarna.
‘n Man het vir my vertel dat hulle dit met sy skoonpa gedoen het. In ‘n ander geval het hy sy kind se masjiene laat afskakel. Persoonlik dink ek dat die eerste geval reg was, maar dat die tweede geval passiewe genadedood was.
Ons moet onthou dat verligting van pyn nie ons grootste doel is nie. Ons hoogste doel is om, ten spyte van ons pyn, die Here te verheerlik.
SELFMOORD
Geen moordenaar het die ewige lewe in hom nie (1 Johannes 3:15). Die meeste mense wat dan selfmoord pleeg is ongered. Tog moet ons nie dink dat selfmoord die onvergeeflike sonde is, of dat iemand wat dit pleeg outomaties hel toe gaan nie.
Ek het gehoor hoe ‘n man by ‘n Bybelstudie sê dat iemand wat selfmoord pleeg dadelik hel toe gaan. Volgens Romeine 8:38-39 kan niks ‘n ware gelowige skei van God se liefde nie. Ek het laas naweek ‘n begrafnis bygewoon van ‘n ware gelowige wat selfmoord gepleeg het.
Maar ons moet erken dat selfmoord ‘n aaklige, selfsugtige, en skandelike sonde is (1 Samuel 31:4-5, Matteus 27:5, Rigters 9:54, 2 Samuel 17:23, 1 Konings 16:18-19). Iemand wat selfmoord pleeg beskuldig God vir sy of haar omstandighede, maar vertrou Hom nie vir ‘n uitkoms nie.
Daar is vergifnis vir mense wat al probeer het om selfmoord te pleeg. Vertrou dat die Here jou deur jou moeilike omstandighede sal help (Psalm 42:6). As jy mense ken wat hiertoe geneig is moet jy hulle met groot deernis en geduld help (1 Tessalonisense 5:14, Judas 22-23).
ABORSIE[1]
As die bevrugte eiersel, sigoot, embrio of fetus ‘n mens is, dan is aborsie moord. Volgens die Skrif is die mens by konsepsie reeds ‘n sondaar en daarom ook ‘n mens (Psalm 51:7). God beskou die persoon in die baarmoeder as ‘n mens wat na sy beeld gemaak is (21:22-25, Psalm 139:13-16, Jesaja 49:1, Lukas 1:15, 41).
Die ongebore baba is nie deel van die ma se liggaam soos haar niere, arms, of mangels nie. Die kind het sy eie DNA, en dikwels ook sy eie bloedgroep en geslag. Die ma of die kind kan sterf, terwyl die ander een oorleef. ‘n Chinese sigoot kan in in ‘n Sweedse ma se baarmoeder ingeplant word, en sal nogsteeds ‘n Chinese baba bly.
Dit is ironies dat ons samelewing babas vermoor, maar sê ons moet hulle nie beskadig met drank, sigarette of x-strale tydens swangerskap nie.
‘Maar wat as die ma se lewe in gevaar is?’ vra iemand. Sulke gevalle is bitter skaars. Indien dit wel die geval is moet jy nie die baba vermoor nie, maar die ma se lewe probeer red. As die kind in die proses sterf is dit nie moord nie.
Is aborsie toelaatbaar vir verkragting en bloedskande? Nee. Gee eerder die kind op vir aanneming, maar moenie die baba straf vir die sonde van die verkragter nie. Deuteronomium 24:16 sê: “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.”
Wat as die kind gestremd is? ‘n Dokter het vir een van ons oud-lidmate gesê: ‘Die baba in jou baarmoeder het Down sindroom. Ek beveel aan dat jy die kind laat aborteer.’ Die kind is normaal gebore. Maar wat ás die kind gestremd was by geboorte? Het sulke kinders nie die reg om te lewe nie? ‘n Predikant se dogter het verstandelik gestremd geraak deur ‘n fietsongeluk. Sal dit aanvaarbaar wees om so ‘n kind dood te maak? Hoekom is dit dan aanvaarbaar om verstandelik gestremde babas te vermoor?
Dalk is jy skuldig aan hierdie sonde. In Jesus Christus is daar vergifnis vir moordenaars (1 Korintiërs 6:9-11, Lukas 23:34, 43). Maar as jy jou nie bekeer nie sal jy hel toe gaan (Openbaring 21:8).
Die sewende gebod (v.14)
‘n Paar weke gelede het ‘n ongetroude persoon vir my gesê: ‘Ek weet seks voor die huwelik is verkeerd, maar ek het dit gedoen omdat ek regtig lief is vir die persoon.’ Mense wat só redeneer het nie ‘n begrip van wat liefde is nie. As jy jou naaste liefhet sal jy sy of haar lewe, reinheid, besittings, en reputasie respekteer. Met ander woorde, jy sal die Tien Gebooie nakom.
In die ou Suid-Afrika was egbreuk ‘n misdaad. ‘n Maand of twee gelede het ‘n prokureur ‘met groot vreugde’ (sy eie woorde) op RSG gesê dat dit nie méér so is nie. Daarna het die aanbieder en prokureurs grappe hieroor gemaak en gepraat asof egbreuk goed is. Volgens die Bybel is dit ‘n lelike sonde.
Egbreuk verwys na die verbreking van die huweliksband. Ons praat hier van enige seksuele sonde: rondslaap, homoseksualiteit, prostitusie, pedofilia, verkragting, bestialiteit, bloedskande, poligamie, skei en hertrou op onbybelse gronde (Matteus 19:9, 1 Korintiërs 7:15).
Tragies om te sê dat hierdie sondes ook in die kerk gevind word. In ons eie gemeente moes ons al mense hiervoor dissiplineer. Ander in ons kerk het van hierdie dinge gedoen, maar berou gehad sodat dit nie voor die kerk genoem is nie. In my bediening het ek al gehoor van lidmate van goeie kerke wat homoseksualiteit beoefen, prostitute besoek, kinders molesteer, met meer as een vrou trou, ‘n sterk seksuele begeerte het vir perde, skei en weer trou asof dit uit die mode uit gaan. Dit is skandelik!
Selfs ongetroudes kan die sewende gebod breek. As hulle ongetroud is en saamslaap, besmet en onteer hulle die huweliksbed (Hebreërs 13:4). Op dié manier breek hulle hierdie gebod en sondig hulle.
Hoe kan jy dié gebod gehoorsaam? Van die staanspoor af wil ek duidelik maak dat ek met gelowiges praat. As jy ongered is kán jy nie God se wet reg gehoorsaam nie (Romeine 8:7-8).
So, vir gelowiges sê ek: Moenie net teen vuil dade probeer veg nie, maar ook teen sondige gedagtes. Volgens Jesus is wellustige gedagtes reeds egbreuk in die hart (Matteus 5:27-28). Om onrein gedagtes te wen, moet jy jou hart en denke vul met die Skrif. Memoriseer en oordink dit:
“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord... Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Psalm 119:9, 11). “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Filippense 4:8).
As jy nie jou gedagtes beheer nie, sal dit uiteindelik uitbreek in skandelike dade. Jy sal oes wat jy geplant het (Galasiërs 6:7-8). Jy flous jouself as jy anders dink (Jakobus 1:14-15). As jy aanhou om hierdie dinge te dink, sal jy selfs jou eie suster verkrag (2 Samuel 13), en dalk ‘n moord pleeg om jou sonde te probeer wegsteek (2 Samuel 11). Dalk sal jou vuil gedagtes duidelik word as jy die dag Alzheimer’s kry en jy allerhande seksuele en perverse opmerkings maak. Almal sal geskok wees dat ‘n wonderlike mens soos jý dit kan dan, maar wat hulle nie weet nie is dat dít die ware jy is.
John MacArthur het van predikante gesê: ‘When a pastor falls into sexual sin, he doesn’t fall far.’ Sy bedoeling was dat die predikant al lankal met hierdie dinge in sy gedagtes besig is. Die eintlike daad van egbreuk was net die laaste stap. Hierdie beginsel geld nie net vir predikante nie, maar vir ons almal.
Hier is nog ‘n paar wenke om seksuele sonde te oorkom:
- Vermy mense, plekke, omstandighede wat hiertoe kan lei (Spreuke 5:8, Genesis 39:7, 10). Moenie vir jou vlees die geleentheid skep om te sondig nie (Romeine 13:14).
- Breek vriendskappe en raak ontslae van CD’s, DVD’s, briewe, geskenke, jou TV en internet konneksie – enigiets wat jou versoek om te sondig. In Jesus se woorde: kap jou hand af en pluk jou oog uit (Matteus 5:29-30).
- Moenie eers oor hierdie dinge praat nie (Efesiërs 5:3-4). Dit mag jou net opgewonde maak en in die strik laat trap.
- Pasop vir te veel drank, want dit kan maklik hiertoe lei (Efesiërs 5:18).
- Pasop ook vir soene wat jou hormone kan opwarm, sodat jy nie weet wanneer om te stop nie (Spreuke 7:13).
- Wees versigtig vir ledigheid. As jy niks het om te doen nie sal jou vlees en die duiwel vir jou iets kry om te doen (2 Samuel 11:1, 2-5).
- Geniet jou eie huweliksmaat (1 Korintiërs 7:2-5).
- Trou (1 Korintiërs 7:9).
- Moenie onbeskeie klere dra, sodat jy mans versoek nie (1 Timoteus 2:9-10). Weë die een deur wie die versoeking kom (Matteus 18:7).
Dink aan die gevolge van egbreuk:
[1] Die huwelik is ‘n weerspieëling van Jesus se verhouding met die kerk (Efesiërs 5:22-23). Iemand wat dan egbreuk pleeg vertel leuens oor Hom.
[2] Jou eie reputasie sal skade lei (Spreuke 6:33).
[3] Jy sal mense se harte breek: jou maat en kinders, die ander persoon se maat en kinders, jou geestelike leiers, jou familie, jou medegelowiges (2 Korintiërs 12:21).
[4] God sal jou straf met seksueel-oordraagbare siektes, die dood, en die hel (Levitikus 18, 20, Spreuke 5:11, Openbaring 21:8).
Die agtste gebod (v.15)
Hierdie gebod kan op honderde maniere toegepas word. Kom ek noem maar ‘n paar maniere hoe mense vandag steel:
- Mense steel goed uit winkels.
- Mense breek in by huise.
- Mense steel geld uit die werk se kleinkas en sê: ‘Ek sal dit later weer terugsit.’
- Mense steel skryfbehoeftes, papier, gereedskap by die werk.
- Kinders steel geld by hulle ouers (Spreuke 28:24).
- Mense misbruik die werk se telefoon, kar, fotostaatmasjien, petrol- of kredietkaart vir hulle private gebruik.
- Mense hou hulle werkers se salarisse terug, en steel so iemand anders se rente (Levitikus 19:13).
- Mense vul nie hulle belastingvorms akkuraat in nie, maar omseil die wet op slinkse maniere.
- Mense word betaal vir 8 ure se werk, maar werk net vir 5 of 6 ure. Hulle steel hulle werkgewer se tyd en geld. Hulle sit op Facebook terwyl hulle moet werk. Hulle vat ekstra tyd vir tee en ete. Hulle gaan McDonald’s toe of kuier by vriende terwyl hulle kliënte moet sien.
- Mense vra vir kliënte meer geld as wat die produk of diens wat hulle gelewer het, werd is. ‘n Taxi-bestuurder by Durban lughawe het R800 gevra om ons na Port Shepstone toe te vat. Toe ons in Port Shepstone kom het iemand gesê dat hy slegs R80 betaal het. Ek het onlangs navraag gedoen om my kar se skokbrekers te vervang. Die man het my R6500 gevra. Ek het bewyse dat hy my wou indoen.
- Kinders en studente skryf huiswerk en toetse af. Een leerder het die groeptaak gedoen, maar jy kry die punte. Die vrae- of antwoordstel lek uit. As jy skuldig is hieraan is jy ‘n dief.
- Mense vat omkoopgeld om iemand gouer en op onwettige maniere te help (bv. met lisensies of paspoorte).
- Mense maak onwettige kopieë van DVD’s, boeke, rekenaar programme.
- Mense pleeg plagiaat: hulle vat ‘n ander persoon se werk en maak of dit hulle eie is. Predikante is te lui om ‘n preek voor te berei, en steel ander dominees se preke op die internet (Jeremia 23:30).
- Predikante speel op mense se gevoelens sodat hulle meer geld in die offergawe sal ingooi. TBN se predikers is veral skuldig hieraan.
- Mense steel ander se tyd. In die begin van my bediening het ‘n vrou my gereeld gebel en vir ‘n uur op ‘n slag met my gepraat. As jy gedurig laat kom vir afsprake steel jy ander mense se tyd. Bel ten minste en maak verskoning as jy weet jy gaan laat wees. ‘Being late is not loving your neighbour.’ (Stuart Olyott).
- Mense wys geen respek vir ander mense se besittings nie, maar breek, verloor, beskadig die goed wat hulle leen.
- Die Kommuniste vat ander se besittings vir hulleself.
- Mense steel ander om van hulle slawe te maak (21:16). ‘Human trafficking’ is wat hulle dit vandag noem.
- Mense mors God se geld en besittings wat Hy aan hulle toevertrou het. God sal van ons rekenskap eis oor hoe ons sy eiendom bestee het.
- Mense betaal nie die geld wat hulle skuld nie (Romeine 13:7-8).
Is jy skuldig aan enige van die bogenoemde? Ja? Dan is jy ‘n dief. Bely jou sonde aan God en die mense teen wie jy skuldig is. Betaal terug wat jy gesteel het (22:7, Lukas 19:8).
Ek het onlangs onthou hoe my honde die buurman se haas gevang het. Hy het my gevra of ek sy haas gesien het. Ek het ‘nee’ gesê. Ek moes my leuen aan hom bely en ook restitusie maak (ek het vir hom geld gegee om ‘n nuwe haas te koop).
Moenie steel nie, maar werk eerlik en hard. Deel eerder jou eie geld, tyd, kos, gawes, besittings, en middele as wat jy iemand anders s’n vat (Efesiërs 4:28). Onthou dat diewe nie die koninkryk van God sal sien nie (1 Korintiërs 6:10).
Die negende gebod (v.16)
Jy mag nie vals getuienis teen jou naaste aflê nie. Wat beteken dit?
[1] Jy mag hom nie valslik beskuldig en leuens vertel in die hof nie (Deuteronomium 19:15-21). In ons land aanvaar prokureurs, regters, en polisiemanne omkoopgeld en vertel hulle leuens.
[2] Moenie vals gerugte oor ander versprei nie (23:1). Mense doen dit veral in e-posse, op Facebook en Whatsapp. Moenie skinder nie (Levitikus 19:16). Is dit wat jy oorvertel hoorsê? Het jy al die feite en ken jy die persoon se motiewe?
[3] Moenie oordryf en sê: ‘Sy is altyd... Hy doen nooit...’
Ons moenie net die waarheid oor ander praat nie, maar ook met hulle:
[4] Moenie vir jou ouers jok om ‘n pakslae vry te spring nie.
[5] Moenie vir mense geskenke belowe wat jy nie gee nie. “‘n Man wat hom beroem op ‘n geskenk wat hy tog nie gee nie, is soos dampe en wind waar geen reënbui by is nie.” (Spreuke 25:14).
[6] Doen wat jy belowe. ‘Ek sal môre 10:00 daar wees... Ek sal volgende keer kom kyk as jy rugby speel... Ek sal vir jou ‘n lekker koop as jy stilsit by die tandarts... As jy weer op die banke spring gaan ek vir jou pak gee... Ons sal vir jou bid...’
[7] Moenie jou storie oordryf sodat jy kan goed lyk nie.
[8] Moenie mense vlei nie. Om dít te doen is om met ‘n mooi gesig te jok.
[9] Moenie op jou CV lieg oor jou bekwaamheid, kwalifikasies, of ondervinding nie.
[10] Moenie vir kliënte lieg oor hoe goed die produk is nie.
[11] Moenie belangrike inligting terughou nie. Om dit te doen is om te jok. Iemand wat bv. ‘n kar verkoop en nie vir die kliënt sê die cambelt is op die koffie nie, oortree die negende gebod.
[12] As jy hoor hoe iemand jok, terwyl jy die waarheid ken maar stilbly, dan deel jy in die leuen.
[13] Vals lering is ook ‘n leuen. Moet dan nie vir iemand se verjaarsdag ‘n boek, dagboek, of dagstuk koop waarvan jy nie die inhoud ken nie.
Jy moet so betroubaar wees dat dit nie nodig is om te sweer, ‘n eed te maak, jou erewoord te gee, of jou hand op die Bybel te sit nie. Laat jou ja ja wees en jou nee nee (Matteus 5:33-37).
‘n Joodse sakeman in die Vrystaat het gehoor dat iemand iets by hom wou leen. Hy het eers nee gesê, maar toe hy hoor dat dit een van die Cornelia-Baptiste is, het hy gesê: ‘O, is hy van die Baptiste? Nee, dan is die saak reg. Hy kan dit maar leen. Die Baptiste is eerlike mense.’ Ons moet ook só ‘n reputasie hê.
Is dit soms toelaatbaar om te lieg? Wat as iemand by jou huis inbreek en vra waar jou vrou en kinders is? Jy kan die vraag vermy, die gesprek weglei, stilbly, of weier om iets te sê. Ek is van mening dat dit altyd verkeerd is om te jok. Die doel heilig nie die middele nie. Die beginsel wat geld vir steel, geld ook vir jok:
“‘n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het; en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.” (Spreuke 6:30-31). Ons voel jammer vir die dief wat steel omdat hy honger is. Tog kan sy sonde nie verskoon word nie.
Hoekom moet jy nie lieg nie? Die duiwel is die vader van die leuen; as jy lieg is jy sy kind (Johannes 8:44, Psalm 58:4). Leuenaars sal hel toe gaan (Openbaring 21:8, 22:15). Iemand wie se hart verander is, is ook gevul met die waarheid. Hy is soos Jesus en praat die waarheid (Johannes 14:6, 1 Petrus 2:22, Efesiërs 4:25). As jy leuens vertel oor mense dan smeer jy hulle reputasie swart en bring jy hulle in die moeilikheid (Markus 14:56-57, Handelinge 6:13).
Die tiende gebod (v.17)
Die tiende gebod is die wortel van die vorige vyf: “Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.” (Matteus 15:19). Begeerlikheid was ook deel van die eerste sonde in Genesis 3:6.
God wil nie net hê jy moet reg praat of optree nie, maar ook dat jou hart moet reg wees. As jy dié gebod oortree, sal jy maklik die res oortree. Jy sal steel, moord pleeg, en egbreuk pleeg om te kry wat jy begeer (sien 2 Samuel 11). Om iets so sterk te begeer dat jy sal sondig om dit te kry, is om ‘n afgod daarvan te maak (Kolossense 3:5).
Moenie ander se goed begeer nie. Hoe oortree mense hierdie gebod?
- Jy wens iemand gee vir jou sy geld of besittings (Handelinge 24:26).
- Jy dagdroom oor hoe so-en-so doodgaan, en jy sy ou goed kry of erf. Of jy wens hy kry nuwes, sodat jy sy oues kan kry.
- Jy dagdroom oor hoe dit moet wees om met __ getroud te wees, en wens hy of sy was jóú huweliksmaat (Matteus 5:28).
- Jy kla oor grondeise, maar jy self begeer iemand anders se huis of plaas (Miga 2:2).
- Jy is jaloers op iemand anders se groter gemeente, beter gawes, mooier liggaam, duurder goed, sukses, posisie, guns wat hy met die baas het, bevordering, roem, omstandighede, soet kinders, gelukkige gesin, kinders wat presteer in sport of akademie, klere, nuwe selfoon, mooi horlosie, ens.
- Jy wens jy wen die LOTTO.
Die wêreld versoek ons om materialisties te wees, om alewig nuwe en beter dinge te soek. Jesus het gewaarsku: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” (Lukas 12:15).
Hierdie gebod is nie teen rykdom, harde werk, en mooi goed nie (Job 42:12, Spreuke 21:20, Deuteronomium 8:18, 1 Samuel 2:7). Dit wil ons eerder waarsku teen ‘n gejaag na geld, besittings, of dit wat ander het (1 Timoteus 6:10, Matteus 6:24). C.S. Lewis het gesê: ‘The problem is not with nice cars and big houses, but with nicer cars and bigger houses.’ Die tiende gebod wil ons waarsku teen TBN se predikers wat maak asof Jesus bestaan om ons ryk te maak.
Om begeerlikheid te oorkom moet jy leer om tevrede te wees met wat jy het (Filippense 4:11-13, 1 Timoteus 6:8, kontrasteer Romeine 7:7-8). Dank die Here vir dit wat jy het. As jy ‘n kar het, is jy onder die rykstes in die wêreld. Wees ook baie vrygewig. Gee weg eerder as wat jy opgaar.
Onthou dat God nie net jou dade sal oordeel nie, maar ook jou geheime begeertes (Romeine 2:16). Tog is daar vergifnis vir mense wat God se wet oortree (1 Korintiërs 6:9-11). Jesus het die wet perfek onderhou en die straf gekry asof Hy dit oortree het. Dit het hy gedoen vir almal wat hulle bekeer en op Hom vertrou.
Ek het die eerste keer van kleptomania gehoor toe ek in graad 2 was. ‘n Kind in my broer se klas het vreeslik gesteel. Hy het eendag tydens krieket oefening ‘n ander kind se fiets gesteel. Hulle het hom gevang en geslaan.
Dít is hoe die wêreld die oortreding van God se wet sien: nie as sonde waarvoor jy verantwoordelik is, maar as ‘n siekte waarvoor jy nie kan help nie. Vir die wêreld lê die oplossing in pille en terapie, en nie in berou, belydenis, of bekering nie. Volgens hulle moet ons die moordenaar bejammer, is die persoon wat rondslaap verslaaf en onskuldig, is die leuenaar en die persoon wat dobbel siek.
Alhoewel geen mediese toetse kan bewys dat dit ‘n siekte is nie, eet ons hierdie teorieë op vir soetkoek. As hierdie dinge ‘n siekte is, is daar geen hoop dat dié mense ooit kan verander nie. Indien dit egter sonde is, is daar hoop en vergifnis in die kruis.
Dink aan enige lied wat jy onlangs op die radio of op ‘n CD gehoor het. Waaroor het dit gegaan? Oor liefde? Waaskynlik. Hoekom? Almal is opsoek na die vervulling wat ware liefde bring. Tog soek mense dit op die verkeerde plek: in die arms van iemand wat mooi gebou is, jou laat goed voel, sterk is, of jou sal beskerm. Vir die wêreld gaan liefde oor emosie, plesier, of ‘n sterk gevoel wat selfgerig is.
In die Bybel gaan liefde nie bloot oor ‘n selfgesentreerde plesier of gevoel nie. Dit gaan eerste oor God en dan oor jou naaste (sien Matteus 22:37-40). Dit word uitgeleef in die dade en gesindheid wat in die Tien Gebooie beskryf word.
____________________
[1] Baie van wat ek oor aborsie sê het ek gekry uit Why Pro-Life? van Randy Alcorn